wat het van die afrikaners geword?

Afrikanerboere moet die een hofsaak na die ander maak net om hulle plase te behou

In die ou dae het my hart warm geklop as ek in ‘n kortbroek in Pretoria se middestad by Volkskas in Bosmanstraat instap. Van oom Willie die deurwag tot by mnr. PJ van der Merwe, B Comm, bestuurder en beleggingsraadgewer, en gelowige ondersteuner van Noord-Transvaal, was almal mý mense. By Absa voel dit deesdae nie meer dieselfde nie. Inteendeel. Vanaf die kliënte in die lang tou tot by die toonbankbeamptes agter dik glas, soek ek iemand met ‘n agtergrond met wie ek gemaklik ‘n gesprek kan aanknoop. ‘n Man of vrou wat soos ek lyk. En iemand met wie ek nie Angel-Saksies hóéf te praat nie. Tevergeefs. Ek wonder: Wat het in mý bank plaasgevind?

En wat het gebeur met eertydse Afrikaanse onderwysinstellings soos die Hoërskool Voortrekkerhoogte en die Randse Afrikaanse Universiteit? Op die kampus van die Universiteit van Pretoria herken ek darem nog van die geboue soos die Aula. Maar waar is die vesel wat my alma mater aaneen gebind het, dié van herkoms, taal en kultuur?

Die meeste staatdepartemente, soos byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Leër, weerspieël die demografiese samestelling van Suid-Afrika

En hierdie ervarings strek wyer as sakeondernemings en akademiese instellings. Op elke lewensterrein word Afrikaners – vir die doel van ons bespreking beskryf as Afrikaanssprekende blankes – oorstroom. Afrikanerboere moet die een hofsaak na die ander maak net om die erfgrond van hulle eie plase te behou (kyk die foto). En die Afrikanerbestuurde staat van weleer, het soos mis in die son verdwyn. Die meeste staatsdepartemente is, volgens die heersende politiekkorrekte frase, “getransformeer”. In die laer range van die Suid-Afrikaanse leër, eens die trots van Afrikanerjongmans en die bes opgeleide in Afrika, soek ek vrugteloos na my eie volksgenote. Die leër weerspieël die samelewing (kyk die foto). Trouens, met enkele uitsonderings word staatsdepartemente, provinsiale regerings en stadsrade deur nie-Afrikaners beheer. Hulle dwing hulle wil op die res af.

In die partypolitiek is die verdwerging van Afrikanerinvloed opvallend. In die demokratiese politieke stelsel, wat vanaf 1994 vir die hele Suid-Afrika geld, oorheers die beginsel van een mens een stem. Wat het geword, dagdroom ek, van politieke partye wat die lewensblik, taal en mag van Afrikaners op die hart dra, soos die Afrikanerbond in die Kaapkolonie vanaf die 1880s, die Suid-Afrikaanse Party in Suid-Afrika ná 1910 en die Nasionale Party die grootste deel van die twintigste eeu?

beskuldig of bestudeer?

Elke waarnemer van sosiale vraagstukke staan deurlopend voor die versoeking om ánder mense vir sy probleme te blameer. Dus, om homself of sy eie groep te beskou as goed en iemand anders of ander groepe as sleg. Pleks om verklarings te gee wat kan help om probleme objektief te verstaan, word ander veroordeel. So ‘n instinktiewe en primitiewe kortpad is een van: veroordeel eerder as verstaan.

Talle bydraes tot die Groot Debat lig inderwaarheid welspekend uiteenlopende probleme van Afrikaners toe, maar pleks daarvan om grondliggende redes te ondersoek, word nie-Afrikaners dikwels daarvoor verantwoordelik gehou. So ‘n slawementaliteit, tipies van Afrika, pas egter nie by ons nie. Hierdeur word die feite nie alleen verdraai nie, maar word die Afrikaner self ontmagtig, want die bedekte gevolgtrekking is altyd: ons is patetiese slagoffers. Dit is veel meer betekenisvol om ontwikkelings so ónpartydig as moontlik te ontrafel.

Oor die genoemde en ander verskynsels van verlies aan mag, kan ons opreg wonder: Hoe het die Europese burgers, wat ‘n deurslaggewende rol gespeel het om die Westerse lewenswyse in Suid-Afrika te vestig, bywoners in hulle eie land geword? Het hulle eenvoudig handdoek in die bokskryt ingegooi? Moed verloor?

‘n Sleutelvraag is: Watter oorsake lei tot hierdie gevolge wat ons elke dag beleef? Ek wil vandag graag aanvoer dat ‘n belangrike faset van die antwoord te doen het met die volgende demografiese probleem: Watter rol het veranderende bevolkingsgetalle gespeel om die posisie van Westerlinge te verdwerg?

hoe het die bevolkingsamestelling verander?

