Wat is die prys wat die Kubane betaal het?

fidel-castro-brealtv

Argieffoto: Fidel Castro

Die Kubane – en linkse romantici wêreldwyd – het laasweek afskeid geneem van Fidel Castro. Nege dae lank het sy as deur Kuba gereis en Sondag is dit eindelik ter ruste gelê.

ʼn Hele horde wêreldleiers, onder wie ons eie pres. Jacob Zuma, was teenwoordig by ʼn spesiale gedenkplegtigheid in die hoofstad, Havana. Regoor die wêreld was mense met linkse simpatieë verenig in hul verdriet oor die heengaan van ʼn revolusionêre reus, die held van miljoene.

Dat Castro deur baie aanbid is, is seker. In Suid-Afrika het min. Rob Davies, lid van die SA Kommuniste Party, pas weer hulde aan hom gebring. Ook vir sy rol in “Suid-Afrika se Stalingrad”, die geweldige nederlaag wat die apartheidsweermag in 1988 by Cuito Cuanavale teen die glorieryke magte van Kuba en Angola gely het – iets wat regstreeks tot die einde van apartheid gelei het.

Dis nou as jy Davies kan glo.

Nou ja, niemand is so blind as hy wat nie wíl sien nie. Met een uitsondering – die Italiaans-Amerikaanse Kuba-aanbidder, prof. Piero Gleijeses – meen alle ernstige navorsers die soort propaganda wat Davies so skaamteloos versprei, is óf onwaar óf skromelik oordrewe.

Bowendien moet ʼn mens oppas om die berigte (hoofsaaklik deur Kubaanse staatsmedia versprei) oor die wye verdriet na aanleiding van Castro se oorlye klakkeloos te aanvaar. Die Amerikaanse televisiestasie, NBC News, berig byvoorbeeld Eduardo Pacheco, ʼn Kubaanse andersdenkende, is verlede week in hegtenis geneem en aangerand omdat hy geweier het om openlik oor Castro se dood te rou.

Dis nie bekend wat van hom geword het nie.

Dis verreweg geen uitsondering nie. Reeds onmiddellik nadat hy die korrupte diktator, Fulgencio Batista, begin 1959 verjaag het, het Castro sy luitenant, Che Guevara, “hofsake” teen Batista-amptenare laat lei. Die sake het gemiddeld 20-30 minute geduur en honderde is summier ter dood veroordeel.

Dit het nie hier opgehou nie. Volgens die Franse historikus Pascal Fontaine, in die gerugmakende versamelboek Le Livre Noir du Communisme (“Swartboek van die Kommunisme”), wat in 1997 verskyn het, is 15 000 tot 17 000 politieke andersdenkendes tot die middel negentigerjare in Kuba weens “politieke misdade” tereggestel.

Soos Castro self gesê het: “Revolusionêre geregtigheid is nie gebaseer op regsbeginsels nie, maar op morele oortuigings … ons stel nie onskuldige mense of politieke opponente tereg  nie. Ons stel moordenaars tereg en hulle verdien dit.”

Dié “morele oortuigings” het in die praktyk iets anders beteken as wat die meeste daaronder sou verstaan. In sy verslag vir 2016, het die menseregte-organisasie Human Rights Watch oor Kuba berig: “Cubans who criticize the government continue to face the threat of criminal prosecution. They do not benefit from due process guarantees, such as the right to fair and public hearings by a competent and impartial tribunal. In practice, courts are subordinated to the executive and legislative branches, denying meaningful judicial independence.”

Een politieke gevangene wat my altyd interesseer weens die yslike ironie verbonde aan sy lot, is Armando Valladares, ʼn Kubaanse digter. Hy is in 1960 op die ouderdom van 23 in hegtenis geneem, omdat hy kritiek op die nuwe kommunistiese regering uitgespreek het.

Hy is in 1982, ná 22 jaar in onmenslike omstandighede – gereelde aanrandings en marteling – deur die bemiddeling van wyle pres. François Mitterrand van Frankryk vrygelaat.

In sy herinneringe het Valladares geskryf hy kon al die ellende voorkom het deur eenvoudig te sê “ek staan by Fidel”.

