Was Isis werklik meesterbrein agter Sri Lankaanse bomme?

Die skade by die Shangri-la hotel in Colombo. Argieffoto: (AP Photo/Eranga Jayawardena)

Al het Isis self aanspreeklikheid vir die Paasfees-bomme in Sri Lanka aanvaar, en al het inligting wat Indiese veiligheidsmagte by ’n verdagte ondersteuner van Isis dit gestaaf, is daar nog geen konkrete bewyse dat die Islamitiese Staat vir die bomaanvalle verantwoordelik was nie.

Die Indiese veiligheidsmagte het die inligting oor Isis-planne vooraf met die owerhede in Sri Lanka gedeel, en daar is nou ’n heksejag oor hoekom dié inligting nie opgevolg is nie. Trouens, die Sri Lankaanse president, Maithripala Sirisena (wat ook die minister vir veiligheid is), was oor die bestaan van die inligting in die duister gehou.

In dié stadium, namate die identiteit van die selfdoodbomaanvallers se name bekend gemaak word, is dit slegs duidelik dat dit ’n aksie van radikale Moslems was. Die vingers wys na die randeier-organisasie, National Thowheed Jamath (NTJ). Die NTJ was nooit beskou as ’n organisasie wat so ’n grootskaalse aksie sou kon uitvoer nie, en is ook met die selfdoodbomaanvalle en die inhegtenisnemings daarna in wese uitgewis. Sekere ondersteuners wat nog nie aangekeer is nie, hou steeds ’n mate van bedreiging in.

Oor die rede vir die bomaanvalle word nog meestal net bespiegel. Hoekom byvoorbeeld is Christen-kerke geteiken? Kon dit werklik ’n weerwraakaanval wees vir die skietery in Christchurch waar meer as 50 Moslems tydens verrigtinge by ’n moskee doodgeskiet is?

Tot tyd en wyl gewag word vir ’n duidelike antwoord oor die waarom, is omtrent ál opsie om na die geskiedenis van die Moslems in Sri Lanka te kyk.

Sri Lanka se bevolkingsamestelling word volgens verskeie bronne aangegee as die Singalese (ongeveer 75% en meestal Boeddhiste), die Tamils (ongeveer 11% van die bevolking en meestal Hindoes), die More (sowat 10% van die bevolking en meestal Moslems), en die Burghers (sowat 1% en meestal Christene). Sowat 7% van Sri Lanka se bevolking is Christene, dus sluit dit Singalese (meestal Rooms-Katoliek) en Tamils (baie Protestants) in. Hul voertaal is nou meestal Engels, en die meeste is Tamil en/of Singalees magtig.

Die Burghers is hoofsaaklik van Nederlandse afkoms.

Die More se herkoms is meer divers. Baie stam uit ’n baie ou geskiedenis toe Arabiese handelaars die seevaart rondom Indië oorheers het. Verskeie het hulle vanaf die 7de eeu aan die kus van Sri Lanka gevestig. Nog ander is van Indiese herkoms, waar die Islam sedert die oorheersing van die groot Moslem-outokrate oorheers het.

Tydens die bewind van die Portugese is die Moslems vervolg, en sommige het na die binneland uitgewyk waar hulle soms beskerming van die inheemse konings gekry het. Die Moslembevolking se getalle het baie afgeneem. Met die Nederlandse bewind, en daarna die Britse bewind, is Moslems van Java en Maleisië “ingevoer”. Nog later het Moslems uit Pakistan en suidelike Indië gekom. Die gevolg is dat verskeie Moslemtradisies gevestig het. Die meeste is egter Soenies, en handhaaf die Soefi-tradisie. Beide Al-Kaïda en Isis is in die Soenie-weergawe van die Islam gevestig. Radikale Islam, soos deur Isis verteenwoordig, is egter erg hatig op die aanhangers van die Soefi-tradisie, omdat hierdie tradisie baie gematigd en verdraagsaam is.

Vandag is die meeste More Tamil-sprekend. Dit het minstens deels daartoe bygedra dat dit ’n ruk geneem het voor uitgepluis kon word wie vir die bomaanvalle verantwoordelik was.

