Wat is nie-territoriale (kulturele) outonomie?

(Foto: Sajjad QAYYUM/AFP)

Meeste minderhede beskik oor ʼn gebied waar hulle gekonsentreerd woon en dikwels ook die meerderheid vorm. In state wat federaal van aard is, of andersins erkenning aan minderhede gee, is daar gewoonlik gebiedsgebonde (territoriale) outonomie vir sulke minderhede. Daar is egter ook gevalle waar minderhede in ʼn spesifieke land versprei is en nie gekonsentreerd genoeg vir ʼn eie gebied is nie, of waar die regering van die betrokke land nie territoriale outonomie wil toestaan nie. State is soms huiwerig om territoriale outonomie toe te staan, omdat dit die kiem van afskeiding in hom dra, maar is gemaklik met die toekenning van nie-territoriale of kulturele outonomie.

Kulturele outonomie maak ook sin waar minderhede elders ʼn “moederland” het. Daar word dan geargumenteer: “Hoekom ʼn outonome gebied vir ʼn nasionale minderheid, as hulle reeds ʼn land van julle eie het?” Die moederland tree egter dikwels as pleitbesorger vir die nasionale minderheid in ʼn ander land op en sorg vir hulle erkenning en beskerming. Minderhede kry dan tipies die reg om hulle eie kultuur in stand te hou deur eie instellings soos skole en verenigings en word dikwels ook deur belastinggeld befonds.

In Europa is daar menige sulke voorbeelde, veral in die etniese lappieskombers van die Balkan-state en Oos-Europa (insluitende Rusland). Die Europese Unie vergemaklik ook die erkenning van minderhede, omdat dit as ʼn ononderhandelbare mensereg gesien word. Dit was egter ʼn lang proses en die verskriklike onderdrukking van minderhede voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog, en dikwels ook nog daarna, is nog vars in die geheue. Daar is egter ook uitsonderings: Frankryk en Turkye ontken die bestaan van minderhede en die noodsaak van enige akkommodering in hulle lande.

In ander wêrelddele is daar veel minder erkenning van die kulturele eiesoortigheid van minderhede. In Afrika word minderheidspolitiek gelyk gestel aan stamgebondenheid of selfs die beskerming van sekere voorregte en word assimilering as “nasiebou” gesien. Ethiopië is wel ʼn uitsondering op die reël. Ook Amerika (noord en suid) huldig sterk die staatsnasionalisme en die smeltkroes-ideaal, alhoewel nie-blanke minderhede met ʼn swak sosio-ekonomiese posisie − soos Indiane of Afro-Amerikaans − spesiale vermelding en sekere bevoordeling kry. Asië is baie uiteenlopend, sekere state gee erkenning aan minderhede, kultureel of territoriaal, ander onderdruk hulle.

Voorbeelde van nie-territoriale outonomie

Die Deense minderheid in Sleeswyk-Holstein (Duitsland):

Die Deense minderheid in Duitsland beslaan omtrent 50 000 mense wat feitlik almal in die noordelike provinsie (Bundesland) Sleeswyk-Holstein, en daar spesifiek in die noordelike deel Sleeswyk woon, maar wat te verspreid is om iewers ʼn suiwer Deense gebied te vorm.

Die grens tussen Duitsland en Denemarke het as gevolg van verskeie oorloë heen en weer geskuif en daar is minderhede van die onderskeie lande aan weerskante van die grens. Die huidige grens is na die Eerste Wêreldoorlog bepaal, gedeeltelik deur referendums in die grensdistrikte, waar inwoners vir Duitsland of vir Denemarke kon kies.

Die Deense minderheid geniet spesiale beskerming deur verskeie bilaterale en multinasionale ooreenkomste soos die Bonn-Kopenhagen Verklaring van 1955 en die Raamooreenkoms oor die beskerming van nasionale minderhede van die Europese Raad van 1995, soos:

  • Die waarborg van politieke verteenwoordiging in die Landtag (wetgewer) van Sleeswyk-Holstein deur die ophef van die 5%-drempel vir die Deense minderheidsparty SSW (Südschleswigscher Wählerverband).
  • Befondsing van Deenssprekende skole, kerke, biblioteke, museums en ander kultuurinstellings.
  • Waarborg van die kulturele, godsdienstige en opleidingsbande met Denemarke.
  • Tweetalige naamborde in gebiede met Deense konsentrasies.

Die Dene in Sleeswyk-Holstein is Duitse burgers, maar wie homself as Deen beskou, word as een erken. Die selfidentifikasie gaan ook gewoonlik gepaard met lidmaatskap by een of ander Deense belangegroep, soos die party SSW of die vereniging SSV (Süd-Schleswigscher Verein), ʼn federasie van alle Deense kultuurverenigings (vergelykbaar met die FAK). Die geografiese nabyheid van Denemarke en die oop grense binne die Europese Unie maak dit vir die Deense minderheid baie maklik om hulle kultuur en taal as minderheid te handhaaf, alhoewel die Duitse meerderheidstaal en –kultuur hulle ook beïnvloed.

Wrywing tussen Duitsers en Dene is baie min en die erkenningsooreenkoms en die verhoudinge word as voorbeeldig vir die hantering van minderhede gesien.

Hongaarse minderheid in Oos-Europa:

Hongarye was as deel van die Habsburg-ryk een van die verloorders van die Eerste Wêreldoorlog en is gestraf deur oordrag van heelwat grondgebied en inwoners aan sy buurlande.

