Wat beteken veldtogte soos #MeToo en #TimesUp vir vroue in Suid-Afrika?

Time Magazine het onlangs die mees invloedryke persoon van 2017 aangewys. Die tydskrif het dié toekenning gemaak aan die beweging wat bewusmaking wil skep oor seksuele teistering en aanranding, die #MeToo-veldtog op sosiale media. Argieffoto.

Een uit elke vyf vroue in Suid-Afrika was al die slagoffer van gesinsgeweld. Drie uit elke vier vroue is al by die werk seksueel geteister. In Suid-Afrika verdien vroue gemiddeld 23% minder as mans.

Die bogenoemde statistiek is vanuit geverifieerde bronne, en dit skets ʼn donker prentjie van ʼn land waar vroue net kan droom van veiligheid en gelykheid. Dit plaas ons ongelukkig ook in die internasionale arena, waar dieselfde situasies hul afspeel. Ons is sedert 2017 daagliks gepeper met nuusartikels waar die afskuwelike vergrype van mans in magsposisies in die vermaaklikheidsbedryf in Amerika na die oppervlak gedwing is deur dapper vroue. Ons moes besin oor die feit dat die mense wat ons flieks en musiek maak, slegte mense is wat slegte dinge aan ander mense gedoen het.

Dis kortsigtig om te argumenteer dat dinge wat in die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf gebeur, geen impak of relevansie het tot die situasie in Suid-Afrika nie, en dat ons op ander dinge moet konsentreer. Ons vroue word mishandel, geteister en minder betaal. Ons het ʼn probleem in ons land, en ons moet iets daaraan doen. Ons kan dieselfde tipe veldtogte in Suid-Afrika afskop, en waarskynlik ʼn beter omgewing vir ons dogters en kleindogters nalaat. Ons het niks om te verloor deur op te staan, en saam te praat nie.

Die hutsmerk #MeToo is deur die Amerikaanse aktivis Tarana Burke in die lewe geroep, en het wyd opslae veroorsaak deurdat vroue hul eie stories van teistering en mishandeling op verskeie sosialemediaplatforms gedeel en met dié hutsmerk afgesluit het. In Oktober 2017 het die hutsmerk 85 lande bereik, met 1.7 miljoen twiete. Tans word daar soveel as 1 000 twiete per uur gestuur met dieselfde hutsmerk. Die damwal het voorwaar gebreek, en vroue sal hopelik sien dat hulle nie langer teistering en mishandeling in stilte hoef te verduur nie.

Die vroue van Hollywood het saamgestaan, en ʼn tweede veldtog van stapel gestuur: #TimesUp is ʼn volwaardige organisasie, wat skenkings aanvaar om vroue wat slagoffers van teistering en mishandeling was, met regsprosesse by te staan. Verder wil die organisasie as drukgroep optree om wetsveranderinge te bewerkstellig wat vroue in die werkplek ondersteun, en gelykheid bewerkstellig.

Gegewe hierdie agtergrond, en waaraan Suid-Afrikaanse vroue onderwerp word, sou dit sinvol wees om voor te berei op ʼn soortgelyke rewolusie in ons land? Die hoop beskaam nie dat vroue (alle vroue) sal opstaan, saamstaan en sê genoeg is waarlik genoeg nie. Slaan aan een van ons, en jy slaan aan almal van ons. Hou jou kommentaar en hande in die werkplek vir jouself, ons stel nie belang nie, en as jy oortree, sal ons saamstaan om seker te maak die wet gaan sy gang.

Ons is ʼn menigte vroue in hierdie land, en ons kan saam sinvolle verandering bring. Ons kan die statistiek verander, en ons kan ons land ʼn beter plek maak deur ons werkplekke en leefruimtes beter plekke te maak.

