Wat behoort jou besigheidstrategie te wees ná die begroting

skaak-strategie-dink-skaakbord-skaakspeler

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die 2019-nasionale begrotingsrede het gekom en gegaan. Sakeliga het, in samewerking met Russell Lamberti van ETM Macro Advisors, die begroting onder oë geneem. Behalwe vir die lees van die begroting self, wou ons veral oorweeg wat die begroting vir ondernemings en sakelui kan beteken.

Die volgende gedeelte is ’n samevatting van Russell Lamberti se aanvanklike ontleding, wat saam met Sakeliga se ontleders ontwikkel is. Sakeliga hoor graag van markdeelnemers, lewer gerus kommentaar onderaan die artikel.

Oor die begroting self …

Uiteindelik kan ons Russell Lamberti se mening oor die 2019-begroting soos volg opsom:

Nie veel het (waar dit saak maak) verander nie. Die begroting se tekorte bly (te) groot. Belasting bly styg. Die regering se betaalstaat staan vas by ’n enorme 35% van BBP en maatreëls om dit te besnoei, gaan nie ver genoeg nie. Verder is voorwaardelike laste, soos Eskom se skuld, ’n toenemende en onsekere risiko vir die belastingbetaler.

Moontlike hervormings van die elektrisiteitmark word oorweeg, maar dié word deur die beoogde koolstofbelasting en energieburokrasie teengewerk. (Belasting, burokrasie en energiesubsidies druis in teen die werking van vrye markte en Sakeliga meen dat dit die daarstel van privaat oplossings tot elektrisiteitsvoorsiening sal belemmer.)

Minister Mboweni se bemoedigende voorstel vir ’n “gesprek” oor die nut van talle staatsbeheerde instellings – waarvoor ons hom beslis ’n pluimpie gee – sal met stywe politieke teenkanting, selfs in die ANC, tegemoet gegaan word wanneer beheer oor hierdie instellings van gunsbejag bedreig word.

Mboweni se toespraak gee ook min blyk daarvan dat die regering binnekort beplan om af te sien van teenproduktiewe beleide soos ongunstige arbeidswetgewing, regstellende aksie, en ander vorms van staatsinmenging.

Die slotsom is dat die ANC klaarblyklik fundamenteel nie daartoe in staat is om Suid-Afrika na ware fiskale hervorming te stuur nie – selfs nie eens onder sy nuwe leierskap nie.

Die fiskale agteruitgang duur dus voort tesame met die las van ’n regering wat produktiewe ondernemerskap op verskeie maniere onderdruk en teenwerk.

Tendens van de-ontwikkeling?

Sakeliga se mening is hiervolgens dat Suid-Afrika in ’n tendens van de-ontwikkeling vasgevang is. ’n De-ontwikkelende land staan in kontras met ontwikkelende lande. Die oorhoofse tema van de-ontwikkeling is ’n geneigdheid tot agteruitgang.

Daar is vyf oorkoepelende patrone wat de-ontwikkeling in standhou:

(1) ’n gebroke ideologie van die regerende elite, (2) ’n ekonomie van grootskaalse ingeburgerde gunsbejag, (3) ’n verswakkende belastingbasis, (4) stygende misdaad, en (5) die vlug van vaardigheid- en kapitaal.

In ’n de-ontwikkelende omgewing sal die middelklas geleidelik verswak en verarm, produkte en dienste minder volop, minder mededingend, of van swakker gehalte word en sal waardekettings agteruitgaan. So ook sal die gehalte van die staat se dienste bly afneem terwyl korrupsie en belastingdruk toeneem. Verder kan radikale ideologieë ’n gunstige teelaarde in hierdie omgewing vind – sulke ideologieë ondergrawe natuurlik juis produktiewe bedrywighede.

Hierdie faktore sal dit vir Jan Alleman moeiliker maak om ’n gunstige lewenstandaard in Suid-Afrika te handhaaf. Daarby sal armoede vererger soos geleenthede opdroog.

Keuse oor sakemodelle en -strategie

Hierdie, na ons mening, is die uitdagende omgewing waarmee sakelui tans te kampe het – hoewel weliswaar tot ’n mindere of meerdere mate. Maar wat beteken so ’n omgewing vir sake doen?

Hoewel daar sekerlik nie net een antwoord hiervoor is nie, is Sakeliga se gevolgtrekking dat sekere ondernemings en sakemodelle meer suksesvol in ’n de-ontwikkelende omgewing sal wees as in ander. Ondernemings sal minstens teen die de-ontwikkeling en de-sofistikasie van die plaaslike handelsomgewing moet verskans.

