Wat gaan nou met VSA en Noord-Korea gebeur?

Pres. Donald Trump en Kim Jong-oen van Noord-Korea stap saam ná hul eerste vergadering by die Sofitel Legend Metropole Hanoi-hotel [28 Februarie 2019]. (Foto: Evan Vucci/AP)

Toe baar die berg ’n muis. Die spitsberaad verlede week tussen president Donald Trump van Amerika en Kim Jong-oen, sy Noord-Koreaanse eweknie, was eintlik al verby voor dit in Hanoi, Viëtnam, begin het. Die twee leiers het afskeid geneem sonder dat hulle eers saam middagete genuttig het soos aanvanklik beplan is en sonder dat enige ooreenkoms gesluit is.

Hoe dan nou? Amerika, Noord-Korea en die wêreld was vooraf so vol moed dat daar ’n einde aan die “Koreaanse bedreiging” sou kom. Amerika het gesorg dat die beraad in Viëtnam plaasvind om as aansporing vir Kim te dien dat sy land net so vooruitstrewend soos Vietnam kan word as hy die strydbyl met Amerika begrawe. Amerika wou egter nie alle sanksies afskaf nie en Noord-Korea het sy kernbomme wat hy as versekering teen Amerikaanse aanvalle wil hou.

Dit lyk tog of die twee op vriendskaplike voet uitmekaar is. Trump het, kort nadat hy president geword het, neerhalend na Kim as “Rocket Man” verwys; in Singapoer, agt maande gelede, het hy gesê hy het verlief geraak (“fell in love”) op Kim. Tot verlede week het Trump gesê hy is vol moed dat daar ’n deurbraak gaan kom en dat Noord-Korea finaal sy kernwapenplanne gaan laat vaar.

Daar is myns insiens drie moontlikhede oor die mislukte samesprekings. Die een is dat Trump sy eie befaamde onderhandelingsvermoëns oorskat het; dat hy met ’n reuseblufspel besig is, of dat sy volle aandag nie in Hanoi was nie. Sy lyftaal het by tye gewys dat hy dalk meer bekommerd was oor wat in Washington gebeur waar een van sy vorige prokureurs, Michael Cohen, voor die huis van verteenwoordigers die een ná die ander ernstige beskuldiging hom ten laste gelê het. As daar waarheid in die beskuldigings is, voorspel dit groot probleme vir Trump.

Nietemin, die vraag is: Wat gaan nou gebeur? Trump het gesê Amerika gaan nie meer militêre oefeninge saam met Suid-Korea voor Noord-Korea se deur uitvoer nie. Dis te duur, het hy gesê. Nou lyk dit egter of daar wel sulke oefeninge gaan wees, maar op ’n veel kleiner skaal as vantevore. Kim het, volgens Trump, ook belowe dat die Noorde nie enige verdere kern- of missieltoetse sal uitvoer nie. Van Kim, wat deur Trump as ’n kleurryke karakter beskryf word, het ons tot dusver maar min gehoor. Noord-Korea het egter bevestig dat dit nie Kim was wat geloop het nie, maar Trump en sy gevolg.

Betekenisvol het Trump gesê hy het Suid-Korea gevra om druk op Kim uit te oefen sodat dié bereid sal wees om tot ’n vergelyk, wat die Amerikaners geval, sal kom. Dalk is die plan om Kim so ’n bietjie te laat sweet noudat hy die beloofde land in die vorm van Viëtnam gesien het. Trump sê self hy is nie haastig nie, hy sal wag vir die regte verdrag. Volgens hom wil hy liewer die regte ooreenkoms as die vinnige een sluit.

Sondag, op ’n vergadering van sy mees konserwatiewe ondersteuners in Amerika het Trump almal behalwe homself die skuld vir die mislukte beraad in Hanoi gegee. Veral die Demokrate en Michael Cohen moes deurloop omdat die huis van verteenwoordigers beskuldigings teen hom moes aanhoor terwyl hy “met belangrike internasionale sake besig was”.

