Wat doen Maroela vir jou?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

“Watse werk doen jy?” vra mens mos gereeld vir mense.

ʼn Paar jaar gelede, as mense dié vraag vir my gevra het en ek het geantwoord dat ek by Maroela Media werk, het hulle so ʼn bietjie gefrons en gedink om te onthou wie Maroela Media nou weer is. Deesdae helder mense se gesigte op. “Ja, ek ken Maroela goed!” antwoord hulle dan gewoonlik. “Ek is ʼn getroue leser; dis die laaste ding wat ek lees voor ek in die aand my lig afsit.”

“My pa is ʼn Maroela-verslaafde,” hoor ek binnekort by iemand. “Hy en my ma baklei gereeld daaroor. ʼn Paar jaar gelede het sy met hom baklei omdat hy alewig met sy neus in ʼn koerant sit. Nou sit hy alewig met sy selfoon teen sy neus gedruk, besig om Maroela te lees. Ter wille van vrede in die huis het hulle nou maar ooreengekom dat hy heeldag Maroela kan lees as hy wil, net nie aan die etenstafel en in die bed nie!”

Dis heerlik om sulke stories te hoor. As dit nie vir ons lojale, “verslaafde” Maroela-lesers was nie, sou ons immers nie bestaansreg gehad het nie, en sou ons nie in Februarie vanjaar kon spog met 1.55 miljoen unieke lesers nie.

Maar dis tog vir ons belangrik dat ons lesers moet weet wat die omvang is van dit wat die Maroela-span van dag tot dag doen. Mense se oë rek gewoonlik as hulle syfers hoor soos hierdie:

  • Maroela Media het in 2018 net meer as 16 000 artikels op die webblad gepubliseer – dis sowat 1 350 per maand.
  • Die aantal bladsye (of artikels) wat Maroela-lesers gedurende 2018 op Maroela gelees het, was net meer as 150 miljoen.
  • Kom ons bied dit ʼn bietjie meer verteerbaar aan: Indien elke artikel wat gedurende 2018 op Maroela Media gelees is, op ʼn A4-vel papier gedruk sou moes word, sou ons 18 413 bome se papier moes gebruik.
  • Maroela-lesers het gedurende 2018 meer as 4 miljoen ure op Maroela Media spandeer. As ʼn mens dit ʼn bietjie verder verwerk, beteken dit die hoeveelheid tyd wat mense op Maroela deurgebring het, is gelykstaande aan 497 jaar.
  • Die totale hoeveelheid kommentare wat verlede jaar op Maroela Media gelewer is, was sowat 222 000, met ʼn gemiddeld van sowat 18 500 per maand. Elkeen van hierdie kommentare word met die hand nagegaan en goed- of afgekeur.

Maar vir Maroela gaan dit allermins net oor nuus en statistiek – hierdie is maar bloot interessante maniere hoe ons meet of dit wat ons skryf, wel in die kol is vir ons teikenmark se nuus- en inhoudsbehoeftes. Daar is ook ʼn rits ander dinge wat Maroela doen, ter wille van Afrikaans en ons Afrikaanse gemeenskap.

  • Het jy geweet dat Maroela Media ʼn projek het waarmee ons die publiek aanmoedig om Afrikaanse artikels op Wikipedia te publiseer? Die doel hiermee is om skoolkinders in staat te stel om hul navorsing en skooltake in Afrikaans aan te pak. Maroela publiseer self ook ʼn groot hoeveelheid skoolverwante artikels op die Afrikaanse weergawe van Wikipedia.
  • Het jy geweet dat Maroela Media ʼn netwerk van 57 gemeenskapsradiostasies landswyd en in Namibië het met wie ons saamwerk? Ons voorsien hierdie radiostasies van lekker klankinhoud wat ons in ons eie ateljee vervaardig, werk met hulle saam waar moontlik, en bied ook een keer per jaar vir hulle opleiding aan tydens ʼn gemeenskapsradioseminaar teen ʼn uiters geringe koste.
  • Het jy geweet dat Maroela Media elke jaar ʼn radiovervolgverhaal vervaardig? Die ervare regisseur en vervaardiger Bettie Kemp pak elke jaar hierdie projek saam met Maroela Media aan. Die radiovervolgverhaal word oor ʼn tydperk van ses maande, elke weeksdag op sowat 37 van die gemeenskapsradiostasies wat deel van ons netwerk is uitgesaai.
  • Het jy geweet dat Maroela Media die heel eerste instansie was wat die matriekuitslae in Afrikaans in ʼn elektroniese formaat aan matrikulante beskikbaar gestel het? Ons het baanbrekerswerk gedoen toe ons drie jaar gelede ʼn platform ontwikkel het waardeur matrieks met hul eksamennommer hul eksamenuitslae in Afrikaans kan kry op die dag wat dit bekend gemaak word.
  • Het jy geweet dat Maroela Media ʼn paar jaar gelede ʼn veldtog van stapel gestuur het waarmee ons die Grootste Afrikaner van Alle Tye aangewys het? In dié veldtog, wat lesers se kultuurtrots so ʼn bietjie wakker gemaak het, is Paul Kruger deur ons lesers aangewys as die grootste historiese Afrikaner wat nog ooit geleef het.
  • Het jy geweet dat Maroela Media se lesers drie jaar gelede die bekende lied “Kinders van die wind,” geskryf deur Koos du Plessis, aangewys het as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye? En het jy geweet dat Maroela Media, in samewerking met Ludwig’s Roses, daarna ʼn roos met die naam “Kinders van die Wind-roos” bekend gestel het? Dié roos is steeds by takke van Ludwig’s Roses te koop.

