Wat het geword van gesonde debatvoering?

praat-mikrofoon

Argieffoto.

Waarheen is Suid-Afrika op pad? Gesonde debatvoering maak, soos in die jare vyftig en sestig, plek vir politieke korrektheid en ʼn oordrewe vrees om as afwykend van die regering se rigting gesien te word.

Van die ANC kan ʼn mens só iets verwag. Die ergste is dat steeds meer Afrikaners die knie hiervoor buig.

Verlede week gesels ek lank met ʼn Afrikanerpolitikus in Pretoria. Hy vertel my dat hy meermale met die vorige minister wat vir tersiêre onderwys verantwoordelik was, Naledi Pandor, oor Afrikaans op universiteit gepraat het.

Pandor se antwoord aan die politikus het my geruk. Sy het gesê sy lig geen vinger om Afrikaans op universiteitsvlak te benadeel nie. Al die maatreëls wat tot in daardie stadium tot Afrikaanse se nadeel was, was afkomstig van Afrikaners self.

Haar opvolger, kameraad Blade Nzimande, het Pandor se beleid natuurlik verander. Die onbeskofte wyse waarop hy en sy kornuite ʼn afvaardiging van die Universiteit Stellenbosch onlangs op ʼn komiteevergadering in die parlement aangeval het, wys dat hy soos ʼn woedende olifantbul is wat Afrikaans genadeloos wil plattrap.

Hy kry hulp uit twee oorde.

Die een is die drukgroep Open Stellenbosch, wat klaarblyklik gelei word deur ʼn Engelstalige wit dosent, dr. Kylie Thomas. Sy spog sommer openlik dat die groep se optrede ʼn invloed gehad het op die Universiteit Stellenbosch (US) se besluit om sy taalbeleid te verander.

Die tweede is sommige Afrikaners op die universiteitsraad en in leiersposisies aan die universiteit. Hulle kon nie wág om onder die druk van kamerade Nzimande en Thomas te knak nie.

Wat die raad – of dan die meerderheid – verlede week aangevang het, gaan ewenwel alle perke te buite.

Een van die lede wat deur die konvokasie verkies is, Piet le Roux (hy is mede-oprigter van ʼn organisasie wat hom vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak beywer), het ʼn twiet die wêreld ingestuur: “Blade Nzimande en transformanie gaan nie wen nie. Ondersteun die Afrikaanse Alumni-vereniging.”

Hieroor was die hel los. Die Kylie Thomas-koor het onmiddellik begin gil en skreeu en toe dít gebeur, móés die US se knieë knak.

Allereers het die rektor, prof. Wim de Villiers, ʼn verklaring uitgereik om Le Roux se standpunt te verwerp en gesê dis “nie in lyn” met die US se steun vir transformasie nie. En toe kom die uitvoerende bestuur van die raad om hom van Le Roux se twiet te distansieer, aangesien dit heeltemal teen die raad se amptelike standpunt oor transformasie indruis.

Asof dit nog nie genoeg was nie, vergader die raad ʼn paar dae later en besluit met ʼn meerderheid van stemme om Le Roux se optrede te “ondersoek”.

Dat die raad Le Roux se grondwetlike reg op spraakvryheid erken, beteken totaal níks.

Enigeen met ʼn gesonde verstand kan mos nou aanvoel waarop dit afstuur – ʼn poging om die lastige Le Roux uit die raad te verwyder en ander Afrikaansgesindes te intimideer.

Dat dít geen vergesogte vermoede is nie, blyk uit ʼn verdere raadsbesluit dat die minister van hoër.onderwys en opleiding voortaan vyf (pleks van die huidige drie) raadslede mag aanwys uit nominasies deur die universiteit. Met ander woorde, kameraad Lem se huidige magsgreep op die raad word verder verstewig.

Om die kroon te span het die raad nog iets besluit. Verlede November is ʼn nuwe taalbeleid aanvaar wat gelyke regte aan Afrikaans en Engels gee, maar met die byvoeging dat Afrikaans “beskerm” moet word. Dié bepaling is nou geskrap – tot Thomas se groot blydskap, volgens haar onderhoud in verlede Sondag se Rapport. Sy sê sommer reguit dis “nie toeval” dat die bepaling geskrap is slegs enkele weke nadat haar beweging op die kampus begin toi-toi het nie: “Open Stellenbosch het ʼn impak gemaak,” was haar woorde.

Terug by Le Roux. Wat was die “oortreding” waarvoor hy ondersoek moet word? Nêrens is dit gespesifiseer nie, maar ʼn mens se indruk uit die koerantberigte is dat hy verkwalik word omdat hy teen transformasie is.

Le Roux het in ʼn artikel in Die Burger heel tereg die vraag gestel hoe ʼn mens die begrip transformasie moet definieer, want dit lyk of elkeen ʼn ander inhoud daaraan heg.

Vermoedelik steun die meerderheid van die raad die ANC se definisie, wat eenvoudig daarop neerkom dat wittes – studente, dosente en amptenare – plek moet maak vir swartes en basta. Dit draai om getalle en niks anders nie.

In die parlementêre komiteedebat waar die US-afvaardiging so onder kruisverhoor geneem is, het Afrikaans as sodanig nie eintlik ʼn rol gespeel nie; die hooffokus was op getalle en persentasies. Dit vereis natuurlik nie die intelligensie van ʼn kernfisikus om te weet dat, wanneer jy ʼn swart meerderheid op Stellenbosch het, Afrikaans ook saam met die inhoud van die asblik by die agterdeur uitgesmyt sal word nie.

