Wat het skeefgeloop met die debatskultuur?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

’n Klompie jare gelede – rondom 2000 en 2002 – het ek ’n paar akademiese artikels rakende die gebrek aan ’n beskaafde en hoogstaande debatskultuur onder Afrikaners geskryf. Dit was in ’n tyd dat die gemoedere hoog geloop het: Die sogenaamde Boetman-debat was aan die gang, en mense het heftig oor die afskaling van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch verskil, asook die universiteit se toekenning van ’n eredoktorsgraad aan die ortodokse Afrikanerkommunis Bram Fischer.

My gevolgtrekking destyds was dat die peil van die openbare debat onder ons mense uiters onbevredigend was. Sedertdien het sake van kwaad na erger gegaan. Dit geld nie net vir Afrikaners nie, dit is eintlik wêreldwyd die geval.

Kyk maar hoe praat die Amerikaners bymekaar verby in hul wedersydse geskel rakende die vraag of die verkiesingsoorwinning van Donald Trump “gesteel” is. Dat hertelling ná hertelling en 60 agtereenvolgende hofsake president Joe Biden se oorwinning bevestig het, maak vir die harde Trump-aanhangers blykbaar nie saak nie.

In Brittanje steur talle mense hulle nie aan die feite as daar oor Brexit en premier Boris Johnson se rekord gepraat word nie. Iets soortgelyks geld in Pole en Hongarye, waar die oop gesprek aktief deur die regerings van Mateusz Morawiecki en Victor Orbán onderdruk word – om nie eens van Rusland te praat nie.

Op die grootste deel van die Europese vasteland gaan dinge beter, maar ook daar het die openbare gesprek dikwels in ’n wedersydse openbare geskel ontaard. Wat het skeefgeloop?

As ’n mens die onderliggende mentaliteit kan tipeer, moet die begrip intellektuele luiheid ter sprake kom. Die oop gesprek, soos wyle professor Johannes Degenaar dit in sy bekende opstel (1969) uiteengesit het, is iets wat moeite kos.

’n Werklike oop gesprek moet deur verskeie stadiums gaan en aan verskeie vereistes voldoen om werklik oop en eerlik te wees:

  • Om mee te begin – Gee ’n billike weergawe van jou opponent se standpunt. Moenie ’n karikatuur skep en dít dan aanval nie.
  • Tweedens – Probeer jou antwoord vir sover moontlik op verifieerbare feite en logika baseer. Dit help nie om gerugte en duidelike leuens as vertrekpunte te hanteer nie.
  • Ten derde – Bly altyd beskaafd in die trant van jou redenering. Moenie skel nie; daarmee verlaag jy die gesprekspeil – en, belangriker, jou eie geloofwaardigheid.
  • In die laaste plek – Erken dat jy self feilbaar is en dat alternatiewe sienings altyd moontlik is. Moenie die volle waarheid vir jouself probeer monopoliseer nie.

Kyk, ons gaan nooit almal altyd oor alles saamstem nie. Daar sal áltyd verskille wees. En dis reg so, want dis net in die gisting van ’n beskaafde debat dat ons kan hoop om nader aan die waarheid en oplossings te kom. Die enigste manier waarop ons almal oor iets sal kan saamstem, is wanneer dit afgedwíng word – en dít kry jy slegs reg in ’n totalitêre diktatuur.

Dit was byvoorbeeld die geval in Nazi-Duitsland, die ou Sowjetunie, Rooi China en ander kommunistiese state waar die heersende regering besluit het wat die waarheid is. Mense moes eenvoudig daarby inval (as hulle ten minste nie in die tronk of konsentrasiekamp wou beland nie).

En kyk net waar het dit daardie lande gebring!

Eerlikheidshalwe moet hier bygevoeg word dat die verskynsel van politieke korrektheid in die laaste jare die openbare debatskultuur in Amerika, en in ʼn mindere mate ook in Europa, negatief beïnvloed het. Die openbare druk om by die meerderheidsmening in te val is groot.

Vroeër was dié druk hoofsaaklik vanuit die linkerkant van die politieke spektrum afkomstig, maar dis stadig na die regterkant aan’t verskuiwe. Dit maak natuurlik nie saak uit watter rigting die druk kom nie; die uitwerking is dieselfde.

Maar soos die filosoof, professor André du Toit, kollega en vriend van Johannes Degenaar, dié se rol ontleed het: “Hy het sy eie rol verstaan as dié van ʼn Sokratiese ‘steekvlieg’ wat dit vir die maghebbers van die volksuniversiteit en die Afrikaanse gemeenskap intellektueel en moreel so ongemaklik as moontlik moes maak. Daarin het hy telkens weer goed geslaag … As dit egter sy verset teen die Afrikaner- en apartheidsmaghebbers was, dan was dit ook ʼn vorm van ‘lojale verset’ in Van Wyk Louw se sin.”

Die Atheense filosoof Sokrates kan ook hier as leidraad dien. Twee van sy uitsprake wat altyd ’n groot indruk op my gemaak het, lui: “Ek weet slegs één ding: dat ek niks weet nie”; en “’n Lewe wat nie krities na homself kyk nie, is nie werd om geleef te word nie.” Dan ook een van Aristoteles: “Twyfel is die begin van wysheid.”

