Was kolonialisme net sleg?

rwanda-worldvision

Tussen 800 000 en twee miljoen mense is sonder enige geldelike gewin in Rwanda uitgemoor. Foto: Wvi.org

Kolonialisme en slawerny is twee gebeure uit die geskiedenis wat vandag ad nauseam in veral swart kommentators se kritiese meningstukke opduik. Maar was daar ook ʼn positiewe kant aan veral die “scramble for Africa?

Kolonialisme kry vandag oor ʼn breë front die skuld vir die feit dat 21 van die wêreld se 25 armste lande in Afrika is, terwyl ander faktore nie vermeld word nie, soos outokratiese leiers wat die dwarslêers laat vibreer met hul soustreine van korrupsie.

Maar kom ons kyk eers na slawerny en die klagtes wat voor Europeërs se koppe gegooi word – terwyl die mensehandel vir ʼn gretige mark uit Afrika hoofsaaklik deur veral swart heersers gepleeg is!

Slawerny kom van ver af

Slawe is een van die oudste handelsitems en is deur alle beskawings beoefen: China, Indië en natuurlik Afrika. Die Vikings het ook met slawe gehandel en ten tyde van die Bisantyns-Ottomaanse oorloë en die Ottomaanse oorloë in Europa is groot getalle Christene opgeruim en as slawe verkoop.

Dit net ter wille van bietjie perspektief en nie ter verontskuldiging dat “almal” dit gedoen het nie. Die argument dat swart mense in die VSA vandag in meeste gevalle beter leef as in Afrika, is ook nie hier ter sake nie.

Geleerdes bereken dat ongeveer 12 miljoen Afrikane deur Afrikane aan Europeërs verkoop is (die meeste van hulle voor die geboorte van die VSA in 1776). Slawehandel is deur Moslem-koninkryke begin en tussen 1000 n.C. en die 20ste eeu is 10 miljoen aan Moslem-lande verhandel, hoofsaaklik vroue vir seksuele en huishoudelike doeleindes.

In Afrika is slawe deur hul heersers opgeruim en in oorloë gevange geneem en verkoop. Hulle was die sterkes en dié wat binnelandse bedreigings vir die heersers ingehou het. Hulle is soms vir so min as ʼn bottel drank van die hand gesit. Dit is stellings wat hewige kritiek en ontkennings van sommige groepe oplewer. Dis seker net so moeilik om te erken dat Afrikane tussen 800 000 en twee miljoen medeswartes sonder enige geldelike gewin in Rwanda uitgemoor het?

Aan die Kaap was daar teen 1658 11 slawe, van wie agt vroue was. Abraham van Batavia was die eerste Kaapse slaaf, hoewel hy eintlik as verstekeling geland het. Baie van hierdie slawe is mishandel en moes swaar handearbeid verrig, maar daar was ook talle ambagsmanne wat beter behandel was.

Daar is nog 40 miljoen slawe

Die ontstellendste aspek van slawerny (wat in 1807 in Engeland, 1834 aan die Kaap en in 1865 in Amerika afgeskaf is) is dat daar vandag nog tussen 20 en 45 miljoen slawe is, soos berig word deur die webwerf walkfree.com, een van talle organisasies wat hulle met slawerny bemoei.

Volgens hierdie werf is daar 18 miljoen slawe in Indië, waar die kastestelsel steeds geld en in sommige kringe as “versteekte apartheid” beskryf word.

Die Globale Slawe-indeks definieer slawerny as ʼn situasie waarin ʼn persoon “nie sy arbeid kan weerhou nie uit vrees vir dreigemente, dwang, geweld, die misbruik van mag en die behandeling van mense asof hulle plaasdiere is”.  Dit sluit in die slagoffers van mensehandel, gedwonge arbeid, geforseerde huwelike en die verkoop en eksploitasie van kinders.

In Colombia word 65 000 kinders vir prostitusie gebruik. In China is daar 3,3 miljoen slawe en Noord-Korea se 5% slawe is proporsioneel tot sy bevolking die hoogste. Brasilië en Kenia het ook baie slawe en die Moslem-republiek Mauritanië is besig om Afrika se praktyk van slawehandel vol te hou.

Kolonialisme in Afrika

Maar kom ons betrag nou kolonialisme – die groot skulddraer vir die vasteland se sosiale, politieke en ekonomiese probleme. Was daar net nadele vir die vasteland?