En nog is dit het einde niet. Selfs die DA buig nou die knie voor politieke korrektheid.

Die DA-parlementslid Dianne Kohler-Barnard het ʼn twiet gedeel van ene Paul Kirk oor die polisie se onbekwaamheid wat duidelik ironies gevra het P.W. Botha moet asseblief terugkom. Daaroor is sy ongenadig gekasty – nie slegs uit die ANC, van waar ʼn mens dit verwag nie, maar uit haar eie party. Sy is as lid van die DA-skadukabinet gedegradeer en kan nou selfs uit die party geskop word.

ʼn Mens kan sekerlik gesond verskil oor Botha se bewind. Maar dis wel waar dat sy hervormings F.W. de Klerk se stappe van 1990 tot 1994 moontlik gemaak het. Sonder P.W. sou daar geen F.W. kon gewees het nie.

Wat die gevalle van Le Roux en Kohler-Barnard met mekaar verbind, is die verlammende vrees om te sê die keiser het geen klere aan nie. Transformasie is die nuwe gonswoord en álles moet daarvoor wyk.

Dit herinner my so baie aan die klomp super-Afrikaners van die jare vyftig tot tagtig, wat alle gesonde debatvoering oor die – soms onbedoelde – negatiewe uitwerking van apartheid op voetsoolvlak genadeloos probeer plattrap het. Dink maar aan die wyse waarop dr. Hendrik Verwoerd Die Burger se Piet Cillié en die NG predikante wat hul name onder die kritiese Cottesloe-verklaring geteken het, uitgeknikker het.

Ná dié voorvalle het Cillié in ʼn persoonlike brief aan Phil Weber, besturende direkteur van die Nasionale Pers, geskryf dat wat “angswekkend oorheersend” by die Afrikaners is, “is botte onversetlikheid, Afrikaner-alleen-en-na-die-hel-met-die-res”.

Mens tref presies dieselfde houding tans by die ANC aan. Maar die egte tragedie is dat Afrikaanssprekendes, Afrikaners, dikwels op die voorpunt staan van die span wat die ANC se vuil werk vir hom doen.

Kom ons sê dit reguit vir mekaar: Wat tans aan die US en in die DA gebeur, is ʼn skreiende skande.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Bruno Stef ·

Ou soetkoekie het jy nie werk vir jou hande nie jou bekkie gaan nie JAM kry nie.

Bruno Stef ·

Jy kan eintlik nie gesond debatteer en n bietjie warm onder die kraag raak as jou mense benadeel word nie want ou soetkoekie sal in al sy vurigheid op jou toeslaan.

Arak ·

Dankie vir die artikel.

In alle eerlikheid kan ek egter nie verstaan hoe dit enige iemand kan verbaas dat die mense aan stuur van sogenaamde Afrikaanse universiteite sulke papbroeke is nie. Hulle word na alles so geselekteer, want vir jare was die Broederbond mafia in beheer van al hierdie instellings. Enige persoon wat durf afwyk van hulle “evangelie” is verguis en hulle loopbane is vernietig. Verder moet jy ook net nie vir jouself dink, of studente oplei om vir hulle self te dink nie…

So, hoewel ek jammer is oor die vernietiging op Stellenbosch, gaan ek nie baie trane daaroor stort nie. Hoe gouer al daardie “Broeders” op straat sit, en begin ontvang wat hulle uitgedeel het vir jare, hoe beter.

Gaan ondersoek gerus hoe die weduwees se pension gelde gesteel word deur hierdie instellings en dit is nog besluite gemaak deur die “Broeders”.

Ampie ·

Ek is bly dat die standpunt so pertinent deur die skrywer gestel word. Persoonlik dink ek politieke korrektheid is ‘n siekte en daar is geen geneesmiddel nie. Die uitlig van Leopold oor die Afrikaners by die universiteite self wat maatreels instel om hulself en hul groep te banadeel is natuurlik ‘n skande. Baie Afrikaners het, of is besig, om gesonde beginsels te laat vaar om nie ongewild te wees nie, of maar net die transformasiejagters gewillig te wees. Die hele debat oor Kohler-Barnard grens aan politieke korrekte histerie. Dis jammer dat Afrikaners wat nog wesentlike posisies in die samelewing het, meestal niks meer as meelopers of manteldraaiers is nie.

Koos ·

Ja, die verengelsing van Stellenbosch is hartseer. Ek self moes my nagraadse studies in engels voltooi maar dit het my nooit vehinder om ordentlik Afrikaans te praat nie. Die ware vyande van die taal is vele Afrikaners self wat deesdae Afrikaans-kreools praat.

Letitia B ·

John Hagee, n Amerikaanse prediker het gesê:” Political correctness is cyanide to democracy!” Ek stem saam. Daar is net drie groepe in vandag se wêreld wat moet oppas wat hulle sê: 1. Die wittes (blankes) 2, Die Christene en die 3. Heteroseksuele en natuurlik hier in ons land die Afrikaner.

Derek Meyer ·

Eintlik word gesonde debatte wat saakmaak gevoer in eweknie-hersiende wetenskaplike vakjoernale. Dis wat moet tel voor mense stem.

Politici is bekend daarvoor om onwaarhede te vertel om stemme te werf. Almal van hulle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.