Wat is die oorsaak van die agteruitgang in die mensdom se debatskultuur? Waar kom die intellektuele luiheid vandaan? Dis ’n ingewikkelde saak. Maar as ek ’n enkele faktor – dalk die belangrikste – kan uitlig, is dit die internet.

Vroeërjare het dit, relatief gesproke, moeiliker gegaan om jou mening te versprei. Deesdae maak forums soos Facebook, TikTok, Telegram en ander dit verspot maklik om menings wyd en syd te verkondig.

Facebook het darem nog ’n baie basiese beperking om die allerverskriklikste onsin te keer. So is Donald Trump se toegang byvoorbeeld geblokkeer weens die herhaaldelike leuens oor sy “verkiesingsoorwinning sonder weerga”. Ander forums laat egter basies alles toe.

Ook die toegang wat internet-koerantlesers het om onderaan berigte en artikels te reageer, lewer soms bydraes van ’n buitengewoon lae vlak op. Dis nie net dat sommige hulle op feitefoute, slegte logika of selfs leuens baseer nie; hulle word alte dikwels eenvoudig onbeskof en beledigend.

Ek kan byvoorbeeld nou al voorspel dat daar lesers van dié artikel gaan wees wat dit met ’n geskel gaan beantwoord. Dit is nou maar blykbaar soos die lewe deesdae is. Dis baie jammer, want dit is die Sokratiese en Degenaristiese soeke na die waarheid wat daaronder ly. Daarmee saam ly ook ons vermoë om oplossings vir ons probleme – in Suid-Afrika sowel as in die res van die wêreld – te bedink.

Mense, asseblief: Probeer, vir sover dit binne jul vermoë is, by verifieerbare feite, logika en beskaafdheid hou!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Treurwilger ·

Lanklaas ‘n artikel van so ‘n formidabel uitlokkende kaliber onder oë gehad. Dit wil gedoen wees.

MT ·

Raakvat opmerking! LS is uniek in sy vermoe. Maar dan was hy nog altyd uitlokkend

Harley Davidson ·

Ek dink dit is die agv die media en die woke geslag wat alles aan ras koppel omrede hulle eintlik nie in die waarheid belangstel nie maar net sensasie soek,so ‘n donker van vel persoon kan sê wat hy wil hoe hy wil ongeag die nagevolge en dit word geregverdig waarteen die lig van vel mens niks mag sê sonder om as ‘n rasis gebrandmerk te word nie, nou waaroor sal daar gedebatteer word?

Chrisp ·

Die oop debat word slegs gevind in die sosiale media platforms daarom die sensor aanslag daarop (facebook Youtube en vele meer)die hoofstroom media is slegs ‘n eenrigting hou links straat grootliks met die uitsondering van FOX en Sky News Australia waar die punte deur die skrywer vir eerlike debat almal vermy word.
Daar is baie voorbeelde vir bg nl Covid,Trump,Biden ens CNN,NBC, FOX noem maar op is net daar vir hulle eie links of regs agenda daarom sal sosiale media die toekoms van debat wees indien die sensorkwas vernietig word. In my opinie moet almal presies kan se wat en hoe hulle wil dit weerspieel nie net hulle ware denke nie maar ook hul inbors.

Die dae van lees die koerant vir inligting is vir altyd verby en is nou ‘n persoonlike verantwoordelikheid om self deur die grootliks linkse en in ‘n mindere mate regse retoriek te sif vir die waarheid. Joernaliste is lankal nie meer die die draers van korrekte inligting nie.

Anna-marie ·

Debat is glo ‘n goeie ding maar net as jy sê wat ander wil hê jy moet sê.

Thomas Dewald ·

So dis nie n goeie ding om mense toe te laat om kommentaar te lewer nie, slegs joernaliste en mediabase het die reg om die openbare gesprek te lei. Het ek en my mede lesers nie ook n sê nie of moet ons as potensieel onakkuraat gesien word en daarom nie toegelaat word om kom,entaar te lewer nie. Ek haal my hoed af vir Maroela wat kommentaar van die publiek toelaat.

Anna-marie ·

Joernaliste en meeningsvormers het ons lank genoeg aan die neus gelei.

Heinrich ·

Ek voel baie journaliste kan maar gaan lees hier, en skryf net volgens die naratief van die mediahuis se baas. Gebalanseerde beriggewing wat altwee kante van die saak stel het ek lanklaas gesien.

Annatjie ·

Die artikel wys duidelik waar jy staan, dit verbaas my egter nie………..

Karel Kobus Kruger ·

Debat is veronderstel om n tweerigting gesprek te wees. Hoeveel rubriekskrywers reageer egter op lesers se kommentaar? Dalk is dit een van die redes hoekom die debatskultuur gebroke is. Dink nou net hoe sal debat floreer as MM se rubriekskrywers gedwing word om op n minimum getal kommentare te reageer voordat hulle betaal word.

gatgogga ·

Ek moet se, ek is aangenaam verras met die kwaliteit van Afrikaans, en spelling, wat hier geopenbaar is. Dit is so dikwels nie die geval in die kommentaar wat op MM gelewer word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.