Wat doen ons aan die olifant in die vertrek?

olifant-in-die-vertrek-jronaldlee-flickr-com

Foto: Jronaldlee/Flickr.com

“Die olifant in die vertrek” is ʼn Engelse gesegde wat verwys na iets wat onmiskenbaar aanwesig is, maar wat almal kies om nie raak te sien nie. Die olifant staan vir ʼn reuseprobleem wat getakel moet word, maar wat almal ignoreer.

In Suid-Afrika is daar veral een groot olifant in die vertrek: moorde op wit mense, meer spesifiek plaasmoorde. Internasionale media, wat oor alles en nog wat berig, ignoreer plaasmoorde eenvoudig geheel en al. Verbeel jou elke tweede dag word ʼn swart Amerikaner deur wit bendes doodgemartel, en dink watter ontsteltenis dit wêreldwyd sou veroorsaak, hoe almal, van die VN tot elke plaaslike redakteur, die VSA-regering hard sou aanspreek dat hulle so iets toelaat.

As ʼn mens kyk na enkele internasionale hoofstroommedia se berigte oor Suid-Afrika die afgelope tyd, dan blyk dit duidelik hoe die olifant in die vertrek doelbewus misgekyk word. Die BBC het slegs oor ʼn Britse egpaar wat tydens ʼn plaasaanval gemartel is berig, maar al die duisende wit Suid-Afrikaners wat dieselfde lot ondergaan het, laat hulle koud. Nêrens is daar eers ʼn verwysing dat die Britse paar een van vele slagoffers van ʼn klaarblyklik georganiseerde terreurveldtog is, daar is geen pogings tot ʼn verklaring of perspektief nie en dit word beskryf soos ʼn ongeluk.

In dieselfde maand waarin daar bykans elke dag ʼn wit boer of hoewebewoner vermoor is, berig die BBC wel oor die dood van twee renosters deur wilddiewe. Dit is goed dat daar berig word oor die slagting van gekoesterde en bedreigde spesies soos die renoster, maar die wit renoster tel blykbaar meer as die wit Afrikaan. Ook die aanvalle op vreemdelinge kry prominente dekking, maar nie die aanvalle op inheemse wit mense nie. Figaro in Frankryk berig oor die aanvalle op vreemdelinge, oor die sterftes van verstandelik gestremdes en oor die onttrekking aan die internasionale strafhof. Der Spiegel in Duitsland is nog blinder: Daar word nêrens eers oor enige geweld berig nie, behalwe die dood van die twee renosters. Verder is dit reisberigte, iets oor die kommandowurm en oor die chaos by die parlementsopening. In die New York Times gaan dit oor die groot ongelykheid in Suid-Afrika, daar word berig oor die dood van Joost van der Westhuizen en ook oor die dood van die verstandelik gestremdes weens nalatigheid. En so kan ʼn mens aangaan. Feit is, die skreiende moorde op wit mense word geheel en al geïgnoreer, behalwe as dit burgers van die betrokke lande is.

Oor die rede om dit eenvoudig te ignoreer kan net gespekuleer word. Ons as wit Afrikane word al vir dekades met haat geteiken en is die slaansak vir veral die Westerse media. Om enigsins vir wit mense op te kom, wat kamtig ryk en bevoorreg is, word in die hoofstroommedia gesien as iets wat na rassisme en die ontkenning van die euwels van apartheid lyk.

Die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia het die olifant wel raakgesien en skryf prominent daaroor, hoewel dit veral verslaggewing is oor wat gebeur, asof dit maar net nog ʼn ongeluk is soos ʼn motorbotsing, ʼn kind wat in ʼn sloot val of ʼn gebou wat ineenstort. Die olifant word raakgesien, maar nie wat op die olifant staan nie: “Kruipende volksmoord”. Laasgenoemde is net te erg om dit te wil besef, want dit vereis drastiese en dringende optrede van almal.

As ʼn gebou ineenstort of ʼn kind van ʼn krans afval dan is dit erg en jy het simpatie met die slagoffers en hul naasbestaandes, maar dit is iets wat van tyd tot tyd gebeur en waarteen die mensdom redelik magteloos is. Plaasmoorde roep egter elke keer wanneer dit gebeur na elke Afrikaner en ander wit mense uit: “Jy moet iets doen! Ons almal moet iets doen!”

Dit is nie asof daar niks gedoen word nie: Maroela Media gee prominent dekking aan plaasmoorde en ander aanvalle spesifiek op wit mense, AfriForum doen heelwat vir bewusmaking, vir selfverdediging en die opbou van veiligheidsnetwerke, die landbou-unies doen iets soortgelyks, enkele aktiviste doen iets deur veldtogte en op sosiale media, mense teken petisies en sit plakkers op hul motors, maar daar is geen kollektiewe aksie nie, geen gesamentlike “genoeg is genoeg” nie.

