Wat het Suid-Afrika nodig: Inmenging of opheffing?

Pres. Donald Trump van die VSA. (Argieffoto: Susan Walsh, AP)

En nou stel pres. Donald Trump van Amerika ook skielik in Suid-Afrika belang. Eina, nou voel ek soos iemand wat ’n tand afgebyt het. Sien, ek glo Trump se belangstelling in Suid-Afrika se plaasaanvalle gaan meer sleg as goed doen.

’n Mens kan AfriForum en ander organisasies nie kwalik neem dat hulle die wêreld se aandag op die moorddadige aanslag op Suid-Afrika se boere wil vestig nie. Dit is uiters betreurenswaardig, ondanks wat al die linkses, sommige akademici en leunstoel-kommentators in Suid-Afrika sê. Dit help ook nie om te stry oor getalle nie en oor hoeveel boere vermoor word nie. Een moord is een moord te veel. Koppel dit aan die regering se sloerende planne om grond sonder vergoeding af te vat en die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan, en ’n mens weet dat dit hierdie onheilige vuur stook.

Die probleem is dat Trump deesdae geen legitimiteit het nie. Met ’n vriend soos hy het ’n land nie vyande nodig nie, want hy is hoogs labiel en onvoorspelbaar.

Amerika se betrokkenheid in ander lande is, om die minste te sê, problematies. Nie net het hy tientalle kere in die verlede in ander lande se interne sake ingemeng nie, maar hy het dit gedoen omdat hy homself steeds as die groot polisieman van die wêreld beskou. In die proses het hy sy morele superioriteit verloor. Die meeste van die kere meng Amerika in omdat hy doen wat die beste vir Amerika is. Hoe is dit dan goed vir Amerika om tot die gronddebat in Suid-Afrika toe te tree? Is dit omdat hy werklik die boere se belange op die hart dra, of maak Trump die regte geluide om sy eie verregse kieserskorps gelukkig te hou? Onthou, hyself is onder al hoe groter druk en daar is selfs sprake dat hy van sy pos onthef kan word.

Sedert Trump se verkiesing as president van die VSA het hy sy onkunde verraai soos om na Namibië as Nambia te verwys, maar hy het ook versuim om ’n nuwe Amerikaanse ambassadeur in Pretoria aan te stel. Waar China hom met ywer in Afrika probeer vestig met ekonomiese hulp, kom die een na die ander berig dat Amerika al hoe meer militêre basisse op die Afrika-vasteland probeer vestig.

Maar, moenie verbaas wees as Trump Suid-Afrika uit die Africa Growth and Opportunity Act, oftewel AGOA, skop nie. Die Amerikaners glo mos dit werk …. soos sanksies in Iran, Irak, Sirië en Rusland, of tariefoorloë teen China, die Europese Unie, ens. Dan voel die Amerikaanse gewete hy het nou iets gedoen, maar “al” wat seerkry, is duisende kinders wat nie kos het nie of wat in oorloë omkom.

Suid-Afrika het ook nie ’n goeie herinnering van Amerikaanse betrokkenheid nie. Soldate van die Suid-Afrikaanse weermag kan getuig daarvan dat hulle destyds die ligte van Luanda tydens die bosoorlog kon sien, maar dat die CIA toe sy steun onttrek het. Vrae word ook nog steeds gevra oor watter rol die CIA in Jonas Savimbi se dood gespeel het. Hy is ook deur die CIA befonds, maar het later oorbodig geword …

Amerika kan nie altyd geglo word nie, en die meeste Suid-Afrikaners weet dit. Die felle kritiek in die media oor Trump se twiets bewys dit. En dis nie net die Malemas en ander opportuniste van die wêreld wat so sê nie. Wit en swart stem soms saam.

Die tragedie is dat, terwyl Trump polisieman speel, ander lande soos China en Rusland die gaping gaan vul wat Amerika laat. Nie een van die twee lande meng hulle in die interne politiek van Afrika in nie.

Wat het Afrika nodig? Inmenging of die opheffing van sy miljoene? Trump se inmenging gaan meer kwaad as goed doen. AfriForum het dit goed bedoel en dis tyd dat die buitewêreld kennis neem van wat in Suid-Afrika aangaan. Ongelukkig het hy die kort strooitjie in Trump getrek.

En intussen sit ons almal soos paddas terwyl die water al hoe warmer word. Of hoe, pres. Ramaphosa?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Paul ·

Ek het net die eerste paragraaf van jou sin gelees en toe kom pre 1994 by my op, die struggle tyd. Toe was dit reg dat daar van buite ingemeng word, die ANC het dit aangeblaas dat die vonke so staan. Maar nou dat die skoen aan die ander voet is …. ?

Snowball ·

Stem! Een ding is verseker, die falende ANC lyk nie meer soos die heilige bevryders van SA nie. Net na ‘n klomp onbevoegde korruptes wat daagliks meer radikaal word; Trump se inmenging gaan hulle siek bewind aan die groot klok hang en nog mense/ lande sal dalk tot ander opinies kom oor hulle vergrype en onvermoë om aan die stuur te wees. Enige remmende faktor wat ‘n rol kan speel om OSV te verhoed kan nie versmaai word nie.

