Wat gebeur as juffrouens Anna en Katie doodgemaak word?

dirk-hermann-reint-dykema

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Die einde van die Anglo-Boereoorlog 115 jaar gelede was ’n dramatiese en traumatiese tyd: 4 177 Boerevroue en 22 074 Boerekinders het in konsentrasiekampe gesterf; sowat 5 000 mans is op die slagveld dood, maar wat dikwels vergeet word, is die ongeveer 12 000 kinders wat wees gelaat is.

So was daar 28 oorlogswesies uit die Heidelberg-konsentrasiekamp wat geen heenkome gehad het nie. Ds. AJ Louw en die plaaslike gemeente in die ou Klipkerk het hulle oor die kinders ontferm en ʼn skooltjie is in die kelder onder die kerk vir dié kinders begin.

Anna Basson en Katie Human was die eerste leerkragte. Juffrouens Anna en Katie het as ouers vir die weeskindertjies ingestaan. Hulle was onderwysers en opvoeders, en ook rolmodelle, beraders en verpleegsters. In 1903 is die Volkskool gestig en vandag is die Hoër Volkskool Heidelberg steeds ʼn spogskool.

Ds. Louw en juffrouens Anna en Katie het ’n klein skooltjie begin, maar die idee was groot. Hulle het bloot gedoen wat hulle moes doen. Dit is die krag van roeping. Dit was onseker tye, maar hulle het beheer geneem oor dít wat aan hulle toevertrou is en het daarmee begin bou. Vandag vertel ons stories oor hulle.

In die Vrystaat het pres. MT Steyn geglo dat Afrikaners geestelik, kultureel en ekonomies weer opgehef moet word. Hy het geglo dat dit deur die onderwys gedoen moet word. “Opvoeding en onderwys sal my lewenstaak wees want daarvan hang ons volksbestaan af,” het Steyn gesê. So is Oranje Meisieskool in 1907 gestig. Die doel van die skool was om ʼn kragtige, vormende invloed op dogters te hê.

Ná die oorlog was die Afrikaners stukkend en gesinne was stukkend. Daar was bykans nie ʼn gesin wat nie ʼn naasbestaande aan die dood afgestaan het nie. Almal was in rou. Pa’s het van die bannelingkampe begin terugkeer. Absolute armoede het geheers en veral onder die mans was daar skuldgevoelens omdat hulle nie hul vroue en kinders teen die wreedheid van die oorlog kon beskerm nie. Talle sosiale probleme het gevolg. Die reeds stukkende gesinne het selfs verder verbrokkel.

Tog kom twee besondere skole ná die oorlog tot stand – vormende skole om kinders te help om die uitdagings van die tyd die hoof te bied. By dié twee skole en by talle ander was daar juffrouens Annas en Katie’s wat moes skoolhou en heelmaak, wat wiskunde moes gee, maar wat ook moes vorm, wat moes onderrig en opvoed.

Prof. Lawrence Schlemmer, bekende Suid-Afrikaanse sosioloog en politieke kommentator, het gesê Afrikaners kon in moeilike tye opstaan danksy die suurdeeg van roepingsgedrewe onderwysers.

Dit is nou 115 jaar later en Suid-Afrika beleef totaal ander tye, maar tog ook soortgelyke omstandighede: Ons beleef weer onseker tye; daar is weer kinders wat soekend is. Ons het weer ontwrigte gesinne.

Volgens Statistieke Suid-Afrika leef slegs 36% van jong kinders in gesinne met albei ouers, terwyl 19% nie by een van hul ouers woon nie. Volgens Ndaedzo Nethonze van die InnerMan-instituut word agt uit elke tien seuns in Suid-Afrika sonder ’n pa groot – ons eiesoortige weeskinders.

Selfs in huisgesinne met ʼn pa en ʼn ma word die hedendaagse weeskinders aangetref vanweë die verskynsel van die afwesige pa en ma van die moderne tyd – pendelouers wat vroeg soggens uit die huis is en eers laat terugkeer. Daar is finansies wat gesinne druk. Daar is onverskillige ouers, ouers wat net eenvoudig vasgevang word deur die eise van die tyd en daar is enkelouers wat sukkel om kop bo water te hou.

Daar is in ons gemeenskap ook baie gesonde huisgesinne en gesonde kinders, ook gesonde enkelouergesinne, maar daar talle stukkende gesinne. Ons het te make met ontwrigte gesinne in ontwrigtende tye en soos 115 jaar gelede met al die sosiale gevolge wat daarmee gepaardgaan.

