Wat is ʼn ‘verkeerde keuse’ in ʼn vrye samelewing?

Deur Martin van Staden

Argieffoto (Foto: Unsplash)

President Cyril Ramaphosa het in Februarie vanjaar Suid-Afrikaners gerusgestel dat inentings nie verplig sal word nie, dat Suid-Afrikaners inkopies sal kan doen sonder om ingeënt te wees, en dat hulle reisplanne en opvoeding nie ondermyn sal word weens hul inentingstatus nie. Teen November het Ramaphosa sy deuntjie verander: verpligte inentings word nou wél ondersoek.

Sou die regering voortgaan met verpligte inentings, het die president dan in Februarie ʼn duidelike leuen vertel. Hyself het juis in daardie einste toespraak herhaal: “Niemand sal forseer word om in te ent nie. Laat ek myself herhaal: Niemand sal forseer word om in te ent nie.” Om van só ʼn ondubbelsinnige standpunt af weg te stap, kan as niks minder as oneerlik geag word nie.

Diegene wat egter ten gunste is van verpligte inentings meen dat die president wel by sy woord kan hou en terselfdertyd verpligte inentings goedkeur. Die probleem, meen voorstanders van verpligte inentings, is dat die president te goeder trou aangeneem het dat ʼn baie groter aantal Suid-Afrikaners teen hierdie tyd vrywillig ingeënt sou gewees het. Dit het nie gematerialiseer het nie. Dwang is die enigste uitweg, lui die argumente verder.

Wat hiermee bedoel word, is dat miljoene Suid-Afrikaners die “verkeerde keuse” gemaak het. In Februarie was Ramaphosa van mening dat die staat die besluit om in te ent by die individu gaan laat – hulle kan óf vir óf teen inenting besluit. Maar te veel het die “verkeerde” opsie uitgeoefen, en dus kan inentings nou regmatig verplig word.

Daar is iets baie onheilspellend onderliggend aan hierdie standpunt. Dit is ʼn politieke benadering waaronder ʼn nuwe konseptualisering van sogenaamde “vryheid” bevorder word: jy is vry om te maak soos jy wil, maar indien jy iets doen waarvan die politieke maghebbers nie hou nie, sal jou vryheid ingeperk word. Hierdie is natuurlik geen werklike “vryheid” nie. Indien ʼn “verkeerde keuse” daartoe kan lei dat dwangstappe teen jou geneem mag word, kan dit nie gesê word dat jy óóit werklik ʼn keuse gehad het nie. Daar was in werklikheid slegs een keuse: jy moet inent.

Al word die argumente van voorstanders van verpligte inentings, soos hierbo uiteengesit, dus aanvaar, was Ramaphosa steeds oneerlik. Sy woorde en sy bedoeling in Februarie vanjaar was teenstrydig: Hy het gesê Suid-Afrikaners het ʼn vrye keuse, maar hy het bedoel dat hulle slegs mag kies om in te ent.

Hierdie beginsel geld nie net as dit by inentings kom nie. ʼn Ander prominente voorbeeld in die Suid-Afrikaanse politiek is Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), wat vir die doeleindes van hierdie stuk ook regstellende aksie en sogenaamde “billike indiensneming” insluit.

In die eerste jare van die SEB-beleid is dit as “vrywillig” bestempel. Besighede is “aangemoedig” om meer swart werknemers in bestuursposisies aan te stel en ook swart aandeelhouers en vennote te verkry. Besighede sou kwansuis nie gedwing word om dit te doen nie – ten minste nie regstreeks nie – maar hulle sou oënskynlik daarby kon baat met vrywillige deelname.

Twee dekades later sit ons met die Wysigingswet op Billike Indiensneming wat die minister van arbeid magtig om vir besighede voor te skryf wat hulle sektorale teikens vir SEB moet wees. Voorheen het besighede uit eie beweging hierdie planne opgetrek en aan die owerhede gestuur, maar nou sal die minister dit namens hulle doen, en hulle moet dit nakom anders verbeur hulle dalk ʼn lisensie of ʼn permit om besigheid te kan doen. Dan is daar ook die nuwe Regsektorkode wat voortaan soortgelyke sektorale rasteikens vir prokureurs en advokate sal voorskryf. Dit alles weens minder ywer oor tyd om vrywillig aan hierdie prosesse deel te neem. “Doen dit vrywillig, of ons verplig jou.”

