Wat is gratis gedekoloniseerde, afrosentriese onderrig?

Studente betoog op die kampus van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU). Foto: Twitter via @Sparkey13

Studente betoog op die kampus van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU). Foto: Twitter via @Sparkey13

ʼn Sinsnede in ʼn koerantberig Maandagoggend, oor die onrus op verskeie Suid-Afrikaanse kampusse, het my nogal opgeval. Daarin som die ontevrede studente hul eise in dié woorde op: “Gratis gedekoloniseerde, afrosentriese onderrig”.

Baie mense is, begryplikerwys, ontstoke oor die wyse waarop die studente te kere gaan. Maar kom ons benader die saak yskoud en met gebruikmaking van feite en logika en kyk waarheen dit ons lei.

Uit die aanhaling blyk dit allereers dat die studente gratis onderrig eis. Nou ja, vir iemand uit ʼn arm agtergrond wat hom- of haarself diep in die skuld moet dompel om kwalifikasies te verwerf en ʼn ordentlike toekoms te hê, is dit begryplik.

Dié strewe het in beginsel my simpatie, want ek het ook grotendeels gestudeer met beurse wat nie terugbetaalbaar was nie. Ek verstout my om te sê ek sou ook sónder die beurse en mét ʼn kwaai gespartel bo uitgekom het, maar dit sou bars gegaan het.

Ek gun enige jong mens ʼn gratis opleiding.

Maar dan moet die harde vraag gestel word: Wie gaan daarvoor betaal? Van die studente se antwoorde was gladdebek: Die miljardêr Johann Rupert moet maar hoes. Of die staat. Of die wittes in die algemeen.

Met respek, jong mense, dis nie goed genoeg nie. In ʼn demokrasie, soos ons sʼn, is jy geregtig om alles wat jy maar wil te kritiseer, maar jou standpunt sal sonder morele geloofwaardigheid bly solank jy geen haalbare alternatief op die tafel kan plaas nie – en dit sluit die finansieringskwessie in.

Voorts soek die studente “gedekoloniseerde, afrosentriese” onderrig. Laat ons dié kwessie billik en onemosioneel ondersoek.

In die konsentrasiekampe, tydens die Anglo-Boereoorlog en in die Transvaalse en Vrystaatse skole onmiddellik daarna, het lord Milner leerplanne ingevoer wat daarop gemik was om die meerderwaardigheid van die Engelse taal en kultuur en die minderwaardigheid van die Afrikaners se geestelike eiendom by die kinders in te skerp. In Britse kolonies elders in Afrika en in Indië is die kinders verplig om Engelse stede en riviere uit hul kop te leer, maar bitter min oor hul eie lande.

Dít was “koloniale” onderrig. As dít die soort ding is wat die studente wil uitroei, het hulle my simpatie as Afrikaner.

Niemand minder nie as Kwame Nkrumah, eerste president van die destyds pas onafhanklike Ghana, het geskryf talle Afrika-intellektuele is só verwesters dat hulle van hul eie agtergrond vervreem word. As die studente dus met “afrosentries” bedoel die onderrig wat hulle ontvang moet relevant wees vir Afrika en Suid-Afrika, het ek geen probleem daarmee nie.

In die onlangse verlede het dit egter geblyk hulle wil aansienlik verder as dit gaan. Dit gaan oor ʼn ingesteldheid, ʼn anderse kyk na die wêreld, ʼn verskillende logika, ʼn ander geleerdheid wat wegbeweeg van die Westerse model en ʼn eie, unieke Afrika-manier.

Ek is dalk nou maar ʼn dom, verstokte ou man wat te vas in die Westerse manier van dink is. Maar ek moet beken ek verstaan dié soort houding maar ten dele.

Is dit dan eie aan Afrika om klasse te ontwrig? Om ander studente (wit én swart) wat wil studeer, wat lesings – Westers of te nie – wil aanhoor en toetse wil skryf, met geweld te verhinder? Is dit eie aan Afrika om ʼn biblioteek en universiteitsgeboue af te brand?

Is dít wat die studente te kenne wil gee? Indien wel, is dit ʼn aanklag teen Afrika wat hulle deur hul gewelddadige optrede sélf formuleer.

Maar kom ons kyk verder. Is daar iets soos ʼn eiesoortige Afrika-logika wat anders as Westerse logika is? Of is logika iets universeels, iets wat bo alle kultuurverskille staan?

