Wat is goeie protes?

Argieffoto

Argieffoto

By die woord “protes” dink ‘n mens oombliklik ook aan die woorde “vryheid” en “demokrasie” . Al drie is skynbaar vanselfsprekend, maar as jy dieper grawe, blyk hulle verwarrende en selfs teenstrydige begrippe te wees.

Neem nou die protes teen die Woolworths-advertensie, die aanleiding vir hierdie debat oor “goeie” en “verkeerde” protes.

In sy artikel gebruik Dirk Hermann twee argumente. Die eerste een is die feitelike vasstelling dat die Woolworths-advertensie die wet oortree en hofuitsprake ignoreer. Die ander een is die argument dat die verwysing na regstellende aksie iets wat moreel onregverdig is, nie regverdig maak nie. Dit is dus ’n morele argument, en die “swakste” een in die sin dat dit uiteraard ’n mening  is en dus teenargumente gaan uitlok.

Ek het die woord “swak” tussen aanhalingstekens geplaas, omdat dit parodoksaal genoeg ook ’n groot krag in hom verberg. Dit verwys naamlik na die fundamentele vryhede van ’n demokratiese samelewing.

As so ’n samelewing goed funksioneer, geniet almal ’n so groot as moontlike vorm van persoonlike vryheid en so min as moontlik onregverdige  ongelykheid.  Dit maak van die demokrasie ’n dinamiese, oop – en daardeur kwesbare – en ook moelike stelsel. Dit veronderstel naamlik  kompromisse  tussen die verskillende menings en dus ’n nimmereindigende politieke debat. Want die ideale van absolute vryheid en absolute gelykheid sal nooit bereik word nie. Eenvoudig omdat eersgenoemde  altyd lei tot anargie en chaos, en laasgenoemde tot ’n totalitêre diktatuur.

En dus sit ons met die onvolmaakte instrumente van die demokrasie, waarvan die vryheid van mening – en dus ook van protes – een is.

En nou het die volstrek wettige protes teen die wetsoortreding van Woolworths die wet van onbedoelde gevolge gehoorsaam deurdat dit verander het in ’n spontane en onvoorspelbare boikot en ons onsself dus moet afvra of dit nog ’n wettige vorm van protes is.

Die antwoord op hierdie skynbaar eenvoudige vraag is nie so maklik nie en hang af van die spesifieke omstandighede.

Twee voorbeelde.

In ’n lesing vroeër vanjaar oor tegnologie, die sosiale media en demokrasie het die bekende Nederlandse politikus Femke Halsema verwys na ’n protesaksie in 1960 van twee swart studente in die suide van die VS. Hulle het in ’n restaurant ’n koppie koffie bestel. Dit was in die tyd van segregasie tussen swart en wit,  en hulle is dus nie bedien nie, omdat hulle swart was.

Hulle het egter bly sit tot sluitingstyd. Die volgende dag was daar 27 studente, en die dag daaran  80. Toe kom daar nog 300 blanke studente wat hulle ondersteun. En uiteindelik lei dit tot proteste en teenproteste oor die hele Amerika, en is duisende mense gearresteer. Dit het die stryd vir gelykheid tussen swart en wit nuwe lewe ingeblaas en uiteindelik bygedra tot die moeisame proses van die geleidelike afskaffing van  segregasie .

En afgelope Saterdag lees ek in een van die Nederlandse koerante oor ’n storm van protes wat losgebars het in China toe ’n ma van ’n elfjarige dogtertjie in ’n heropvoedingskamp opgesluit is omdat sy dit durf waag het om te protesteer teen die feit dat haar dogter deur die eienaars van ’n  bordeel ontvoer is. Een van die eienaars was die plaaslike polisiehoof. Die ma is as gevolg van daardie protes  vinnig vrygelaat en met haar dogter herenig.

Amerika is ’n demokrasie, China is nie. Daar het die groeiende en goedopgeleide Chinese middelklas  sy eie vorms van demokrasie ontwikkel om die owerhede te wys op wetsoortredings of moreel onregverdige optrede.  En destyds in Amerika het ’n toenemende getal mense daardie vorms van – soms  wettige en dikwels onwettige – diskriminasie as strydig gesien met die gees van die Amerikaanse liberale demokrasie.

Uit bostaande word wel duidelik dat ’n regverdige protes in elk geval twee komponente moet bevat. Eerstens  moet daar ’n fundamentele en aanwysbare onregverdige situasie wees. Dit kan ’n wetsoortreding  wees deur ’n onderneming of ’n verkeerde gebruik van ’n wet deur ‘n (staats)instelling, maar dit kan ook die vorm aanneem van burgerlike ongehoorsaamheid teen ’n moreel onregverdige situasie.

In daardie laaste optrede lê natuurlik wel die gevaar opgesluit dat dit hand kan uitruk en dat dit dan gewelddadig kan word. En dit is die tweede voorwaarde vir ’n regverdige protes: dit moet geweldloos wees en bly. Want as dit gewelddadig word, dan slaan jy oombliklik die redes  onder jou eie voete weg waarom jy in die eerste plek daardie protes begin het, naamlik die verkryging van groter gelykheid en meer vryheid.

Deur geweld tas jy naamlik ander mense se reg op meer  vryheid en gelykheid aan, en daardeur verspeel jy elke morele reg op daardie protes.

En ja, as Afrikaner kan jy voluit gaan vir hierdie soort van geregverdigde protes. Ondanks die omstrede verlede van minderheidsregerings en diskriminasie teen ander bevolkingsgroepe.

Sonder om daardie verlede te vergoeilik, meen ek dat dit tans nie as argument gebruik kan word teen die reg van Afrkaners om teen oortredings van die Grondwet te protesteer nie. Want dit sou beteken dat een bevolkingsgroep net vanweë sy verlede nie dieselfde regte het op demokrasie as die ander bevolkingsgroepe in die land nie. Dis soos om teen die Duitsers te sê julle mag nooit volwaardig lid word van die Europese Unie weens die uitmoording van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog nie.

Protes is ’n onlosmaaklike deel van demokrasie, maar op voorwaarde dat dit die reëls van die demokratiese spel gehoorsaam.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ingrid Scholtz

Meer oor die skrywer: Ingrid Scholtz

Ingrid Scholtz was redakteur van WêreldBurger, ʼn bylae van Die Burger. Sy en haar man, Leopold Scholtz, het in 2007 na Brussel verhuis waar hulle ʼn nuwe kantoor vir Media24 geopen het. Ingrid skryf dikwels vir wetenskaplike tydskrifte.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae