Die lesse en gevolge van die DAgang-fiasko

’n Week in die politiek is ’n lang tyd, lui die ou gesegde. En dit is die laaste week weer terdeë bewys.

Die DA en dr. Mamphela Ramphele het mekaar so vinnig omhels en toe weer gelos dat daar amper nie tyd was om verbaas of geskok te wees nie.Mamphela1

Tog het die kortstondige huwelik en egskeiding tussen enersyds Agang en dr. Mamphela Ramphele en andersyds die DA, uiteenlopende reaksies ontlok. Diegene wat negatief op die jong versoening gereageer het, het die skielike skeiding met leedvermaak aanskou terwyl ander nou politieke kapitaal uit die fiasko wil slaan. Vir sommige beteken hierdie debakel hul politieke oorlewing. Groot segmente van beide partye se lede en ondersteuners is ontnugterd deur die hovaardige en hardhandige manier wat die besluit skielik aan hulle opgedwing is, sonder raadpleging of kennisgewing. En so kan mens aangaan.

Nieteenstaande die onmiddellike reaksies en harwar rondom hierdie debakel, het dit onbedoeld sekere strukturele swakplekke, harde politieke werklikhede en interessante tendense in Suid-Afrika uitgewys. Diegene wat die geskiedenis minag, is bestem om dit te herhaal. Ditto die werklikhede van Suid-Afrika, wat grootliks deur al die partye in hierdie situasie geïgnoreer is en toe die wrange vrugte moes pluk. Vir party is hierdie slegs ’n groot vernedering terwyl dit vir ander ’n politieke doodskoot kan wees.

Wat behels hierdie tendense dus en wat is die gevolge van hierdie gebeurtenis? En wat sal die kiesers se moontlike reaksie wees op stemdag in die lig hiervan?

Eerstens moet daar aanvaar word dat identiteits- en rassepolitiek steeds hoogty vier in die Suid-Afrikaanse politiek. In Suid-Afrika val etniese belange ook baie keer saam met sosio-ekonomiese profiele van bepaalde groepe en dus word steun vir ‘n spesifieke party of kandidaat daardeur versterk. Suid-Afrikaners oor die kleurspektrum stem nie net vir partye wat hulle voel hul etniese belange kan bevorder nie, maar ook téén sekere kandidate of partye wat dit oënskynlik kan ondermyn en ’n ander groep se belange bevorder.

Ek noem net ’n algemene voorbeeld of twee in hierdie verband. Die feit dat KwaZulu-Natal, waar die ANC altyd groot steun in die stede geniet het maar in die platteland gesukkel het, nou as die bastion van ANC se steunbasis beskou kan word, is tekenend hiervan. Pres. Jacob Zuma is ’n Zoeloe en sy kabinet weerspieël dit terwyl sy mede-Zoeloes bankvas agter hom staan terwyl hy steun verloor in plekke soos die Oos-Kaap, wat grootliks deur Xhosas bewoon word, en in Gauteng. Afrikaners, stedelike bruinmense en ander blanke kiesers steun die DA en masse in die hoop dat ’n Westers-georiënteerde party met liberale waardes ’n teenvoeter vir die ANC se Afrikanisme en transformasie-doeleindes sal vorm.

Afgesien van kleiner klemverskille het die DA en Agang baie gemeen sover dit waardes en kwessies betref. Die twee partye is dit eens dat korrupsie en misdaad bestry moet word, dat die gesondheids- en onderwyssektore drasties moet verbeter, dat die staatsdiens veredel moet word, en dat sosio-ekonomiese ontwikkeling broodnodig is. Tog het Mamphela die mislukking van die samesmelting aan “rassepolitiek” en ook “partypolitiek” toegeskryf. Daarmee het sy ’n harde waarheid onthul wat deur die meeste politici ontken word, maar nie sommer weggewens kan word nie.

Die tweede les is dat die partye en ook kiesers in Suid-Afrika te veel op persoonlikhede eerder as partybeleid en –waardes fokus. Hierdie prinse, en in hierdie geval “prinsesse”, se opvallende tekortkominge, mislukkings en botsings met ander groot figure laat gevolglik die vertroue in die politiek drasties daal. As jy twee sterk en omgekrapte bulle in ’n kraal saamgooi, gaan hulle mekaar aanval en die kraal verwoes. Ek is ‘n ruk terug op ’n radioprogram gevra of Numsa en Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) dan nou ’n vennootskap kan aanknoop aangesien Numsa so ontevrede met die ANC is en nie die party in die verkiesing gaan steun nie. Hulle het immers dan baie van dieselfde disposisies en ideologiese uitgangspunte. My antwoord was en is nog steeds “nee” en die hoofrede daarvoor is dat Numsa se hoofsekretaris, Irvin Jim, nie ter wille van ’n saak hom en sy organisasie se 320 000 lede aan Malema sal wil onderwerp nie. Net so sal die kennelik charismatiese Malema ook nie onderhorig aan Jim en Karl Cloete wil wees as hy dan die leier van sy eie politieke party is nie. Die gefaalde onlangse gesprekke tussen dié twee organisasies bewys hierdie punt.