In 2017 het ons juffrouens Annas en Katie’s nodig wat skoolhou en heelmaak, wat wiskunde gee en vorm, wat onderrig en opvoed. Hulle moet rolmodelle, beraders en verpleegsters wees. Ons benodig die suurdeeg van roepingsgedrewe onderwysers – nie net vir die onthalwe van ontwrigte kinders nie, maar vir alle kinders.

Onderwysers moet ook vandag met klein dingetjies in die skool en in die klas ʼn groot idee vermag. Hulle moet bloot verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat aan hulle toevertrou is. Die kleintjie wat in die klas sit is ʼn kindjie van die Here wat gedurende daardie tyd onder die onderwyser se voogdyskap geplaas is. Vir ’n rukkie tree die onderwyser as die “ouer” op en vir ʼn rukkie kan die onderwyser daardie stabiele gesin vir die kind wees.

In 2017 het ons nie neutrale onderwysrobotte wat bloot kennis aan neutrale leerderobjekte oordra, nodig nie. Ons het mense nodig wat ʼn etos aan kinders – aan weeskinders, ontwrigte kinders en gebalanseerde kinders – oordra. Neem juffrou Anna en juffrou Katie uit die skool en ons sit nie net met ontwrigte kinders nie, maar met ʼn ontwrigte samelewing. Dié wat vra dat etos uit ons skole geneem word, weet nie vir watter soort samelewing hulle vra nie.

In Australië is staatskole neutraal, maar radikale godsdiens is geneig om neutrale plekke te vul. So is 19 skole in Sydney as risiko om Moslem-kinders te radikaliseer, geïdentifiseer. Antiradikaliseringsproramme is deur die staat van stapel gestuur. ʼn Span kundiges, bestaande onder meer uit sielkundiges, IT-spesialiste en maatskaplike werkers, word nou na die skole toe gestuur om te verhoed dat hulle geradikaliseer word. Leerders het onderwysers aangerand, het gedreig om onderwysers te onthoof en het opleiding ontvang om “pigs” (met verwysing na die polisie) te hanteer. Dit is ʼn radikale voorbeeld, maar ʼn skool en samelewing sonder ʼn gesonde geloofsetos word vervang deur ʼn skool en ʼn samelewing met ʼn radikale etos. Ons sien hoe dit in Amerikaanse, Britse en ook al meer in Suid-Afrikaanse skole gebeur.

In 2014 het ʼn groepie ateïste (hulle noem hulleself nie so nie) ses skole oor hul godsdienspraktyke hof toe geneem. Onderliggend aan die saak gaan dit daaroor dat hulle vir juffrou Anna en ʼn juffrou Katie wil doodmaak. Hulle wil die hart van die skool doodmaak. As jy die hart van ʼn skool doodmaak, maak jy die hart van ʼn gemeenskap dood.

Hulle wou ʼn interdik teen godsdienspraktyke, maar eintlik teen die etos van skole, bekom. Volgens hulle moet skole neutrale plekke wees, maar wat hulle eintlik wil hê, is dat húl geloofsidee ter uitsluiting van gelowiges gevestig moet word. Statistieke toon dat 86% van Suid-Afrikaners hulself as Christene sien; sowat 95% hulle met ʼn geloof identifiseer; en dat 1,5% hulself as ateïste sien.

Op 28 Junie 2017 is uitspraak in hierdie saak gelewer. Die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie het te vinnig gejuig oor die uitspraak. Hulle het 74 interdikte gevra waarvan hulle nie met een suksesvol was nie.

Die ateïste het ook gevra dat godsdiensbeoefening ongrondwetlik en onwettig verklaar word. Hulle was ook nie suksesvol daarmee nie. Juffrouens Anna en Katie is nie dood nie.

Die uitspraak het die magte van die beheerliggame onveranderd gelaat en inteendeel weer bevestig. Beheerliggame kan dus met die uitspraak met meer selfvertoue reëls vir godsdiensbeoefening vasmaak.

Wat wel bevind is, is dat skole hulle nie as ʼn spesifieke geloofskool mag voorhou of bemark nie.

Die hof het egter geensins bevind dat daar nie geloofspraktyke moet wees nie. Skriflesing en gebed by saalopening, gebed voor ʼn byeenkoms en ander praktyke is steeds toelaatbaar solank dit, net soos in die verlede, billik, vry en vrywillig is. Ongelukkig is daar onsekerheid en ingeboude spanning in die uitspraak.