Heidi Lundie ·

Kyk Tienie ekself hou nie van Donald Trump nie, maar ek wil hom eerder aan my kant he as teen my. Enige vriend is op die stadium van die geveg beter as nog ‘n verdomde vyand. Al maak sy optrede net ander lande bewus van die probleme wat mense in ons land beleef is dit STEEDS meer positief as jou artikel.

Paul ·

Suid-Afrika het ‘n klomp mense nodig, ook mense soos Willie Spies met sy insig, Solidariteit en vertakkinge se mense, swart mense, bruin mense, hul leiers, hul kundiges, maar realistiese mense wat nie die foute van die verlede oor en oor herhaal nie, mense wat besef ons moet nou maar in hierdie mengelpot op een of ander manier ‘n weg vind om saam te oorleef. Respekteer elkeen se aspirasies en drome, bevorder dit deur empatie, ‘n regering wat omgee en nie rassespanning tot die breekpunt toe dryf nie.

Ons regering is nie die pater familias nie.

Alida ·

Dit is ‘n baie goeie ding dat hy wat Trump nou aandag daaraan skenk anders gaan sit CR en sy gevolg weer met hulle skynheilige gesigte om ‘n tafel met hom in die VSA en smeer hom heuning om die mond en vertel hom alles is 100% in SA. Wonderlik dat dit onder sy aandag gekom het. Nou sal hy al hierdie valse afgevaardigdes van SA se eerlikheid bevraagteken. Mooi so Donald gee hulle gas.

Ratkas ·

Met alle respek wat gaan Trump doen? Al wat hy kan doen is om sankies in te stel en dit gaan nie help nie. Hy gaan dan self private grond onteien om sy muur te bou.

Janine ·

Liewer Trump as Rusland of Sjina of beide. Laasgenoemde twee voel ook maar ‘n veer vir die Afrikaner en kom albei hiernatoe met hul eie agendas. Bowendien bring albei Kommunisme na SA.

christa ·

Trump het rugraat. Hy kan sien wat aangaan en hou hom nie blind vir SA agteruitgang nie .

White Rhino ·

Trump is my vriend en ek is nie skaam om dit te se nie.
Hy maak die wereld bewus van ons situasie – en dit maak hom ‘n vriend van my.

Pieter ·

Maar Trump se resultate is dan uitstekend, waar is die bewyse dat sy bestuur swak is? Die data wys op sukses, of watse indikators vir sukses gebruik jy Mnr Fourie?

Charles ·

Ou Tienie, geen gure bedoelings nie, maar die diplomasie soos dit wat jy beoefen en “geloofwaardige joernalistieke/media stemme” (eintlik het alle joernalisme/die media -synde die gehate 4de Stand- lankal reeds hulle geloofwaardigheid prysgegee vir bevooroordeeldheid, onverdraagsaamheid, haat en fopnuus) soos die van joune teen die boodskap van President Trump dra GEEN meer gesag nie, ten minste nie vir die van ons wat wakker is nie, en weier om langer naiewe en liggelowige skape te wees.

Waar het paaibeleide en lafhartigheid ons gebring? Mag ons kinders nog onderrig in hul geliefde taal Afrikaans ontvang by die “University of the Free State”-wat nou ontslae wil raak van ons geliefde Pres. Steyn se standbeeld- ook goed so- sy standbeeld hoort nie in so ‘n verfoeilike instansie nie, UP en Unisa? Nee ~~~~!

Om jou stem goedsmoeds te voeg maar net skynbaar uit eerbiediging van die vervelige en nou-gehate manier van die hoofstroom media om President Trump te kasty net wanneer hulle kan, wanneer hy net OP SY MANIER PROBEER GOED DOEN- GAAN NIEMAND OORTUIG NIE. MAAK NIE SAAK IN WATTER VORM SY BOODSKAP OORGEDRA WORD NIE- OF DIT NOU KRAS, OP DIE-MAN-AF-IS- OF WELKE EIENSKAPPE DAARVAN NOU WEER UITGELIG WORD- ” HIS MESSAGE RINGS TRUE AND IS BELIEVABLE”

Ek beloof jou, jou oortuigings is VER uit pas uit met die van die gewone-Afrikaner/Boer-op-straat, baie ver; en oudmodies.

Indien die VSA ons wil help, sal Israel ook, indien geweld uitbreek- EN DAN, DAN GAAN DIE POPPE DANS !

Eish ·

Uittekende kommentaar, dankie.
My bloed was maar redelik warm met die lees van die skrywe, toe hou ek maar links betreffende kommentaar. Maar, om n Bell’s te gee waar dit hoort, is darem ook nie doodsonde nie.

Henk ·

Boys, Tienie het ń vraag gevra, ń belangrike een ook. Moetnie so gretig wees om julle eie mense te beveg nie,spaar julle kragte vir ons vyande… daar is baie.

