Wat is in ‘n naam?

Shakespeare het dit in die mond van Juliet gelê (en verskoon die los vertaling): “Wat is in ‘n naam? ’n Roos by enige ander naam ruik net so soet.”

As dit waar is, dan hoort daar geen debat te wees oor die honderde nuwe name van strate en stede in Suid-Afrika nie. En tog, word daar ‘n naam van ‘n stad verander, laat baie (veral Afrikaner) stemme hulself hoor, asof daar iets intrinsiek in die dorp of stad se wese verander het met die verandering van sy/haar naam.

Maar dít, reken ek, is juis die punt: Wat is in ‘n naam? Baie. Identiteit. Eienaarskap. Geboortereg. Herberg. “Tshwane” is eenvoudig nie “Pretoria” nie. Miskien moet die mense wat daardie stad noord van Johannesburg gestig het dit nou maar Menlyn begin noem, ‘n naam wat waarskynlik nader aan die hedendaagse Afrikanerhart lê as Tshwane of selfs Pretoria, veral gegewe die waardes wat vandag in die leefstyl van Menlyn se burgers uitgeleef word. (Vir meer hieroor lees gerus Johann Rossouw se uitmuntende boek ‘n Rooi Z4 en ‘n renaissance kasteel.)

As jy ‘n volk wil uitwis, wis uit sy verlede. Soos ek en Sean Else in Ons Vir Jou geskryf het:

“Enige volk, nes enige mens, wat nie onthou wie hy was nie, sal nie weet wie hy is nie, en kan nie droom oor wat hy nog kan wees nie”.

(Ek kan my net indink watse versoeking dit vir die ANC was om die Voortrekkermonument plat te trek. Maar het hulle dit gedoen was daar ‘n burgeroorlog. Dit, vermoed ek, het hulle besef. Toe bou hulle Freedom Park op die randjie langsaan, en laat moedswillig die name van die siele wat gedurende die Grensoorlog geval het moedswillig uit, asof daardie oorlog nooit gebeur het nie, of nie deel was van die vorming van ons land nie. Nou staan al daardie siele se name op ‘n muur by die Voortrekkermonument, ‘n monument wat mens, anders as die monument op die randjie langsaan, op ‘n mooi dag al die pad van Johannesburg kan sien. Die geskiedenis wys: hoe dieper jou kennis hoe hoër sal jy bou.)

Maar om terug te kom by my punt: hierdie is nie die eerste of laaste land in die wêreld waar ‘n nuwe mag die vorige mag se voetspore probeer uitwis nie. Toe die Nasionale Party in ’48 die heersende mag geword het, het baie Engelse name verdwyn, en sekerlik amper elke laaste Engelsman uit die staatsdiens. Maar wat my pla is: as apartheid se nalatenskap uitgewis moet word deur die verandering van stadsname, hoekom is Soweto nog Soweto? Die naam is per slot van sake ‘n prototipe apartheidsskepping. So my posisie is hierdie: verander gerus die naam van elke stad in die land, maar begin asseblief met Soweto.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Opperman

Deon Opperman is dramaturg met onder meer Ons Vir Jou en Tree Aan! op sy kerfstok.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.