Hoekom doen ons dié dinge? Want dis vir ons belangrik dat ons lesers toegang het tot betroubare, gebalanseerde inligting, wat hulle in staat stel om ingeligte keuses te maak. Dis ook vir ons belangrik om te doen wat ons kan om te verseker dat ons moedertaal, Afrikaans, ʼn veilige omgewing het waarin dit kan floreer. En dis veral vir ons belangrik om ons Afrikaanse gemeenskap te dien.

“Doen” dit hierdie jaar saam met ons: Lees Maroela, steun ons projekte, kom saam op ons storiebus Namakwaland toe, luister na jou plaaslike Afrikaanse gemeenskapsradiostasie, publiseer iets op die Afrikaanse Wikipedia; lees, skryf, praat en leef in Afrikaans.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Rasper ·

Maroele is my “kombuistafel” kuier. In ‘n Suid-Afrika waar daar gepoog word om ons te “Suid-Afrikaans”, voel ek tuis, en kan ek Afrikaner wees. Baie dankie vir al julle harde werk.

sweis ·

Die artikels is baie goed,ek lees gereeld maroela ek wens net julle wil die nuus oordra soos dit is sonder om die waarheid te buig of aan te pas om sekere mense te beskerm,as die verdagte swart was sê so as die perlemoen stropers pakestaniers is sê so,gee asb die nuus deur soos dit is dan gaan julle nog meer lesers bykry maar baie dankie vir wat julle reeds doen.

Lydia ·

Wanneer ek ‘n brokkie nuus vir iemand vertel wil hul altyd weet waar hoor ek dit. Dan sê ek net “maroela media” dan weet die hele tafel sommer dis’ ligit’ inligting.

Annabel Barnard ·

Wat doen maroela vir my? Nie veel nie. Wat hul wel doen is so konsekwent sensuur toepas op mense wat nie dink en doen soos hulle nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Annabel

Dankie vir jou terugvoer.
Ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname is opgestel in oorleg met regskenners om seker te maak ons en ons lesers word beskerm en om seker te maak dat alle lesers hul kuier by Maroela geniet.
Kontak ons asseblief per e-pos by [email protected] as jy onseker is oor die riglyne.
Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

marco polo ·

Dankie Maroela dat julle vir my op hoogte hou van die gemors waarin SA is, wat my so lank as moontlik in die buiteland laat bly.

Dorothy ·

Ek geniet dit Verskriklik veral ons mense se kommentaar! Party mense sal baie goed vaar in Begripstoetse. Ek moet baie keer terug gaan na die nuus berig nadat die leser kommentaar gegee het. Baie Dankie!

DeVill ·

Vir my gaan dit baie oor die kommentaar. Ek wil ook my opinie gee, al lees niemand dit nie of vat dit ernstig op nie, ten minste kon ek my sê, sê!

MM is nog een van min aanlyn koerante wat kommentaar toelaat.

MM moet BAIE versigitg wees dat persoonlike voorkeure en of afkeure hulle beinvloed as die by kommentaar kom nie.
Sodra daar haatspraak, rassimse of so iets is moet hulle hard optree, anders laat mense sê hoe hulle voel!
Julle doen baie goed sover, hou so aan!

Ben ·

Dagsê Almal.
Baie Daai vir al julle puik werk. Dis my daaglikse insperasie.
Hou so aan.
Groetnis vanuit die Kaap
??

Mike ·

Baie dankie vir al die werk en hou so aan asb. Die koerant is verskriklik baie nuttig vir dowes ook, hou ons alles op hoogte. Nie net nuus nie maar ander artikels ook wat hul help met woordeskat ens.

