Wat is jou reaksie?

blomme-liefde-geskenk

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Deur René Basson, die sake- en bemarkingsbestuurder van Intiem Tydskrif

Kyk en luister ʼn mens na die nuusgebeure die afgelope weke voel dit soms of ʼn staalhand om jou keel sluit. Afwisselende emosies warrel deur jou en woede, frustrasie, ontsteltenis en magteloosheid dreig om jou te oorweldig. Die veiligheid van geliefdes druk swaar op jou hart en ʼn desperate sug ontsnap oor jou lippe in die besef dat daar min is wat jy aan die groot prentjie van ons werklikheid kan doen.

ʼn Mens lees dikwels die kommentaar onder aan bekende Afrikaanse webwerwe se nuusberigte. Dit is duidelik dat die meeste mense dieselfde emosies ervaar want dit is ons elkeen se leefwêreld vir die hier en nou. Die kommentare vuur ander aan en kort voor lank is die nuusberig nie meer die onderwerp van kommentaar nie, maar wel die ander se kommentaar. Individue wys mekaar tereg, aannames word gemaak, uitsprake word gemaak en die bose word al boser.

Dit is haas onvermydelik dat deelname hieraan ʼn effek het, nie net op die deelnemer nie, maar ook op die gemeenskap waarvan hy/sy deel is. Die gemeenskap is heel moontlik net die gesin – maar hierdie is juis jou geliefdes.

Niemand kan die realiteit van ons leefwêreld eenvoudig ontken, misken of ignoreer nie. Wat gebeur om ons en met ons, kan ons nie altyd beheer maar ons reaksie wel. Dit is juis hierdie reaksie wat ʼn effek op almal om ons het. Elke reaksie is ʼn keuse met gevolge.

Wat is jou reaksie op al hierdie negatiewe nuusgebeure? As Afrikanervolk leer ons van kindsbeen dat die Woord van God ons kompas is, ons handleiding om volgens te leef. Juis daardie Woord leer ons dat ons ons harte moet bewaar; dat jy is soos wat jy in jou hart is; dat dood en lewe in die mag van die tong is; dat ons God moet aanroep in die dag van benoudheid.

Lees ʼn mens baie van die kommentare is dít wat die Woord ons leer, verreweg die minderheid se reaksie. Elke hoopvolle kommentaar, elke erkentenis van ons afhanklikheid van God, elke positiewe motivering, trooswoord, uitspraak is ʼn helder lig in die oseaan van donker, negatiewe kommentare.

Selfs die nuuswaardige berigte is nie net negatief nie – hoe onbeskryflik groot wys God ook sy genade, liefde en betrokkenheid vir en by die mensdom wanneer ons sien en lees van droë damme wat weer oorloop, van ʼn gesin wat sy troos beleef in die omgee van ander nadat hulle in ʼn gru-ongeluk betrokke was waar kosbare kinders gesterf het en ʼn mamma lank om haar lewe geveg het.

Dan wéét ons God is steeds God. Mag God sigbaar wees in elke reaksie op gebeure rondom ons. Hy leef in die lofsange van sy kinders – negatiewe uitsprake sonder hoop en lewe is teelaarde vir die vyand om die oorhand te kry.

Omhels jou geliefdes meer gereeld sodat hulle sonder twyfel weet hoe lief jy hulle het, hoe besorgd jy oor hulle is. Spreek sy vrede oor hulle, seën hulle, bid sy beskerming oor hulle af. Ons almal is hier vir ʼn rede – laat joune ʼn sinvolle, positiewe uitwerking hê op almal om jou.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

humor ·

Na n volle dag nog geen enkele kommentaar nie. Weerspieel dit iets van ons lesers se geloofs lewe.? Baie dankie dit is n baie sinvolle inset en beweeg my tot die besef dat dit noodsaaklik is om my VERLOSSER elke oomblik in beheer van my lewe te plaas. Hoe dikwels faal n mens nie in hierdie hartseer chaos land nie?

Hannah ·

Hierdie land en sy mense gaan deur ‘n baie moeilike periode of seisoen… dit word toenemend belangrik dat ons stiltetyd nie sal verwaarloos. Daar is dae wat ek so woedend word…baklei met GOD… myself herinner HY is in beheer en sal ALTYD wees! Ek dink so baie aan JESUS se vraag – of HY nog geloof sal vind wanneer HY kom. Hou net vas aan GOD se beloftes. Psalm 91 my gunsteling! Ons mag nie vrees en kommer as jy aan GOD behoort.

gatiep ·

As ons nie kan debat en mekaar regwys en skel nie gaan ons nerens kom nie en vir ewig verskil van mekaar.Ek hou meer van die kometare lees as die berig,want dan kan ek sien hoe ons mense is en ek leer ook daaruit.
Meskien praat ek ook nou iets waarvan iemand nie hou nie en ek sal hou daarvan as iemand my tereg wys.Dit is net my opienie niemand hoef saam te stem met dit wat ek se nie want daar is baie ander goed waaroor ons saamstem meskien.

TDW ·

Hier’s vir jou ‘n drukkie _( )_
Ek is mal oor jou artikel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.