Daar is geen betogings met derduisende deelnemers wat eenvoudig nie geïgnoreer kan word nie, geen prominente “White African lives matter”- of “Ons is die boere”-veldtog wat sy stem oral dik maak nie, veral daar waar die regering dit kan sien en hoor. Sosiale media het sy krag, maar dit is ʼn medium wat veral deur die middelklas gebruik word en waar jy gewoonlik net in jou eie kring is. Daar is nog baie wat ons eers moet doen voordat ons net nie meer geïgnoreer kan word nie.

Die olifant in die vertrek kan geïgnoreer word solank hy stilstaan (en die oorspronklike metafoor verwys inderdaad na ʼn opgestopte olifant), maar as hy begin beweeg, met sy ore klap, trompetter en met sy slurp klappe uitdeel, dan weet almal dat hier moeilikheid is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JC ·

Baie dankie Sebastiaan. Ek is bereid om deel te neem aan optogte en nog meer, maar ek weet nie van ander Afrikaners nie. EK VERSTAAN NIE WAAROM AKSIE NIE GENEEM WORD NIE??IS SOMMIGES (DIE MEESTE EN RYKES, EK PRAAT NIE VAN “GEWONE” MENSE NIE) NOG TE liggeraak, liggelowig, naief, gemaksugtig en HOUTGERUS. Waarom kan ons nie ook aktiviste wees nie? Jinne, watter verskil sal dit maak aan ons psige, dit sal beneuk wees!Is daar iets wat ons verhoed? NEE!! Die boere wat opgeruk het in Balfour is ‘n goeie begin maar meer moet gedoen word. Sluit aan by jou plaaslike Afriforum veiligheidsnetwerk en buurtwagte, of sluit aan by die Heritage Protection Group/Erfenis Beskermings Groep, doen net iets, Dit kan nie meer ontken word dat die aanvalle/moorde polities gemotiveerd is nie. Die bal is in ons hande…

Verwonderd ·

Sal daar waarlike uitkoms wees, alvorens die huidige regering nie nou klaar kry met sy dreigemente, en doen soos hulle beloof nie? Ek dink nie so nie. Die regering wil al wat wit is na een kant toe dryf. Met ‘n mens se sosiale bewuste ( Jou nommer en plek in die samelewing) ten gronde, behoort ons een saamgesnoerde doel weer te hê. Ons is te verspreid in die samelewing vermeng, om te aksie waar teen ons ge-aksie word, om doeltreffend te kan wees. Mag die Here vir ons uitkoms gee, voor daardie tyd.

Johannes Meintjes ·

Tans, na deurdagte mening, kan daar geen doeltreffende aksie plaasvind teen die gruwelike misdaad teen blankes en landbouboere in SA nie. Na talle gesprekke en korrespondensie sedert 2008, moet ek meld dat ons verdeelde politieke, kerk en organisasie groepies en leiers met egos en eiesinnige bril in klein boksies eenvoudig glad nie kan of wil saamwerk nie. Ons as blankes (Boere/ Arikaners) is eenvoudig nie opgewasse vir die uiters kritiese taak van selfregering of effektiewe Burgerlike Beskerming (Rampbestuur) nie.

John ·

Dis twak, dat ons nie na onsself kan omsien nie. Ons hande is egter vasgebind en ons het self die boeie verskaf. Die probleem gaan nog groter word en ons wou nie glo wat ons breine vir ons uitgewys het nie. Ons destydse leiers was toekomsblind en hulle moet nou opstaan en voor die volk en die VN hul fout erken. Kyk na ann7 wat in Zuma se binnekring aangaan. Die ‘slim’ onderhandelaars moet nou die kastaiings uit die vuur kom krap. Waar is hulle? Nee, julle is nie te oud of te siek of te besig nie. Bang is ook nie ‘n opsie nie…

gatiep ·

Daar is nog te veel witmense wat nog nie die gevoel van swaarkry en magteloosheid gevoel het nie. Gaan nog te lekker met hulle blink kare en strandhuise.
Dis hoeka hulle wat met hulle hande in hulle sakke gevang gaan word. Ek begin voel ons volk is al te ver heen en ek pas nie meer in nie.Almal wat ek ken jaag net geld en die een probeer beter kar he as ander een?

Lampies ·

Juistement, Sebastian. Ons het onsself vasgebind aan ‘n sieklike liberalisme wat beteken politieke korrektheid is van veel meer belang as die moorde op wittes. O, ons moet tog net nie aanstoot gee nie! Moet Afriforum nie dalk veel meer militant word nie? Dit is mos duidelik dat terugsit en praat en wegkyk en dreig en weer wegkyk nie die probleem gaan oplos nie.