Die vraag is egter of hy genoeg tyd het. Volgende jaar vind die Amerikaanse presidentsverkiesing plaas en Trump het dringend ’n sukses op internasionale vlak nodig om hom as staatsman te bewys. Op die oomblik is hy in dispute met Venezuela, die Europese Unie, Navo, Sirië, Afghanistan, Iran, China en natuurlik Noord-Korea gewikkel. Dan het die spook van Saoedi-Arabië en die moord op Jamal Khashoggi nog nie gaan lê nie. Amerika het uit die Parys-akkoord oor klimaatsverandering onttrek, wat ’n klad op sy naam is, ensovoorts.

Dit lyk of Trump internasionaal sy hande meer as vol het, om nie eens van sy probleme by die huis te praat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Werner ·

Kyk, ek is nou nie ‘n Trump liefhebber nie, terloops ek dink hys arrogant en skuurpapier, maar dis duidelik die “linkses” en die ouens wat die wereld se geld toutjies trek, nie van hom hou nie en wil hom ten alle koste uitkry. Dit staak nie met hulle linkse agenda’s nie – stupid ideologie soos “globalism” is verregaande maar dis waanatoe die wereld stoom en dit gaan chaos wees.

Jerry ·

Ek wou se Trump het nie in Hanoi so selfversekerd voorgekom soos voorheen nie. Duidelik het Cohen se bewyse wat hy voorgele het in sy getuienis iets daarmee te doen. Trump het nou genoeg skade aangerig, dit is tyd dat Amerikaners hom en sy hele familie vaarwel toeroep! Op die ou einde sal dit net Putin wees wat Trump met ope arms gaan verwelkom, synde “welcome back comrade”!

Danny ·

Ja Ou Jerry daar is n gesegde in Afrikaans wat se lee vat hou jou kraan toe anders weet almal dat jy leeg is. Dis verstommend hoe jy en jou meelopers dieselfde ou snaar tokkel oor die skade wat Trump kwansuis sou aangerig het en dan die Russiese probleem terwyl enige redelik ingeligte persoon weet dit is totaal verkeerd bewys. Dit help ook nie ek gee vir jou die bewyse hier nie , dit help ook nie ek gee die bewyse oor die uitstekende toestand waarin Amerika tans is nie nee julle sal die afgesaagde twak bly kwytraak. Jy weet duidelik niks van internasionale politiek nie en nog minder van Amerika. So ek bly maar by spreuke om nie n dwaas na sy gekheid te antwoord nie

John ·

Ja, met joernaliste soos diè gaan die wèreld net een pad loop…. Is dit met sulkes waarmee ons land beland het waar dit is? Wat mens net nie verstaan nie is dat die ooms nog in Afrikaans skryf… Waarom? Of glo hulle Afrikaners is dom genoeg om die snedighede wat hul kwyt raak by hul eie keelgat in te laat gly om weer sonder maagsuur maar gebreinspoel terug te stuur…. elke woord in volgorde herhaal… Ja… die oom weet seker… hy is mos ‘n oud-diplomaat… Watter twak is nie in die verlede aan ons opgedis nie.

Dries du Toit ·

Danny ek stem saam met jou. Al hierdie niksseggende beskuldigings teen Trump doen Amerika niks skade nie. Die ekonomie floreer en soos jy sê Amerika is in n uitstekende toestand. Dit sal jy nie vir die halstarrige Jerry oorreed nie. Kom ons wag maar weer vir Rhoda Kadali om ons weer eerstehands in te lig

Jan ·

Ag julle kyk almal die obvious mis oukies …trump en noord korea leier is alamal vriende hulle bluf net en gee voor hulle is vyande om julle te bluff

