Wat gaan aan in Mosambiek?

‘n Argieffoto van Palma in Mosambiek (16 Februarie 2017) (Foto: John Wessels/AFP)

Mosambiek, Suid-Afrika se noord-oostelike buurland, was vir dekades een van die armste en gewelddadigste lande in Afrika. Ná die omverwerping van die Portugese koloniale bewind in 1974 het ’n burgeroorlog gevolg volgens die Koue Oorlog-patroon soos bykans orals in Afrika: ’n kommunistiese guerillabeweging, Frelimo, wat die eerste verkiesing gewen het deur mobilisasie en manipulasie (en dikwels ook brute geweld) en wat dan deur ’n Westers gesteunde rebellebeweging, Renamo, beveg word. Die verdeling tussen regering en rebelle was nie werklik oor ideologie nie, maar eerder oor etniese en streekverskille. In die geval van Mosambiek is die magsentrum rondom die hoofstad Maputo in die uiterste suide van die land, en word die sentrale en noordelike dele, waar Renamo aktief was, afgeskeep.

Die burgeroorlog kon egter deur middel van ’n vredesluiting in 1992 beëindig word. Daarna het, ook in direkte wisselwerking met die opbloei in Suid-Afrika in die laat 1990’s en die eerste dekade van die 21ste eeu, Mosambiek merkwaardig ekonomies ontwikkel, natuurlik van ’n baie lae vlak af. Vir Suid-Afrikaners het Mosambiek ’n gewilde vakansiebestemming geword en die baie arm en agterlike land het begin moderniseer en vooruitgaan. Mosambiek se destydse president, Joaquim Chissano, het in 2007 die Mo Ibrahim-prys, ’n soort vredes-Nobelprys vir Afrika, vir goeie leierskap ontvang.

Vir etlike jare is daar egter weer veral slegte nuus uit Mosambiek. Veral die Noorde, wat nooit regtig kon baat by die land se ontwikkeling nie en wat geografies te ver verwyder is van die ekonomiese kragbron Maputo en die konneksie na Suid-Afrika en wat ook doelbewus (as straf vir sy steun vir Renamo) deur die regering afgeskeep word, het in opstand gekom. Renamo het weer herleef vir  ’n ruk, maar in 2017 is finaal vrede gesluit tussen hulle en die Frelimo-regering.

Nou is daar weer ’n nuwe bedreiging wat al vir geruime tyd kop uitsteek: ’n Islamitiese terreur-insurgensie. Dit lyk baie vreemd vir ’n land soos Mosambiek, wat grootliks Christelik is en wat ver verwyderd is van die Islamitiese terreursentrums in Afrika soos Somalië en die Sahel-streek. Daar is wel in die noorde – teenaan die grens met Tanzanië – Moslems wat al lankal daar lewe, maar hulle het nog nooit as radikaal en fanaties bekend gestaan nie.

Mense wat weens die aanval in die bosse rondom Palma geskuil het, begin na die Mosambiekse dorp terugkeer. (Foto: TVM)

Dit wil voorkom asof die godsdiens net ’n element van ’n oorlog is wat veral gaan oor etnisiteit en ekonomiese griewe. Dis nie toevallig nie dat daar waar die Islamiste bedrywig is, ook mynbou , oftewel gasontginning, plaasvind. Internasionaal bedrywige Islamitiese terreurorganisasies soos die Islamitiese Staat (IS) en al-Qaida is altyd suksesvol daar waar etniese groepe of denominasies voel dat die sentrale regering saam met multinasionale maatskappye hul streek se natuurlike hulpbronne uitbuit en hulle afskeep. Waar jong mans werkloos is en sukkel met ’n selfbeeldprobleem, bied terreurorganisasies mag en geld, ingeklee in ’n kamstige groter saak.

Die insurgensie wen veld en daar is al honderde mense gedood, dikwels in gruwelike aanvalle op burgerlikes, en nog baie meer is uit hul woongebiede gedryf. Die terreurgroep, wat hulle al-Shabab (die jong ouens) noem, het selfs al hul eerste dorp verower, Palma in die verre Noorde. Die vrees bestaan dat hulle in dié gebied, waar die staatlike outoriteit swak is, groot gedeeltes kan oorneem en selfs, soos in ander disfunksionele state soos Irak, Sirië, Somalië en Mali gebeur het, hul eie terreurstaat wat op plundering en gruweldade gebou is, in dele van die land kan oprig.

Die Mosambiekse weermag is te swak om die insurgensie te beveg en het reeds hulp gevra van die VSA en die eertydse koloniale moondheid Portugal, om met opleiding en logistiek te help. Selfs private veiligheidsmaatskappye, oftewel huursoldate (ook uit Suid-Afrika) se hulp is gevra, alhoewel dit eerder stilgehou word.

Die bekamping van die terroriste met militêre middels is die een ding (en dit is moeilik genoeg), maar as die regering wil verhoed dat daar kort-kort insurgensie en terreur uitbreek, moet hulle vir die mense in die Noorde hul regverdige deel aan die inkomste uit die gasontginning gee en ook nie in hul plaaslike sake inmeng nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jan Seerot

Geagte Sebastiaan, jy het nie korrupsie aspek aangeraak nie. Dit is ‘n komponent wat nie verswyg behoort te word nie. Ons bly hier, en ons leef midde-in daardie korrupsie.