Agang het eweneens geen groot name in sy geledere nie en die rede daarvoor is dat Ramphele nie teenstanders in haar midde soek nie. Daar is genoeg ontnugterde en beginselvaste intellektuele, sakelui en ander politici wat haar sou volg, maar hulle het nie. Was hulle net bang vir die ANC? Ek glo nie so nie. Haar verwysing na “partypolitiek” kon net sowel “persoonlikheidspolitiek” wees. Luidens mediaberigte het Zille die vereiste gestel dat Ramphele haar leierskap van Agang opsê as sy die DA se presidentskandidaat wou wees. Sy het geweier en toe kom die nuus oor die skeiding. Die groot vraag is wat van Ramphele sou word ná die verkiesing. Sy sou waarskynlik nie partyleier wees nie en waarskynlik ’n gewone LP wat aan Lindiwe Mazibuko, wat 33 jaar jonger as sy is, Zille en ander figure in die DA-establishment se gesag onderwerp word. Vir ’n gerekende akademikus, struggle-aktivis, suksesvolle sakevrou en voormalige besturende direkteur van die Wêreldbank is dit waarskynlik onaanvaarbaar aangesien sy boonop ’n ander politieke party gelei het en dan ’n gewone LP sal wees.

Die derde les is dat die partye op voetsoolvlak uit voeling is met die mense en dat kitsbesluite en verrassings nie blywende veranderinge en langtermynsteun gaan bring nie, maar slegs beginselvaste en legitieme leierskap en handelinge. Natuurlik het politieke partye altyd hul keiharde ondersteuners wat leiers oral heen sal volg. In Suid-Afrika moet veral die opposisiepartye egter ’n groot aantal mense wat nie tans stem nie, probeer lok. In die DAgang-geval het die partye selfs hul gewone ondersteuners grootliks die harnas ingejaag terwyl dit die gewone mense se vertroue in die politiek verder laat daal het. Die samesmelting en Ramphele se presidentskandidatuur is op ’n hoë vlak geneem en die partylede en publiek is ná strydige boodskappe slegs daarvan verwittig as ’n uitgemaakte saak. Ramphele het juis die ommekeer gemaak ná ’n vergadering met ontevrede Agang-lede in Kaapstad. Sy was salig onbewus van hoe die mense wat jou in mag kan instem, oor haar drastiese besluit gevoel het tot nadat dit openbaar gemaak is. Die vraag kan tereg gevra word: As Zille en Ramphele nie die potensiële risiko’s van só ’n besluit kon verreken en nie die onvergenoegdheid onder hul lede kon voorsien nie, is hulle hoegenaamd gereed om ’n komplekse land te regeer?

Kitsbesluite bring ook kitsvoordele en laasgenoemde verdamp gou. Die ergste van als is dat die DA al ’n gerieflikheidshuwelik probeer bewerkstellig het toe die Demokratiese Party met die Nuwe Nasionale Party probeer saamsmelt het om die ANC gesamentlik te pak. Die DA is toe gevorm, maar die alliansie het ook weens die botsing tussen twee partyleiers, te wete Marthinus van Schalkwyk en Tony Leon, skipbreuk gely. Dit klink nou net te bekend en steeds is die lesse nie geleer nie. Beide partye moes die punte van samewerking eers uitklaar en uiteensit en dan deur ‘n formele ooreenkoms vasmaak voordat so ‘n aankondiging gemaak is en als toe weer teruggetrek is.Tony Leon

Hierdie faktore en gebeurtenis sal gesamentlik negatief vir die DA wees, positief vir meer eksklusiewe minderheidspartye soos die VF+ en EVV asook vir die ANC, maar vir Agang en Ramphele gaan dit waarskynlik noodlottig wees. Die DA sal steeds groei in die komende verkiesing, maar straks teen ’n stadiger tempo weens die bedenkinge wat onbesliste en selfs anti-ANC kiesers kon ontwikkel na aanleiding van die Agang-debakel. Hierdie kiesers kan hul stemtuistes tydelik by die EVV en VF+ gaan vind hoewel daar nog tyd is om hulle te verower. Die DA se strukture en finansieringsmasjien is egter sterk en groot genoeg om hierdie vernedering te absorbeer en steeds beter as in 2009 te doen.