John ·

Ja,dis so waar. Die Jode en die Nazi’s was ook groot vriende en die Jode het vir die grap in die gaskamers ingestap. Tienie vergeet dat Kim as ‘n godjie in sy eie land gereken word… hy en sy voorouers word aanbid en kan volgens die mense selfs in dierevorme voordoen. Kim se broer is onlangs vergiftig en die land se inwoner word erg mishandel… praat nie eers van die afvuur van vuurpyle oor Japan sonder enige besorgdheid oor ander domeine nie. Kim is vasgevang in ‘n web van magtige mense wat hierdie speletjie gebruik om hom en die volk te beheer. Kim is ‘n bloot ‘n robot. Hy voer net opdragte uit. Die land ervaar hongersnood. Die leiers tuis moet tot ‘n val kom. Nou is Trump die dwaas. Hoe breek jy ‘n godjie af tot ‘n leier waarmee onderhandel kan word? Wanneer laas het Tienie met ‘n aarde godjie onderhandel? Alwetendheid is ‘n ernstige siekte…

Human ·

Siestog die klomp desperate Trump aanhangers wat dink hy gaan hul kom red. Hy kan homself nie red nie en `n mens moet baie desperaat wees as jy Trump bewonder, maar die gesegdes lui, in die land van die blindes is eenoog koning en leë blikke maak die meeste geraas.

Frans C ·

Dit kan dalk op jou van toepassing wees,want met alle aanvalle op die Prersident is Amerika se werklossheidsyfer die laagste in 48 jaar en in die aandelebeurs steeds 3700 punte hoër as wat dit was toe Trump as President verkies is.

Jy mag dalk nie van hom hoe nie maak die ekonomie vertel ‘n ander storie.

Jerry ·

Danny die feit dat jy reageer op my kommentaar is mos nou heeltemal teenstrydig met spreuke wat jy so luisteryk aanhaal! Jy is mos nou eintlik volgens die aanhaling glad nie veronderstel om te reageer nie, want jou reaksie kommentaar antwoord my mos nou! Ek stel voor jy gebruik n aanhaling wat meer gepas is, daar is sommer n hele paar waaraan ek kan dink! Indien jy meer tyd gebruik om Tienie se skrywe en my kommentaar te lees dan sal jy agterkom dat ons nie vir sy edele die President of Trump aanhangers beledig nie, ons ontleed net die feite en gee dit so deur soos vanuit ons oogpunte, ons beskeie opinies! So hoekom jy dit nodig ag om ons en wie ookal jy sien as ons meelopers, so te beledig dat die see ons nie eers kan skoonwas nie, is ongevraagd en onverdiend. Jy toon dieselfde geneigdheid as President Trump wie ook daarvoor lief is om wanpersepsies te skep van enige persoon wie dit sou waag om van opine met hom te verskil. So, ten spyte daarvan dat President Trump self die oorsaak is van sy ongewildheid, beledig ons hom nie en ook nie sy meelopers of ons mede kommentators nie. Ons bly maar net by die feite en bewyse wat aanhou opduik en rede verleen aan President Trump se toenemende ongewildheid. Dit is nie ons wat se hy is ongewild nie, dit is die feite en bewyse wat vanself spreek!

Danny ·

Jy sien daar doen jy presies wat ek gese het jy hou aan om n snaar te tokkel wat vals is en nou is jy ewe skielik die ewe ordenlikheid. Trump se gewildheid in Amerika is ongekend vir n President waar kom jy daaraan dat hy ongewild isJy versprei n leuen en dan getrou aan jou liberale tradisie wil jy dadelik oorkom as die beskaafte outjie maar jy skroom nie om cnn en die lib pers se leun verder te dra nie m.a.w jy jy is die draer van die leuen en jy dink jy doen die wereld n guns.Gee maar die aanhalings ou jerry dan ontleed ons dit, maar asb moenie oor die President van Amerika praat as jy niks behalwe die leuens van die lingse pers lees nie. Hulle ook gese hy sou nooit wen nie. Dit gaan uitstekend met Amerika en sy President

Louis ·

Ja, die kanse is goed dat hy en Kim albei ook al daardie een gehoor het.?