Die Tamils was sowat 25 jaar lank in ’n burgeroorlog met die Singalees-oorheerste regering gewikkel, en is eers ’n dekade gelede verslaan. Die Tamils in Sri Lanka maak deel uit van ’n groot bevolking, waarvan verreweg die meeste in Indië woon, maar ook groot getalle in lande soos Kanada voorkom. Hoewel die Tamils in Sri Lanka nog nie mooi as een groep geïntegreer is nie – ’n groot deel woon al eeue in Sri Lanka, en ander is later onder Britse beheer as plantasiewerkers uit Indië ingevoer – het hulle baie steun uit lande soos veral Kanada gekry. Hulle kon selfs ’n klein vloot op die been bring en hul lugvleuel het reeds aanvalle op die Singalese begin uitvoer.

In moderne tye het die Tamils die eerste selfdoodbomaanvalle uitgevoer.

Nadat hulle militêr verslaan was, het baie berigte gelui dat hulle gaan hergroepeer en met die hulp van Tamils in diaspora (verstrooiing) wat die Tamilstryd vuriglik ondersteun, bly dit ’n besliste moontlikheid.

Die Tamils was dus vir baie die eerste natuurlike kandidate vir die bomaanvalle.

Dat dit ’n klein geradikaliseerde groep was wat iets so omvangryk uitgevoer is, het minder waarskynlik gelyk. Die oorheersende Soefi-tradisie maak dit boonop nie maklik vir die geradikaliseerde vorm van Islam om uit te brei nie, al deel die twee groepe die Soenie-weergawe.

Dit wil dus voorkom asof Sri Lanka nie gou weer veel kommer hoef te hê oor toekomstige Moslem-aanvalle van hierdie omvang nie.

’n Hervatting van die burgeroorlog met die Tamils is eerder waarskynlik, omdat Sri Lanka vredespogings laat skipbreuk lei het. Die “handboek” van hoe om nie met diversiteit om te gaan nie, is gebruik. Boonop is Sri Lanka nie ten volle demokraties nie, en ook baie laag op die persvryheidsindeks.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JAN ·

Dankie Herman.
Lyk soos globalisasie van terreur sedert 50 gelede.
Die Tamil Tiere moet nog net Afrikaans by ons bende Vrydenkers en Ogotters kom leer!! Grappie!!

Hans Richardt ·

Tamil Tigers, ISIS?
Sri Lanka het hordes moslem immigrante uit Miyanmar.

Oop Oog ·

Dit het niks te doen met weerwraak oor Christchurch nie! Christene is werelwyd die geloof wat die meeste aangeval, word by verre.
Nuutste statistiek v ‘Open Doors USA’ bepaal dat maandeliks in die wereld:
-345 Christene vermoor word vir geloofs-verwante redes
-105 kerke /christen geboue word aangeval of gebrand
-219 Christene word aangehou sonder hofverskyning, gearresteer of gevonnis(geen rede)
Die getal hou aan groei. Die gevaar is ISLAM!
Dit gaan ons verby in SA want ons word te veel besig gehou met ons eie “donker” probleme en politiek. Dit pas ook nie in by ons local “story to tell” nie, sodat ‘n sekere uitkoms verkry word.

Stripes ·

Herman jy het die informasie mooi uiteengesit maar dit is net wat dit is, informasie en nie inligting nie. Die storie laat my dink aan die Obama’s van die VSA wat vreeslik baie te sê gehad het oor die Moslems wat dood geskiet is maar nie eens in staat is om na die Christene as sulks te verwys nie. Dit wil meer voorkom asof daar van aale kante gepoog word om ISIS en hulle optrede goed te praat en om verskoning vir hulle optrede te soek om dit te regverdig. Ek geniet normaalweg jou terugvoering/samestellings oor gebeure maar in die geval verskil ek van jou om die gedagte te laat dat ISIS nie betrokke of verantwoordelik is nie.

Annie Webb ·

Nugter weet presies watter groep radikale Islamiete vir dié spesifieke aanval verantwoordelik was, maar dat Christen-groepe in die Derde Wêreld reeds vantevore deur radikale Islamiete geteiken is, en in die Paastyd, is welbekend. Ook dat Christenkerke oral in Europa gereeld gevandaliseer word. Veral uitgeweke akademici uit Moslemlande wat tans by instellings soos die Gatestone Institute werk, berig daaroor. ‘n Mens moet net versigtig wees om nie “gewone” Moslems en radikale Islam oor dieselfde kam te skeer nie. Dit is laasgenoemde se gewelddadige kultuur wat Europa in so ‘n mate terroriseer dat regse politieke partye oral opgang maak, aangevuur deur gewone Europeërs se teenstand teen dié onaangename migrante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.