Ná die landing van Jan van Riebeeck in 1652 was die Hollandssprekende bevolking aan die Kaap slegs vir ‘n tyd lank die meerderheid op hulle eie grondgebied. Binne tien jaar het hulle slawe begin invoer uit Angola en Dahomey (tans Benin), Batavia, Ceylon en Madagaskar.

Terwyl die Kaapse boere, van Westerse blanke herkoms, in die agtiende en negentiende eeu noordwaarts en ooswaarts getrek het, het hulle voorts groot getalle inheemse Afrika-stamme teengekom. Die grondgebied en bevolking van hierdie nie-Westerse en nieblanke stamme in gebiede soos Gcalekaland, Thembuland en Pondoland is by die Kaap ingelyf.

Die aantal blankes in die Kaapkolonie het tussen 1865 en 1891 vermeerder van 181 000 tot 376 000 terwyl die aantal swartes toegeneem het van 314 000 tot 1 480 000, nou vier keer meer as die blankes. (Kyk Hermann Giliomee, Die Afrikaners – ‘n biografie, Tafelberg, 2004: 237. Giliomee identifiseer op ‘n insiggewende wyse verskeie demografiese werklikhede.) In die negentiende eeu het die Britse kolonies van die Kaap en Natal sowel as die twee Boererepublieke – die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat – die inlyfproses voortgesit sodat, kort voor lank, die getalle van nie-Westerlinge en nieblankes dié van Westerlinge en blankes volkome oorskadu het.

Op die grondgebied wat later Suid-Afrika sou word, was daar teen 1878 min of meer 2 276 000 mense waarvan ongeveer 340 000 blankes was teenoor reeds 1 936 000 nieblankes. (Giliomee: 235) Die getalsterktes het egter van streek tot streek grootliks verskil. In die Wes-Kaap byvoorbeeld het die blankes ongeveer 33 persent van die bevolking van 720 000 uitgemaak terwyl die blankes in die Transvaal slegs ongeveer 14 persent van die bevolking van 290 000 was.

Suid-Afrika onder die leierskap van Afrikaners

Drie dekades later, toe die Unie van Suid-Afrika in 1910 gevestig word, is 3 956 000 swart mense getel, 517 000 bruin mense, 148 000 Asiërs en 1 257 000 blankes. Van laasgenoemde was min of meer 700 000 Afrikaners. Tussen 1930 en 1970 het die blanke bevolking opgeskiet vanaf ongeveer 1 801 000 tot 3 835 000 en die swart bevolking vanaf 5 585 000 tot 15 918 000. (Giliomee: 257, 362) Die historikus GD Scholtz ontleed in 1964, bykans ‘n halfeeu gelede, die snelle vermeerdering van die swart bevolking tussen 1936 en 1960 in sy werk met die versiende titel ‘n Swart Suid-Afrika? (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1964, kyk sy insig op bladsye 84-85)

Wat was die implikasie van die aanwas van die bevolkingsgroepe? Die getalleverhouding tussen blank en nieblank, wat tydens Uniewording in 1910 min of meer 1 tot 4 was, en tussen 1920 en 1960 gestyg het tot ongeveer 1 tot 5, het teen die 1990s verander in 1 tot 7. (Giliomee: 257)

Ná die uitbreiding, in 1994, van die demokratiese politieke stelsel tot die hele samelewing, het migrasie die invloed van Westerlinge verder verswak deurdat groot getalle Westerlinge in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, na die buiteland toe verhuis het. Terselfdertyd het groot getalle nie-Westerlinge, veral swart Afrikane, as gewillige werkers, soos tuiniers en kelners, na Suid-Afrika toe gestroom, veral vanuit vervallende noordelike buurstate soos Zimbabwe.

Die ontploffing van die nie-Westerse en nieblanke bevolkingsgroepe, kom skerp na vore as ons die samestelling van die Suid-Afrikaanse bevolking die afgelope eeu, tussen 1911 en 2011 vergelyk. In 1911 was die totale bevolking min of meer 5 973 000 en ‘n eeu later, in 2011, ongeveer 50 587 000. (Vergelyk die syfers in Kane-Berman [hoofredakteur], South African Institute of Race Relations, South Africa Survey 2010/2011, Johannesburg, 2011)

Suid-Afrika onder die leierskap van nie-Afrikaners

Hoe het die relatiewe getalsterktes verander? In 1911 was die bevolking opgebou uit die volgende rassegroepe: swart 67%, bruin 9%, Indiër 3% en wit 21%. In 2011 was die samestelling: swart 79.5%, bruin 9%, Indiër 2.5% en wit 9%. (Kane-Berman: 1) Dit beteken die persentasie blankes het oor die afgelope eeu met meer as die helfte verminder – vanaf 21% tot 9%. Daar word beraam dat dié tendense sal voortduur en dat die bevolking teen 2040 min of meer as volg saamgestel sal wees: swart 81.1%, bruin 9.3%, Indiër 2.3% en wit 7.3%. (John Kane-Berman: 19) Dit beteken die getal blankes in Suid-Afrika sal binne die volgende drie dekades verder daal – van 9% tot 7%. Afrikaners vorm uiteraard maar ‘n deel hiervan.

