Wat is die prys wat die Kubane betaal het?

fidel-castro-brealtv

Argieffoto: Fidel Castro

Die Kubane – en linkse romantici wêreldwyd – het laasweek afskeid geneem van Fidel Castro. Nege dae lank het sy as deur Kuba gereis en Sondag is dit eindelik ter ruste gelê.

ʼn Hele horde wêreldleiers, onder wie ons eie pres. Jacob Zuma, was teenwoordig by ʼn spesiale gedenkplegtigheid in die hoofstad, Havana. Regoor die wêreld was mense met linkse simpatieë verenig in hul verdriet oor die heengaan van ʼn revolusionêre reus, die held van miljoene.

Dat Castro deur baie aanbid is, is seker. In Suid-Afrika het min. Rob Davies, lid van die SA Kommuniste Party, pas weer hulde aan hom gebring. Ook vir sy rol in “Suid-Afrika se Stalingrad”, die geweldige nederlaag wat die apartheidsweermag in 1988 by Cuito Cuanavale teen die glorieryke magte van Kuba en Angola gely het – iets wat regstreeks tot die einde van apartheid gelei het.

Dis nou as jy Davies kan glo.

Nou ja, niemand is so blind as hy wat nie wíl sien nie. Met een uitsondering – die Italiaans-Amerikaanse Kuba-aanbidder, prof. Piero Gleijeses – meen alle ernstige navorsers die soort propaganda wat Davies so skaamteloos versprei, is óf onwaar óf skromelik oordrewe.

Bowendien moet ʼn mens oppas om die berigte (hoofsaaklik deur Kubaanse staatsmedia versprei) oor die wye verdriet na aanleiding van Castro se oorlye klakkeloos te aanvaar. Die Amerikaanse televisiestasie, NBC News, berig byvoorbeeld Eduardo Pacheco, ʼn Kubaanse andersdenkende, is verlede week in hegtenis geneem en aangerand omdat hy geweier het om openlik oor Castro se dood te rou.

Dis nie bekend wat van hom geword het nie.

Dis verreweg geen uitsondering nie. Reeds onmiddellik nadat hy die korrupte diktator, Fulgencio Batista, begin 1959 verjaag het, het Castro sy luitenant, Che Guevara, “hofsake” teen Batista-amptenare laat lei. Die sake het gemiddeld 20-30 minute geduur en honderde is summier ter dood veroordeel.

Dit het nie hier opgehou nie. Volgens die Franse historikus Pascal Fontaine, in die gerugmakende versamelboek Le Livre Noir du Communisme (“Swartboek van die Kommunisme”), wat in 1997 verskyn het, is 15 000 tot 17 000 politieke andersdenkendes tot die middel negentigerjare in Kuba weens “politieke misdade” tereggestel.

Soos Castro self gesê het: “Revolusionêre geregtigheid is nie gebaseer op regsbeginsels nie, maar op morele oortuigings … ons stel nie onskuldige mense of politieke opponente tereg  nie. Ons stel moordenaars tereg en hulle verdien dit.”

Dié “morele oortuigings” het in die praktyk iets anders beteken as wat die meeste daaronder sou verstaan. In sy verslag vir 2016, het die menseregte-organisasie Human Rights Watch oor Kuba berig: “Cubans who criticize the government continue to face the threat of criminal prosecution. They do not benefit from due process guarantees, such as the right to fair and public hearings by a competent and impartial tribunal. In practice, courts are subordinated to the executive and legislative branches, denying meaningful judicial independence.”

Een politieke gevangene wat my altyd interesseer weens die yslike ironie verbonde aan sy lot, is Armando Valladares, ʼn Kubaanse digter. Hy is in 1960 op die ouderdom van 23 in hegtenis geneem, omdat hy kritiek op die nuwe kommunistiese regering uitgespreek het.

Hy is in 1982, ná 22 jaar in onmenslike omstandighede – gereelde aanrandings en marteling – deur die bemiddeling van wyle pres. François Mitterrand van Frankryk vrygelaat.

In sy herinneringe het Valladares geskryf hy kon al die ellende voorkom het deur eenvoudig te sê “ek staan by Fidel”.

Toe hy vroeër vanjaar die Kantelberg-Medalje vir Godsdiensvryheid ontvang het, het Valladares getuig: “As ek daardie woorde uitgespreek het, sou dit vir my op ʼn soort geestelike selfmoord neergekom het. Selfs al was my liggaam in die gevangenis en gemartel, was my siel vry en het dit gefloreer. My bewakers het alles van my weggeneem, maar hulle kon nie my gewete of my geloof vat nie.”

Ná sy vrylating het hy nog jare in ʼn rolstoel deurgebring, maar hy loop nou weer moeisaam.

Die ironie hiervan is dat die 22 jaar wat hy in die tronk deurgebring het, min of meer saamgeval het met die 27 jaar wat ons eie Nelson Mandela in die gevangenis was. Die verskil is natuurlik dat, ofskoon Mandela en die ander gevangenes op Robbeneiland veral aanvanklik nie goed behandel is nie, hulle nooit gemartel is of ligaamlike leed ervaar het nie.

