Was die Boereprofeet dalk reg?

Siener van Rensburg

“Die treine sal teen die hoogtes staan. In hierdie tyd sien ek in Johannesburg ‘n baie groter staking as wat daar in 1922 was. Party mense sal nog vuurmaakhout hê om kos mee gaar te maak, terwyl andere maar koue pap moet eet.” – Siener van Rensburg.

Nou ja, afhangende van hoe ’n mens die Siener se voorspellings vertolk, lyk dit of hy die toekoms nogal dikwels raak gesien het. Die stakings strek wel verder as Johannesburg. Beurtkrag gaan nog lank met ons wees en die treine staan nie net op die hoogtes nie: Hulle staan sommer op die vlaktes. Soos die Shosholoza Meyl, die passasierstrein tussen die Kaap en Johannesburg.

Die trein – voorheen die gladwerkende Oranje Sneltrein – was al ’n dag laat en het onlangs van agter in ’n goederetrein vasgery nadat spoorreëls geïgnoreer is en die trein teen 60 km/h pleks van 30 km/h beweeg het. Een persoon is dood toe verskeie waens ontspoor het. Dis onseker wanneer die diens herstel gaan word.

Intussen is die Mabopane-lyn in Pretoria gesluit en funksioneer die sentrale lyn in Kaapstad al maande lank nie. Dié lyn het daagliks ongeveer 200 000 passasiers uit die armer dele vervoer voordat hy deur kabeldiefstal, tekorte en geweld teen pendelaars en treinwerkers lamgelê is.

Tans is daar net 32 treine op die netwerk, pleks van die vereiste 110. Baie treine is brand gesteek en daar is sterk vermoedens dat die taxibedryf skuldig is sodat hulle nog meer pendelaars kan vervoer as die huidige 66% teenoor die treine se 10%.

Wanneer sê die ANC ekskuus?

Die afgelope tyd het rieme kopie verskyn oor oudpresident FW de Klerk se gebrek aan erkenning dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Die beroep weerklink ook van Afrikaanse kommentators. Wit mense moet skynbaar oor en oor skuld erken en verskoning vra. Wat was dan die doel van die Waarheids-en-versoeningskommissie?

Apartheid was ’n fout, ja, maar ’n mens mag nou seker ook vra wanneer gaan die ANC hard en duidelik verskoning vra vir die allemintige gemors waarin hy die land die afgelope 26 jaar gedompel het: Eskom, die SA Lugdiens, gesondheidsdienste, onderwys, ’n infrastruktuur wat ineenstort, 239 (uit 257 munisipaliteite wat wanfunksioneer, toksiese riviere, korrupte polisiëring – die lys is lank. Ook die verlammende miljarde rande se rente op die skuld wat aangegaan is, nie net deur Zuma en die Guptas se staatskaping nie.

Die kommentator Richard Quest (CNN) het die spyker raak geslaan op die Davos-beraad: “Julle hele ekonomie is gekaap. Hoeveel skuldiges is al in die tronk?”

Nog staatskapings op pad

Die Zondo-kommissie (wat al R360 miljoen gekos het) wil ’n verdere verlenging vra. En terwyl ons almal wag op vervolgings, kom daar die sterk waarskuwing van Frans Cronjé van die Instituut vir Rasse-aangeleenthede: Die tweede en derde fases van staatskaping lê voor die deur.

Hy skryf ’n senior ANC-lid het aan hom gesê die binnegevegte en hebsug in die party vernietig die instellings wat hulle veronderstel is om uit te bou. Soos Pravin Gordan glo gesê het: “As julle dink dis erg, dis erger.”

Cronjé sê die eerste golf van staatskaping was die vernietiging van openbare instellings, die tweede en derde golf mag verband hou met die pogings om hulle te herbou. Daar word reeds beroepe gedoen dat privaat ondernemings moet help. Maar die firmas en die kontrakte wat hulle kry, sal bestuur word deur dieselfde politieke leierskap en met dieselfde metodes, kaderontplooiing en transformasie wat tot die eerste golf van staatskaping gelei het.

Transformasie moet gemik wees op die bevordering van agtergeblewenes tot die middelklasse. Die ANC se idee is egter ’n beleid wat ’n vyeblaar is waaragter die korrupsie, misdrywe en kaping van openbare geld weggesteek word. En enigeen wat dit uitwys, is ’n rassis.

Regstelsel stort ook in duie

Maar dis nie net treine en infrastruktuur wat nie funksioneer nie: Die regstelsel is ook besig om ineen te stort. Nog een van die groot bekommernisse van die gewone landsburger is die haas totale erosie van wet en orde wat besig is om die vlak van die 1980’s se politieke opstande te bereik. Dis nie ongewoon dat die nasionale uitsaaier waarsku teen roetes, hoofweë en kruisings wat vermy moet word nie weens brandende padbesettings, klipgooiery en kapings.

By die Universiteit van KwaZulu-Natal hou sowat 1 000 studente (uit ’n totaal van 50 000) die kampus nou al weke lank gevange. ’n Vigskliniek en twee sekuriteitskantore is al brand gesteek.

Dit is opvallend dat die rooi oorpakke van die EFF so dikwels gesien word waar wanorde heers, nie net in die parlement nie. Dis onduidelik of hulle net entoesiastiese deelnemers aan die chaos is en of hulle dit skep. Dalk albei.

Die ANC-regering laat dinge maar gebeur, dalk omdat hy vrees dat optrede in die EFF se hande sal speel. Dit beteken ons is op pad na een van die belangrikste redes vir ’n mislukte staat – wydverspreide en onbeheersde geweld.