Waarom word hierdie nuwe ingrypings voorgestel en aangeneem? Volgens talle politici oor die afgelope paar jaar is dit omdat die privaatsektor “nie vinnig genoeg transformeer nie”. Daar word aangevoer dat SEB nou vir dekades lank vrywillig was – besighede is die geleentheid gegun om te transformeer, maar hulle het die verkeerde besluit geneem om nie met oorgawe te transformeer nie, of om ʼn skyn van transformasie voor te hou. Die regering het volgens hom dan nou geen ander keuse as om ingrypend transformasie af te dwing nie.

Daar is baie kenmerke wat aan die bogenoemde tendense toegedig kan word, maar “vryheid” is nie een van hulle nie.

Indien mense uitgenooi word om keuses uit te oefen, moet die keuses wat uiteindelik uitgeoefen word tog deur maghebbers geduld word. Die regering en politieke elite hoef nie van die keuse te hou of dit te respekteer nie, maar hulle moet dit verdra. Hulle móét die vryheid van elke individuele regsubjek of besigheid wél respekteer.

Die idee dat alle keuses geduld moet word, is natuurlik nie omvattend van gevalle waar misdadigers byvoorbeeld “kies” om te moor, te verkrag of diefstal te pleeg nie. Dit het immers nie met “keuses” te make nie, want dit druis fundamenteel teen die idee van vryheid in. Dosyne generasies het oor regskulture heen al hierdie “keuses” as onbestaanbaar met vryheid tipeer, omdat hierdie “keuses” juis in hul wese die vryheid van ander uit die weg ruim.

Wat Ramaphosa se Februarie-toespraak egter betref, het hy uitdruklik die besluit om nie in te ent nie as ʼn beskikbare keuse identifiseer. Dit moet ook genoem word dat die Grondwet, in artikel 12(2), ook die besluit om nie in te ent nie, as ʼn regmatige besluit identifiseer wat in die individu se besluitnemingsfeer gesetel is.

Dieselfde geld vir SEB – indien dit óóit werklik vrywillig was, het dit die opsie om “nie te transformeer nie” (wat dit ook al mag beteken) ingesluit. Aangesien die regering nou aanvoer dat besighede die “verkeerde keuse” gemaak het, weet ons dat SEB nie eintlik in die verlede vrywillig was nie. Die deur van toekomstige dwang was altyd oop, en die idee van “keuse” doodgebore.

Waarom is vryheid ʼn belangrike politieke beginsel?

Martin van Staden.

Die woord “vryheid” kan óf beskrywend óf normatief bedoel word. Talle persone wat in geslote samelewings woon, is beskrywend vry. ʼn Plattelandse dorpsbewoner ver weg van die hoofstad onder die tiranniese bewind van Mobutu Sese Seko in Zaïre (Demokratiese Republiek van die Kongo) was féitelik vry, grootliks weens die regering se onbevoegdheid en gebrek aan kapasiteit. Maar hy het nie in ʼn normatief vrye samelewing gewoon nie.

As ʼn normatiewe politieke beginsel beteken vryheid dat die individu (en die beginsel bou ook na ʼn groep, gemeenskap of selfs korporatiewe firma uit) vry is om te doen wat hy of hulle wil in sover daardeur nie teen ander se insgelyke vryheid ingedruis word nie.

Daar is geen nodigheid vir so ʼn beginsel in onomstrede of maklike en vriendelike omstandighede nie. Niemand benodig individuele vryheid om die weer te bespreek nie, om iemand te komplimenteer vir hulle goeie werk nie, of om saggies ʼn liedjie vir hulself te brom nie. Die normatiewe politieke beginsel van vryheid is juis vir omstrede, moeilike en vyandige omstandighede bedoel, waar die politieke elite of bevolkingsmeerderheid een mening het, en die eensame individu, andersdenkende minderheid, of polities ongewilde besigheid, ander menings huldig. In ʼn vrye samelewing word die vryheid van die individu, die minderheid, of die firma gerespekteer, en hulle besluite word geduld, al is daardie besluite ongewild of omstrede.