Ná die 1870’s is Afrika blootgestel aan Europese imperialistiese aggressie en uiteindelike kolonisasie. Teen die vroeë 20ste eeu was groot dele van Afrika, met die uitsondering van Ethiopië en Liberië, in die mag en bestuur van Europese lande.

Die Romeine was groot koloniseerders en het tot oor Engeland beheer gevoer. Daar was ook talle ander ryke wat oor groot dele gestrek het. In meer moderne tye was Brittanje die grootste koloniseerder, maar lande soos Portugal, Frankryk, Duitsland, België, Italië en Spanje het fluks meegedoen. Voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was 23 miljoen vierkante kilometer onder koloniale beheer – een vyfde van die totale aardoppervlak.

Die Europese lande se redes vir imperialisme was veral ekonomies, politiek en sosiaal van aard. Dit het gevolg op die afskaffing van slawehandel en die gepaardgaande uitbreiding van die Europese kapitalistiese industriële revolusie. Dit was ʼn noodsaaklikheid vir industrialisasie, insluitende gewaarborgde roumateriale, gewaarborgde en winsgewende markte.

Nadele van kolonisasie

Afrika is benadeel deurdat sy inwoners onderdruk en sy natuurlike hulpbronne – wat hy nie self kon ontgin nie, bygesê – ontgin is tot voordeel van Europese en ander nasies.

Die webwerf Quora bied interessante sienings van Afrikane, soos dat koloniseerders godsdienste soos dié van die Moslems en die Christene met hulle gebring en Afrika-kulture oorspoel het. Die koloniale siening dat Afrika agterlik was, heers nog in lande suid van die Sahara.

Eria Asantewaa skryf dat net die wit man se produkte as goed gesien word. “Die manier waarop ons aantrek, die kos wat ons eet en selfs die musiek waarna ons luister is deur wittes beïnvloed. Ons kan niks self doen nie en het altyd die ‘meester’ nodig.”

(Eintlik wil ʼn mens hier byvoeg dis jammer dat die Europese vorm van demokrasie nie ook wyer in Afrika posgevat het nie.)

Emmanuel Ogomegbunam sê kolonisasie “was die mensdom op sy slegste. Die gesinseenheid is nie meer so stabiel as voor kolonialisme nie. Hebsug, samewerkingsgeld (kickbacks), bedrog en oneerlikheid word nou hoog geag in Afrika-samelewings.” (Die navolging van die Eerste Wêreld se manier van doen?)

Marshall Bessey: “Die oorhaastige en dikwels gedwonge onttrekking van koloniale moondhede het ook magsvakuums gelaat wat deur brutale diktators gevul is.”

Hy verwys waarskynlik na Idi Amin en sy trawante soos Charles Taylor van Liberië, een van twee lande wat nooit gekoloniseer is nie. Liberië was die aflaaiplek vir vrygestelde Amerikaanse slawe en sy vlag en grondwet toon groot ooreenkomste met dié van die VSA. Kolonialisme kan dus nie juis die skuld kry dat Taylor sy land in die afgrond in regeer het en in 2012 deur ʼn internasionale hof tot 50 jaar tronkstraf vir onder meer oorlogsmisdade en korrupsie soos die diefstal van $100 miljoen dollar gevonnis is nie.

Korrupte regeerders is steeds volop: Dink maar aan presidente soos Robert Mugabe (steeds ʼn held vir baie Afrikane!) en meer onlangs Omar al-Basjir (van die Soedan), Sekou Toure (Guinee) en Yahya Jammeh (Gambië).

Een van die groot klagtes teen kolonialisme is die supermagte se gebrek aan insig toe hulle landsgrense dwarsdeur verskillende stamme getrek en die vasteland geplunder het.

Uit die Steentydperk gelig

Peter Khaemba wys op enkele voordele van kolonisasie: “Baie lande is letterlik uit die Steentydperk gelig en het ʼn gevoel van nasieskap ontwikkel.” Hy sê ook Nigerië is ʼn goeie voorbeeld van ‘n land wat baie meer produktief onder Britse besit was as onder enige Nigeriese regering sedert onafhanklikheid.

Koloniste het ook moderne regeringstelsels, geletterdheid, medisyne en infrastruktuur soos paaie en die eerste Oos-Afrikaanse spoorlyn gebring. Saam met hulle het skole, hospitale en universiteite verrys. Nou moet ʼn mens ook byvoeg dat Timboektoe reeds teen die 12de eeu ʼn uitstekende universiteit met 25 000 studente gehad het, en dat Alexandria se biblioteek sonder weerga was.

