Was Afrikaners taalverdrukkers?

Deur prof. Jaap Steyn

jaap-steyn-skrywer

Die taalhistorikus en skrywer Jaap Steyn. Foto: Kraal Uitgewers.

Het Afrikaners enigiets geleer uit die verengelsingsbeleid van die Britte in die koloniale era? Het hulle nie maar dieselfde soort beleid teenoor die swart mense gevoer nie?

In koerantbriewe en kommentare op berigte in digitale media word soms beweer dat Afrikaners niks geleer het uit ons verlede nie en ’n beleid van verdrukking teenoor die tale van swart Suid-Afrikaners gevolg het.

Is dit waar? Laat ons eers kyk na wat in die negentiende en vroeë twintigste eeu gebeur het. Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, het op 9 April 2021 insiggewend daaroor geskryf in haar artikel “Twee kontinente, twee gemeenskappe, dieselfde hartseer taalgeskiedenis”.

Onder meer vertel sy hoe Baskiese kinders in Frankryk aan die begin van die twintigste eeu gedwing is om Frans te gebruik. Om die proses aan te help, is kinders wat betrap is dat hulle Baskies praat, gestraf met die Anti. Dit was ’n stok aan ’n riem wat gehang is om die nek van iemand wat Baskies praat. Wanneer die draer weer ’n ander kind hoor Baskies praat, is die Anti aangegee. Die kind wat aan die einde van die dag die stok om die nek gehad het, moes ná skool bly en uitskryfwerk doen.

Bailey herinner die lesers daaraan dat Afrikaanse kinders veral in die ou Kaapkolonie dieselfde straf moes ondergaan. Hulle moes die sogenaamde donkey of Dutch Mark om die nek dra as hulle Afrikaans by die skool gepraat het (Afrikaans is destyds beskou as ’n vorm van Hollands oftewel Dutch.)

Hierdie praktyk het eers ’n end gekry nadat moedertaalonderrig ná 1912 ook vir Afrikaanse leerlinge ingevoer is. Die Engelssprekendes het altyd die voorreg van moedertaalonderrig geniet.

Een van die reaksies op dié artikel suggereer dat Afrikaners niks geleer het nie en later ’n soortgelyke beleid van verafrikaansing teenoor swart mense gevolg het.

Afrikaners het baie foute gemaak, maar dit was beslis nie een daarvan nie. Trouens, pogings sedert die 1950’s om moedertaalonderrig in die swart onderwys te bevorder, is deur groot teenkanting van swart mense gestuit.

Een van die redes vir die verset teen die Wet op Bantoe-onderwys van 1953 was dat dit moedertaalonderwys vir swart leerlinge verpligtend gemaak het.

Die beleid in swart skole is bepaal deur die Eiselen-verslag. Dr. W.W.M. Eiselen was die voorsitter van die Naturelle-onderwyskommissie wat in 1949 aangestel is. Die vernaamste aanbeveling van die verslag was dat “die algemeen erkende beginsel, naamlik die gebruik van die taal wat die kind die beste verstaan (die moedertaal), as medium – ook in Bantoe-onderwys – moet geld”.

Die regering het die Eiselen-aanbevelings hieroor ten volle aanvaar. Skole moes die moedertaal as medium uitbrei van standerd 3 (tans graad 5) in 1956 tot standerd 6 (graad 8) in 1959. Toe is die eksamen vir die eerste keer in een van die swart tale in plaas van in Engels geskryf. “Bantoe” as taalkundige term is blykbaar nou weer in orde en is onlangs in ’n beleidsdokument van die departement van hoër onderwys gebruik.

Die onderskeie taalkomitees van die Bantoe-taalkommissie van die eertydse departement van bantoe-onderwys het ’n belangrike bydrae tot die vasstelling van die ortografie van dié tale, die terminologie van die skoolleerplanne, onderwysregulasies en soms selfs die skryf van handboeke gelewer.

Volgens ’n kenner, K.B. Hartshorne, was die taalmediumbeleid vanaf die 1950’s tot 1976 die oorheersende faktor in die teenkanting teen die stelsel van Bantoe-onderwys. “African opinion never became reconciled with the extension of mother tongue medium beyond Std. 2, nor to the dual medium policy in the secondary school,” het hy verklaar.

Die “dual medium” waarna Hartshorne verwys, was die beleid dat die helfte van die nie-taalvakke in swart hoërskole in Afrikaans en die ander helfte in Engels onderrig word. Jare lank het die swart skole verlof gekry om alle vakke deur medium van Engels aan te bied, maar omstreeks 1976 het amptenare verlof begin weier. Die amptenare en die regering het die teenkanting teen die toepassing van die beleid ongelukkig geïgnoreer. Afrikaans kon op dié wyse die vonk in die kruitvat word. Die opstand teen apartheid kon dus aan Afrikaans vasgeknoop word.

Dit was beslis nie ’n beleid van verafrikaansing nie en die 1976-onluste was nie gerig ten gunste van die invoer van moedertaalonderrig in swart skole soos wat sommige oningeligte kommentators beweer nie. In werklikheid was dit ’n opstand om te verseker dat die swart hoërskole volledig verengels.

Ná 1976 is die keuse van die voertale aan die skoolgemeenskappe oorgelaat. Engels het toe die enigste voertaal geword. Moedertaalonderrig in swart laerskole het afgeneem. Die ANC-regering het nog geen ernstige poging aangewend om weer moedertaalonderrig in te voer nie. Eintlik word dit stelselmatig teëgewerk deur politici soos Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng.

In werklikheid beweeg Suid-Afrika terug na die Engels-eentaligheid van die Brits-koloniale tydperk. Die enigste prominent sigbare verset daarteen kom van Afrikaanssprekendes. Die agterstand van die tale van die swart gemeenskappe is in ’n groot mate te wyte aan die sprekers se onwilligheid om hul eie tale te ontwikkel en te ondersteun.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

OW ·

Baie goeie skrywe en uiteensetting van wat die toedrag van sake was.Ek kan net byvoeg by die laaste paragraaf.Die onwilligheid van die sprekers om hulle eie tale te ontwikkel en baie minder werk om een taal tot hoë funksie te ontwikkel as 9 ander tale.

Therese ·

Sal dan nie verder probeer saamgesels nie.
Klaarblyklik is die uwe, vir onduidelike redes, “die tannie in die familie van wie niemand hou nie”.

Heinrich ·

Inteendeel, ipv jou opruk en op ‘n hopie gaan sit en jouself jammer kry, is alle opinies nodig om die gesprek aan die gang te hou.

Carina ·

Baie dankie vir die nugter artikel. Ek hoop regtig dat daar moeite gedoen kan word om hierdie feite onder die aandag van ook ons skoolkinders te bring, wat gebuk gaan onder die stigma van 1976. Welgedaan!

Johanna ·

Dit is insigewend..
Daar is so baie wat mens uit foute kan leer maar die mens skop daarteen. Dit is vir my dwaasheid..

FM ·

Baie dankie aan ons vegters vir Afrikaans

So lank ons die taal laat leef, sal Afrikaans leef en ontwikkel

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Eendag, wanneer China oor die wêreld regeer, sal almal seker weer Engels versaak ten gunste van Chinees. En Universiteit Stellenbosch se voertaal sal dan seker Mandaryns wees al skreeu almal vir die behoud van die kolonialistetaal Engels. Of jy kry KaapsEnglish of KaapsMandaryn. En isiZuluChina. En isXhosaMandarina. Die mensdom darem. Hoe doeltreffend en effektief benut die liewe mens sy kortstondige lewe nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.