In Agang se geval is dit haas anders. Dit het nie die geld, organisatoriese strukture, langtermyn-politieke teenwoordigheid en nou die tyd om van só ’n legitimiteitskrisis te herstel nie. Ramphele se statuur as doeltreffende ystervrou (wat sy buite die politiek opgedoen het), het in ’n oogwink verdwyn en nou is sy die bang en weifelende leier van ’n party wat nie alleen kan bestaan nie.

So kom nog ’n dramatiese week in die politiek tot ’n einde. Voorspellings oor hierdie stuk politieke geskiedenis bly in die domein van die waarskynlike, en die kiesers sal uiteindelik moet oordeel oor wat plasgevind het. Een feit staan vas: Slagoffers gaan daar beslis wees en die demokrasie is sekerlik die grootste een.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Danie ·

Uiters goeie artikel.Daar is baie goeie punte gemaak,ek wil net n paar uitlig.Een is dat mens uit die foute van die geskiedenis moet leer,n mens moet ontleed wat verkeerd gegaan het,dan hierdie foute nooit weer maak nie,In die politiek is dit ook belangrik.
Ook die ontleding van 2 bulle in een kraal,dis baie waar,veral in die Suid Afrikaanse opset.Kyk wat bv met COPE gebeur het.
Agang behoort nou tot die geskiedenis.Ramphele ook.Ek sal nooit vir n party stem waar Ramphele aansluit nie,sy het nou bewys hoe wispelturig en onbetroubaar sy is.Sy het baie om te verduidelik,maar sal waarskynlik nie.
Hierdie hele fiasko het baie met harde politieke werklikhede te doen.AGANG het gesukkel,veral finansieel,partywerkers kon nie meer betaal word nie.Ramphele het volgens berigte n oorsese skenker genader. Daardie skenker het gese sy moet eers met die DA praat,en Ramphele moes hoed in die hand na die DA gaan.Zille het haar vir jare gesoebat om by die DA aan te sluit,maar sy wou nie.Maar toe dit finansieel broekskeur gaan,moes sy haar trots sluk,en met Helen gaan praat.Vandaar die ooreenkoms wat gesluit was.Maar sy het nooit haar party mense geraadpleeg nie,en die dag na die aankondiging van die ooreenkoms het haar eie party gerebelleer.Hulle was bekommerd oor poste en waar hulle op die kandidatelyste sou wees.Hierdie goed was nie met hulle uitgeklaar nie.
Ek stem saam,dit moet nie soseer oor persoonlikhede gaan nie,dit moet oor beleid gaan.Persoonlikhede is belangrik,maar beleid nog belangriker.Daarom moet alle kiesers n party se beleid noukeurig ondersoek voor hulle n besluit neem vir wie hulle gaan stem.
Die DA gaan inderdaad in die komende verkiesing groei,die VF+ gaan soos gewoonlik stagneer en AGANG is dood soos n mossie.

Danie ·

Uiters goeie artikel.Daar is baie goeie punte gemaak,ek wil net n paar uitlig.Een is dat mens uit die foute van die geskiedenis moet leer,n mens moet ontleed wat verkeerd gegaan het,dan hierdie foute nooit weer maak nie,In die politiek is dit ook belangrik.
Ook die ontleding van 2 bulle in een kraal,dis baie waar,veral in die Suid Afrikaanse opset.Kyk wat bv met COPE gebeur het.
Agang behoort nou tot die geskiedenis.Ramphele ook.Ek sal nooit vir n party stem waar Ramphele aansluit nie,sy het nou bewys hoe wispelturig en onbetroubaar sy is.Sy het baie om te verduidelik,maar sal waarskynlik nie.
Hierdie hele fiasko het baie met harde politieke werklikhede te doen.AGANG het gesukkel,veral finansieel,partywerkers kon nie meer betaal word nie.Ramphele het volgens berigte n oorsese skenker genader. Daardie skenker het gese sy moet eers met die DA praat,en Ramphele moes hoed in die hand na die DA gaan.Zille het haar vir jare gesoebat om by die DA aan te sluit,maar sy wou nie.Maar toe dit finansieel broekskeur gaan,moes sy haar trots sluk,en met Helen gaan praat.Vandaar die ooreenkoms wat gesluit was.Maar sy het nooit haar party mense geraadpleeg nie,en die dag na die aankondiging van die ooreenkoms het haar eie party gerebelleer.Hulle was bekommerd oor poste en waar hulle op die kandidatelyste sou wees.Hierdie goed was nie met hulle uitgeklaar nie.
Ek stem saam,dit moet nie soseer oor persoonlikhede gaan nie,dit moet oor beleid gaan.Persoonlikhede is belangrik,maar beleid nog belangriker.Daarom moet alle kiesers n party se beleid noukeurig ondersoek voor hulle n besluit neem vir wie hulle gaan stem.
Die DA gaan inderdaad in die komende verkiesing groei,die VF+ gaan soos gewoonlik stagneer en AGANG is dood soos n mossie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.