Wat Christene kan doen

Sjoe, daar is darem deesdae baie rede in Suid-Afrika om siels-ongelukkig en opstandig te voel! Ek hou daarvan om op hoogte van nuusgebeure te wees, maar partykeer wonder ek of dit nie vir ʼn mens se gemoedstemming beter is om glad nie koerante te lees en nuus te luister nie. Daar is mense wat so maak en reken dat dit vir hulle baie beter is.

Aan die eenkant is daar die massa armes en werkloses wat rede het om te voel dat ʼn nuwe politieke bedeling nie hulle lot verbeter het nie. En tot ʼn groot mate is hulle seker reg. Tog stem die meeste van hulle na 17 jaar steeds vir die party wat hulle oënskynlik faal.

Aan die ander kant voel baie blankes nou al behoorlik vuisvoos. Om na 17 jaar van regstellende aksie steeds as die sondebokke uitgesonder te word en skuldig te laat voel, bring verdere polarisasie en onttrekking mee.

Dan praat ons nie eers van misdaad, barbaarse staking-optredes, korrupsie, onbevoegdheid en baantjies vir boeties nie!

Natuurlik is politieke, sosiale en ekonomiese onrus nie uniek aan Suid-Afrika nie. Die gebeure die afgelope maande in ʼn aantal Moslem-beheerde lande en onlangs selfs in “hoogs-beskaafde” Engeland, is aanduiding dat dit nie net ons Suid-Afrikaners is wat rede het om ongelukkig te wees nie.

Aan die ander kant is daar steeds soveel positiewe dinge in ons land. POTENSIAAL staan groot oor ons geskryf. By ʼn groot deel van ons mense bestaan ʼn gewilligheid en welmenendheid om hierdie land te maak werk.
Te midde van al hierdie faktore ervaar ek die toenemende vraag in myself oor wat ek (en ons) as Christene kan en behoort te doen om ʼn verskil (ten goede) te maak?

Ek is terdeë bewus van Christene en die kerk se foute en mislukkings hier en elders. Aan die ander kant is ek ook bewus van ontelbare aksies en optredes van Christene (indiwidueel en kollektief) wat opreg probeer om die lot en omstandighede van mense en hulle gemeenskappe te verander. Daar is ook die laaste paar jaar gereeld gebedsbyeenkomste waar gelowiges oor kerkgrense heen hulleself voor die Here verootmoedig en intree vir ons land.

Daar sal seker ʼn duisend en een menings en voorstelle wees oor wat Christene kán en behoort te doen om Suid-Afrika ʼn beter land vir al sy mense te maak. En miskien sal dit goed wees as elke Christen daaroor begin nadink en dit begin doen.

By myself dink ek allerweë na oor die Een Wie se volgelinge ons bely om te wees. Wat sou Jesus doen en sê as Hy vandag in persoon in Suid-Afrika sou woon? Ek weet Hy het nie primêr na hierdie wêreld gekom om ʼn voorbeeld te kom stel nie, maar om sondaars te red. Ek besef ook dat nie alles wat Hy vandag sou sê of doen almal gelukkig sou maak nie – dit was immers ook nie die geval toe Hy 2 000 jaar gelede hier was nie. My vermoede is dat Hy dalk té radikaal anders sou wees en optree as wat godsdienstiges sou verwag of hulle gemaklik sou laat voel.

Tog is die historiese Jesus vir baie mense meer aanvaarbaar as die meeste van Sy volgelinge. Die meeste mense is byvoorbeeld bewus dat iemand soos die bekende Hindoe-leier Mohandas Ghandi groot bewondering en waardering vir Jesus gehad het. Daar is meer wat soos hy voel.

Inderdaad is Jesus se voorbeeld soos wat ons Hom in die Bybel en in ons persoonlike verhouding met Hom leer ken het, die moeite werd om na te volg. Selfs al sou iemand die onwaarskynlike regkry om dit in die Bybel mis te lees dat Hy as Verlosser na die wêreld gekom het, kan ʼn mens nie ongeraak en onbeïndruk bly deur in Sy lewe na die vergestalting van liefde en goedheid te kyk nie.

Terwyl ek dit glo en in ootmoed aan andere wil voorhou, wil ek my bowenal daarop toespits om Sy voorbeeld meer as ooit in my eie lewe na te volg. Dit is goed om in ons alledaagse praktiese lewe te probeer bepaal hoe Jesus sou optree – dink maar aan die armbandjies wat ʼn tyd gelede deur baie gedra is: WWJD? (What would Jesus do?)

Ten diepste is dit ʼn saak van karakter. Ons hoogste roeping op aarde word bereik wanneer ons karakter meer en meer die kwaliteite van Jesus s’n weerspieël. Is dit moontlik? Seker nooit volkome nie en veral nie uit eie krag nie. Maar deur Sy krag – Wel?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.