Die laaste woord oor die saak is nog nie gespreek nie en appèlle kan nog verwag word.

Die uitspraak raak sekere vormaspekte van godsdiensbeoefening, maar onderwysers se roepingsplig mag nie geraak word nie. Onderwysers moenie hulle harte laat doodmaak nie. Hulle moet ons kinders steeds in beskerming neem. Hulle moet nooit, nooit neutrale onderwysrobotte word nie. Die etos lê opgesluit in die personeel.

Juffrou Anna en juffrou Katie, ons het julle nou nodig. Julle moet voluit leef. Julle moet juis nou ʼn kragtige, vormende invloed op ons kinders hê. Dankie vir julle almal wat op ons almal ʼn wonderlike invloed gehad het en steeds op ons kinders moet en gaan hê. Julle meen dalk wat julle doen is net gering, maar oor julle word stories vertel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek sien geen kommentaar is sover belewer op die Dirk Herman-skrywe nie en neem aan min mense het dit kon lees. Is dit ‘n geval van die predikant wat Sondae s gemeente waarsku teen die sonde maar die wat daarna luister het nie die preek nodig nie want hulle is in die kerk en nie buite besig met dit wat nie gedoen moet word nie?

Leonard van der Dussen ·

Die beroep op die onderwysers is reg, maar dit is die plig van die ouers om te sorg dat daar ‘n skool is en ‘n skoolopset waarbinne die onderwysers hulle roeping des te beter kan uitoefen. Mooi emosionele beroep op onderwysers, maar hierdie artikel trippel ook nog rondom die eintlike saak, naamlik dat daar Christelike skole gebou moet word onafhanklik van die staat, en dat die sosialistiese staatskurrikulum harder bevraagteken moet word, sodat juffroue Anna en Katie behoorlik ondersteun word en nie net voor dankie gesê word nie. As mense wil ophou sê hoe hulle mense wat opoffer vir Christelike skole bewonder, en eerder hulle beursies uithaal en met geld en bestuur kom help bou, dan sal ons sterk word.

Disselboom ·

Nie net die ouers se plig nie: sake-ondernemings en al die instellings in die samelewing het belang daarby en plig om gesonde onderwys te steun; en om van die staatskoei se spene weg te beweeg na onderwys wat akademies gerig is en met ‘n transformasie-doelwit opgestel word nie.

wonder maar ·

Dink dis eerder n geval dat baie glo dit nie!! Dis mos net anders kleuriges wat swaar gekry het!
Hierdie goed is mos leuns!!
Dit het mos nooit met wit mense gebeur nie!!!!

MCH ·

Die gemiddelde Afrikaanssprekende vandag is geestelik ernstig verwond. Daar is n besluitloosheid tussen laer trek en afsondering. Daar is op godsdienstige vlak verklowende verskille. Op politieke vlak is ons effektief ontman en voel nêrens werklik tuis nie. Daar is n algehele afkeer van die regerende meerderheid teenoor blankes. Mense is tot die dood toe stukkend tussen ons vanweë onhoudbare spanning en ons sien dit nie eens nie. (Suna Venter) Eerbare mense raak finansieël in die knyp in hul ouderdom en kry bitter onsimpatieke kommentaar op sosiale platforms. ( Pierre van Pletzen) – ” kry n hoedjie en pas karre op. Waar is jou neseier?” Die ewige kloof tussen die have’s en have not’s was nog nooit so dik bestreep as juis vandag nie. Die hart van die Afrikaanssprekende het iewers langs die pad verlore geraak. Leiersfigure het gekom en gegaan maar navolgers bloot met ontnugterende teleurstelling gelaat. Juis daarom is dit nodig dat gewone mense weer n verskil maak deur passievolle uitlewing van daardie waardes wat meeste van ons bewonder en aanhang. Hopelik word die vlam van die lewe weer aangesteek deur die optrede van sulkes. Hopelik vernou die klowe van verskille deur die wat selfsug oorboord gooi en net met die hart begin leef in die rand en sent samelewing van ons.

Delia ·

Dankie MCH, die beste kommentaar wat ek in ‘n lang tyd gelees het! Alles wat jy se is so waar….

Deléne ·

10/10 MCH! Baie dankie vir jou eerlike & op die man af verwoording van die realiteite in ons hedendaagse samelewings!

JC ·

Uitstekend geskryf, dankie Dr. Hermann. Almal wat hier lees, neem dit asb. ter harte.