Ronnie ·

Wat tussen Noord Korea en die VSA gebeur het tydens die Hanoi beraad is in opdrag van Poetin. Die waarskynlike gesprek(ke) tussen Sergey Lavrov en Trump was van groter belang as die tussen Trump en Kim. Maar net soos in Helsinki en Argentinia weet geen Amerikaner, (selfs op hoogste vlak), eerstehands wat bespreek was nie. Dit word slegs in die Russiese staatsbeheerde media bekend gemaak.
Die Russiese media blameer die “ontydige” Cohen verhoor vir die mislukte beraad en terselfdertyd maak hulle geen geheim daarvan dat hulle pro-Pyongyang is nie. Voor die Singapoer beraad het Poetin Trump geloof vir sy besluit om met Kim te vergader en dit as volwasse en dapper beskryf. Nou loof hy Kim!
Noord Koreaanse en Russiese staatsbeheerde media blameer die Demokrate en die VSA Intelligensiedienste vir die kil atmosfeer wat die beraad voorafgegaan het. Die Russiese media het voorspel dat Noord Korea nie ‘n ooreenkoms sal aangaan nie. Olga Skabeeva het vooraf op TV gesê: “We trust in Kim and hope he won’t abandon anything.”
Trump bevind hom in ‘n verswakte posisie. Dit maak dit makliker vir Kim om handelsbande met China en Rusland te versterk. Terselfdertyd finaliseer die Kremlin reëlings vir hulle eie beraad tussen Poetin en Kim.
Sateliet beeldmateriaal toon dat Noord Korea teen ‘n versnelde pas besig is om ‘n onaktiewe missiel lanseer perseel te herbou. Trump is die tweede president wat in Viënam verloor. Nixon tot voordeel van kommunisme en Poetin kan nou sy spiere afwys ten koste van Trump.

Boer ·

@Ronnie: Heeltemal reg!

Politiek gaan oor mag. En hoe om dit te behou ten spyte van die burokratiese gebrek om “beleid” te kan implementeer. “Beleid” is net die rookskerm om die massas mee te sus.

Insiggewende menings van jou Tienie.

Jerry ·

Danny, President Trump het self gese hy is verlief op Kim van Noord Korea. Sou jy se dit is die waarheid en dat hy wel verlief is op Kim of sou jy se dat President Trump n impulsiewe leuenaar is wat nie eers meer agterkom wanneer hy n leuen vertel? Nou moet jy mooi dink, want watter kant toe jy ookal mik, by implikasie as dit nie n leuen is nie is jou President Trump in die moeilikheid by sy vrou en gaan sy gewildheid by sy kinders n helse knou kry!

Jerry ·

Danny, jy sal enige anti Trump stellings afmaak as leuens, ten spyte daarvan dat die laaste onafhanklike peilings daarop dui dat Trump steun verloor en sy gewildheid selfs onder van sy eie meelopers besig is om te taan. Na Trump se betaling aan die prostituut en sy liefdesverklaring aan Kim het Trump se gewildheid tog seer sekerlik ietwat van n knou weg by sy eie vrou en meelopers wie opregte konserwatiewe waardes nastreef! Dat Trump se gewildheid toegeneem het onder KKK lede, wel dit sal ek beslis nie betwyfel nie!

Jerry ·

Danny jy hou van Trump en daarom is die uwe so gewild volgens jou en gaan dit uitstekend met hom. Ek hou nie van Trump nie en dus is hy minder gewild vir my en volgens my gaan dit nie so uitstekend met Trump nie. Ek wil dus vir Trump aan die kaak stel vir die “conartist” wat ek van oortuig is, hy is. Jy sou, synde dit so is, dit graag sou wou verdoesel. Volgens my is Trump en Cohen voels van eenderse vere, synde beide leuenaars van hoogstaande gehalte! Volgens jou is Trump nie dit nie, maar n uitstekende president! Volgens my skep hy n president met alles wat hy se en doen! Danny beide van ons het ons verskillende opinies oor Trump. Jy steur jou aan my opinie en val my opinie aan en ek steur my nie regtig veel aan jou opinie nie, ek steur my graag eerder aan Tienie se opinie!

