
Argieffoto
Deur ds. Danie Langner
Wat is ons gemeenskaplike vyand? Dit is nie lekker om dié vraag te vra nie. Dit is veel beter om met vriende te gesels as om oor vyande te dink. Dit is egter nie net vriende wat ’n kultuurgemeenskap se karakter definieer nie, maar juis hulle vyande. Kultuurgemeenskappe ontstaan nie net deur gemeenskaplike bindmiddels soos taal, tradisie en geskiedenis nie, maar ook deur hul stryd teen ’n gemeenskaplike vyand. Die spanning tussen dit waarvoor ’n kultuurgemeenskap staan en dit waarteen hulle veg, bind nie net saam nie, maar mobiliseer ook ’n gemeenskap om gemeenskaplike doelwitte te bereik. So was Britse imperialisme sedert 1804 Afrikaners se gemeenskaplike vyand. Die stryd teen imperialisme het aanleiding gegee tot die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die Republiek. Die stryd teen imperialisme het Afrikaners se denke gerig, saamgesnoer en selfs stukrag gegee aan die ontwikkeling van Afrikaans tot volwaardige taal. Afrikaanse instellings, koerante, skole en die Afrikaanse Bybel was uitvloeisels van die stryd teen Britse imperialisme. Simbole soos ’n eie landsvlag en volkslied is in reaksie teen imperiale simbole soos die Union Jack geskep.
Die vraag na ons gemeenskaplike vyand word nie deur wie nie, maar deur wat gedefinieer. Wie impliseer ’n persoon, terwyl wat dui op onderliggende idees. Suid-Afrikaners se gemeenskaplike vyand is immers nie wit mense, swart mense of bruin mense nie. Die gemeenskaplike vyand skuil ook nie in die onmiddellike politieke toneel nie. Ook nie organisasies of politieke partye nie. Mense en partye kom en gaan soos getye. Politieke partye, politieke beleid, anti-Afrikaanse raadsbesluite, diskriminerende landswette is alles kontekstuele draers van dieperliggende lewensbeskoulike idees. Dit is hier waar die knooppunt lê. Sonder ’n helder blik op die ideële wêreld gebeur dit te maklik dat debatte gevoer word sonder uitkomste, kommentaar gelewer word sonder diepte en oplossings aan die hand gedoen word sonder werklike insig.
Wat is ons gemeenskaplike vyand? Uit die uiteenlopende antwoorde van verskeie meningsvormers, ekonomiese, onderwys- en kultuurleiers, joernaliste en akademici is dit duidelik dat die ideologie van rasse-transformasie gerugsteun deur militante populisme en liberale individualisme die lewensbeskoulike ideeraamwerk is wat tans die heersende Suid-Afrikaanse samelewingsbegrip vorm.
- Rasse-transformasie
Die idee van swart dominasie (“African hegemony”) is ’n leitmotief in die denke van die ANC en die SAKP en word gedryf deur die ideologie van transformasie, op grond van die rasseformule van 80-9-9-2, en prakties toegepas as regstellende aksie, SEB en EE. Deur transformasie moet rasse-oorheersing en klasse-gelykheid op alle lewensterreine bewerkstellig word. Die ANC was verstommend suksesvol om die transformasie-ideologie in die “harte en gedagtes” van byna alle Suid-Afrikaners (ook wittes) te vestig. Die verbeeldingryke en ruimteskeppende toepassing van grondwetlike waardes word versmoor deur ’n sentralistiese en voorskriftelike staat wat aan gemeenskappe voorskryf en hulle aan sy wil onderwerp. Die kultuurgemeenskap met ’n eie identiteit en taal word deur die staat tot vyand verklaar en moet verower word deur rasse-transformasie. Dit is ’n nuwe vorm van staatsimperialisme, of nieu-imperialisme. Die direkte gevolg van rasse-transformasie is nie net krimpende taal- en kultuurruimtes nie, maar ook die vernietiging van dienslewering en infrastruktuur weens onbevoegdheid en ’n voortdurende dreigement van ’n rommelstatus-ekonomie weens selfgeregverdigde plundering van staatsbates.