Die ANC neig al meer in die rigting dat die oppergesag van die wet verwerp kan word wanneer ’n kader vervolg word. Die volgende stap kan die verwydering en diskreditering wees van regters wat nie die partylyn volg nie.

Nicolaas van Rensburg praat in sy opgetekende voorspellings van ’n erge droogte waarin boere nie weet van herwaarts of derwaarts nie. Nou ja, die land het al baie droogtes gehad. Maar hy sien ook geld “wat so waardeloos word, dat jy mure met hulle kan uitpak.”

En dit was lank voor Moody’s en dinge soos rommelstatus.

  • Nicolaas Pieter Johannes (“Niklaas” of “Siener”) Janse van Rensburg (3 Augustus 1864 – 11 Maart 1926) is deur baie Boere gesien as ’n profeet wat die toekoms voorspel het. Hy het aan die Boereoorlog deelgeneem en was ’n vertroueling van genl. De la Rey en pres. MT Steyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Michael ·

So na aan die waarheid as kan ,ek is nie eers n siener nie maar kan voorspel dat die land in sy huidige vorm en beleid besig is om dood te gaan .

Adam Adriaan ·

Die ANC en die EFF is duidelik besig met die streng toepassing van hulle kommunistiese beleid. Hou die bevolking arm,kry beheer oor alles,skole,kerke, ekonomie(alle bronne van geld),grond, mediese dienste ens. Die top kaders lewe in weelde. Kyk wat het met Zimbabwe gebeur. Daar is niks oor nie. Sienner het raak voorspel. Daar is net een manier wat oorbly en dit is dat ons na onsself moet omsien. Ons knieë moet permanent vol rowe wees en ons bybels opgelees, met hande vol eelte van al die werk.

Pa’s en ma’s moet weer beheer kry oor hulle huishoudings en kinders moet christelik opgevoed en gedissiplineer word. Ons kultuur moet ons koester en uitbou en onwrikbaar glo in God en Sy Seun. Dan sal dit met ons wel gaan God regeer. Dit sluit in alle kleure en geure van die bevolking.

Stefan ·

Klink my ek self is ook ‘n siener.
Ek het in ’92 aan Interplan se koffietafel voorspel dat as die Ja stem wen apartheid nie afgeskaf gaan word nie maar slegs omgedraai ondanks alle ‘waarborge’ wat belowe word.
Grond gaan een of ander tyd net gevat word, asook pensioene en banke, baie blankes gaan hul werk verloor om plek te maak, die ekonomie gaan in duië stort, staatsinstellings gaan deur onbevoegdes bestuur word en platval.
Ek het net nie gedink daar gaan soveel korrupsie wees nie en die banke is (nog) nie gevat nie maar verder redelik in die kol.
Die wat daar was sal onthou al het hulle lekker gelag vir my pessimisme!!!

Johan Venter ·

Org, ek haal ‘n sin uit lou laaste paragraaf aan: Maar hy sien ook geld “wat so waardeloos word, dat jy mure met hulle kan uitpak.”

Ek neem aan hy het na ‘n land Noord – Noord – Oos van ons gekyk toe hy dit sê? Ek meen, ons is darem nog nie daar nie, maar goed op pad.

Johan Venter ·

Hehehehe, dit was nou tong-in-die-kies gesê. Zimbabwe, Noord – Noord – Oos van ons is mos reeds daar, natuurlik het hy dit nie van Zim gesê nie, maar van SA, en kyk ons is goed op pad daarheen.

david ·

Siener het ook gese : Ek sien die Unie (RSA) lyk soos ‘n oopgeploegede ashoop. Alles sal op die lappe kom…as mens begin kyk wat alles op die lappe gekom het sedert die WVK , deur die de Klerk era en nou 25 jaar van staatskapings….dit lyk tog of die ou Siener reg was ..!!

Jaco ·

siener van rensb urg het ook een of ander opstand teen die regering voorspel. toe glo 25, ja net 25 invidue, dit, noem hulle self die Boeremag, en begin beplan n staatsgreep (hoe kan net 25 mense dit regkry???).
So ja, DINK maar eers mooi voor jy alles glo van oom siener se voorspellings…

Rose ·

Hi Jaco dit is die eerste keer wat ek hoor van 25 mense wat teen die regering gaan opstaan. Hy het wel gese dat die Afrikaners se redding alleenlik deur God sal kom, en as hulle eers weer op hulle kniee sal gaan. Maar dit sal nog slegter moet gaan voordat ons nasie dit sal doen, dit gaan nog te lekker. Die verkiesing wat net in die Weskaap gaan plaasvind is ek seker sal wees a.g.v die steun wat die D.A gaan verloor wanneer die volgende ene plaasvind. Die D.A sal dan seker kop aan kop wees met die VF of ANC. Daar kan nog baie dinge gebeur tot dan. En hy het gepraat van die klein leiertjie wie se skaduwee reg oor die land val, en alles sal brand waar dit val, asook die herlewing van kommunise. Dit is wat ons nou in die gesig staar. Dink ook aan die geweld wat sal plaasvind as Zuma of Malema iets moet oorkom.

Toy ·

My oupa het eendag vir my gese en ek was nog ‘n kind so 1979/80 ons gaan met geld in ons hande staan, maar gaan niks kan koop nie.

Rina ·

Dan moet Alles maar nou in duie stort en Klaar kry, sodat die land weer OP gebou Kan word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.