Toe hy vroeër vanjaar die Kantelberg-Medalje vir Godsdiensvryheid ontvang het, het Valladares getuig: “As ek daardie woorde uitgespreek het, sou dit vir my op ʼn soort geestelike selfmoord neergekom het. Selfs al was my liggaam in die gevangenis en gemartel, was my siel vry en het dit gefloreer. My bewakers het alles van my weggeneem, maar hulle kon nie my gewete of my geloof vat nie.”

Ná sy vrylating het hy nog jare in ʼn rolstoel deurgebring, maar hy loop nou weer moeisaam.

Die ironie hiervan is dat die 22 jaar wat hy in die tronk deurgebring het, min of meer saamgeval het met die 27 jaar wat ons eie Nelson Mandela in die gevangenis was. Die verskil is natuurlik dat, ofskoon Mandela en die ander gevangenes op Robbeneiland veral aanvanklik nie goed behandel is nie, hulle nooit gemartel is of ligaamlike leed ervaar het nie.

En tog het Mandela ná sy vrylating hulde gebring aan Fidel Castro, Valladara se hoof-sipier. Mandela word gereeld – tereg – geprys, maar as jy eerlik is, moet jy ook sy donker kante insien.

Dieselfde eerlikheid gebied uiteraard ook die erkenning dat Castro nie nét sleg was nie. Hy was ʼn charismatiese leier, wat die Kubane met die krag van sy persoonlikheid op ʼn koers kon hou wat wesenlik teen baie se eie belange was.

Naas sy charisma is hy deur twee samehangende faktore gehelp.

Die eerste was dat hy die arm Kubane – verreweg die meerderheid – se lewensomstandighede drasties verbeter het, vergeleke met die ellende en drastiese ongelykheid wat onder Batista geheers het. Gesondheidsorg en onderwys was gratis onder sy bewind.

Die lewensverwagting was in 2015 net ʼn kortkop agter dié van Amerika, waarby in ag geneem moet word dat dié in Kuba baie beter oor alle bevolkingsgroepe versprei is, terwyl daar in Amerika groot verskille tussen ryk en arm is.

Kuba het ʼn geletterdheidskoers van 97,7%. Oor dié in Amerika verskil kenners, maar die skattings loop uiteen van 65 tot 85% – aansienlik swakker as in Kuba, iets wat die Castro-aanhangers gereeld onder Amerika se neus vryf.

Feite soos dié kan ʼn mens sekerlik nie ontken nie, maar dan bly die vraag: Wat is die prys wat die Kubane daarvoor betaal het? Deel van dié ironie is dat Castro die Kubane se lojaliteit deels met nasionalisme gekoop het.

ʼn Verdere ironie van Castro se lewe was dat dié man, wat alle sprake van vryheid in sy eie land onderdruk het, gemeen het hy bring vryheid na die onderdrukte massas in Angola en Ethiopië, waar sy troepe geveg het. In Angola het Kubaanse soldate deelgeneem aan die massamoord op andersdenkendes in die omgewing van Luanda in 1977. In Ethiopië het hulle ʼn diktator wat nóg wreder as Castro was, Mengistu Haile Mariam, aan die bewind help hou.

En dít is dus die man wat deur die ANC/SAKP geprys word as die man wat vryheid na Suid-Afrika help bring het.

Vadertjie tog. Ek voel amper lus om my oë op te hef na die berge en te vra: Waar sal …?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Rupert Ashford ·

Dit is die lyn tussen “vryheid” en vooruitgang Leopold. Mense sal nie vrywillig instem om ‘n prys te betaal vir enigiets nie, maar eerder ander ouens laat betaal. So bv is dit makliker om grond te “vat” by mense as om self daarvoor te werk, om tot in poste of sportspanne getransformeer te word as om daarvoor te werk ens. So ook kon Castro slegs sy “vooruitgang” teweegbring deur die massas te onderdruk en mense te dwing om sekere dinge op te gee ten einde die onderwys en gesondheidsorg te laat “werk”. Dissipline afgedwing met ‘n ysterhand aan die een kant stel regerings in staat om hulle programme deur te voer. So kan jou gesondheidsorgstelsel “werk” as daar wenners en verloorders afgedwing word – primere gesondheidsorg kan gratis wees as die regering kan besluit waarna kyk hulle en waarna nie. 97% geletterdheid kan gehaal word as almal GEDWING word om skool te gaan en ook wat geleer word in die skole, maar die oomblik as demokrasie en menseregte in spel kom en mense vry raak om te kies (maar nog steeds toelaes sal ontvang wat die gevolge van hulle dade stomp maak) sal daardie resultate nie gesien word nie. As almal saam arm gehou word (behalwe natuurlik die “Commandante” en sy trawante) lyk jou samelewing mos mooi gelyk en utopies.

