‘Wat is ’n Afrikaner?’

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

In 1968 – ek was ’n tweedejaarstudent op Stellenbosch – het die regisseur Jans Rautenbach ’n nuwe rolprent uitgebring met die titel Die Kandidaat. Van die storie onthou ek nie veel nie; wel dat ’n aantal vrae wat destyds as lastig en selfs ondermynend ervaar is, daarin behandel is.

Een van die vrae, wat eintlik maar so half terloops gestel is, was: “Wat is ’n Afrikaner?”

Dit het aanleiding gegee tot lang artikels in veral die Sondagkoerante, waarin “verkramptes” en “verligtes” derms uitgeryg het oor hoe die karakter van die Afrikaner lyk (of sou moet lyk).

Sommige, kan ek onthou, het die Afrikaner baie idealisties voorgestel. ’n Afrikaner, is gesê, is konserwatief en regs, eerlik, Christelik (verkieslik lidmaat van een van die drie Afrikaanse kerke) en sit elke Sondag in die kerk, stem vir die Nasionale Party, lieg nooit, Afrikanerdogters is almal maagde as hulle in wit voor die kansel staan… en gaan so maar verder.

Ander het gesê ons Afrikaners is maar net ménse. In mindere of meerdere mate goed én sleg, eerlik én oneerlik, verlig én verkramp, kuis én onkuis.

Dis aan dié debat dat ek moes dink toe ek verlede week ’n onderhoud met die skrywer Dana Snyman in die Naspers-koerante lees. Snyman het die skisofrenie in die hart van die Afrikaner (wat sedert die jare sestig nie minder geword het nie) goed verwoord toe hy sy stemgedrag van 1994 verklaar het:

“Nasionaal het ek vir Nelson Mandela gestem, vir die ANC, en plaaslik het ek vir Constand Viljoen gestem – en ek het nie soos ’n skisofreen gevoel nie! Dit het vir my amper gegaan oor persoonlikhede. Dit het gegaan oor Madiba – hei, ek’s aan sy kant! Maar in my hart het ek vir Constand Viljoen gestem.

“En dit is dit. ’n Ou is ’n Afrikaner, dis net wie ’n mens is, maar jy wil ook deel wees van die nuwe ding.”

Die Zoeloes praat van die mens se twee harte. Die een hart sê vir jou dít; die ander sê dát. En uiteindelik moet jy ’n keuse maak óf die twee op ’n manier probeer systap óf juis met mekaar versoen.

Op sy eie onnavolgbare manier het wyle Piet Cillié dit ook verwoord. Oor die verlig-verkramp-stryd van die jare sestig het hy daarop gewys dat daar iets verligs in elke verkrampte Afrikaner skuil en iets verkramps in elke verligte een.

Die vraag is hoe jy daarmee omgaan, veral in die huidige Suid-Afrika, waar die Afrikaners nie meer die kitaar slaan nie. Waar sommige Afrikaners steeds hunker na die dae dat ons, ons landgenote vinnig op hul plek kon sit, en waar sommige ander Afrikaners weer hul bes doen om moedermoord op Afrikaans te pleeg.

Laat ek in alle beskeidenheid my kaarte op die tafel lê. Ek is ’n Afrikaner wat, noudat ek afgetree is, agter die liefde aan in Nederland woon. Ek sal in my hart nooit iets anders as ’n Afrikaner kan wees nie.

Trouens, ná ’n dekade in die buiteland ontdek ek dat ek in ʼn sekere sin steeds minder van ’n Suid-Afrikaner en steeds meer van ’n Afrikaner word.

Maar ek moet mý Afrikanerwees behoorlik omskryf. Want soos ek die begrip Afrikaner sien, is nie soos sommige ander dit sou definieer nie.

Ek verbind Afrikanerwees pertinent nié met ’n wit vel nie. Trouens, ons Afrikaners ís nie “suiwer” wit nie; navorsing wys dat 5-7% van die Afrikaners se gene van gekleurde voorouers (hoofsaaklik uit Asië, maar ook ’n bietjie Khoi) kom.

Met ander woorde, die genetiese verskil tussen ons en die groep wat deesdae as die bruin mense bekend staan, is bloot gradueel: Ons is minder bruin as hulle.

Vir die res deel ’n oorweldigende meerderheid van die “wit” Afrikaners en bruin mense ’n taal, ’n godsdiens en ’n kultuur. Wat wel waar is, is dat daardie moeilik definieerbare gevóél van identiteit ook enigsins verskil – daar is min bruin mense wat hulle as Afrikaners sou definieer en andersom.