Annie Webb ·

Baie dankie, Maroela Media. Ek lees graag artikels oor sake waarin ek belangstel en lewer ewe graag kommentaar, soms positief en soms negatief. Sal maar vervelig wees as almal altyd oor alles saamstem! Ek verstaan dat ons ‘n minderheidsgroep in Afrika is en ek is meestal tevrede dat julle die gulde middeweg volg tussen staan op ons minderheidsregte sonder om ander aanstoot te gee, maar ook sonder om só polities korrek te wees dat dit óns aanstoot gee! Doe zo voort. Groete uit die Kaap.

marco polo ·

Ek moet darem verder ook vir Maroela dankie se dat julle my so kwaai sensor en min van my kommentaar plaas, anders was ek seker ook al lankal in die moeilikheid.

Kobus ·

Hersien asseblief die hoeveelheid A4 velle papier en bome sou gebruik word sou die 2018 artikels gedruk sou wees?

Cornelia ·

Dankie vir u waardige en waardevolle werk. Die dekking van essensiële nuusberigte wat mens net genoeg roer sonder om oor te kook. U belê wyd en inspireer met boodskappe van hoop en vasberade koersaanwysende insette wat getuig van lewenskragtigheid. U huil saam, lag saam, ploeg saam, plant saam, oes saam en voer die stryd vooruit op baie terreine sonder om te buig voor kompromieë. U skop vas en beur teen die swaartekrag van verplettering en ontwrigting en voeg weer stukrag by die kern van ‘n eerbare lewens vooruitsig om te bou soos God dit van ons eis. Daarom is die vrug op u arbeid ‘n seën. Baie dankie.

Koos ·

Dankie vir die tydjie wat ons kan spandeer deur op hoogte te bly met wat aan die gang is.
Soms is die slegte gebeure wat die nuus haal net te veel. Verstaan dat dit genoem moet word, en dat dit nuus van die dag is. Wanneer die slegte nuus so baie is moet daar maar mooi stories opgemaak word om die dag beter te laat lyk!!

Dankie vir jul harde werk!

Out of Africa ·

Hier in die buiteland is dit lekker om nuus in Afrikaans te kan lees en ons taal in stand te hou. Die kommentaar van lesers dien as ‘n sosiale barometer om die gevoel van die mense te kan waarneem. Al die slegte nuus en negatiewe dwarstrekkers bevestig telke male ons besluit om Afrika vaarwel te wens vir ‘n beter toekoms. Sterkte vir julle wat agterbly.

William van der Merwe ·

As ek MM lees, veral oor die misdaad in die land, is ek vol rassehaat.

Jerry ·

MM, julle doen wat julle doen uitstekend en julle meningsvormers se artikels is puik en van hoogstaande gehalte! Afrikaanssprekendes kan op julle platform hulle denke vrye teuels gee en lekker uiting aan hulle gevoelens gee deur kommentaar te lewer in hulle moedertaal. Ek dink nie enige persoon kan vir meer vra as dit nie! Doen so voort met die goeie werk en oordeelkundige sensuur! Sensuur is maar soos lyfstraf, daar waar dit nodig raak moet dit maar toegepas word!

Koos Marais ·

Dis maar soos in die politiek, hulle kan nie als vir almal wees nie, dis nou alle Afrikaners.

Blaarman ·

Soos lyfstraf kan dit ook oordadig toegepas word. Uiteenlopende sienings moenie gesensor word nie.

Logika ·

Ek sal graag meer “infographics” (feiteblaaie) wou sien.

Die woordpolisie moet asb ook so bietjie hulle voet van die pedaal afhaal itv sensuur. Dit is oordadig.

Maar andersins ‘n glo ek Maroela vervul ‘n broodnodige rol in ons samelewing en gemeenskap, en vervul hulle rol op ‘n knap wyse.

Van krag tot krag!

Varkerasie Genootskap vir Regverdigheid & Naasteliefde ·

Die Varkerasie Genootskap bedank MM vir die Gespreksforum van Soogdiere vir ‘n toekomstige Suider-Afrikaanse Soogdier Federale Stelsel (SSFS). Mag alle toekomstige soogdier-burgers van die SSFS mekaar kreatief en opbouend verryk vir ‘n beter, regverdiger en vredevoller toekoms waar ons almal se geregverdigde drome en aspirasies kan vergestald. Viva MM Gespreksforum (sonder al die wigte en teenwigte kommentare)! Mag ons nooit slawe van enige “Elite” wees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.