Die “Westerse” logika het sy oorsprong in die antieke Griekse beskawing. Maar met die verval van die Romeinse Ryk, het dit amper-amper heeltemal verdwyn.

ʼn Flou kersvlammetjie is in die Westerse kloosters aan die gang gehou. En in die Bisantynse (of Oos-Romeinse) Ryk het dit ook behoorlik oorleef.

Maar die herlewing van logiese en wetenskaplike denke was te danke aan ʼn nie-Europese beskawing: Die Islamitiese Arabiere, wat in die Middeleeue ʼn hoë beskawing aan die gang gehou het, in ʼn tyd dat Europa in die greep van barbarisme was.

Die Arabiere het die geskrifte van Griekse geleerdes soos Plato, Aristoteles, Strabo, Polubius en ander bestudeer en dié denke self verder ontwikkel. Filosowe soos Ibn Roesjd, Ibn Sina (in die Weste bekend as Avicenna) en wiskundiges, soos Ibn Moesa al-Chwarizmi en Ibn Moeadh al Djajjani het die wetenskap enorm gedien. Ibn al-Haitham was die man wat die wetenskaplike metode (wat vandag nog gebruik word) behoorlik geformuleer het.

Sulke akademici en ander saam met hulle het ʼn regstreekse invloed gehad op die ontwikkeling van die Rénaissance in Europa. En laasgenoemde hergeboorte was van deurslaggewende invloed op die manier waarop wetenskaplikes vandag dink.

Daardie mense het nie “Westers” of “kolonialisties” te werk gegaan nie. Hulle het ʼn universeel geldige wetenskaplike metode van navorsing, ʼn kritiese houding teenoor hul bronne en herhaalde verifikasie gevestig.

En dit beteken dat ʼn Chinese kernwetenskaplike nie wesenlik anders te werk gaan as een uit Amerika nie. ʼn Indiese historikus benader sy bronne op basies dieselfde manier as ʼn kollega uit Duitsland.

Om dus “gratis Afrosentriese, gedekolonialiseerde” onderrig te eis is, as ek reguit mag wees, is pure onsin. Dit wys eenvoudig dat diegene wat dit eis, nie weet hoe die wêreld inmekaar steek nie.

Maar goed, kom ons wees regverdig. Ons praat van jong mense sonder veel lewenservaring.

Toe ek in hul skoene was – ek praat nou van die jare sestig van die vorige eeu, was ek ook absoluut daarvan oortuig dat die waarheid absoluut is en dat ék dit het. Jong, ek was net die mán! ʼn Haantjie.

Intussen het die hare op my kop yl geword en die wysheid het – hopelik – saam met die grysheid gekom. Ek besef nou ek weet nie alles nie. En as ek niks of te min van ʼn onderwerp weet (daar is baie van hulle!), hou ek liefs my mond.

Teen dié agtergrond is dit die plig van universiteitsowerhede om ferm te staan en nie toe te gee aan die gewelddadigheid van ʼn groep belhamels nie. Nie om self onredelik te wees nie, gee toe op punte waar die studente dalk iets beet het. Maar slap rûe lok net minagting – en méér eise – uit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Dark. O ·

Insiggewende artikel! Die vraag word al hoe meer gevra word waarom slegs die kurrikulum gedekoloniseer moet word en nie ook die tegnologie nie. Maar ai, die tegnologie is tog so gerieflik…

Johann ·

Ek sit en dink nou, as ek reg het, is een van die argumente van die studente dat die ANC het vir jare vir hulle/hul ouers gratis onderwys en dienste belowe, dis hoekom hulle nou so kwaad is. Nou, as die ANC dan populistiese uitsprake vir jare gemaak het en die jeug vat hulle nou aan daaroor, dan wonder ek nou nog te meer wat sou die EFF en Julius met hul ongelooflike polulistiese uitsprake (soos ‘n Donald Trump) sou maak die dag as hulle aan die bewind sou kom en die studente vat hulle aan omdat hulle hul beloftes verbreek het? Dan wonder ek of die mense, die ANC, Julius en die EFF inkluis, uit die studente se optrede ‘n les leer van beloftes maak skuld, al is dit sommer wilde verkiesingsbeloftes wat almal weet nie haalbaar is nie, maar wat maak jy die dag as verrekening aanbreek?