En tog het Mandela ná sy vrylating hulde gebring aan Fidel Castro, Valladara se hoof-sipier. Mandela word gereeld – tereg – geprys, maar as jy eerlik is, moet jy ook sy donker kante insien.

Dieselfde eerlikheid gebied uiteraard ook die erkenning dat Castro nie nét sleg was nie. Hy was ʼn charismatiese leier, wat die Kubane met die krag van sy persoonlikheid op ʼn koers kon hou wat wesenlik teen baie se eie belange was.

Naas sy charisma is hy deur twee samehangende faktore gehelp.

Die eerste was dat hy die arm Kubane – verreweg die meerderheid – se lewensomstandighede drasties verbeter het, vergeleke met die ellende en drastiese ongelykheid wat onder Batista geheers het. Gesondheidsorg en onderwys was gratis onder sy bewind.

Die lewensverwagting was in 2015 net ʼn kortkop agter dié van Amerika, waarby in ag geneem moet word dat dié in Kuba baie beter oor alle bevolkingsgroepe versprei is, terwyl daar in Amerika groot verskille tussen ryk en arm is.

Kuba het ʼn geletterdheidskoers van 97,7%. Oor dié in Amerika verskil kenners, maar die skattings loop uiteen van 65 tot 85% – aansienlik swakker as in Kuba, iets wat die Castro-aanhangers gereeld onder Amerika se neus vryf.

Feite soos dié kan ʼn mens sekerlik nie ontken nie, maar dan bly die vraag: Wat is die prys wat die Kubane daarvoor betaal het? Deel van dié ironie is dat Castro die Kubane se lojaliteit deels met nasionalisme gekoop het.

ʼn Verdere ironie van Castro se lewe was dat dié man, wat alle sprake van vryheid in sy eie land onderdruk het, gemeen het hy bring vryheid na die onderdrukte massas in Angola en Ethiopië, waar sy troepe geveg het. In Angola het Kubaanse soldate deelgeneem aan die massamoord op andersdenkendes in die omgewing van Luanda in 1977. In Ethiopië het hulle ʼn diktator wat nóg wreder as Castro was, Mengistu Haile Mariam, aan die bewind help hou.

En dít is dus die man wat deur die ANC/SAKP geprys word as die man wat vryheid na Suid-Afrika help bring het.

Vadertjie tog. Ek voel amper lus om my oë op te hef na die berge en te vra: Waar sal …?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rupert Ashford

Dit is die lyn tussen “vryheid” en vooruitgang Leopold. Mense sal nie vrywillig instem om ‘n prys te betaal vir enigiets nie, maar eerder ander ouens laat betaal. So bv is dit makliker om grond te “vat” by mense as om self daarvoor te werk, om tot in poste of sportspanne getransformeer te word as om daarvoor te werk ens. So ook kon Castro slegs sy “vooruitgang” teweegbring deur die massas te onderdruk en mense te dwing om sekere dinge op te gee ten einde die onderwys en gesondheidsorg te laat “werk”. Dissipline afgedwing met ‘n ysterhand aan die een… Lees meer »

Leendert

Dankie vir die artikel. Jip en dan het Cyril Ramaphosa tydens ‘n ANC gedenkdiens einde verlede maand in Khayelitsha groot lofbetuigings vir Fidel Castro gehad. Hy het Castro as ‘n beginselvaste en vreestole mens beskryf, met humanitêre en etiese waardes. Toe het hy bygevoeg dat dit die tipe leier is wat Suid Afrika vandag nodig het. Hy het homself nooit eerste gestel nie, maar die saak. Cuba is vandag ‘n beter plek as voor die revolusie, aldus Ramaphosa.

Lance

Gelees dat mense het net met 2000 Dollar n JAAR moes regkom …dit werk uit na so R115 per dag …..ver onder ons minimum loon

John

Wat help goeie onderrig en gesondheidsorg (as dit werklik so goed was sonder die beste apparaat en medikasie van elders) as geleerdes soet by die huis moet gaan sit of fluks in tabakplantasies (besorg oor gesondheid, ha, ha) swoeg vir ‘peanuts’. Ateisme het gedy. Wat se ons glo godsdienstige president ea daarvan? Gelykmaking lyk na ‘n oplossing vir griewe maar selfs Rusland moes later erken dis ‘n dwaling. Interessant dat SA steeds met Rusland vriende wil wees nadat dit afgesien het van kommunisme. Net ons grondwet staan nog tussen die Castro-sindroom en ons vryheid… Is dit sterk genoeg?

Pietman

Leopoldt het probeer om balans te bring met “gunstige” feite oor Castro. Ek sou egter geen statistiek van n regering glo, waar duisende terregestel is net oor hul teenstrydige politieke opninies nie. Blykbaar is die generaal wat die Cueto aanval gelei het ook tereggestel.