- Militante populisme
Die swart woede oor die mislukking van die regering se beloftes is ’n mengsel van populisme en ’n nuwe swart bewussyn. Albei loop uit op ’n grondliggende anti-wit sentiment (met Afrikaans, Afrikaners as kollaterale skade). Skuld word gekanaliseer en verantwoordelikheid gerieflikheidshalwe op apartheid en die vorige maghebbers afgeskuif. Populêre spreuke soos “dis nou ons swartes se beurt” en “wittes moet gesien maar nie gehoor word nie” vloei ook hieruit voort. Die “vyandskap” wat hieruit voortvloei, is dat wit mense in die algemeen en Afrikaners spesifiek óf nie ’n volwaardige plek het nie óf ’n minderwaardige plek het – as gevolg van hul apartheidsverlede. Militante populiste teer op ’n breekkultuur en geweld om hul doelwitte van dekolonialisering en Afrikanisering te verwerklik.
- Liberale individualisme
Rasse-transformasie en die sentralistiese staat word gerugsteun deur liberale individualisme wat die mens van sy gemeenskap ontwortel. Kulturele identiteit soos Afrikanerskap word verkleinerend as ’n “konstruk” aangebied en gediskrediteer as regs en konserwatief. Intellektueel verhewe meningsvormers, selfs binne minderheidsgroepe, voel hulle tot die liberale individualisme aangetrokke, maar is blind vir die narcisme wat uitloop op vervlakking van ’n land se waardestelsel. Wêreldwyd word die krisis van liberale-individualisme gesien in die verval van waardes en gebrek aan identiteit.
Suid-Afrikaners word vandag gekonfronteer met ʼn fundamentele toekomskeuse. Die keuse tussen antidemokratiese rasse-transformasie of ’n demokraties-gedifferensieerde samelewingsbegrip wat kulturele identiteit, diverse gemeenskappe en meertaligheid met gemak en volwassenheid kan akkommodeer.
Die geveg van ons geslag is ’n geveg vir ruimte.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
JZ is ons almal se vyand.
Danie, jy dink. Ons Afrikaners voel so bedreig dat ons die Christendom, ras, kultuur, taal en geld nou sal prysgee om dit te behou… As ‘n kar sonder petrol gaan staan help dit nie om water in die tenk te tap nie, ook nie ‘n mengsel van petrol en water nie. Mens gaan nie ver kom nie en daarby die enjin opdons: Angstige grype na vreemde hande lewer vreemde resultate. Die nuwe wereldorde gedy op dwase, angstige oplossings. Die woord ‘oppas!’ word ‘n vloekwoord. Om die vyand lafhartig op die wang te soen en oorgawe te fluister is die finale… Lees meer »
Uitstekend gestel. Ongelukkig het baie van ons hedendaagse Afrikaners al so intellektueel verdom, dat elkeen in sy eie individuele slimheid homself vermaak. Baie van ons mense het nie meer die intellektuele vermoë om vriend of vyand te onderskei nie; lojaliteit teenoor aanslag nie; verantwoordelike denke teenoor onbetrokke ligsinnige opmerkings; beskerming van verhoudings teenoor hoogmoedige eiesinnigheid nie. Daar is geen groter vyand as die self nie. Die Afrikaner se grootste vyand is nie van buite nie, maar van binne homself. Elkeen gaan so filosofies binne sy eie idees op, dat basiese eenheid, geloofseenheid, nie vir die generasie meer moontlik is nie.… Lees meer »
Johan beter kon dit nie gestel gewees het nie. Ons het toegelaat om aan ons neuse rondgelei te word. Ons het dit oor onsself gebring. Slegs n handjievol van ons het dit raakgesien.
Goed gestel dominee, sal jy belangstel om op my potgooi te wees? Sal verder oor hierdie aspek wil uitvind.