Wonder maar net ·

Net nog ‘n liberaal wat te veel CNN kyk en sy opinie lewer, go Pres Trump, roer hulle!

lena jonk ·

Stem saam (wonder maar net), dis die grootste klomp bog, regte ou, ou CNN se gemors nuus, hulle kan niks teen Pres Trump kry nie nou word daar alles sleg van hom gese, elke dag meer en meer gemors nuus. Gelukkig is daar mense in SA wat weet wat die waarheid is want hulle luister na Fox en lees koerante wat nie in nr 13 hoort nie. Moenie met daardie man speel nie, jy met jou leuens wat jy in SA versprei, is baie geskok om te sien dat dit in MMedia verskyn. Go Trump go.

Inmenging ·

Opheffing kan nie gbeur nie – dit het ons nou al gesien – dit werk net nie.
Inmenging is ‘n beter opsie.

Gerhard ·

Die probleem is dat baie mense nie kan insien dat jy jouself ophef nie. Jy kan nie opgehef word nie. Verder is daar soveel probleme in Afrika (wat nie mag bespreek word nie maar wel bestaan) wat opheffing totaal onmoontlik maak. Kyk maar noord, dit het nog nooit gebeur nie.

Henry ·

Ek is vir seker geen militêre kundige nie.
Nietemin:

In teenstelling met die skrywer se opmerking dat die VSA toenemende militëre teenwoordigheid vestig en basisse in Afrika oprig, is die VSA tans in die proses om hul Spesmagte uit Afrika te onttrek, om in ander konflikgebiede buite Afrika ontplooi te word. Dit is ‘n gevoelige slag wat veral in Sentraal Afrika betreur word, waar die VSA voorheen waardevolle opleiding en hulp aan regeringsmagte verskaf het. Talle suksesvolle operasies is teen Boko Haram en ander terreurgroepe deur die VSA se Spesmagte geloods.

Die lang afstande waarlangs logistieke steun vervoer moes word, internasionale sanksies teen die RSA, die vyand se beter lugafweer vermoëns, nuwe generasie vliegtuie teenoor ons ouer tipe vliegtuie, toenemende internasionale politieke teenstand ens ens het verhoed dat die SA Weermag die gevegte verder noordwaarts wou/sou voer.
Tienie sal seker die Jones Hotel in London onthou waar die moeë strydende magte vir die eerste keer bymekaar gekom het, waarna die uiteindelike vredesverdrag gesluit is wat tot Namibië se onafhanklikwording gelei het.

Henry ·

Fout!
Jammer Tienie, ek het die vanne vikkeert.
Was mos die Brown’s Hotel!

Gerhard ·

Ek is bevrees dat daar van geen ander plek hulp sal kom as van die VSA (onder Donald Trump). So hoop en bid maar dit kom want die Afrikaner gaan binnekort harde bene kou.

Hans ·

Tienie altyd gedink jy lewer gebalanseerde kommentaar,maar na hierdie artikel sal ek maar by jou artikels verby blaai.

Rynhardt ·

Hope inmenging van Trump is nodig in SA,want die lafaards in parlement gaan net anderpad kyk!??????

Braam ·

Ja Tipies…. alles wat werk word ge-opponeer- EFF en ANC teen Solly — Tienie, die EFF en Tannie Sisulu teen Trump want wat hy sê land naby aan hulle lang tone en raak gevoelig want dit is waar en hulle is bekommerd— Aanval, Blamering en Ontkenning is makliker as Verdediging, Verantwoordelikheidaanvaarding
en Erkenning…. ek sê maar net

Kalahari Kind ·

Nee wat, die skrywer se Oosterse, kommunistiese onderrok hang uit. Met ‘n vorige skrywe was ons ook probeer oortuig om te glo China is eintlik wonderlik. Ek mag dalk nie vreeslike respek vir Trump as man hê nie, maar as staatsman reik hy bo die gemiddelde uit. En ek verkies om eerder met Amerikaners en hul Westerse kultuur te assosieer. As Amerika ons help om ons as bondgenoot te kry, of watookal tot hul voordeel kan trek, handel ek met graagte eerder met hulle. As dit net één boer se marteldood en één boervrou se verkragting keer, dan is dit dit werd.

Daan Dup ·

Dit maak nie meer sin om met n bankrot staat te onderhandel nie!

EP ·

Opheffing van miljoene?? Te veel mense en te veel vernietiging van natuurlike hulpbronne. Miskien sal bietjie inmenging van Amerika nie skade doen.

Celtis Africana ·

Opheffing?
Jy kan die meerderheid nie ophef nie al trek jy jul aan hul hare pel. Kyk net na die Mafia maniere wat regter Zondo nou moet probeer sin van maak.
Ingryping? Verseker! Die USS Donald Trump net-net buite ons nasionale waters.

Pietman ·

Tienie, jy is ongelukkig ‘n slagoffer van die hoofroommedia se onpartydige verslaggewing.

Kan jou seker nie kwalik neem nie, maar gelukkig begin al hoe meer mense vir hulleself dink.

CG ·

Tiennie. Dit lyk my jy besef nog nie jy lewe in die “Nuwe Suid-Afrika” nie.” Die situasie is totaal, totaal anders as in die verlede. Dit gaan nou oor die fisiese oorlewing van wittes, nie oor politieke retoriek nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.