Leendert ·

Dankie vir die artikel. Jip en dan het Cyril Ramaphosa tydens ‘n ANC gedenkdiens einde verlede maand in Khayelitsha groot lofbetuigings vir Fidel Castro gehad. Hy het Castro as ‘n beginselvaste en vreestole mens beskryf, met humanitêre en etiese waardes. Toe het hy bygevoeg dat dit die tipe leier is wat Suid Afrika vandag nodig het. Hy het homself nooit eerste gestel nie, maar die saak. Cuba is vandag ‘n beter plek as voor die revolusie, aldus Ramaphosa.

Lance ·

Gelees dat mense het net met 2000 Dollar n JAAR moes regkom …dit werk uit na so R115 per dag …..ver onder ons minimum loon

Kobus ·

Kom ons tref n vergelyking tussen Fidel Castro en Jacob Zuma….tereg kan daar gese word dat hy menseregte onderdruk en enige andersdenkendes gemartel,in tronke laat opsluit en hul verdwyn het uit die samelewing….al was Cuba ook n muishond van die Weste….het hy die massas gemanipuleer deur gratis gesondsheidssorg en onderwys….wat uit gewys is in die artikel…geletterheidskoers uitstekend….nou wat is Jacob Zuma se nalatenskap sover in sy een en halwe termyn as President van Suid-Afrika….begin by gesondssorg….dis absolute minagting en marteling van die armes deurdat dit in hierdie land amper nie bestaan tensy daar van private sorg gebruik gemaak word deur wie dit kan bekostig…verder is die onderwysstelsel deur die hele spektrum van laerskool tot universiteit in n ernstige verval en in groot moeilikheid…skole word afgebrand,kinders boelie mekaar indien hul wel by die skool is en nie op straat bedel….universiteite brand vir gratis opleiding….die leiers van die toekoms raas en blaas vir meer regte en verniel staatsbates….die regering is magteloos en bang vir die kind wat hul groot gemaak het gedurende die opstande van die verlede….dis waarom die hulde uit ons regering aan die gestorwe Castro so mildelik uit gedeel word…hy word aanbid omdat hy alles kon vermag wat hier onbereikbaar is….want wat jy saai…SAL jy maai

John ·

Wat help goeie onderrig en gesondheidsorg (as dit werklik so goed was sonder die beste apparaat en medikasie van elders) as geleerdes soet by die huis moet gaan sit of fluks in tabakplantasies (besorg oor gesondheid, ha, ha) swoeg vir ‘peanuts’. Ateisme het gedy. Wat se ons glo godsdienstige president ea daarvan? Gelykmaking lyk na ‘n oplossing vir griewe maar selfs Rusland moes later erken dis ‘n dwaling. Interessant dat SA steeds met Rusland vriende wil wees nadat dit afgesien het van kommunisme. Net ons grondwet staan nog tussen die Castro-sindroom en ons vryheid… Is dit sterk genoeg?

Pietman ·

Leopoldt het probeer om balans te bring met “gunstige” feite oor Castro. Ek sou egter geen statistiek van n regering glo, waar duisende terregestel is net oor hul teenstrydige politieke opninies nie. Blykbaar is die generaal wat die Cueto aanval gelei het ook tereggestel.