JC ·

Christelike Volkseie Onderwysskole (PRIVAAT CVO Skole) is beslis die antwoord op die indringende vrae wat gestel word in hierdie stuk van Dr. Hermann. Die kreeftegang het bykans aangebreek vir openbare skole van enige soort.

Bees ·

goddank die boelie in belastingbetalers se skole gaan nou end kry. Gaan spook en spartel in die kollektebordjie!

Ou Kreool Afrikaner VLAKVARK ·

@Leonard en MCH.
Toets die egtheid van goud en waardestelsels in die smeltkroes van voorspoed en aardse besittings. Te lank het Afrikaner-ouers gedink dat die NP regering, die SAW en die kerk vir die Afrikanervolk sal sorg. Rugby, bier en braaivleis was die fokus terwyl baie mede-Suid-Afrikaners hulself georganiseer het en by hul burgerlike strukture betrokke geraak het. Hoeveel van my direkte Afrikaner-bure het na jare weggetrek sonder om my eens te groet? Nou huil ons. Maar swaarkry wek hoop en skep kreatiwiteit en distilleer waardestelsels en raak ontslae van die slawerny van onnodige tradisies en vooroordele. Ek het hoop vir die Afrikaner-nasie. Baie hoop. Nou begin ons besef wat is ‘n passievolle onderwyser(es) en skoolhoof in goud werd! Afrikaner-privaatskole is die antwoord. Ons kan iets uit die Joodse diaspora leer.

Leonard van der Dussen ·

Ek is reeds diep en aktief in privaatskole betrokke – wie kom saam?

Anne-Marie Moolman ·

Ek is’n juffrou Anna en ken baie juffrou Katie’s. Ons gaan voluit en met ‘n hart van passie vir kinders weet ons egter dat God in beheer is hoekom? Hy is Almagtig en sal nooit toelaat dat ons Sy kindertjies verniel nie. Ons woon elke moontlike kursus ,werkswinkel ens. by , maar op die einde is ons wat ons is Anna’s en Katie’s en maak foute ,maar môre gaan ons weer voluit. Ons beleef seer van kinders ook vreugde
Ons is daar geklee in ons volle wapenrusting gereed vir watter oorlog ookal! Watter wonderlike ervaring om te weet dat God my gereeld stuur om iewers te gaan” fix”….of dit in ‘n woestynland , armland, rykland …waar ookal is . Met ‘n seuntjie wat wil leer lees al gaan hy môre dood ! Ons maak nog juffrou Anna’s en juffrou Katie’s groot en mentor hulle soms met net ‘n glimlag , want ons is al deur ‘n oorlog of 2 hulle sin kom nog. Wees stil en weet God is in beheer …….Ons eie seer in rugsakkies veilig weggebêre . Dankie Heer dat ons weet U sal ons nooit los nie…..en stuur my maar weer ! Alles die moeite werd!
Dankie aan al die Anna’s en Katie’s wat my mentors was! Een glimlag van ‘n kind wat sukses beleef op watter gebied ookal veroorsaak ‘n rippeleffek ..Juffrou Anna jy kan!

Jacobus ·

Daar moet besef word dat daar net so baie Anna’s en Katie’s in die wereld is wat nie godsdiens nodig het om hulle te motiveer om goeie dade te doen nie.
Die Britte het juis in die naam van God die hele wêreld probeer infiltreer en annekseer en miljoene mense is so dood in onnodige oorloë. Hulle het gedink hulle kan enige iets doen omdat hulle God aan hulle kant het. Net so was die Rooms Katolieke kerk in die 20ste eeu omdat hulle kop in een mus met fasisme was.
As God so lief was vir die Boerevolk en regtig omgegee het, sou daar seker nie 12000 weeskinders na die oorlog gewees het nie?
Wêreldwyd sterf daar jaarliks 9 miljoen kinders onder die ouderdom van 5 jaar agv kanker, mishandeling, gebrek aan skoon drinkwater, blootstelling aan onnodige konflik in oorlog geteisterde gebiede ens.
Daar is vele non-godsdiens organisasies ( soos byvoorbeeld Oxfam, Red Cross, Unicef, Save the Children, Doctors without borders, The Gates Foundation, Share, Water Aid ens) wat hulp verleen in hierdie areas.
Ons het 21ste eeu oplossings nodig vir ons huidige probleme en nie brons- era bygelowigheid en stowwerige ou Siener van Rensburg boeke nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.