Dit laat ons wonder hoe sakelui en ondernemers hulself hiervolgens kan posisioneer. Oorhoofs kan ’n paar elemente genoem word: (1) Sake met die staat, (2) SEB, (3) kleinhandelomwentelinge, (4) kontant teenoor krediet, (5) operasionele oorwegings en (6) geleenthede van de-ontwikkeling.

Heroorweeg sake met die staat

Ondernemings moet die risiko’s verbonde aan handeldryf met die staat vierkantig in die oë kyk. Korrupsie het op verskeie vlakke van die openbare sektor posgevat. Dit is maklik om by korrupsie en onderduimse netwerke van gunsbejag ingetrek te word.

Verder word SEB en verkrygingvereistes net al hoe strenger – die net van SEB word as’t ware stywer getrek. Die huidige trajek van SEB-regulering dui daarop dat rasvereistes in die toekoms strenger gaan word. Entrepreneurs wat by SEB ingekoop het, loop dus die risiko om eienaarskap en sê oor hul ondernemings te verloor.

Ondernemings wat groot kostes aangaan in die opstel van infrastruktuur om sake met die regering te handhaaf, moet veral versigtig wees – veral wanneer die staat jou enigste of grootste kliënt is. ’n Onnatuurlike afhanklikheid aan “een groot kliënt” is altyd ’n risiko, maar veral wanneer toenemende politieke regulatoriese risiko ter sprake is.

Op ’n meer konkrete vlak is heelwat sake-eienaars gebrand deur staatsinstellings en -departemente wat baie swak betaal. Wanneer werk vir die staat verrig word, moet stappe gedoen word om betaling en kontantvloei te beskerm – deposito’s van 75% (of hoër) kan hierdie doel dien.

Vermy SEB sover moontlik

Sake-eienaars moet oorweeg tot watter mate hul bedrywighede aan die tendens van de-ontwikkeling blootgestel is. Aanduidings bestaan byvoorbeeld dat heelwat vaardige indiwidue besig is om die land te verlaat. Om vaardighede na jou onderneming te lok, is belangrik en raak moeiliker. In sulke omstandighede is ’n gebondenheid aan die rigiede numeriese bepalings van SEB en regstellende aksie (RA) ’n strategiese las.

Daarby is die regering besig om die reëls van die speelveld gedurig te verander. Dinge kan aansienlik teen jou draai soos vereistes verskerp word. Wanneer die sake-omgewing in elk geval vlugvoetigheid en aanpasbaarheid verg, is ’n hewige blootstelling aan rompslomp en burokrasie eenvoudig nie sinvol nie.

Oorweeg, in plaas daarvan, om aan ’n netwerk van ondernemings, verskaffers en kliënte te behoort waar voldoening aan SEB nie so nodig is nie. SEB-blootstelling kan verminder word deur middel van direkte verkope aan kliënte, aanlyn verkope en die ontwikkeling van internasionale afsetgebiede vir jou produkte of dienste. Verder kan ’n groeiende klompie vaardighede vanaf oorsese markte gehuur word – kyk byvoorbeeld na platforms soos fiver.com.

Verminder jou SEB-blootstelling

Heelwat ondernemings is reeds aan SEB-vereistes onderworpe. Ons raad aan sulke maatskappye is om hul afhanklikheid aan SEB-kontrakte te verminder. Dit kan beteken dat markte ontwikkel word waar hoë SEB-tellings nie nodig is nie. Weereens kan direkte verkope, byvoorbeeld aan huishoudings self, of uitvoere oorweeg word. Nisbesighede en uitsluitlike lisensies kan beteken dat aankopers laer SEB-tellings sal verdra.

Daar is verdere oorwegings wat moontlik op ’n de-ontwikkelende omgewing van toepassing is:

Kleinhandel

Soos ons dit sien, kan die kleinhandelsektor in twee deel. Aan die een kant met massakleinhandel vir basiese produkte en aan die ander kant met nis, hoëtegnologieprodukte en internetverskaffing. Dit laat ’n moontlike knyptang vir middelsegment van die mark, veral vir sakemodelle wat groot en duur vloerspasie in stedelike winkelsentrums en hoë voorraad vereis. Sulke besighede kan groter kompetisie van nisaanlynaanbiedinge met aanpasbare snel-, nisverskaffing, verwag. Massa-kleinhandel wat bekostigbare produkte en hoë volumes bied, behoort steeds goed te doen, maar met die verstaan dat die massakleinhandelmark mag vereenvoudig.