Pietman ·

Donald Trump = populistiese uitsprake? Regtig, hy is dan juis bekend om uitsprake te maak wat nie polities korrek is nie, dws uitsprake wat baie mense kan onstel en ontstig, maar weens sy persoonlike oortuiging nogsteeds sê. Tyd om bietjie weg te kom van hoofstroom media . Jy is reeds gebreinspoel.

Rupert Ashford ·

Mooi gese Pietman!!! Geen wonder Jakop Regop kry die meerderheid nog steeds ‘n rat voor die oe gedraai nie…

Johann ·

Hallo Pietman, het net my verwysing na Donald Trump jou gepla, of die hele kommentaar?

Ek sal ook Rupert se inset hieroor waardeer.

Johann ·

Terloops, in alle geval, volstaan ek met my kommentaar hier bo. (So tusen hakies, ongeag dit, sou ek graag hom as president wou sien ipv Hillary. Ek sou ook graag wou sien of hy al sy beloftes in sy termyn gestand sal doen.)

popeye ·

Ek stop vandag om Diesel in te gooi. Die joggie spin my, ” luister, jy het nie dalk ‘ kar om vir my te gee nie, julle wit mense het mos almal ‘n ekstra kar wat net daar staan…vir-niks-doen. Eerlik gese,was ek dadelik boos vir hierdie man so totale Neanderdal-begrip. Hoekom? Ek het met ‘n ; let wel, terugbetaalbare lening geswot. Op RAU saam my was daar swart, bruin en min, maar tog, Indiër studente. Ons het Afrikaans, Engels en Gebrabbel met mekaar gepraat. Ons was pelle, dog nie hand-om-die-blaas nie, maar ons het interaksie gehad. Hierdie joggie het besef ek toe, ook maar onder sy eie se breinspoelling deurgeloop. Sien, in sy wêreld is ALLES wat wit is boos, en bevoorreg, kom ons noem dit dan maar nie-afrosentries, kolonialisties. Ek het eenkant sooo gehoop hy trek dalk my been, helaas! Ek moes dalk meer tyd maak om met hom te praat en te help sien….insien…..weet julle wat? Ons is moeg, gatvol om teen dondeweer te skreeu. Op die stadium, voeter aan. Die lewe gaan jou kry en die lewe sien nie kleur nie!

Wicus ·

Ek is verward, ek verstaan nie wat gebeur in die groter prentjie nie. Die norms waaraan ek glo lyk my Werk nie meer nie. Ek worstel met wat besig is om om my te gebeur. Ek sien jongmense wat tevrede is om hul tyd op slimfone te verwyl, ek sien verveelde en gemaksugtige mense, ek sien lamsakkigheid, ek sien mense wat net wil he, ek sien mense wat alles gekry het maar dit verwoes, ek was in ‘n plaasskool, moes met lenings en vakansiewerk swot, ek het my eie kinders deur 10 jaar se universiteits gevat, ek wonder hoekom kan ander nie ook nie, ek was deur 2 jaar weermag en vele kampe en ek wonder hoekom, en ek sien ‘n groot gemors en ek wonder waar is ons en ons leiers en ek treur, treur oor wat my voorgeslagte deurgegaan het en ons geslag het alles net laat gaan en dis ‘n groot gemors hoe gaan ons hier uit of moet ons aanvaar ons beskawing is verby, vir altyd very ……….

Veritas ·

Wicus ek weet presies hoe jy voel. Vir my is dit asof die hele wêreld, in die laaste twee dekades, ‘n ommekeer gemaak het. Dit wat verkeerd was, is nou reg en andersom. Liberaliste het daarin geslaag om hul lewensbeskouing die norm te maak. Behoudende of konserwatiewe denke word vandag afgemaak as verkeerd in alle opsigte. Ek probeer om myself te oortuig dat nederigheid, bedagsaamheid en goeie maniere tog nog reg is, maar as ek na die mensdom om my kyk, wil dit voorkom asof ek in isolasie lewe, verwyderd van alle werklikheid. Bly om te hoor daar is nog mense wat deur dieselfde bril as ek sien.

Pendoring ·

@ Wicus & Veritas – Die beste voorbeeld van presies HOE deurmekaar ons wêreld geword het in die laaste 20+ jare is die feit dat jy vir plastieksakke moet betaal en kondome word gratis uitgedeel. Dis seker wat hulle bedoel met Afrosentriese logika.

Ek ·

Ek werk saam met n kollega wat net eenvoudig aanhou se “It’s the African way to burn down buildings, destroy and protest to get what we want”. Skrikwekkend as sy namens “all Africans” praat, want nie almal redeneer so nie.