Let wel: Soos die Egiptiese bydrae tot kennis was hierdie instellings ook net in Noord-Afrika.

Ten slotte kan ʼn mens die stelling maak dat niemand goed soos die kruistogte, die Joodse menseslagting, kolonialisme en apartheid se gevolge ontken nie. Die beste wat ons kan doen is om met ʼn gebalanseerde perspektief daarna te kyk en dit te verwerk.

En dan te erken dat die probleme en ellende van Afrika tot ʼn groot mate op die skouers van gebrekkige en korrupte leierskap gelaai kan word, nie net op die koms van Jan van Riebeeck en ander Europeërs nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico K

Dit is so dat die een groot nadeel van kolonialisme was die onlogiese vasstelling van grense. En dit is die een ding wat Afrika weier om te verander. Hull veg groot oorloë om daai grense te behou. En dan die ander argument teen die slegte kolonialisme storie wat deesdae al hoe meer gehoor word. Suid Korea, Vietnam, Indonesie, Singapoer en Maleisië was ook gekolonnialiseer. En Suid-Korea het onafhanklikheid gekry saam met Tsjaad, Barkino Faso, Kongo ens. En jy kan nie eintlik die lande vergelyk nie. Suid- Amerikaanse lande het almal voor 1820 onafhanklikheid gekry. En Nicaragua. Bolivia, Colombia kan nog… Lees meer »

Ou Vlakvark

Geagte mnr Potgieter, ‘n Uitstekende artikel. In die verlede is duisende Indiërs in Indië is deur mede Indiërs gevange geneem en as slawe aan buitelanders verkoop. Duisende Afrikane is deur mede Afrikane gevang en as slawe aan buitelanders verkoop. En het die San en KhoiKhoi nie voor die Nguni kolonialiste en Europese kolonialisme die noord-oostelike dele van Suid-Afrika bewoon nie? Ongelooflik hoe mense teenoor hul medemense kan optree nie. Lees gerus die werk van Robert Hughes: “The Fatal Shore – The epic of Australia’s founding”. En steeds woed slawerny voort! Tyd dat alle Suid-Afrikaners hul familiegeskiedenis, Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis behoorlik… Lees meer »

Johann

Inderdaad ‘n baie goeie artikel. David Bullard, wat ‘n joernalis was vir Sunday Times het jare gelede ‘n artikel oor dit ook geskryf. Die artikel het hom sy werk gekos na wat hy geskryf het as rassisties beskou was. Mosambiek is ook ‘n goeie voorbeeld. Nadat die burgeroorlog tot ‘n einde gekom het, het baie mense ook geglo dat die land vooruit sal gaan. Maar weereens soos die res van Afrika het Mosambiek misluk. Die land is ryk aan natuurlike minerale wat slegs deur uitlanders gemyn word. Daar is net ‘n sekere groep van die beherende regering wat ryk word… Lees meer »

Jane

Nee kolonialisme het ‘n vloekwoord geword terwyl dit eintlik net ONTWIKKELING teweeg gebring het .. daar was niks totdat die EVIL COLONIALISTS in AFrika en ander lande ingetrek het nie . mens het met pyl en boog geskiet en in modderhuisies gebly .. was dit nie vir die kolonialiste nie was hier nie skole en huise en besigheide en mynbedrywighede op groot skaal nie . dan sou mense nog goud met siwwe uit die waterstroompies probeer sif het en bokkies in hulle velbroekies geskiet het .. BEWYS MY VERKEERD!

Vaalseun

Min mense verstaan die swartes se inherente respek en gehoorsaamheid aan hulle klassestelsel – sosiale rangorde volgens afkoms (ukuhlonipha), en nie volgens meriete nie. Die “koloniale” onderwysstelsel en erkenning volgens meriete in die werkplek bots nog steeds hiermee. As ek ‘n hoër sosiale status het, en my halfbroer ‘n laer status, en ons sit in dieselfde kursus, maar hy slaag en ek druip die eksamen, protesteer ek. My hoër sosiale status is my slaagsimboolpaspoort. Nie ‘n eksamen nie. Die dekolonialisasie-protes gaan oor ‘n vrypas vir die (lui) hoër klas. Erkenning vir die hoër stand is “meriete.”