Die staat Hongarye het sowat 9,5 miljoen inwoners, en sowat 2,2 miljoen leef in buurlande, gewoonlik in sekere dele gekonsentreerd wat aan Hongarye grens: 1,2 miljoen in Roemenië, 500 000 in Slowakye, 250 000 in Serwië, 150 000 in Oekraïne en sowat 100 000 in Oostenryk en ander buurstate. Hulle is gekonsentreerd in sekere gebiede, maar nie uitsluitlik nie. Territoriale outonomie is vir die betrokke state buite die kwessie en is met die moederland Hongarye anderkant die grens ook nie regtig nodig nie. Die getal Hongare buite die moederland neem geleidelik af weens emigrasie na Hongarye asook weens assimilasie.

Tydens die Koue Oorlog-tydperk (1945-1989) was Hongarye onder kommunistiese beheer en was minderheidskwessies geen faktor tussen die “sosialistiese broederlande” nie. Dit het wel na die afskud van die kommunistiese juk verander, toe Hongarye in ʼn nuwe grondwet sy verantwoordelikheid vir die belange van die Hongare buite sy grense erken het. Om dit in praktyk te kon uitvoer, moes verdrae met die onderskeie buurlande gesluit word. Daarby was die Raamooreenkoms oor die beskerming van nasionale minderhede van die Europese Raad van 1995 (sien bo) ʼn mylpaal. Die aanvaarding daarvan was een van die voorvereiste vir lidmaatskap van die Europese Unie en is deur meeste Europese state (ook al die buurlande van Hongarye, waarvan sommige nog nie EU-lede is nie) onderteken.

Die Raamooreenkoms se kernpunte, wat vir alle Europese nasionale minderhede geld, is:

  • Vrye assosiasie as deel van ʼn nasionale minderheid, gelykheid voor die reg en verbod op diskriminasie teen die minderheid.
  • Die beklemtoning van die eie identiteit, die uitoefening van hulle kulturele gewoontes, tradisies en godsdiens.
  • Die afkeur van gedwonge assimilasie en doelbewuste verandering van die demografiese gegewens tot nadeel van die minderheid.
  • Die gebruik van eie taal, privaat sowel as in die openbaar, selfs tweetaligheid in dele waar minderhede gekonsentreer is.
  • Eie kulturele instellings in die minderheidstaal, insluitende media en publikasies.
  • Bewusmaking van die minderheid se geskiedenis, taal, godsdiens en kultuur onder die meerderheidsvolk.
  • Eie private onderwys- en opleidingsinstellings in die minderheidstaal.
  • Bilaterale of multilaterale verdrae oor die regte van nasionale minderhede tussen die betrokke state. Die territoriale integriteit van die state word egter beklemtoon.

Dit beteken egter nie dat die punte van die ooreenkoms orals en altyd in praktyk eerbiedig word nie. Veral daar waar die Hongare aansienlike getalle het en as bedreiging vir nasionale eenheid gesien word, vind diskriminasie wel soms plaas, byvoorbeeld wat die gebod van tweetaligheid betref.

In Roemenië, waar die grootste Hongaarse minderheid woon en waar hulle in sekere dele ʼn demografiese faktor is, het in die vroeë 1990’s grootskaalse aanvalle op hulle plaasgevind. Sedertdien is die verhoudinge tussen die Hongaarse minderheid en die Roemeense meerderheid heelwat beter, maar nie sonder spanning nie. Die Hongare het hulle eie belangeparty, Demokratiese Unie van die Hongare in Roemenië, en is soms deel van koalisieregerings. Hulle het ook ʼn kulturele belangegroep, die Nasionale Raad van die Hongare in Siebenbürgen (streek in Roemenië waar die meeste Hongare woon). Die Roemeense regering het ook toegewings aan die Hongare gemaak op onderwysgebied en wat tweetaligheid betref in gebiede waar hulle meer as 20% van die bevolking vorm. Daar is een universiteit in Roemenië wat volledig drietalig is (Roemeens, Hongaars, Duits), die Babes-Bolayi Universiteit in Cluj-Napoka (Klausenburg).

In Slowakye is die situasie soortgelyk: die Hongare het hulle eie skole, media, politieke partye en kultuurinstellings en selfs ʼn Hongaarstalige universiteit. In dorpe en stede waar hulle meer as 20% van die bevolking is, geld tweetaligheid. Die hantering van die Hongaarse minderheid hang egter ook af van die regerings van Slowakye: die nasionalistiese regerings is minder en die liberale regerings meer toegeeflik.

Die Hongaarse regering, onder Viktor Orban, bevorder sy volksgenote in die buiteland (wat burgers van ander state is) deur byvoorbeeld finansiële ondersteuning te bied aan ouers wie se kinders Hongaarse skole en kleuterskole besoek. Dit word egter deur die Europese Raad en die betrokke buurlande as inmenging gesien. Die verhoudings tussen Hongarye en sy buurstate rondom die minderheidskwessie is egter intussen baie beter as in die verlede, omdat almal (behalwe Serwië en Oekraïne) nou deel van die Europese Unie is, iets wat die kulturele uitreik tussen Hongare oor grense heen vergemaklik.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Dink net aan al die moomtlikhede as die welwillendheid bestaan het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.