Johan ·

Inderdaad – hy was tereggestel omdat hy die onderspit gedelf het.
Dit is bietjie lank terug, maar ek wil dat daar ook ander top offisiere tereggestel was.
In daardie aanval het die pantsers bv. die kommunikasie lyne van die Kubaanse tenks onderbreek en dan bloot agter hulle of waar die linies gebreek was, tussen hulle inbeweeg en hulle dan van agter vernietig. Dit het die Kubane se slaankrag beduidend beduiwel.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, die generaal was Arnaldo Ochoa Sanchez, en hy was bevelvoerder van die Kubaanse magte in Angola in 1988. Die amptelike rede vir sy teregstelling was dwelmsmokkelary, maar dit kan ‘n mens maar verwerp. Volgens gesaghebbende bronne wat ek in my boek oor die SAW in die Grensoorlog aanhaal, het Castro die uiters gewilde generaal as ‘n politieke bedreiging begin sien, en dus moes hy uit die weg geruim word.

callie ·

Wat het kubane op skool geleer. Hulle was totaal geindoktrineer van kleins af. Sodra mense opreg vry kan studeer en regtig ontwikkel verdwyn hulle sentiment totaal teenoor die kommunistiese stelsels omdat enige regdenkende persoon wat dink besef dat kommunisme nie kan werk nie. Ja dit werk vir die leier en sy trawante want hulle leef soos konings en het die swaard van onderdrukking in hul hand.
Grootste bekommernis in SA is dat die ANC leiers hierdie absurde geloof het dat dit die pad vir almal moet wees. Waarsku weer, al hoe Zuma uit die tronk kan bly is met n staatsgreep en dan kan hy sommer Castro se beleid deurvoer. Dan kan alle kritici verhoor en gemoor word. Ons is in Afrika, Geen Afrika land sal ons help nie.

Sebastiaan ·

Hierdie moet aangehou gese word, voor daar legendes ook onder die gewone burgers wat nie oortuigde kommuniste is nie, wortel skiet. Dit is verbasend hoe die linkses wêreldwyd daarmee wegkom om gruweldade goed te praat solank dit gedoen word in die naam van “gelykheid”, “geregtigheid” en “anti-kapitalisme”. ‘n Mens kan ook geensins basiese gesondheidsorg en algemene geletterdheid opweeg teen al die wandade en die wanbestuur van die kommuniste nie. Wat help dit ‘n vrou het ‘n meestersgraad in literatuur, maar moet haar lyf verkoop om melk vir haar baba te kan bekostig, of ‘n mediese dokter moet bedel of steel om aan die lewe te bly?

Absurd ·

Die vraag is wat se geletterdheid was dit? BAIE van die Kubaanse dokters wat hier kom dokter speel het moes inderhaas landuit vlug nadat hulle so drooggemaak het dat meeste van hulle sake en eise teen hulle gehad het. Mangels van buite die keel uitgehaal, en kinders laat sterf, so kan ons almal dokters word en ‘geletterdheid’ verkry. Aanrandings, marteling, onderdrukking van menseregte, vuurpeleton sterftes, dit maak alles deel uit van Fidel se tyd waarin hy ge’reign’ het, regtig nie my idee van ‘n leier of voorbeeld vir ander lande nie.

Paul ·

Ons moet onthou dat Leopold self maar baie, baie liberaal is en dat die werklike beskrywing van Castro en sy stelsels baie erger is as wat Leopold dit beskryf het. Selfs Leopold glo nie die Kubaanse oorwinning by Cuito Cuanavale nie, die waarheid is egter dat die Kubane/Angolese daar ‘n pakslae van formaat ontvang het. Dit was net fw wat te slap was om die voordeel daaruit te gebruik.

Leopold Scholtz ·

Beste Paul, dis nuus vir my dat ek so verskriklik liberaal is. Hoe sien ek myself? As ‘n liberale konserwatief, of – as jy dit verkies – ‘n konserwatiewe liberaal. Nie links nie; ook nie regs nie; wel dwars. Bowenal militant gematig. Dit alles om te beklemtoon dat ek nie hou van ‘n etiket op my voorkop nie! Dankie vir jou bydrae.

