Wat die wêreld van Suid-Afrika weet en (nie) wil weet (nie)

the-economist-deur-alana-bailey

‘The Economist’, deur Alana Bailey afgeneem op Charles de Gaulle-lughawe, Frankryk, op 8 Desember 2017. Foto: Verskaf.

Na afloop van die onlangse betogings teen plaasaanvalle is daar weer deur verskeie individue groot gewag gemaak van “die buiteland wat nie weet van plaasmoorde in Suid-Afrika nie en ingelig moet word”. Terselfdertyd het ’n videogreep van ’n EU-sitting gesirkuleer waar ’n versoek om gesprek oor dié tema onsuksesvol was.

Daarteenoor duur die dramas om die omstrede Gupta-familie voort nadat lord Peter Hain die ondersoek van Britse maatskappye se betrokkenheid by hulle onreëlmatige finansiële bedrywighede op talle buitelandse platforms versoek het. In aanloop tot die ANC se konferensie het die voorblad van een van die wêreld se invloedrykste tydskrifte, The Economist, die Suid-Afrikaanse vlag in die vorm van ’n slang onder die opskrif, “The corruption of South Africa” vertoon.

Aan die een kant is daar dus bewerings oor onkunde en ’n totale gebrek aan internasionale belangstelling, aan die ander kant is daar bewyse van betrokkenheid en ingeligtheid op die hoogste vlak.

Die vraag is dus wat die buiteland oor Suid-Afrika weet, wil weet en nie wil weet nie.

Wie is “die buiteland”?

Om dié vraag te beantwoord, moet ’n mens duidelikheid hê oor wie met “die buiteland” bedoel word.

As vertrekpunt kan ’n mens aanvaar dat die lande wat ingelig moet word oor gebeure in Suid-Afrika, verkieslik lande met invloed moet wees. Praat ons byvoorbeeld van Duitsland is dit, naas China, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot met beleggings van meer as R81 miljard (R18 billion) in die land. Daarteenoor is ’n land soos Togo nie juis ’n vername handelsvennoot nie en het dit beperkte invloed, met ’n ambassadeur wat nie op ’n residensiële basis aangestel is nie.

Regerings en senior sakelui van invloedryke lande, veral lande met groot beleggings, handelsbelange of ’n groot aantal burgers wat tydelik of permanent in Suid-Afrika woon, beskik almal oor uitgebreide intelligensiedienste. Hulle gebruik eie dienste en/of private instellings om deurgaans veiligheidstoestande en misdaadneigings in die land te ontleed en aan hulle terugvoer te gee. Dikwels sal hulle selfs beter ingelig as die meeste Suid-Afrikaners oor brandpunte en risiko’s in die land wees.

Tweedens is letterlik honderde verteenwoordigers van hoofstroom internasionale media-instellings in Suid-Afrika gestasioneer. Die land is ’n gewilde basis vir hulle vanwaar hulle stories deur Suider Afrika of selfs verder kan opvolg. Die meeste van hulle behoort aan die Foreign Correspondents’ Association of South Africa (sien www.fcasa.org). Hulle beriggewing berus op aktuele sake, maar ook op die grondige kennis van wat hulle onderskeie nismarkte se unieke belangstellingsvelde is. Ons mag reken die hele wêreld sal belangstel in ’n bepaalde Suid-Afrikaanse kwessie, maar hulle sal dikwels weet dat dit nie die geval is nie. Vanjaar is byvoorbeeld meer as ooit tevore oor plaasaanvalle gepubliseer, maar dan juis veral in die gevalle waar die slagoffers buitelandse burgers was.

Ons leef in ’n tyd waarin ons toegegooi word met nuus. Ons filter dit volgens eie belange en kan die res van die wêreld nie blameer daarvoor dat hulle dieselfde doen nie. Mense wat verwag dat buitelandse regerings hulle moet uitspreek teen korrupsie en misdaad in Suid-Afrika is gewoonlik self uiters onkundig oor korrupsie, misdaad en geweldpleging in ander lande.

Vandeesmaand in ’n gesprek met ’n senior Europese parlementslid is die ongemaklike waarheid weer by my tuisgebring toe hy skouers optrek en sê: “Ja, ’n gemiddeld van 52 moorde per dag is tragies, maar julle is nog geen Sirië nie en ander wêreldleiers het net soveel klagtes teen hulle as julle pres. Zuma, indien nie meer nie.” Suid-Afrika is in die meeste gevalle eenvoudig nie die kern fokuspunt van internasionale aandag nie.

Hoe dan gemaak met internasionale skakeling?