Van waarde vir Afrikaanssprekendes is die taalverdeling aan die begin van die een-en-twintigste eeu. Volgens die vorige sensus, van 2001, wat binnekort opdateer sal word, praat Suid-Afrikaners die volgende moedertale (afgerond tot volle persentasies): isiZoeloe 24%, isiXhosa 18%, isiNdebele 2%, siSwati 3%, Sesotho sa Leboa 9%, Sesotho 8%, Setswana 8%, Tshivenda 2%, Xitsonga 4%, Afrikaans 13%, Engels 8% en ander 1%. (Kyk Government Communication and Information System [GCIS], Nina Bhaktawar [besturende redakteur], South Africa Yearbook 2010/2011, Paarl Media, 2011: 4).

slotsom

Wie stappe wil neem om die saak van die Afrikaner te bevorder, moet eers pynlik realisties kennis neem van die uitwerking van die demografie. Dus: kennis neem van bevolkingsgetalle as ‘n penwortel van magsverhoudings in ‘n samelewing.

Nadat Westerlinge hulle meer as drie en ‘n half eeue gelede aan die suidpunt van Afrika gevestig het, het hulle deurlopend nie-Westerlinge in hulle geledere opgeneem, onder meer deur die invoer van slawe en die inlywing van swart stamme. ‘n Hoofdryfveer was die behoefte aan goedkoop arbeid. (Kyk die artikel Wie het die trein in 1990 sien aankom?, 10 Februarie 2012) Ná 1994 het émigrasie van Westerlinge en ímmigrasie van swart Afrikane ons samelewing verder getransformeer.

Die getalleverhoudings het stapsgewys teen die Westerlinge gedraai. Reeds met Uniewording in 1910 was daar in Suid-Afrika min of meer 4 nieblankes vir elke blanke. Teen 1960 het dit verander tot 5 teen 1, in die 1990s tot 7 teen 1, en tans (in 2012) is dit meer as 10 teen 1. Afrikaanssprekendes vorm tans ongeveer 13 persent van Suid-Afrikaners, blankes 9 persent en Afrikaners minder as 6 persent.

Uit hierdie deurlopende afname van die persentasie Westerlinge, spesifiek Afrikaners, in Suid-Afrika, spruit meeste eietydse vraagstukke waarteen ons gereeld protesteer en waarvoor ons ander groepe graag verantwoordelik hou – vanaf besetting van grond tot oorname van firmas, vanaf politieke ontmagtiging tot oorstroming van Afrikaanse skole. Die stoomroller beweeg onafwendbaar voort omdat die meerderheid ‘n rasgebaseerde en etnies gebaseerde kwotastelsel ook régtens afdwing, soos met die sogenaamde Diensbillikheidswet.

Die volgende is kernvrae oor ons voortbestaan as volk: Sal ons mense hulle getalle vermeerder? Sal hulle voortplant? Of sal Engelstalige Suid-Afrikaners – enkele ligkleurig maar die meeste swart – oor ‘n paar eeue fluister: “Ja, hier was nogal op ‘n stadium diegene wat hulleself Afrikaners genoem het.” En dan vra, net soos die huidige inwoners van Patagonië in Argentinië tans doen: “Wat het van die Afrikaners geword?”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike ·

Om jou vrae te beantwoord Louis. Ek dink die laaste vraag en antwoord is meer relevant omdat afrikaners om ekonomiese en ander redes nie meer so baie kinders het soos in die verlede nie. Dit sal die ligkleurige engelstalige wees wat sal se hier was op ‘n staduim mense wat hulleself afrikaners genoem het.
Hierdie situasie kan natuurlik net verander word met selfbeskikking. Territoriale selfbeskikking in ‘n gebied waar afrikaners voel hulle en hulle nageslag het ‘n toekoms. Ek twyfel vir geen oomblik daaraan nie dat die Orania opsie die beste opsie is wat kan verhoed dat ‘n ligkleurige engelsman oor ‘n eeu of wat vorentoe sal se, hier was eens mense wat hulleself afrikaners gennoem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.