Wat Cyril nie wil of kan sê nie

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane.

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn klomp goeie voornemens in sy staatsrede openbaar, maar die belangrikste ding is sommer net in die verbygaan genoem: dat ons een nasie van 57 miljoen mense is.

Sedertdien praat hy gereeld van “ons mense” en dis glad nie duidelik of dit wit mense insluit nie.

Een van die Nelson Mandela-refreine was “for all the peoples” waarin die “all” altyd lank en uitgerek was. Pas ná sy intrede is daar egter begin met die groot skoonmaak van wit mense in beheerposte. Hulle is voor die voet vervang met merieteloses en dikwels ook skurke met ‘n misdaadsgekiedenis. Daar was nie meer plek vir meer as ‘n handjievol wittes nie. En wie onthou nog dat Mandela gepleit het vir stemreg vir veertienjariges?

Die tekens van verval was gou duidelik en vandag is die agteruitgang van instellings soos Eskom, Prasa, die SA Lugdiens, gesondheid en hospitale, die SA Polisiediens, binnelandse sake – noem maar op – die gevolge van oorhaastige transformasie.

Sommer terloops: Op ‘n foto in uniform van vise-admiraal Hlongwane van die vloot dra hy nie die minimum kenteken van ‘n brugoffisier vir ‘n vlootrang nie. Sy medaljes sit op die verkeerde plek en op die internet is sy CV geblok!  Twee vlootkapteins wat die saluut by die staatsrede geneem het, kort ook die kenteken van ‘n brugoffisier. Dis mos ‘n verlaging van standaarde om die demografie ter wille te wees, iets wat oral gebeur.

Ramaphosa het net mooi niks van plaasmoorde en die beveiliging van boere gesê nie. Die feit dat daar gemiddeld byna twee plaasboere per dag vermoor word, het hom ontsnap, of hy was net nie bereid om dit te erken en teenmaatreëls in te stel nie. Natuurlik omdat dit nie sy gewildheid onder sy ondersteuners sal bevorder nie.

Pleks daarvan het hy weer die versekering gegee dat grond op ‘n “verantwoordelike” manier onteien sal word. Sluit dit die Zoeloekoning se grond in? Wat beteken “eienaarskap” as daar geen grondaktes is nie en die grond, soos in kommunisme, steeds aan die regering behoort? Hoe betroubaar is die regering se syfers oor wie grond besit? Gaan die groot lappe onaangewende weermaggrond deel van die onteiening uitmaak, of net wit boere s’n?

Hier het Julius Malema een van sy weinige sinvolle stellings nog gemaak deur te pleit dat daar landboukolleges gestig moet word om toekomstige boere op te lei – hopelik voordat hulle begin boer.

Die president het gesê een miljoen staatsamptenare is te veel. Daarmee kan mens nie fout vind nie, behalwe dat sy getal anderhalfmiljoen moes gewees het en dat hulle 45% van die staat se begroting opslurp onderwyl haas alles in die staatsdiens agteruit gaan – veral die “diens”-gedeelte.

Hy het groot gewag gemaak van hoe die lewenskoste vir armes verlig gaan word. Dit was net ‘n paar weke voor die BTW-verhoging van 14% tot 15% aangekondig is omdat die staatskas deur sy kaders leeg gesteel is. Sy kaders ja, want hy het as ANC-lid niks gedoen om dit om te keer nie.

Tim Moyane is nou darem onder sy blaker geskop as hoof van die SA Inkomstediens (SAID). As opvolger van Pravin Gordhan het hy skaamteloos ‘n handlanger van die plunderende Zuma geword en oneindige skade aangerig aan hierdie bron van regeringsinkomste. Die SAID was die één departement waarin daar ‘n yslike verbetering op die nasionale party se bestuur was.

Ja, daar is baie Hop-huisies gebou (waarvan baie binne maande onbewoonbaar was), meer mense het lopende water en krag in hul huise. Die ANC spog graag met hierdie syfers, maar ignoreer die feit dat min van daardie ontvangers hiervoor kan betaal en nie in die geleentheid gestel word om te kán betaal nie. Die werkloosheid van 28% van die bevolking kan ‘n groot duik kry as net helfte van die werk wat nie gedoen word nie en die land agteruitstoot, ‘n slag gedoen word. Maar daar is nie ‘n begroting nie …

Een van die land se groot bronne van inkomste is toerisme – in 2015 was dit R115 miljard, wat ‘n inkomste aan 1,5 miljoen mense voorsien het. Nou waarsku Derek Hanekom (minister van toerisme) dat die sinnelose visumvereistes vir Nieu-Seelanders ‘n daling van 70% besoekers uit hierdie land veroorsaak het.

Lees daarmee saam die kapings van en aanvalle op toeriste en dat SA Statistieke sê die bevolkingsaanwas van die land het gedaal, maar daar is ‘n geskatte 3 miljoen mense meer in die land. ‘n Mens kan maar net raai hoeveel van hulle visums het …

Ramaphosa het ook nie melding gemaak van hoe 93% van die land se munisipaliteite en agt van sy nege provinsies wanbestuur word en hoe dit omgekeer gaan word nie.

In die Vrystaat – om net een voorbeeld te noem – sit mense op klein dorpies weer met die las van beurtkrag omdat hul munisipale regeerders nie die geld vir die dienste kan insamel nie en dermiljoene rande se skuld opgebou het.

Iewers skryf ‘n kenner 50% van die land se riviere is besmet, baie van hulle permanent. In ‘n land wat onder droogtes steier.

In nog ‘n populistiese uitspraak sê Ramaphosa dat gratis tersiêre onderrig uitgevoer sal word, maar hy het min of niks gesê oor die dalende vlakke van onderwys nie. Ook nie dat net sowat 5% van hierdie begunstigde studente hul eerste jaar op universiteit slaag nie.

Dis nie gewild om oor sulke dinge te praat en beplan nie, veral nie op die ore van die magtige onderwysvakbond Sadtu nie.

Ramaphosa regeer natuurlik met ‘n skrale meerderheid oor ‘n bevolking waarvan byna die meerderheid nog ontken dat Zuma enigiets verkeerd gedoen het. Hy sit ook met verskeie beenysters, waarvan visepresident David Mabuza een van die grootstes is. Hy het natuurlik ook sy eie ambisies, soos om Ramaphosa oor vier jaar as president op te volg. Dit sal ‘n ramp wees.

Cyril Ramaphosa verdien tog ook krediet, soos met die afdanking van ‘n paar ontoereikende ministers en amptenare en sy voorneme om leefstyloudits te doen. Dis meer as wat Zuma gedoen het.

En wat Zuma betref: Hou tog maar op om te dink dat hy in persoon die binnekant van ‘n hof sal sien, om nie van ‘n tronk te praat nie. Dit sal nie gebeur nie en die land gaan nóg miljoene betaal vir sy appèlle en vertragingstaktiek. En dit lyk of dit nou maar in Indië se hande is om die Gupta-empire aan te tree en te straf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Die eerlikste artikel in n lang tyd op die nuusportaal, sonder politiek korrekte woordgimnastiek, net n feitelike opsomming van die ” State of the nation.”
Objektief en pylreguit. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.