Ten spyte daarvan dat buitelandse regerings en sakelui eie intelligensie oor Suid-Afrika insamel, kan instellings soos byvoorbeeld AfriForum of Solidariteit altyd ’n aanvullende rol speel om geloofwaardige inligting vanuit ons perspektief aan hulle deur te gee. Dit mag wees dat ons oor kennis van situasies beskik wat nog nie algemeen bekend is nie en vir hulle van belang kan wees. Ons dra ook nie kennis van alle onderhandelinge en gesprekke agter die skerms nie en dalk geskied die deurgee van sodanige inligting juis op ’n tydstip wanneer dit wel ’n betekenisvolle verskil in sulke onderhandelinge kan maak.

Wat internasionale instellings betref het die Suid-Afrikaanse regering ook al telkemale sy sensitiwiteit oor kritiek getoon. Die ANC-regering se huidige hervatte pogings om van deelname en verantwoordbaarheid aan die Internasionale Strafhof te onttrek, bewys dié feit. So ook die feit dat die regering jaarliks verteenwoordigers stuur na die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland (wat sedert 2010 deur AfriForum bygewoon word), om ons aan te val en te probeer diskrediteer wanneer ons kritiek oor die regering se hantering van kwessies soos moedertaalonderrig en plaasaanvalle uitspreek.  Dit is dus nodig om van hierdie platforms gebruik te maak om voortdurend druk op die regering te plaas om hierdie sake meer daadwerklik te hanteer.

Goeie bande met geloofwaardige media instellings is verder nodig omdat ’n mens dalk net ’n joernalis se belangstelling kan prikkel om wel ’n storie te doen oor ’n saak wat hy of sy voorheen misgekyk het.

In al hierdie gevalle is geloofwaardigheid van die grootste belang. Wolhaarstories het in die verlede al dikwels belangrike Suid-Afrikaanse kwessies groot skade berokken. Daar was al etlike kere foto’s versprei van sogenaamde slagoffers van plaasmoorde en kennisgewingborde wat mense aanhits tot moord. Later het dit geblyk dat die foto’s nie eens in Suid-Afrika geneem is nie. Ongelukkig sal elke persoon wat dit geglo het, ontsteld was daardeur en toe moes uitvind dat dit vals nuus was, in die toekoms uiters skepties teenoor enige ware nuus op dié terrein staan. Ons moet dus sulke stories ontmasker, die verspreiding daarvan so ver as moontlik voorkom en onsself vestig as ’n toeganklike bron van betroubare inligting. Assosiasie met individue of instellings wat hulle aan oordrywing of die verspreiding van vals nuus skuldig maak, moet verder ten alle koste vermy word.

Nog ’n rede waarom buitelandse skakeling nodig is, is dat dit ’n noodsaaklike verbreding van kennis meebring. Ons kan leer uit ander lande en media se beste praktyke en daardeur ook die dienste wat ons lewer, deurgaans verbeter.

Die bou van ’n netwerk geloofwaardige medewerkers deur die wêreld bied aan ons die geleentheid om wedersyds kennis en ervaring uit te ruil en moet voortdurend aandag geniet.

Samevattend is dit dus nodig om realisties te wees oor internasionale bande – dit gaan geen kitsoplossings bied vir ons probleme in Suid-Afrika nie, maar bly noodsaaklik omdat dit wel een van die stene is waarmee die pad na oplossings gebou word.

Die onus rus op ons om daardie pad self verder te bou met werk aan ons geloofwaardigheid, realistiese berekeninge oor wat internasionaal moontlik en nodig is, maar veral ook eie betrokkenheid by ons probleme en die skep van sterk, onafhanklike, eie instellings.

Dit is dus letterlik ’n geval waar nie een van die twee roetes, nasionale of internasionale skakeling, ten koste van die ander nagelaat kan word nie en dus vorm albei deurgaans deel van AfriForum en die breër Solidariteit Beweging se strategieë.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dink Self ·

“Buiteland” = Enige land wat sanksies teen SA ingestel het in die verlede. Die Nuwe SA is hulle (weggooi) kleintjie.

Dankie dat jy erken dat die media nie ‘n verspryder van kennis is nie maar ‘n verkoper van inligting wat ‘n verbruiker(ondersteuner van sanksies) en ‘n redakteur wil hê.

Siende dat SA onderwerpe om een of ander rede nou nie so gewild was in die verlede nie, moet daar maar ander plan gemaak word.

In hoeveel tale is Treurgrond die boek en film al vertaal? Lyk ook of dit nog nie gratis verkrygbaar is nie…

Johann Marx ·

Die “media” gaan nie om met die waarheid nie, die “media” gaan om met “sensasie”, want dit genereer geld……..die wortel van alle kwaad. In die “Ou Suid Afrika” kon ons eie biskoppie verskeie lande kry om streng sanksies teen die “onderdrukkers” in te stel…….deur net te fokus op die “onderdrukking”, al was dit in die meeste gevalle “aparte ontwikkeling” (wat nie geslaag was nie omdat die groep wat daaruit moes baat NIE oor die vaardigheid beskik het om te presteer nie). In die “nuwe Suid Afrika” word GEEN sanksies deur enige groep bepleit, of toegepas nie………want in die afgelope 25-30 jaar het die samelewing so verander dat ALLES aanvaarbaar is, en gemotiveer kan word (selfs minderheids-ondrukking). Terwyl almal hardnekkig karring oor die “ongelykhede van die verlede” verloor almal perspektief oor die “ongelykhede van die oomblik”.