Paul ·

Daar is ongeveer 4.5 miljoen wit mense in Suid-Afrika, waarvan ongeveer 2.7 miljoen Afrikaans praat. Jaarliks sterf en emigreer daar sowat vyftigduisend wit mense, en word ietwat minder gebore. So, rofweg gesproke, het daar al bykans 7 miljoen wit mense geleef in Suid-Afrika vanaf 1990 tot 2017, ongeveer 4 miljoen van hulle Afrikaanssprekend.

Volgens die TLU se syfers was daar van 1990 af sowat 1800 plaasmoorde in Suid-Afrika. Gestel al daardie moorde was wit slagoffers (dis nie die geval nie, maar kom ons skat dit ruim). Dit is dus 0,026% van wit mense in Suid-Afrika wat oor die afgelope 27 jaar in plaasmoorde vermoor is.

In die Rwandese volksmoord is sowat 70% van al die Tutsis vermoor. In die Holodomor in Oekraïene is minstens 2.4 miljoen Oekraïeners dood oor ‘n tydperk van slegs twee jaar, dalk selfs soveel as 8 miljoen. Selfs die histories gesproke “klein” volksmoord van die Bosniërs waarin sowat 32000 burgerlike Bosniërs (uit ‘n bevolking van slegs sowat 1.9 miljoen) oor ‘n tydperk van drie jaar uitgemoor is, sowat 8000 van hulle by Srebrenica in slegs enkele dae en weke.

Wat in SA gebeur, hoe verfoeilik dit ook al is, is nie eers naastenby op dieselfde skaal nie. Dus is dit nie verbasend dat die “olifant” nie raakgesien word nie.

Herman G ·

Paul
Ja, die getalle is dalk nie so groot nie, en dit is oor ‘n baie langer tydperk as wat in Rwanda en Bosnie maar as mense aangeval word oor hulle etnisiteit dan is dit volksmoord. Dalk is dit ‘n vorm van afslytingsoorlog? As jy mense van ‘n sekere etniese groep uit jou land wil he, en jy kan hulle uitkry deur 1,800 te vermoor, hoekom sal jy dan duisende in ‘n kort tyd vermoor en wereld kritiek op die hals haal?
Laastens moet die plaasmoorde saam met “regstelende aksie”, dorp en straat naam veranderinge en nou geen Afrikaanse onderrig gesien word – die ANC het nie plek in hulle Suid Afrika vir die Afrikaner nie.

Henrietta Klaasing ·

Paul, ELKE mens wat vermoor word van watter groep of kleur of kultuur ook al is EEN TE VEEL. Ek is 72 jaar oud, my hele lank goed ingelig, in ‘n huis grootgeword waar die koerant daagliks gelees word en die radio nuus minstens twee maal per dag kliphard aan was vir kind en kraai om te hoor. Nooit-ooit in my jonger dae was daar onder enige groep soveel moorde gepleeg nie en veral nie met die wreedheid wat dit deesdae gedoen word nie. Dit is asof die duiwel los is.

Paul ·

Henrietta, het jy my laaste sin gelees?
Natuurlik is elke moord ‘n slegte ding. Niemand stry daarmee nie.
Daar is baie moorde, plaasmoorde inkluis, in Suid-Afrika. Niemand stry daarmee nie.

Dit verander niks aan die punt dat die getal plaasmoorde in Suid-Afrika, hoewel dit erg is, nie eens naastenby vergelykbaar is met historiese volksmoorde nie. Sebastiaan beskryf dit as “kruipende volksmoord”. Selfs die kwalifikasie van “kruipend” is te min. Dis eenvoudig nie op dieselfde skaal as enige ander volksmoord nie.

Ook die stelling dat dit’n “klaarblyklik georganiseerde terreurveldtog” is. Hoe so? Is dit nie juis te verwagte dat in ‘n land waar polisiëring algemeen swak is en die arbeidsmark baie vrot is, “sagte” teikens met hoë beloning vir ‘n misdadiger dikwels aangeval sal word. ‘n Plaas is afgesonder, inwoners is dikwels oumense, daar is dikwels vuurwapens wat maklik op die swartmark verkoop kan word, daar is dikwels ook kontant om werkers mee te betaal. Daar word dikwels berig hoe mense gemartel word totdat hulle die kluissleutels vir die aanvallers gee. Daar is ongetwyfeld bendes wat hierdie modus operandi keer op keer inspan, met groot sukses vir hulle, veral in distrikte waar die polisie onbeholpe is.
Natuurlik speel rassehaat ook ‘n rol – die misdadiger gaan mos nie mooi saggies praat en komplimente gee nie. Hy sal mos uiteraard sy latente haat ook uithaal op die mense.
Hoe daar sommer gesê kan word dis “klaarblyklik georganiseerde terreur”, verstaan ek nie.