Per slot van rekening sal die politieke elite of die meerderheid se verteenwoordigers onder sulke omstandighede áltyd en sonder uitsondering aanvoer dat die elite of meerderheid se mening die openbare belang op die hart dra. Hierdie argument word soos klokslag aangevoer – ook in die geval van SEB en verpligte inentings – en dis hoekom vryheidsliefhebbers baie ongemaklik is met die sogenaamde idee van “die openbare belang.”

Vryheid beteken eintlik niks indien ons die idee aanvaar dat die sogenaamde openbare belang, of die konsensus van die meerderheid, bo die vryheid van die individu voorrang moet geniet nie. Vryheid as ʼn idee beskerm juis die eensame individu teen die hele res van die samelewing. Indien dit nie so is nie, kan ons eintlik netsowel van die politieke beginsel van vryheid – die politieke beginsel wat die Westerse tradisie van alle ander beskawings onderskei – ontslae raak.

Diegene wat die “openbare belang”-beginsel as belangrik ag, moet versigtig wees om dit nie aanhoudend van waarde te ontneem nie. Die idee van die openbare belang word ernstig ondermyn deur om aanvegbare en oorbodige ingrypings voortdurend onder daardie vaandel te probeer rasionaliseer. ʼn Mens sien amper nooit die argument dat ons juis individuele vryheid moet respekteer om die openbare belang te beskerm nie. Dit is byna altyd een of ander skending van die vryheid, menswaardigheid of belange van die individu – maar ook van minderheidsgemeenskappe – wat onder die banier van “openbare belang” geregverdig word.

Plaas ʼn premie op vryheid

Ramaphosa het in sy November-toespraak gesê dat grootskaalse inenting daartoe sal lei dat die regering Suid-Afrikaners se “sosiale vryhede” vir hulle sal teruggee, asof vryheid ʼn staatsgegewe geskenk is. Maar Ramaphosa was reeds oneerlik oor die feit dat daar nie verpligte inentings in Suid-Afrika gaan wees nie. Hoekom sal hy nóú by sy belofte hou?

Ander politieke leiers regoor die wêreld doen dit nie eers nie. In lande soos Israel, Portugal en gebiede soos Gibraltar, waar die oorgrote meerderheid ingeënt is, word inperkingsmaatreëls opnuut ingestel – in sommige gevalle strenger as ooit vantevore.

Die idee dat inentings al is wat tussen ons en vryheid staan, is ʼn verwerplike versinsel. Dit vereis in die eerste plek om afstand te doen van vryheid – andersins sou dit tog nie nodig wees om dit te moet herwin deur die regering se instruksies te volg nie. Dit is juis nie verbasend dat baie Suid-Afrikaners, veral diegene wat nie in hoërisikokategorieë vir Covid-19 val nie, hierdie storie bekyk en skepties is nie.

Soos Piet le Roux en Russell Lamberti onlangs aangevoer het, sal geen samelewing sosiaal gesond bly indien daar ʼn toestand van permanente liggaamsmonitering ingestel word nie, waarvolgens die owerhede elkeen met dwang forseer om elke paar maande ʼn opvolg-inspuiting te kry om toegang tot inkopiesentrums te verkry. Dit is ʼn totalitêre stelsel, ongeag hoe belangrik ons individueel mag dink dit is om ingeënt te word. Daar is beslis ʼn argument te make dat meer mense óf moet inent, óf ʼn ander vorm van immuniteit teen Covid-19 verwerf, maar hierdie wens kan nooit die grootskaalse vergrype van mense se basiese reg op outonomie en liggaamlike integriteit regverdig nie.

Persoonlik is ek ten gunste van inenting teen Covid-19, en ek moedig veral my ouer familielede aan om in te ent. Maar ek sal altyd mense aanmoedig om ʼn baie hoë premie op vryheid te plaas, een wat altyd enige ander maatskaplike oorweging uitrangskik.

  • Martin van Staden is ʼn lid van die uitvoerende komitee van die Vryemarkstigting, en is tans besig met ʼn doktorsgraad in regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria. Besoek www.martinvanstaden.com vir meer inligting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Madeleine ·

Toe hy aankondig Dat niemand verplig Sal word om ent te vat nie, toe weet ek wat hy bedoel.

Ons sal ALTYD n keuse he MAAR wat Sal die prys wees vir ons keuse? Sal ons ons werk verloor?

Dit was nog altyd onderliggend..

Miskruier ·

As die regering bekommerd is oor sy burgers sou gymnasiums oop en kitskos plekke toe gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.