Danny ·

Ek het jou al gese Jerry ek antwoord nie n dwaas na sy gekheid nie.

Danny ·

Ek sien Jerry jy antwoord ook nie op jou ja stem nie so ek glo jy was een van die bouers van die nuwe Suid Afrika en ek glo jy sien hier niks verkeerd nie.
Groetnis

Will Oosthuizen ·

Pres. Trump se sukses moet gemeet word aan die nydige teenkanting wat hy uit alle linkse progressiewe oorde ontvang. Die Demokrate is steeds op suikerwater sedert Hillary in die stof gebyt het. Ondanks alle moontlike teenkanting van selfs hanskakies binne sy eie party is Trump steeds besig om Sy verkiesings-beloftes uit te voer: Jerusalem is as hoofstad van Israel erken, Iran en Obama se gepaai met miljoene dollar se omkoopgeld is nietig verklaar, Isis is op die agtervoet, belaglike regulasies wat die ekonomie gekniehalter het is afgeskaf, die effektebeurs is die beste ooit, werkloosheid op die laagste vlak en belastings gesny, Ons Veterane word na omgesien en China en Europa se verneukery met handel word aangespreek en Trump se gewildheid is 52%. Nie sleg vir ‘n sakeman wat nie politieke paaiery uitoefen om gunsies te wen nie! Om ook nie te praat van beskerming van godsdiensvryheid wat onder Obama bedreig was nie. O, en Trump aanvaar geen sent betaling in salaris nie maar skenk inteendeel sy volle salaris aan liefdadigheid. Geen wonder massas probeer die VSA onwettig binneglip nie! Kyk maar na die huidige groep Demokrate en Trump is beslis die beste vir Amerika!

Annie Webb ·

Dankie Will Oosthuizen! Party van die “conspiracy theories” in dié kommentare laat my wonder wáár mense dit kry? Die feite oor wat pres. Trump reeds bereik het, is maklik genoeg om te kry as mens belangstel. Tienie Fourie praat van pres. Trump wat gepraat het by ‘n byeenkoms van sy “mees konserwatiewe ondersteuners” (of so iets, ek het nie neergeskryf nie). Dit was die jaarlikse konferensie van die Conservative Political Union, ‘n groep wat baie lankal bestaan en glad nie noodwendig Trump ondersteun nie. Trump het twee uur lank uit die vuis gepraat, byna heeltyd ‘n staande ovasie gekry (van jong konserwatiewes!) en vir niks verskoning gevra nie. Hy het inderwaarheid héérlik gespot met alles van AOC se belaglike “Green New Deal” tot wat nog, tot groot vermaak van sy gehoor. Ons SA kommentators se beheptheid met Trump se gewildheid of nie, neem hulle direk oor uit die linkse VSA-media. Ná alles wat Trump reeds vermag het, bly die “popular vote” die linkses se enigste bate, dus ry hulle dit. Daar is geen waarborg dat Trump in 2020 gaan wen nie, maar dit sal nie wees omdat gewone Amerikaners hom nie steun nie. Dit sal wees omdat dekades se oop grense deur korrupte politici wat daarby baat vind, Amerika op die rand van verval in net nog ‘n sosialistiese mislukking gebring het, met miljoene onwettiges wat Dem stem. Met net Trump wat sy gemaklike rykmanslewe prysgee om te probeer red wat te redde is.