Therese van Schalkwyk ·

Sebastiaan Biehl

Baie dankie vir hierdie puik artikel oor ‘n onderwerp wat my telkens sprakeloos van skok en magtelose woede laat. Wanneer ‘n weerlose jong ma gruwelik vermoor en haar oë in die proses uitgesteek word deur anderskleurige mede-Suid-Afrikaners, is die situasie benard en suiwer haat ter sprake. Gaan my verstout om te sê dat géén ander bevolkingsgroep ter wêreld hierdie daad ongesiens/ongelees/ongestraf sou laat verbygaan nie.

Dit is presies soos jy sê: die apatie oor die “kruipende volksmoord” is onverstaanbaar en onvergeeflik, nie net binne SA nie, maar ook wêreldwyd. Honderd hoera’s vir mense en instansies wat die moed het om hierdie dinge hardop te sê, en dikwels verguis word daarvoor. (Dink aan die “Rooi Ballonne”-veldtog wat buitelands ondersteun is, maar deur selfs die Afrikaanse pers in SA geboikot, stil geswyg en belaglik gemaak is.)

As honderde vragmotorbestuurders omgekrap genoeg kan raak om groot verkeersontwrigting te veroorsaak, is die vraag hoe lank wit Suid-Afrikaners nog so onverskillig kan bly oor hul ‘minder gelukkige’ medemense se onbeskryflike lyding? En nie net onverskillig nie, maar ook afkeurend oor dié wat wel die olifant in die kamer wil laat trompetter?

Therese van Schalkwyk ·

En dan lees ‘n mens iemand soos Paul (hierbo) se kommentaar …

Het beide kommentare gelees en hérlees en verstaan steeds nie wat Paul by die skrywer en lesers wil tuisbring nie?

Is die aantal blanke slagoffers van die nuwe Suid-Afrika getalgewys nog nie hoog genoeg nie? Is die wreedheidsgraad van die misdade nie erg genoeg nie? Wanneer mág lede van ‘n bepaalde bevolkingsgroep dan effe bekommerd raak? Moét die statistiek eers gunstig meeding met bv. die Holocaust voordat dit die wenkbroue gaan lig?

Afrikaners, ander blankes en minderheidsgroepe in SA is uitgelewer aan ‘n geweldskultuur wat hulle ‘n bedreigde spesie maak, presies soos die renoster. Vir wie of wat skerm mense wat soos Paul redeneer?
En wat stel hulle voor kan gedoen word?

Paul ·

Sebastiaan se artikel se een deurlopende tema is die stelling dat die internasionale media die plaasmoorde in Suid-Afrika ignoreer, ten spyte daarvan dat dit as ‘n “kruipende volksmoord” beskou kan word.
Die kommentaar wat ek lewer, het ten doel om aan te toon dat hoe erg plaasmoorde in Suid-Afrika ook al is, dit nie naastenby op dieselfde skaal plaasvind as enige historiese volksmoord wat wel groot dekking in internasionale media geniet het nie.
Verder probeer ek aantoon dat, hoewel daar maklik net vasgestaar kan word in ‘n idee dat plaasmoorde suiwer of hoofsaaklik rassehaat as ‘n motief het, en op so ‘n grondslag as “terreur” georganiseer word, daar ander redes vir die geweld en marteling en voorkoms op plase ook is.

Oom Harry ·

Dankie Sebastiaan. Paul soek verskonings en allerlei ander “redes” vir die moorde op Afrikaners. Dit is duidelik, ongeag sogenaamde ander “bevindings”, en wel vir my sedert nog voor 1994, dat ons destyds al `n georkestreerde strukturele moordtog op Afrikaners ondervind, soos georganiseer deur die swakste terreurorganisasie ooit (baie swakker selfs as SWAPO!) naamlik die ANC en hul MK-arm soos deur die terroris Mandela gestig.
Iemand wat die teendeel wil beweer, moet deeglike agtergrond verstrek en beslis nie leunstoelstories nie.

Paul ·

So dis “duidelik”, dat dit georganiseerde terreur is, maar dis net erg swak georganiseerd. Nou goed dan…

Maria Van Dieweeck ·

Paul, vir my gaan dit oor die sagte ‘fluweelhandskoen’ behandeling wat hul kry, indien hul vasgetrek word! Dit se mos nou alles. As die regering nie met plaasaanvalle SAAMSTEM nie, sou hul laaaaaaaankal iets gedoen het, soos bv lewenslange HARDE arbeid en dat hul families hul moet aat lewe hou ens. So anc ISwel verantwoordelik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.