
Pres. Donald Trump en Kim Jong-oen van Noord-Korea stap saam ná hul eerste vergadering by die Sofitel Legend Metropole Hanoi-hotel [28 Februarie 2019]. (Foto: Evan Vucci/AP)
Hoe dan nou? Amerika, Noord-Korea en die wêreld was vooraf so vol moed dat daar ’n einde aan die “Koreaanse bedreiging” sou kom. Amerika het gesorg dat die beraad in Viëtnam plaasvind om as aansporing vir Kim te dien dat sy land net so vooruitstrewend soos Vietnam kan word as hy die strydbyl met Amerika begrawe. Amerika wou egter nie alle sanksies afskaf nie en Noord-Korea het sy kernbomme wat hy as versekering teen Amerikaanse aanvalle wil hou.
Dit lyk tog of die twee op vriendskaplike voet uitmekaar is. Trump het, kort nadat hy president geword het, neerhalend na Kim as “Rocket Man” verwys; in Singapoer, agt maande gelede, het hy gesê hy het verlief geraak (“fell in love”) op Kim. Tot verlede week het Trump gesê hy is vol moed dat daar ’n deurbraak gaan kom en dat Noord-Korea finaal sy kernwapenplanne gaan laat vaar.
Daar is myns insiens drie moontlikhede oor die mislukte samesprekings. Die een is dat Trump sy eie befaamde onderhandelingsvermoëns oorskat het; dat hy met ’n reuseblufspel besig is, of dat sy volle aandag nie in Hanoi was nie. Sy lyftaal het by tye gewys dat hy dalk meer bekommerd was oor wat in Washington gebeur waar een van sy vorige prokureurs, Michael Cohen, voor die huis van verteenwoordigers die een ná die ander ernstige beskuldiging hom ten laste gelê het. As daar waarheid in die beskuldigings is, voorspel dit groot probleme vir Trump.
Nietemin, die vraag is: Wat gaan nou gebeur? Trump het gesê Amerika gaan nie meer militêre oefeninge saam met Suid-Korea voor Noord-Korea se deur uitvoer nie. Dis te duur, het hy gesê. Nou lyk dit egter of daar wel sulke oefeninge gaan wees, maar op ’n veel kleiner skaal as vantevore. Kim het, volgens Trump, ook belowe dat die Noorde nie enige verdere kern- of missieltoetse sal uitvoer nie. Van Kim, wat deur Trump as ’n kleurryke karakter beskryf word, het ons tot dusver maar min gehoor. Noord-Korea het egter bevestig dat dit nie Kim was wat geloop het nie, maar Trump en sy gevolg.
Betekenisvol het Trump gesê hy het Suid-Korea gevra om druk op Kim uit te oefen sodat dié bereid sal wees om tot ’n vergelyk, wat die Amerikaners geval, sal kom. Dalk is die plan om Kim so ’n bietjie te laat sweet noudat hy die beloofde land in die vorm van Viëtnam gesien het. Trump sê self hy is nie haastig nie, hy sal wag vir die regte verdrag. Volgens hom wil hy liewer die regte ooreenkoms as die vinnige een sluit.
Sondag, op ’n vergadering van sy mees konserwatiewe ondersteuners in Amerika het Trump almal behalwe homself die skuld vir die mislukte beraad in Hanoi gegee. Veral die Demokrate en Michael Cohen moes deurloop omdat die huis van verteenwoordigers beskuldigings teen hom moes aanhoor terwyl hy “met belangrike internasionale sake besig was”.
Die vraag is egter of hy genoeg tyd het. Volgende jaar vind die Amerikaanse presidentsverkiesing plaas en Trump het dringend ’n sukses op internasionale vlak nodig om hom as staatsman te bewys. Op die oomblik is hy in dispute met Venezuela, die Europese Unie, Navo, Sirië, Afghanistan, Iran, China en natuurlik Noord-Korea gewikkel. Dan het die spook van Saoedi-Arabië en die moord op Jamal Khashoggi nog nie gaan lê nie. Amerika het uit die Parys-akkoord oor klimaatsverandering onttrek, wat ’n klad op sy naam is, ensovoorts.
Dit lyk of Trump internasionaal sy hande meer as vol het, om nie eens van sy probleme by die huis te praat nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
27 Kommentare
Kyk, ek is nou nie ‘n Trump liefhebber nie, terloops ek dink hys arrogant en skuurpapier, maar dis duidelik die “linkses” en die ouens wat die wereld se geld toutjies trek, nie van hom hou nie en wil hom ten alle koste uitkry. Dit staak nie met hulle linkse agenda’s nie – stupid ideologie soos “globalism” is verregaande maar dis waanatoe die wereld stoom en dit gaan chaos wees.
Ek wou se Trump het nie in Hanoi so selfversekerd voorgekom soos voorheen nie. Duidelik het Cohen se bewyse wat hy voorgele het in sy getuienis iets daarmee te doen. Trump het nou genoeg skade aangerig, dit is tyd dat Amerikaners hom en sy hele familie vaarwel toeroep! Op die ou einde sal dit net Putin wees wat Trump met ope arms gaan verwelkom, synde “welcome back comrade”!
Ja, met joernaliste soos diè gaan die wèreld net een pad loop…. Is dit met sulkes waarmee ons land beland het waar dit is? Wat mens net nie verstaan nie is dat die ooms nog in Afrikaans skryf… Waarom? Of glo hulle Afrikaners is dom genoeg om die snedighede wat hul kwyt raak by hul eie keelgat in te laat gly om weer sonder maagsuur maar gebreinspoel terug te stuur…. elke woord in volgorde herhaal… Ja… die oom weet seker… hy is mos ‘n oud-diplomaat… Watter twak is nie in die verlede aan ons opgedis nie.
Ag julle kyk almal die obvious mis oukies …trump en noord korea leier is alamal vriende hulle bluf net en gee voor hulle is vyande om julle te bluff
Dankie Tienie, bla… bla… bla…