Wat hou die toekoms vir Patricia de Lille in?

Patricia de Lille. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency

Deur Inus Bester

Gebeure rakende Patricia de Lille, die DA-burgemeester van Kaapstad, hou interessante moontlikhede vir haar politieke loopbaan in.

Sy besef terdeë haar tyd in die DA is iets van die verlede, maar met ʼn algemene verkiesing op die horison, wil sy die maksimum skade aan die DA aanrig – tot voordeel van Patricia de Lille.

Haar verbasing die afgelope Donderdag oor DA-raadslede wat terstond uit dié party bedank het om hul agter De Lille te skaar, was uitstaande toneelspel – van De Lille as hoofspeler, tot die raadslede as byspelers.

De Lille én die raadslede speel vir die media, en dié ongewone optrede in die raadsaal van Kaapstad het ongetwyfeld die aandag op hul gevestig – met hoofopskrifte in die media die volgende môre. Nóg ʼn oorwinning vir De Lille en haar meelopers oor die DA.

Voorts is die klem duidelik geplaas op die DA wat, ongeag die gevolge, van De Lille ontslae wil raak. En dít buit De Lille en haar gevolg op ʼn baie slinkse manier uit tot hul voordeel. Die “DA het De Lille net misbruik” en “die DA is ʼn wit rassistiese party.”

Dié uitsprake maak veral die bruin DA-kiesers die hoenders in en skaar hulle in hul duisende by die bruin De Lille wat volgens hulle so onregverdig deur die DA behandel is.

En hou in gedagte, hierdie is nie die eerste voormalige lede van Patricia de Lille se ou party, die Independent Democrats (ID), wat deur die DA die trekpas gegee is nie. Evert Manuel het as DA-raadslid uit die Bergrivier-munisipaliteit bedank kort voordat hy uitgestem sou word deur die DA. Ook hý was DA-burgemeester en een van die eerste ID’s wat moes waai.

Intussen het die DA-beheerde stadsraad in Kaapstad op ʼn geslote vergadering ook besluit om De Lille strafregtelik te vervolg. De Lille se reaksie was, soos verwag, dat sy dit oorweeg om dan nié as uitvoerende burgemeester te bedank nie.

Sou die DA besluit om ʼn mosie van wantroue teen haar in te stel, kan een van twee dinge gebeur. Sy kan óf die mosie oorleef indien opposisielede haar steun om aan te bly óf die DA kan haar uitstem.

Hierdie gebeure maak die bruin kiesers intussen nog meer haatdraend teenoor die DA – en dit met die verkiesing wat om die draai is!

My voorspelling is, eerstens, dat De Lille en haar gevolg dié saak in Kaapstad sal probeer uitrek tot in Januarie of Februarie 2019. Teen daardie tyd is die meerderheid bruin kiesers al redelik keelvol vir die DA en het klaar besluit om die DA die rug te keer tydens die verkiesing. En dan?

Tweedens, sit De Lille-aanhangers soos Evert Manuel sedert sy bedanking uit die Bergrivier-raad beslis nie agteroor op die stoep en koerant lees en koffie drink nie. Hulle werk kliphard agter die skerms.

Werk waaraan, sal jy vra.

skermskoot-id-patricia-de-lille

Skermskootvan die OVK se webtuiste. Foto:Verskaf.

Soos die skermskoot van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuiste hieronder aantoon, is die Independent Democrats (ID) nooit as politieke party gederegistreer by die OVK nie. Die party is steeds geregistreer as bestaande politieke party wat te enige tyd aan enige verkiesing landwyd kan deelneem. En wie is die kontakpersoon volgens die OVK-skermskoot? Niemand anders nie as Patricia de Lille.

Dis waarmee Evert Manuel, Patricia de Lille en ander ID-gesindes besig is. Hulle beywer hulle reeds vir volgende jaar se algemene verkiesing waar Manuel, De Lille en dié wat as raadslede in Kaapstad bedank het, hoop om in Junie 2019 hul sitplekke in die Nasionale Vergadering in te neem.

En wat van 2021 se munisipale verkiesing in Kaapstad? Indien die bruin steun vir die ID gaan wees soos daar gehoop word (wat ek glo beduidend kan wees), kan dit wees dat die DA nie ʼn volstrekte meerderheid in Kaapstad behaal nie.

En wat maak die DA dán om beheer in Kaapstad te behou? Vorm weer ʼn koalisie, maar met wie? Tog nie die ANC nie, sal jy sê. Ek glo ook nie met die EFF nie, omdat 2019 se verkiesing dan al aan die DA sou gewys het hy verloor baie steun onder wit kiesers, juis oor sy saamwerkery met die EFF – dieselfde party wat wit mense wil uitmoor.