Operasionele risiko’s

In ’n de-ontwikkelende sake-omgewing sal operasionele risiko’s verhoog. Buiten ondernemings in massakleinhandel met basiese produkte, reken ons besighede met lae winsmarges dit moeiliker sal vind om die hoër koste en wisselvalligheid van die Suid-Afrikaanse omgewing die hoof te bied. Ondernemings moet met laer volumes kan klaarkom. Twee elemente staan uit. Die een is arbeid en die ander is die wisselvalligheid van die randwisselkoers. ’n Verswakkende rand sal ingevoerde insette duurder maak. Strenger arbeidswette kan arbeid duurder maak. Uiteindelik moet jou besigheid genoeg wins maak om sulke skokke te kan absorbeer. Sakemodelle wat blootstelling aan militante arbeid verminder, mag nodig wees. Uitvoere wat buitelandse valuta verdien, sal waardevol wees. Kontantsurplusse kan oorsee belê word as ’n skans teen ’n swakker rand – dit verg kundige tesouriebestuur.

Kontant teenoor krediet

Sakeliga reken dat kontantondernemings ’n voordeel sal hê. Krediet aan verskaffers en kliënte sal versigtiger bestuur moet word. Rentekoersskokke is moontlik. Harde kontant hou wel ’n misdaadrisiko in en veiliger elektroniese betalings moet verkies word.

Slotsom: Die geleenthede van de-ontwikkeling

De-ontwikkeling bied darem ook geleenthede, soos geleenthede vir ondernemings om in te tree waar die staat se dienste misluk. Privaat sekuriteitsdienste is een voorbeeld, maar ander geleenthede bestaan ook vir produktiewe entrepreneurs, ondernemings en gemeenskappe om strukture van orde en vooruitgang, buite die staat s’n, daar te stel. Klubs met erekodes en privaat geskilbeslegting is enkele voorbeelde daarvan. Dan kan ons ook dink aan privaat oplossings teen de-ontwikkeling, soos kriptogeld en -betalings, privaat elektrisiteit- en energie-oplossings, watersuiwering, innoverende rommelbestuur en baie ander voorbeelde.

  • Die sakeorganisasie Sakelige se ontledingspan het hierdie artikel geskryf en vertaal. Lees die oorspronklike Engelse weergawe van die artikel op Sakeliga se webwerf

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jerry ·

Stem saam dat Suid Afrikaners onafhanklik van die staat hulle kundigheid moet laat geld. Trek die bietjie kundigheid wat in die staat oor is ook uit na privaatmaatskappye wat ten duurste dienste kan verskaf aan die staat en namens die staat. Moet egter onder geen omstandighede kundigheid of dienste verskaf aan SOE’s en wanbetalende munisipaliteite nie. Indien Suid Afrikaners, SA wil red moet hulle die ANC sink en dit kan ons doen deur te verhoed dat SOE’s en wanbetalende munisipaliteite geldelike hulp en kundigheid ontvang. Indien die ANC toegelaat word om Suid Afrikaners verder te verarm deur ANC revolusionere strukture dmv SOE’s te verryk sal die ANC vir SA sink en dan kan ons net sowel eerder ons besighede oorsee gaan vestig het en van daaraf dienste ten duurste aan die ANC verskaf het. Suid Afrikaners het dus n keuse om die ANC te sink of toe te laat dat die ANC, SA sink! Die geldkraan van die belastingbetalers na die ANC se revolusionere strukture (botallige poste by SOE’s, wanbetalende munisipaliteite) loop direk deur die SOE’s. Draai daai kundigheid en geldkraan toe! Die ANC se kader revolusionere strukture skuil in SOE’s en wanbetalende munisipaliteite en wanbetalende gemeenskappe. Draai die geldkrane na hierdie strukture toe en vernietig die ANC en red SA!

jaco ·

Hoe gaan n besigheid soos Akademia oorleef in die lig van al hoe steeds strenger wordende vereistes vir regstellende aksie en SEB?
Hulle taal is 100% Afrikaans. om egter 10 wit akademici en 90 swart skoonmakers te hê, is NIE regstellende aksie nie. Dis “window dressing” volgens die ANC. Om Afrikaanssprekende kleurlinge aan te stel gaan ook nie noodwendig werk nie. Miskien in die Wes-Kaap, waar kleurlinge in die meerderheid is, maar daar was ook al gevalle waar regstellende aksie afgedwing is op grond van die “nasionale demografie”
Met Akademia se hoofkantoor in n provinsie sonder kleurlinge en met dus n provinsiale demografie wat waarskynlik “erger” is vir wit mense as die nasionale demografie, hoe gaan hulle aanhou bestaan sonder om boetes te kry vir regstellende aksie en SEB wat nie reg toegepas word nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.