Dries du Toit ·

Presies wat dit is Will. Dit is die feite wat hom so gewild maak. Waaroor gaan dit in enige land. Dit gaan oor daardie voorspoed wat jy nou so mooi uiteen gesit het. Trump is nie gewild by baie mense nie a.g.v sy selfvertroue en arrogansie. Hy draai nie doekies om nie en dit maak hom die sterk leier wat hy is. Tenspyte van die enorme haatlike aanslag van die liberalistiese wereld doen hy uitstekend

Ronnie ·

Will Oosthuizen, ek sal glo dat Trump sy salaris aan liefdadigheid skenk as daar bewyse voor is. Hy is nie die mees beskeie mens wat ek van weet nie. Ek sou dink as hy dit werklik doen sou hy elke maand groot gewag daarvan gemaak het. Hy is maar bra stil daaroor. Afgesien daarvan is hy onlangs in ‘n siviele hofgeding skuldig bevind aan die misbruik van sy liefdadigheidsfondse vir eie gewin. Hy was gedwing om sy liefdadigheidsorganisasie te ontbind. Die geld was ingesamel vir minderbevoorregdes, bejaardes en gestremdes, maar hy het dit vir homself gevat.
Die hof het gelas dat hy die geld terugbetaal en alle oorblywende fondse aan ligitieme organisasies oorbetaal. Hy en sy drie oudste kinders is ook verbied om vir ‘n aantal jare op die raad van enige liefdadigheidsorganisasie te dien.
Die daaglikse nuusgebeure is so oorweldiend met hierdie administrasie, dat niemand ooit weer sal dink om te vra aan wie skenk hy sy salaris nie. Of het ek iets gemis? Ek twyfel.

Annie Webb ·

Ronnie, Trump het nie SAners se ondersteuning nodig nie. Dié van ons wat pro-Trump is, stel doodgewoon belang in wat hy as leier vir sy land doen om dit binne twee jaar weer só suksesvol te maak. Die linkse media in die VSA val hom gedurig persoonlik aan omdat hulle hom nie op sy beleid kan aanval nie. Veral nie nou waar die Dems heeltemal “sosialisties draai” nie. Jy weet ons wat pro-Trump is, kry ons nuus en menings onder andere van Fox News. Dis ook daarvandaan wat ons weet hy skenk sy salaris vir liefdadigheid. Ek het dit vantevore gevra en geen antwoord gekry nie, dus vra ek jou weer: waar kry jy die “inligting” wat jy so graag hier aanbied? Want dit klink vir my soos totale twak wat jy uit jou duim uit suig. Om nie te praat van die heeltemal ongelooflike “conspiracy theories” wat jy oor Trump as Russiese pion kwytraak nie. Ek daag jou dus uit om ons te sê waar jy jou inligting kry, anders moet ons aanvaar dis “fake news”. En moet ons verder aanvaar dat Maroela Media tevrede is met “feite” uit “anonieme bronne”. Dis gewoon swak. En dan moet die media nie kla as hulle nie gerespekteer word nie.

Annie Webb ·

Ronnie, Trump het nie SAners se ondersteuning nodig nie. Dié van ons wat pro-Trump is, stel doodgewoon belang in wat hy as leier vir sy land doen om dit binne twee jaar weer só suksesvol te maak. Die linkse media in die VSA val hom gedurig persoonlik aan omdat hulle hom nie op sy beleid kan aanval nie. Veral nie nou waar die Dems heeltemal “sosialisties draai” nie. Jy weet ons wat pro-Trump is, kry ons nuus en menings onder andere van Fox News. Dis ook daarvandaan wat ons weet hy skenk sy salaris vir liefdadigheid. Ek het dit vantevore gevra en geen antwoord gekry nie, dus vra ek jou weer: waar kry jy die “inligting” wat jy so graag hier aanbied? Want dit klink vir my soos totale twak wat jy uit jou duim uit suig. Om nie te praat van die heeltemal ongelooflike “conspiracy theories” wat jy oor Trump as Russiese pion kwytraak nie. Ek daag jou dus uit om ons te sê waar jy jou inligting kry, anders moet ons aanvaar dis “fake news”.

aj ·

Go …. Trump … go !!!

Saviour and protector of Western civilization!

We salute you!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.