Koos ·

Dankie Leopoldt. Lekker om die waarheid weer n slaggie te hoor. Gelukkig ken ek die waarheid rondom Cuito en as mens daar al begin lieg, dan kan ons die totale huidige euforie oor Castro verwerp met veragting

Herman G ·

Hi Leopold

Effens van die onderwerp af – een ding waaroor ek baie wonder (en wat ek nie rerig ‘n antwoord uit jou boek, of Roland De Vries se boek kan kry nie) is: tydens (of net na) die slag van Cuito Cuanavale het die ‘n Kubaanse divisie van Havanna en ‘n Kubaanse tenk brigade van middel Angola, saam met FAPLA en SWAPO eenhede, tot aan die SWA/ Angola grens opgeruk. As ek dit reg kan onthou, het ‘n weermag eenheid ‘n SWAPO bende se spoor gevolg en toe loop hulle vas in die Kubaanse troepe. In die geveg is ‘n skutter Papenfus gevange geneem. Dit was vir die SAW ‘n groot verassing, en toe kom hulle agter dat ‘n groot Kubaanse mag naby aan die SWA grens is. My vraag is die volgende: hie op aarde het so ‘n groot mag (40,000 + soldate?), van buitelandse weermag, dit reg gekry om so naby aan die SWA grens te kom sonder dat die SAW dit agtergekom het? Ek weet dit is dalk nie die regte forum vir die vraag nie, maar ek wonder nou al jare hieroor.

Johan ·

Jou vraag kan alleen beantwoord word binne die konteks van tyd. Die bosoorlog was nooit bedoel as oorlog nie. Dit was bloot bedoel om die grens te beskerm. PW het sonder magtiging, as minister, die oorlog ge-eskaleer. Dit is dan ook die rede waarom die VSA sy ondersteuning onttrek het toe die ligte van Luanda sigbaar was vir die SAW.

Leopold Scholtz ·

Beste Herman, dankie vir jou skrywe. Net eers ‘n misverstand: Die mag wat na die SWA-grens opgeruk het, was ‘n enkele divisie (10-12 000 man). Die 40 000 waarvan jy praat, was die totale getal Kubaanse soldate in Angola. Die SAW het so teen die helfte van April agtergekom dat die Kubane suidwaarts aan die beweeg is. Ongeveer daardie tyd het die CIA ons ook apart ingelig. Hierdie soort inligting kan ‘n mens op verskillende maniere kry: Satelliete (wat ons nie gehad het nie, maar die VSA wel), lugverkenning (wat ons ook nie so ver noord kon uitvoer nie), wat die Amerikaners “humint” (human intelligence) noem, wat ons deur middel van recce’s gedoen het, maar eers effens later, en radio-onderskeppings (waarmee ons eintlik baie goed was, maar ek lei af die Kubane het radiostilte bewaar). Ons en die Amerikaners het eers agtergekom wat aan die gang was nadat groot aantalle soldate begin beweeg het, maar dit was heeltemal betyds vir teenmaatreels. Hoop die antwoord help.

Henry ·

Ongelukkig woon ons in ‘n Afrikastaat met ‘n regime wat marxistiese fossiele soos Castro as hul rigtinggewer loof en prys. Enigste nut wat hierdie helde-aanbidding het, is dat ons opnuut kennis moet neem dat ons en ons nasate geen gunste vorentoe moet verwag van die spul Castro aanbidders nie.

Verskeie ouens hierbo het reeds gesê wat gesê moet word.

Vir die wat so beïndruk mag wees met die sogenaamde akademiese en gesondheidsorg wonderwerke wil ek vra waarom sou meer as 2 miljoen Kubane na die VSA uitgewyk het? Om nie te praat van die derduisende Kubane wat gedurende die Castro bewind na Spanje, Portugal, Italië en die ander kospotte van Europa verhuis het nie.

Volgens die jongste CIA syfers is daar 11 miljoen Kubane in Kuba waarvan groot getalle steeds met enige ding wat kan dryf,probeer om uit die UTOPIA van kameraad Castro en sy familie te ontsnap.

O ja, die $2000 per jaar wat boontoe genoem word is ietwat optimisties. Verskeie bronne stel die gelukkige, slim Kubane se maandelikse inkomste op enige iets vanaf 17 tot 30 US$ per maand. Die slim piete wat $30 verdien, is blykbaar die oulike Kubaanse dokters se salaris.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.