Veritas ·

Johann, die ergste van alles is dat die meerderheid van Suid-Afrikaners, wat in die buiteland woonagtig is, gladnie meer omgee van wat in hierdie moordenaarsnes aangaan nie. Hulle voel nie die misdaad en rassisme teen die blanke, aan eie bas nie en lewe nou ‘n lewe van ‘Jou stert ou perd, ek is OK’. Ons plig as Afrikaners is om ons familie en vriende in die buiteland, te bombardeer met inligting van wat hier gebeur. Almal van hulle het ‘n vriendekring in hulle nuwe omgewing en moet alles met daardie vriendekring deel. Stadige suurdeeg ja, maar voordat die bevolkings van die buiteland nie bewus is van wat hier aangaan en druk op hulle onderskeie regerings plaas nie, sal daar dadels van kom.

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel, soos altyd, deur Alana Bailey.

Geloofwaardigheid in die buiteland oor SA-plaasmoorde is inderdaad van die allergrootste belang.

Terwyl daar twee groepe is wat uiteenlopende menings oor hierdie kwessie huldig, sal die buiteland hul nie veel steur nie. Een groep, waarby ek myself skaar, beskou plaas- en stadsmoorde as ‘n gewelddadige aanslag teen witmense as ‘n minderheidsgroep.

Die tweede en by verre die grootste groep, wat selfs sommige landbou-unies insluit, ignoreer die ras-faktor totaal en berus gedweë by die feit dat “alle Suid-Afrikaners onder misdaad deurloop”.

As daar nie spoedig uit een mond gepraat word oor hierdie kwessie nie, sal dit nie die aandag kry wat dit verdien nie.

Disselboom ·

President Paul Kruger het heelwat agting gekry van Europese mense en leiers, en ‘n besoek aan die Krugerhuis in Pretoria wys die groot hoeveelheid voorwerpe wat met sy gesig en na aanleiding van hom gemaak en verkoop is in sy tyd, in hoeveel spotprente hy internasionaal ingesluit is, en dat daar baie oor hom die pers geskryf is. Hy was dus ‘n “celebrity”; hy, en daar was baie woordelikse steun vir die Boere; maar van werklike steun en hulp uit die buiteland – so goed as niks. Die Britte kon die Afrikaners maar uitroei en niemand van oorsee het ‘n vinger verroer behalwe bietjie praat hier en daar nie. En veral nie het regerings amptelike steun gegee nie. Sinvolle artikel deur Alana Bailey oor buitelandse sieninge, maar ons sal ons eie gevegte moet veg; met die verskil: keer terug tot God, en ons sal oorwin; maar op die prinse kan jy nie vertrou nie (Psalm 146).

Leonard van der Dussen ·

Stem saam met Disselboom se gevolgtrekking. Tog is dit seker sinvol om die buitewêreld bewus te maak van die gruwels en vergrype in Suid-Arika, vir wat dit werd kan wees om steun hier en daar te kry, en as waarskuwing oor watter toestande in ‘n Afrika-demokrasie kan ontstaan, wat met die instroming in Europa mense moet laat nadink. Feit is: eintlik gee niemand vir jou om nie; Laerskool en Hoërskool Raslouw, waar ek betrokke is, se leuse is: “Skep u eie toekoms”. Dit word dan veral op onderwys en die noodsaak dat kinders hulself moet bekwaam, van toepassing gemaak, maar geld ook as ‘n lewensbeskouing om self verantwoordelikheid te neem. Dit gaan egter eers moeiliker word en opofferings verg – en of ons tans die gemoedstemming het om regtig harde offers te maak, is ‘n groot vraag.

Marthinus Willemse ·

The Economist het nie altyd hul feite reg nie. Tydens die hoogtepunt van die Oekraïne-krisis (2014-2015) het Edward Lucas van die publikasie `n klomp snert verkoop as die waarheid. Sedertdien is hy bevorder tot lid van een of ander “dinkskrum”, suiwer oor sy politiek, en minder oor sy bekwaamheid.

John ·

Leonard is presies reg. Dit wil voorkom of Afrikaners se denkratte vasgeslaan het in 1994. Haai… hoei… ons woon ook hier… kyk hoe lelik is die ANC nou met ons… ons die Afrikaners wat alles weggegee het soos ware Samaritane…. onthou… haai… kyk die moorde…. kyk die syfers…. haai… luister tog… (Self begin doen is sulke harde werk) …. Haai luister tog…. asseblief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.