Wat is die onderliggende agenda met SA se onteieningsbeleid?

Deur Martin van Staden

Martin van Staden.

Sedert Hugo de Groot (een van die pioniers van die Romeins-Hollandse gemenereg) se dae was onteiening verbonde aan vergoeding. Dié twee konsepte is sedertdien getroud en gaan nêrens sonder mekaar nie. Die Suid-Afrikaanse regering, teenstrydig met universele praktyk wêreldwyd, wil alhoewel ’n egskeiding veroorsaak tussen vergoeding en onteiening. Wat is die werklike redes vir dié gedrag?

Vandat die parlement in Februarie 2019 aangekondig het dat dit ’n beleid van onteiening sonder vergoeding wil aanneem, het die regering nooit werklik dié besluit regverdig nie. Die aanhef tot beide die 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet en die Onteieningswetsontwerp noem geen rede nie, en handel eerder oor die sogenaamde “hongerte vir grond” en die belangrikheid van grondhervorming.

Ja, daar was nou al baie sprake van die sogenaamde “erfsonde” van grondverkryging, maar dit het niks met vergoeding in die hede te doen nie. Dit is ook al geïmpliseer dat die regering doodeenvoudig nie geld het om vir al die eiendomme wat dit wil onteien te kan betaal nie, maar indien só ’n rede aangevoer word sal dit voor die hand liggend wees dat die regering sy eie probleme die van die publiek probeer maak.

Die regering sal nooit ’n goeie regverdiging vir sy aangenome onteieningsbeleid kan maak nie, want daar is nie een nie. Bowendien, die regering se agenda het niks met grondhervorming of maatskaplike geregtigheid te doen nie.

Baie mense dink dat die versteekte agenda van dié regeringsbeleid slegs rassisties is: Hulle wil “wit plase” vat as vergelding vir apartheid. Ek verskil hiermee. Daar kan geen twyfel wees dat ons regering gereeld iets slegs oor wit Suid-Afrikaners te sê het nie. Maar ons kan nie die wêreldwye konteks vergeet nie. In ons tyd van postmodernisme en sogenaamde “kritieke-teorieë”, het min internasionale lede van die politieke klas iets goed oor wit mense vandag te sê. Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie.

Die regering se onteieningsbeleid, myns insiens, gaan eenvoudig oor die sentralisasie van regeringsmag. Elders in die wêreld het onteiening werklik met veronderstelde publieke belang te doen, alhoewel dit nog steeds ’n argaïese, outoritêre manier van dinge doen is. Maar in Suid-Afrika kom die publieke belang nie ter sprake nie. Dit het eerder te doen met ideologiese transformatisme, oftewel die Nasionale Demokratiese Revolusie.

Privaat eienaarskap – deur wit óf swart mense – is ’n bedreiging vir ’n regime wat ál die hefbome van mag wil beheer, want eiendom verleen mag, begrond suksesvolle gemeenskappe en sterk private instellings.

Soos prof. Koos Malan beklemtoon het, verleen die reg om privaat eiendom te besit, beide ekonomiese mag en die mag van burgerskap. In die eersgenoemde geval stel privaat eiendom ’n mens in staat om vir jou eie behoeftes te sorg soos, onder meer, ’n huis of plaas of kantoor waar jy bly en/of werk. Waar die staat jou huis, plaas, of kantoor besit, kan dit enige tyd van jou af weggeneem word soos die golwe van politieke passie verskuif. In die geval van ’n plaas of besigheid in staatsbesit, bestaan daar eenvoudig nie ’n winsmotief nie, en dit is hoekom plase wat geneem is vir grondhervorming, in baie gevalle nie produktief is nie: Nie omdat die nuwe boer nie wil boer of kan boer nie, maar omdat daardie persoon nie die plaas besit nie en dus nie finale besluite oor die eiendom kan maak nie. Hulle is slegs huurders, wat beteken dat die kommersiële sukses of mislukking van die plaas niks veel vir hulle beteken nie.

Privaateiendomsregte is ook noodsaaklik vir burgerskapdoeleindes. ’n Burgery met erkende grondbesit is nog reg deur die geskiedenis ’n magtige rem en teenwig teen staatsmag. Wanneer burgers afhanklik is van die staat en die staat ingrypende eensydige beheer oor grond uitoefen, bestaan dié teenbalans nie. Malan skryf dat ’n individu sonder eiendomsregte, wat afhanklik is van die staat vir sy voorbestaan, nie werklik die vryheid het om sy opinies uit te spreek nie. So iemand het dus nie werklik die magte van burgerskap nie. Die persoon word “’n afhanklike onderdaan en verbruiker van staatsvergunnings”.

