Wat is my rol in die verkiesing?

Foto: Facebook.com

Foto: Facebook.com

Deur Barbara Strydom, lid van die Dameskring

Dit is weer verkiesingstyd in ons land. Op 3 Augustus 2016 word van jou verwag om jou stem uit te bring ten opsigte van jou eie leefruimte. Jou stem tel beslis en daarom is dit noodsaaklik om te gaan stem.

Die munisipale verkiesing is van veel groter belang vir jou as individu omdat jy deur jou stem uit te bring, die omstandighede van jou eie plaaslike leefruimte kan bepaal.

Die regering word deur die stemgeregtigdes verkies en daarom moet jy sorg dat jy geregistreer is (en herregistreer as jy verhuis het). As jy verandering teweeg wil bring, moet jy deelneem, anders mag jy nie eens kla nie! So nie, versuim jy jou plig en jy sal daarom maar die uitslag moet aanvaar.

Onthou: demokrasie is ʼn gesindheid!

Wat doen jý om by te dra tot die instandhouding van ons demokrasie?

Wat kan ek doen?

  1. Skole: Sterk, suksesvolle skole bestaan omdat hulle sterk beheerliggame het wat verkies is deur ouers wat hul verantwoordelikheid op waardige wyse nakom en kom stem het.

Was jy daar toe gestem is? Het jy jou vaardighede en kennis beskikbaar gestel? Is jy teenwoordig as daar ʼn ouervergadering is? (Gaan pas jy die kleinkinders op sodat die ouers kan gaan stem?) Woon jy skoolaktiwiteite by? Is jou bloedjie altyd reg en die onderwyser altyd verkeerd?

  1. Mediese fonds: Het jy aan die verkiesing van trustees vir jou mediese fonds deelgeneem, of kla jy net?
  1. Huisgesin: Vroeër was die ouer se woord wet en ʼn kind moes gesien en nie gehoor word nie. Nou gesels ons om die familietafel, hoor mekaar se menings. Dit is deelnemende bestuur, en almal aanvaar verantwoordelikheid en gee erkenning aan regte. So leer ons respek vir mekaar se menings. Demokrasie in die huis!
  1. ʼn Regstaat: Waldimar Pelser  skryf in Rapport 2014 die volgende:  “Die staat se jongste planne om byvoorbeeld drankadvertensies te verbied, is bespotlik. Ook die vermorsing van belastinggeld wek weersin. Maar ons heil as nasie lê in ʼn groot mate in die beskerming van die Regstaat – ʼn land wat deur wette in stand gehou word. Dit sluit ongewilde wette in, tot die howe die wet skrap. Die selektiewe verontagsaming van ongewilde wette sal tot ʼn onhoudbare situasie lei, waar elkeen van ons wette minag wat jy as onregverdig beskou.”
  • Hou jy by ʼn stopstraat stil?
  • Sê jy jy sal nie tolgeld betaal nie?
  • Spaar jy werklik krag of kritiseer jy net vir Eskom?

Stem en leef aktief saam op byvoorbeeld dorps- stads- en streekgebied. Leef met ʼn positiewe gesindheid van vertroue en nie slegs met ʼn kritiese ingesteldheid nie. Wees ʼn deelnemer – die beste stuurlui staan aan wal, maar beteken niks vir die “demokratiese skip” se voorspoedige vaart nie.

  • Die Dameskring is ‘n kultuurorganisasie vir Afrikaanssprekende Christenvroue.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.