As jy ook kan sê #MeToo, wil ek jou uitnooi om te help skep aan ʼn golf van verandering, want #TimesUp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jahni de Villiers

Jahni de Villiers is ʼn arbeidsreg- en arbeidsverhoudingespesialis. Sy werk vir Agri SA as hoof van Arbeid en Ontwikkeling. Sy is tans besig met ʼn LLM-graad en haar proefskrif handel oor seksuele teistering in die werkplek. Sy is passievol oor die rol van die vrou in die werkplek.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

mc ·

Die ergste emosionele mishandeling wat amper aan verraad grens is wanneer ‘n vrou durf waag om ‘n fluitjieblaser te wees en opstaan teen onetiese praktyke en bedrog hoe sy dan deur vroulike kollegas aangeval en emosioneel vernietig word, tot op die punt waar sy later in haarself begin twyfel. Hierdie veldtogte moet geloods word teen vrouens wat ander vrouens teister en mishandel ook, veral in die werksplek.

Eish ·

Hierdie is n goeie georganiseerde poging tot regstelling. Die gevaar vir my lê daarin dat reputasies vernietig word suiwer op grond van n bewering. Onskuldiges gaan ongelukkig n bitter prys betaal indien vals beskuldig. En daar is sulke dames wat instaat is tot sulke laakbare optrede.

Speedguard ·

Net so MC, ek het die tiiepe van sake ondersoek, ongelukkig speel die Wolf-Wolf storie ook ‘n groot rol, Moet ook nie vrouens wat die mans misbruik om hul rol te vervul of hul doelstelling te bereik en visa-versa nie. Die Dames en mans wat die soort van aantuigings maak in egskeidings asook visa-versa om toesig oor die kinders te kry en dit gaan nie oor die kinders nie dit gaan oor die onderhoud na beide kante toe ! Dit is ‘n werklikheid glo dit as u wil !!

Jacobus ·

Die meeste mans wil nie eers meer alleen saam met ‘n vrou wees of vergader nie oor al die vals aantygings as daar teen ‘n vrou dissiplinêr opgetree moet word as sy nie haar werk doen nie, dit is die vinnigste wat sake platval teen ‘n vrou as sy net skree tystering.

Daar is mans wat die perk oorskry maar as die vrou stilbly soos in die geval met Hollywood, dan het sy dit gedoen vir haar werk en kan sy nie na die tyd kom en sê sy wou nie saamspeel.

Hulle het hulle beroepe en roem voor hulle selfrespek geplaas.

As enige vrou selfrespek het, sal sy ‘n saak maak met die eerste geval van teistering.

Alle mans sal haar ondersteun indien dit die waarheid is want ons as mans wil ook nie geassosieer word met mans wat oortree nie, dit gee aan ons net ‘n slegte naam.

Ek wonder net hoekom mans uitgesonder word, daar is menigte vroue wat maar die selfde met mans doen, in ons geval as die man kla word daar net gesê jy moet stilbly en dit geniet.

Dit is net so ‘n groot vernedering vir ons as ons mans geteister word deur vroue en niemand kan sê dat daar vir ons ‘n uitkoms is nie, niemand glo jou nie en in die meeste gevalle het ons al van werk verwissel net om weg te kom van die teistering.

Interessant ·

Nou dat die patriargale sisteem aangevat en bedreig word is die mans vol verskonings en aantuigings teenoor vroue in die werkplek. Jacobus, vroue sowel as mans word in ons land beskerm deur die wet op seksuele misdrywe, maar niemand kan help as daardie mans wat slagoffers is nie na vore kom nie. Jy noem dat vroue in Hollywood soms stilbly oor teistering om hul loopbaan te behou, doen mans nie maar dieselfde om skade aan hul egos te verhoed nie?

Tiaan ·

Gaan kyk gerus op YouTube onder die feminisme en politieke koreektheid onderwerp. Dit is baie insiggewend

Rupert Ashford ·

Hierdie “beweging” gaan nie oor regmaak nie maar oor mag en geld. Die groot geeste van hierdie beweging het vir so lank dit hulle gepas het stilgebly en selfs die ouens beskerm. Daar is niks dapper of braaf aan die spul nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.