Afrika tegnologie ·

Watse tegnologie en akademiese bydraes kom uit voor koloniale afrika?

Johann ·

Ongeag die voor of na, as ek reg het, was daar buiten vir mense soos Chris Barnard, Elon Musk en daardie Suid Afrikaner wat aan die ruimtetegnologie, sy naam het my nou ontgaan, behoort was daar geen sodanige mense uit Afrika nie.

DewaldS ·

Johann – jy kan seker nie ernstig wees nie? Wat van George Pratley – wie se uitvinding van Pratley Putty deel gevorm het van die VSA se ruimte-sendings? Wat van Alan Cormack, Max Theiler en Sydney Brenner, en Aaron Klug wat almal Nobel-pryse ontvang het? Wat van almal wat al genomineer is vir Nobel-pryse en dit net-net nie gekry het nie? Wat van Sasol, Yskor, Krygkor, Natref, Dorbyl, Evkom en al die ander instansies wat soveel dinge nagevors, ontwikkel en daargestel het? Daardie dinge berus op duisende groot en klein akademiese en tegnologiese bydraes. Of dink jy daai goed het sommer uit die lug geval of is sommer gou ge-‘google’?

Ek glo jy praat uit onkunde want jy was nooit betrokke in die Suid-Afrikaanse industrie nie – julle outjies wat eerder uitwyk Holland toe (en dan terugvloek oor die water) hou mos nie van die werklikheid (en van vuil hande) nie. En julle projekteer nou maar al julle ongelukkigheid met die wêreld se realiteite op die Afrikaner?

Daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie…

Johanna ·

DewaldS, al die maatskappye wat jy so opnoem, was gewees. Hulle is almal daarmee heen. Hulle het werk aan derduisende mense verskaf asook opleiding, maar nou word net die grondstowwe aan die Chinese verkoop en niks word meer hier gemaak nie. Anglo, De Beers en die hele rembrandt groep se hoofkantore en geld is lankal in die buiteland. Hier gaan ons nog mekaar se kele afsny vir water, want hier die suid stukkie van afrika is opgebruik, oorbevolk en leeg gesteel!

Johann ·

DewaldS, ek het daardie name uit my kop geskryf. Jy is egter op die regte spoor met wat ek probeer bewys het. Ek het wel gesê dat daar geen sodanige mense uit Afrika was nie. Ek het dit so gestel omdat ek gedink het as ek sou sê ‘swart mense’ uit Afrika, dit gesensureer sou word, maar dit is waaragter ek was. Ek sien nie ‘n tipiese Afrika van uit die mense wat jy genoem het nie.

Ek dink nie daar is of was één akademikus of sodanige persoon wat inset tot die vooruitgang of tegnologie in die wêreld gelewer het nie.

TTh ·

ek dink dit is om afrikane onder ‘n boom van hul voorvaders te leer (wat ooit geen waarde toegevoeg het tot enige iets nie), dit is al wat dit is

Otter ·

Spreuke 9:10: Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here , en kennis van die Heilige is verstand.

Spreuke 14:1: DIE wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.

Flippie ·

Ek dink Leopold Scoltz is uit voeling met die realiteit. Hy verstaan nie waarmee die studente besig is nie.

Verder rek jy die waarheid van die gedkiedenis om homself te weerspreek.

Leopold Scholtz ·

Beste Flippie, met alle respek – ek dink nie jy het verstaan wat ek wou sê nie. Geniet die naweek!

Jaydee Jaguar ·

Hiermee `n haikoe: Wat is die ergste …..`n rottang of rubberkoeëls ….. sielkunde of slae? ….. Hoelank voor `sielkunde` sy vrug van rubberkoeëls moet ryp druk om skerppunt ammunisie te word.? `n Herhaling van die Tiamanmenplein in China? Aan jou vrugte word jy mos geken. Dankie Leopold.

Riaan Bensch ·

Ek het ook soos baie ander my eie lewe gemaak wat dit vandag is sonder eninige finansieele bystand, die studente soek net alles gratis sonder om een oomblik te dink aan die rippel wat dit veroorsaak. Daar is n’ beter opsie….. as jy dit nie kan bekostig om te studeer nie hou op slap-gat wees en gaan werk om vir jou studies te betaal, julle is nie so spesiaal en verheuwe nie! Ek wil ook net noem , ek as werkgewer sal nie n’ werknemer aanstel wat oor hierdie periode by die instansies studeer het en betrokke was by die tipe gemors nie en ek glo baie ander werkgewers het die selfde siens-punt.