Sterk en veilige eiendomsreg is ’n faset van konstitusionalisme wat verseker dat mag nie net ophoop by die verskillende takke van die staat nie, maar ook tussen die staat en regsubjekte: individue, gemeenskappe, sakeondernemings, en burgerlike organisasies.

Die jongste gepubliseerde Onteieningswetsontwerp beoog om dit so maklik as moontlik te maak vir die regering om privaat eiendom te onteien. Onder meer maak die wetsontwerp voorsiening vir die staat om die betaal van vergoeding te staak, asook ook om eiendom in besit te neem voor enige regsgeskille afgehandel is of selfs voor vergoeding betaal is. Dus kan ’n eienaar van sy eiendom, waarvan sy lewensbestaan miskien afhanklik was, ontneem word en óók sonder enige geld gelaat word.

Maar die grootste probleem met die wetsontwerp is die voorsiening vir onteiening sonder vergoeding. Tegnies is hierdie voorsiening ongrondwetlik, aangesien artikel 25 van die Grondwet nog nie gewysig is deur die 18de Grondwetlike Wysigingswetsontwerp nie. Myns insiens moet die wysiging van die Grondwet stopgesit word, maar indien dit wel voortgaan, mag die regering steeds nie die wa voor die perde span nie.

Die wetsontwerp beoog vyf spesifieke gevalle waar onteiening sonder vergoeding kan plaasvind: grond wat slegs vir spekulatiewe doeleindes besit word; grond wat deur ’n staatsinstelling besit word en wat nie vir daardie instelling se primêre funksie gebruik word nie; grond wat verlate gelaat is omdat die eienaar nie beheer oor die eiendom kan uitoefen nie; grond wat se markwaarde minder of dieselfde is aan die huidige waarde van staatsinvestering of -subsidie in die grond; en grond wat se toestand ’n gesondheid-, veiligheid-, of fisieke risiko vir ander persone of eiendom is.

Die omstandighede is egter irrelevant omdat dit nie in ’n geslote lys verskans is nie, maar in ’n ope een (die wetsontwerp gebruik dus die frase “including but not limited to”). Dit beteken dat na gelang van die feite van elke situasie, die regering kan besluit dat dit daardie eiendom sonder vergoeding wil vat, ongeag of daardie omstandighede eksplisiet in die Wet verskyn.

Só ’n ooglopende diskresie vir die regering spel groot moeilikheid uit vir die toekoms van Suid-Afrika. Stel jou voor die regering onteien plase omdat hy van mening is ‘n boer betaal nie sy plaaswerkers genoeg nie, of onteien restaurante wat vermoedelik alkohol tydens die Covid-19-inperking verkoop het, of onteien uiteindelik die huise van lede van die politieke opposisie omdat hulle anti-transformatisme is?

Die Onteieningswetsontwerp is op verskeie vlakke ’n bedreiging vir die vryheid en voorspoed van Suid-Afrika – om nie eens die grondwetlike wysiging te noem nie – en moet teengestaan word. Sterk en veilige eiendomsreg is noodsaaklik vir ’n samelewing wat graag wil floreer.

Die publiek het tot 10 Februarie 2021 kans om kommentaar op die Wetsontwerp te lewer.

  • Martin van Staden is ’n regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga en studeer tans vir ’n doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Die probleem is, watse kommentaar kan Jan Alleman lewer behalwe dat hulle dit nie so wil hê nie.

Jaco ·

Gaan onteiening sonder vergoeding net oor landbougrond, of is woonerwe en huise in dorpe en stede ook ter sprake? Ek besit 2 huise in stedelike gebied, so 25km van mekaar af. Een huis word verhuur. Ek is, terloops, een van baie swart mense in die buurt wat verhuur. Hulle het ook almal 2 huise. So nou wonder ek maar net: gaan ek albei huise verloor net omdat ek wit is en vir apartheid gestraf moet word, of gaan net 1 onteien word met as rede “jy het klaar 2 terwyl ander niks het nie, so jy moet 1 opgee”. Ek wil ook weet wat word van swart mense met 2 of meer woonerwe/huise (daars nogal baie van hulle).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.