Spanje is die afgelope dekade of wat deur verskeie erge krisisse geraak. Die finansiële skuldkrisis wat die meeste Europese lande getref het, het ook in Spanje tot grootskaalse besparingsmaatreëls aanleiding gegee. Soos die res van Europa is Spanje ook getref deur ’n golf van onwettige immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste.
Die kersie op die koek die afgelope jaar of wat, was egter die krisis in Spanje se welvarendste streek, Katalonië, waar kiesers in ’n referendum ten gunste van onafhanklikheid gestem het en waarop die daaropvolgende gebeure tot ’n konstitusionele krisis aanleiding gegee het. Met ’n nuwe regering wat vroeër hierdie maand in Spanje oorgeneem het, ontstaan die vraag nou of daar enige hoop bestaan dat die Katalonië-vraagstuk binnekort opgelos kan word?
Sedert Spanje in 1977 ’n demokrasie geword het, is geen Spaanse eerste minister nog ooit deur ’n mosie van wantroue uit sy posisie verwyder nie. Vroeër hierdie maand het dit egter verander toe Mariano Rajoy die knie voor sy politieke opponente moes buig, nadat ’n mosie van wantroue teen hom aanvaar is. Die Spaanse grondwet maak voorsiening vir die verwydering van die land se eerste minister met ’n blote meerderheidstem in die parlement. In die verlede het Spanje egter politieke geskille eerder met vervroegde verkiesings uitgesorteer.
Wat die verwydering van Rajoy selfs meer merkwaardig maak, is die feit dat Rajoy se party in die afgelope twee verkiesings in Spanje elke keer eerste geëindig het. Die Sosialistiese Party, wat onder leiding van Pedro Sánchez, die rebellie teen Rajoy gelei het, het tans slegs 84 van die 350 setels in die parlement. Wat Sánchez reggekry het, is om genoeg anti-Rajoy-stemme uit die linker- en regterkant van die politieke spektrum bymekaar te maak ten einde die wantrouestem te laat slaag. Die vraag is egter wat nou?
Rajoy se sentrumregse Volksparty het die afgelope paar jaar met ekonomiese hervormings daarin geslaag om Spanje uit die ernstigste finansiële krisis in dekades te kry. Die party is egter ook die afgelope tyd vasgevang in ’n reeks bedrogskandale. Verder is hul gewelddadige hantering van die Katalonië-vraagstuk wyd veroordeel. Sánchez het reeds voor die wantrouemosie teen Rajoy gestel is, bevestig dat hy, sou hy as eerste minister oorneem, met Rajoy se ekonomiese hervormings sou voortgaan.
Wat Katalonië betref het Sánchez aangedui dat hy, anders as Rajoy, bereid is om in onderhandelinge met die seperatiste-regering van Katalonië te tree. Sánchez het egter verlede jaar Rajoy se hardhandige ingrepe in Katalonië ondersteun en sommige van sy nuwe kabinetslede is geharde opponente van die vryheidstryd in Katalonië. Daarmee saam het Sánchez nie regtig ’n mandaat om Spanje te regeer nie. Sy party het by die laaste verkiesing redelik swak gedoen en Spanjaarde voel dus dat hulle geen mandaat aan hom gegee het om met die Katalane te onderhandel nie.
Dit alles gaan waarskynlik tot ’n vervroegde verkiesing in Spanje aanleiding gee. Terwyl die Spaanse ekonomie stelselmatig verbeter, is daar min rede om te hoop dat die nuwe regering in Spanje die Katalaanse vraagstuk selfs net tydelik kan oplos. Die krisis in Katalonië is besig om ’n langtermynprobleem vir Spanje te raak.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Ons moet ook soos Katelonie vir eie bestuur staan. Terloops, eergister is die stop soros wetgewing in Hongarye aanvaar, ek dink dit is n groot gebeurtenis.