Hendrik ·

Suid Afrikaners is, net soos alle ander wêreld burgers, deel van die “global village”, of ons daarvan hou of nie. Hoe op aarde “afrosentriese” onderrig enigeen gaan toerus om ‘n rolspeler in ‘n wêreld ekonomie te wees, is nie duidelik nie. Wat gratis tersiêre onderrig aanbetref: Studente wat met beurse studeer, word gewoonlik vereis om die beurs terug te werk aan die beursverskaffer sodat die instansie die waarde van die belegging kan benut, of dan van ‘n uitkoop opsie gebruik te maak. Sal hierdie “Afrosentries” opgeleide graduandi bereid wees om hulle nuut verwerfde kwalifikasies sleg tot die beswil van Suid Afrika se belasting betalers aan te wend? Hulle gaan nie regtig ‘n keuse hê nie, aangesien hul kwalifikasies slegs hier (debateerbaar) erken sal word.

Frans C ·

Die ‘we want generasie’ besef nie dat sonder ‘n ekonomie wat groei en waarin werksgeleenthede geskep word is alle geleerdheid te vergeefs en dat beter is om ‘n een of ambag te beoefen, waarmee jy die skade wat hul berokken kan herstel.

Klaus ·

Mooi, Leopold, maar in my ondervinding as jy “sense” praat luister mense nie.

Theuns ·

Klaus ek stem saam met jou maar terwyl ek nou hier skryf tref dit my soos ‘n vuishou tussen die oe! Gratis gedekoloniseerde en afrosentriese onderwys kan saamgevat word onder een woord nl. “die evolusie leer!” Dit is wat hulle wil leer terwyl ons ander ouens se oe of die sterre en toekoms gerig is. Groete.

Theuns ·

Leopold baie dankie dat jy daar uit Nederland vir ons skryf. Dit gee aan jou ‘n buitengewone geleentheid om perspektief te he oor wat in die land aangaan (Jy kyk van buite af na ons probleme) en saamgevleg met jou besonderse ervaring in die Suid Afrikaanse politiek lewer jy kommentaar wat die meeste van die lesers op Maroela geniet! Dit is altyd moeiliker om te oordeel as jy te naby aan ‘n probleem is. Doen so voort. Ons het jou baie nodig! Groete.

Se maar net ·

Ek werk saam met ‘n kollega wie se susterskind matriek 2 maal moes herhaal en toe teen wil en dank Ingenieurswese wou gaan “swot”. Weet nie hoe sy toelating gekry het nie!?! Sy het die eerste jaar hopeloos gefaal en ‘n tweede jaar probeer. Weer ‘n paar vakke gedruip. Dit is net die tekort aan finansies wat hierdie student gestuit het. As tersiere opleiding gratis was, was hierdie einste student seker al in haar laaste (10) jaar van studie en van voornemens om ‘n hoogbetaalde pos as onbekwame ingenieur iewers te “demand”. Waar is alles heen oppad?

Derik van Wyk ·

Baie goeie artikel Leopold. Miskien kan daar ‘n opvolg artikel wees oor die oorsprong van hierdie “Afro-sentriese onderrig” eise. My gevoel is dat die ANC en ander bevrydingsbeweging sulke saadjies geplant het in die Apartheidsjare om steun te verwerf, maar dat daardie saadjies nou ontkiem het en terugkom om hulle te byt.

Dieselfde geld die studente se ander eis – gratis onderrig (deur die ANC belowe in 1994) en die modus operandi waarmee hulle te werk gaan, nl. om grootskaalse simpatie met hul saak te verwek om die morele hoëgrond te verkry, en daarna geweld te gebruik om hul eise af te dwing.

Skrif ·

Maar Afrika het dan nognie eers skrif gehad nie, en skrif is noodsaaklik vir akademie.

Chris du Plessis ·

Ek het absoluut geen probleem daarmee dat swart Afrikane gedekoloniseerde Afrikaniseerde onderig wil he nie.
Maar dit is beslis nie wat ek vir my kind wil he nie. Afrikaners net soos enige ander volk het n reg op selfbeskikking en deel van daardie reg is om instansies te he wat hul taal en kultuur en sosiale status self bepaal volgens eie behoefte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.