Nietemin is dit belangrik om “wit” as bepalende faktor by “Afrikaner” los te koppel. In die tyd waarin ons leef, is dit die dood in die pot. Daarmee vervreem jy met ’n pennestreep potensiële bondgenote wat kan help om Afrikaans te laat oorleef; daarmee gee jy die linkervleuel van die ANC, die EFF en die Stellenbosse “moedermoordenaars” ’n argument op ’n skinkbord.

Ek onthou nog, toe die Stellenbosse taaldebat op sy hoogtepunt was, hoe ons Afrikaans-gesindes verwyt is dat ons die taalkwessie maar net as voorwendsel gebruik om die universiteit lelieblank te hou. Wat die meeste Afrikaansgesindes betref, was dit ’n flagrante – selfs gewetenlose – leuen, maar daar was wel “wit” Afrikaners vir wie dit waar was. En hulle het die Afrikaansgesindes se poging beduidend verswak.

Dit laat ons nog steeds met die vraag: Wat moet die rol van die Afrikaner – inklusief gedefinieer – in vandag se Suid-Afrika wees? Hoe moet jy met die maghebbers omgaan?

Die vraag is natuurlik presies wat jy wil bereik. Wil jy goed vóél, of soek jy ’n gewaarborgde posisie vir Afrikaners en Afrikaans?

Is eersgenoemde die geval, laat waai Meraai. Sê die ANC sleg dat die see hom nie kan afwas nie. (Die vader weet, ’n mens hoef nie ver na materiaal te soek nie.)

Dan maak jy die swart mense die josie in; hulle slaan hakke in die sand en beneuk jou verder. Maar ten minste vóél jy goed.

Is laasgenoemde jou doel, trap versigtig en dink twee keer voor jy iets sê. Sonder om die ANC- of EFF-narratief huidjie en muidjie oor te neem, dink terug aan hoe gevoelig ons Afrikaners nog vir dekades was oor die hovaardigheid en arrogansie van die Engelse teenoor ons.

Met ander woorde, moenie onnodig dinge sê of doen wat teen ons gebruik kan word nie. Soms moet jy vir jou eie regte opstaan en reguit praat. Wees ferm, maar bly hoflik.

Ek weet nie alle lesers is Christene nie, maar vergun my tog om Paulus (Rom. 12:21) aan te haal – wyse woorde wat ’n baie diep indruk op my gemaak het: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Uiteindelik kan ons met dáárdie houding nie verkeerd gaan nie, al verloor ons ook elke geveg.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

102 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Moet tog net nie die woord “Afrikaanses” gebruik.

John

Onse dominee met sowat 7% ander gevoelentes in sy hart wil nou, o ek het vergeet om dit te noem, gelukkig genoeg is om oor die liefde… ja die liefde, ‘n goeie rede hè om weg te hol, en nou sy skuld bely. Ek het nog nooit soveel onwetenskaplikhede uit ‘n skuldige gewete se mond hoor nie… Hoe lyk dit met ‘n besoek aan die Sonde-kommissie wat kwytskelding gee aan so 7% van mens se gevoelentes en skisofreniese vingertjie, a la Dana Snyman en Mandela, ons skrywer se bloed-grootjie-nasaat. Daar is baie versies in die Bybel dominee… Oppas vir draadsit…… Lees meer »

Karel

Ek kan nie help dat ek wit is nie, maar ek is van geboorte af ‘n Afrikaner. Filp Buys beskryf ‘n Afrikaner as ‘n persoon wat hom met die Afrikaner se bestaansgeskiedenis vereenselwig.

Rasper

‘n Baie eerlike skrywe. Word waardeer. Ek is ‘n Afrikaner, want ek weet ek is. Soos ‘n Skot en Engelsman wit is, en geneties seker maar dieselfde is, weet elkeen wie hy is. Vra ‘n Skot of hy ‘n Skot is, en hy sal dit bevestig. Vra ‘n Afrikaner of hy ‘n Afrikaner is, en hy sal dit bevestig. Ek persoonlik dink dat ons moet vir erkenning baklei as Afrikaner in Afrika, en nie as wit/blanke nie. Wees trots om ‘n Afrikaner te wees, nie om wit te wees nie. Ongelukkig het ‘n Skot ‘n Skotland, en ‘n Sjinees vir… Lees meer »

Nico K

‘n Belangrike punt wat gemaak word is dat ons vergeet dat die swartes nog nie apartheid vergeet het nie. En dit was die groot fout wat die meeste blankes in 1994 gemaak het. Hulle het geglo dat na 94 gaan almal alles gaan vergeet en ons gaan lank en gelukkig in een land saamleef. Dit was baie naief as ons dink hoeveel mense vandag nog so vreeslik die Engelse verwyt vir alles. My pa is twee geslagte na die Anglo Boere oorlog gebore en hy haat die Engelse vandag nog! So ja hulle gaan nie apartheid gou vergeet nie.