Wat hou Marcos-presidentskap vir Filippyne in?

Ferdinand Marcos jr. (Foto: Ted ALJIBE/AFP)

Ferdinand Marcos jr. het in die afgelope presidents- en parlementsverkiesing in die Oos-Asiatiese eilandstaat van die Filippyne met 60% ʼn wegholoorwinning behaal, teenoor die naaswenner en uittredende visepresident, Leni Robredo, se 29%.

Die uittredende president, Rodrigo Duterte, kon weens termynbeperkings nie weer staan nie. Duterte is internasionaal wyd gekritiseer vir sy soms brutale en nie altyd wettige stryd teen bendegeweld, maar is in sy eie land steeds baie gewild en het self met ʼn groot oorwinning ses jaar gelede president geword.

Ferdinand Marcos jr. is geen onbekende in die Filippyne nie. Soos in talle lande is hy deel van ʼn politieke geslagslyn. Sy pa, met dieselfde naam, het van 1965 tot 1986 regeer. Hy het die laaste verkiesing in 1986 probeer bekook, maar is deur massabetogings uit die kussings gelig en uit die land gedwing. Na sy lang diktatorskap, vol korrupsie en onderdrukking, was dit destyds amper soos ʼn voorsmaak van die groot demokratiese omwentelings wat sowat drie jaar later orals in die wêreld, maar veral in Oos-Europa, sou plaasvind.

Marcos sr. was wel ʼn bondgenoot van die VSA en is as belangrike pion in die stryd teen kommunisme in Asië gereken. Vir hom het dit egter nie oor ideologie gegaan nie, maar oor mag vir hom en sy familie: die tipiese kliëntelisme van veral die nie-Westerse wêreld. Hy het later vir die VSA ʼn verleentheid geword en is laat val. Onder sy demokraties verkose opvolger, Corazon Aquino, het die Filippyne wel hulle pro-Westerse koers behou, maar die land kon nie wesenlik sy ingegroeide korrupsieprobleem oplos nie.

Dit is wel nou 36 jaar sedert Marcos sr. se ontseteling. Meeste kiesers het die diktatorskap nie beleef nie en was dus vatbaar vir ʼn sosialemediaveldtog wat dit as goue era uitgebeeld het. Nogtans is dit verbasend dat die seun van ʼn eens gehate diktator nou ʼn wegholoorwinning in ʼn verkiesing behaal het.

Verskeie faktore kan redes wees: die Marcos-naam is baie bekend en die Marcos-familie het ook, na die voormalige diktator se afsterwe in 1989 en hulle terugkeer uit ballingskap in Hawaii, altyd in die politiek betrokke gebly. Marcos jr. én sy suster (Imee) is albei senators, terwyl sy ma (Imelda) verskeie kere onsuksesvol vir die presidentskap gestaan en ook verskeie politieke ampte gehad het. Nog ʼn rede vir die oorwinning was takties van aard: Sara Duterte, dogter van die uittredende president, wat self baie gewild is en aanvanklik ʼn mededinger vir die presidentskap sou wees, is deur Marcos jr. oortuig om eerder die veilige opsie te kies en te staan vir visepresident, ʼn amp wat ook deur die bevolking gekies word. Agter die skerms was daar ooreenkomste en alliansies met beloftes van poste om te sorg dat Robredo uitgeknikker word.

Wat sal ʼn Marcos-presidentskap vir die Filippyne en vir die streek beteken? Waarskynlik geen terugkeer na enige soort diktatorskap nie. Ten eerste is daar die beperking tot een termyn, wat ʼn diktatorskap juis sou verhoed. Verder is Marcos jr. nie juis iemand met ʼn politieke ideologie of strewe nie, behalwe om sy familie se naam in ere te herstel. Geen groot omwentelings (of hervormings) sal dus onder hom te wagte wees nie. Soos sy voorganger, Duterte, is Marcos jr. iemand wat goeie verhoudinge met China wil handhaaf, maar hy weet egter dat die Filippyne ʼn lang en histories begronde vennootskap met die VSA het en meer sal verloor as wen deur hom te sterk na China te wend. China eis ook dele van die Filippyne se seegebied en eilande op.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.