Die enigste ander opsie vir die DA om Kaapstad te behou? Om met Patricia de Lille se ID in koalisie te gaan. En die ID sal dit beslis oorweeg – op één voorwaarde: Dat Patricia de Lille die uitvoerende burgemeester van Kaapstad word.

So sal Patricia de Lille dan die DA uitoorlê en terselfdertyd wraak neem.

  • Inus Bester is die voormalige burgemeester en speaker van die Saldanhabaai-munisipaliteit in die Wes-Kaap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

bollie ·

Die skrywer oorskat De Lille se ondersteuning onder bruin kiesers. Dit was reeds duidelik jare gelede toe die ID bittermin stemme getrek het. DA sal Wes-Kaap behou sonder alliansie-vennote.

John ·

… en so sal die DA se gewaande goeie naam aan skerwe le, want die ANC sal hom wil wreek op De Lille weens haar destydse betrokkenheid by die wapenskandaal waarby Zuma betrek is. Hierdie hele sage is ‘n les vir die VF se plus-faktor wat glo hy kan met botter op al ses kante van die Wes-Kaapse minderhede se snytjie brood, sy eie posisie verbeter. Mense gryp die hulp van samaritane aan tot eie voordeel. Welsynsdade wen nie kiesers nie, dit maak net ‘n part sy bankrekening leeg en uiteindelik sit die geholpenes in die bestuursposte.

nico k ·

Die vraag is wat kan die DA doen om dit te keer. Moet hulle die klagtes terugtrek? Sal dit op hierdie stadium help? As De Lille skuldig bevind word kan dit dalk haar planne keer. Die ID het nooit regtig iets in verkiesings gedoen gedoen nie. Moet die DA vir hulle bang wees? Dit is dalk vrae wat die DA hulself gevra het.

Reinhardt ·

Julle vergeet van n klein onbekende partytjie wat skaars bo 4000 stemme verwerf het in die vorige munisipale verkiesing. Mense is besig om van hulle te praat, mense hou van hul boodskap – hulle staan bekend as die Kaapse Party (The Cape Party) en hulle staan n onafhanklike Wes- en Noord-Kaap voor. Ek dink Maroela Media moet dalk n onderhoud voer met hul leier –

Lisa ·

Ek hoop sy begin haar eie party, ek stem baie eerder vir haar as vir Mmusi

Gert Meyer ·

Presies wat van De Lille verwag is. Sy het nog nie haar PAC ingebore houding afgeskud nie. Sal ook nie. Dit gaan net oor De Lille en haar alleen. Niks anders nie. Sy te vertrou? Nooit!!!

Sarel Strydom ·

De Lill is ‘n vegter van formaat en sal nie sommer stil stil gaan nie. Sy gaan nog die DA ‘n punt of twee wys.

Santie ·

Puik opsomming van De Lille en trawante. Myns insiens is die DA die enigste werklik veelrassige party wat diegene trek wat die werksetiek eerder as sosialisme voorstaan. Ek bly dus hoop dat al meer en uiteindelik genoeg mense in SA die DA sal steun dat hulle ‘n formidabele opposisie kan wees, indien nie die regering nie. En Maimane se “Trumpiaanse geluide” re onwettige immigrante is ‘n voor die hand liggende stap om SAners se lewens te verbeter. Plus die feit dat hy Venezuela se opposisiepartyleier hier gehad het, wys hy weet die metapolitiek is tans sosialisme vs kapitalisme. Alles hier en nou. Só neerdrukkend as ons media en politici nog staan en watertrap oor apartheid, verlig vs verkramp, of identiteitspolitiek speel met al die -ismes en die -fobies, soos die ewe uitgediende opposisie in die VSA. Mens kry dikwels die indruk dat sovele in die openbare lewe steeds klou aan hulle één groot oomblik terwyl die wêreld lankal aanbeweeg het. Maimane lyk of hy wéét hoe lyk nóú en dit laat mens moed skep.

Karel de Wet ·

Wel, soos alle bekendes (in hy eie oë) sal sy seker eers ‘n boek skryf.
Daarna sal sy seker maar in China gaan skoolhou.

marco polo ·

Jy moet darem kwalifikasies en toepaslike ondervinding he om in China skool te hou. En hulle hou daarvan as dit lyk asof onderwysers se voorsate van Europa is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.