Wat is ons gemeenskaplike vyand?

Argieffoto

Argieffoto

Deur ds. Danie Langner

Wat is ons gemeenskaplike vyand? Dit is nie lekker om dié vraag te vra nie. Dit is veel beter om met vriende te gesels as om oor vyande te dink. Dit is egter nie net vriende wat ’n kultuurgemeenskap se karakter definieer nie, maar juis hulle vyande. Kultuurgemeenskappe ontstaan nie net deur gemeenskaplike bindmiddels soos taal, tradisie en geskiedenis nie, maar ook deur hul stryd teen ’n gemeenskaplike vyand. Die spanning tussen dit waarvoor ’n kultuurgemeenskap staan en dit waarteen hulle veg, bind nie net saam nie, maar mobiliseer ook ’n gemeenskap om gemeenskaplike doelwitte te bereik. So was Britse imperialisme sedert 1804 Afrikaners se gemeenskaplike vyand. Die stryd teen imperialisme het aanleiding gegee tot die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die Republiek. Die stryd teen imperialisme het Afrikaners se denke gerig, saamgesnoer en selfs stukrag gegee aan die ontwikkeling van Afrikaans tot volwaardige taal. Afrikaanse instellings, koerante, skole en die Afrikaanse Bybel was uitvloeisels van die stryd teen Britse imperialisme. Simbole soos ’n eie landsvlag en volkslied is in reaksie teen imperiale simbole soos die Union Jack geskep.

Die vraag na ons gemeenskaplike vyand word nie deur wie nie, maar deur wat gedefinieer. Wie impliseer ’n persoon, terwyl wat dui op onderliggende idees. Suid-Afrikaners se gemeenskaplike vyand is immers nie wit mense, swart mense of bruin mense nie. Die gemeenskaplike vyand skuil ook nie in die onmiddellike politieke toneel nie. Ook nie organisasies of politieke partye nie. Mense en partye kom en gaan soos getye. Politieke partye, politieke beleid, anti-Afrikaanse raadsbesluite, diskriminerende landswette is alles kontekstuele draers van dieperliggende lewensbeskoulike idees. Dit is hier waar die knooppunt lê. Sonder ’n helder blik op die ideële wêreld gebeur dit te maklik dat debatte gevoer word sonder uitkomste, kommentaar gelewer word sonder diepte en oplossings aan die hand gedoen word sonder werklike insig.

Wat is ons gemeenskaplike vyand? Uit die uiteenlopende antwoorde van verskeie meningsvormers, ekonomiese, onderwys- en kultuurleiers, joernaliste en akademici is dit duidelik dat die ideologie van rasse-transformasie gerugsteun deur militante populisme en liberale individualisme die lewensbeskoulike ideeraamwerk is wat tans die heersende Suid-Afrikaanse samelewingsbegrip vorm.

  • Rasse-transformasie

Die idee van swart dominasie (“African hegemony”) is ’n leitmotief in die denke van die ANC en die SAKP en word gedryf deur die ideologie van transformasie, op grond van die rasseformule van 80-9-9-2, en prakties toegepas as regstellende aksie, SEB en EE. Deur transformasie moet rasse-oorheersing en klasse-gelykheid op alle lewensterreine bewerkstellig word. Die ANC was verstommend suksesvol om die transformasie-ideologie in die “harte en gedagtes” van byna alle Suid-Afrikaners (ook wittes) te vestig. Die verbeeldingryke en ruimteskeppende toepassing van grondwetlike waardes word versmoor deur ’n sentralistiese en voorskriftelike staat wat aan gemeenskappe voorskryf en hulle aan sy wil onderwerp. Die kultuurgemeenskap met ’n eie identiteit en taal word deur die staat tot vyand verklaar en moet verower word deur rasse-transformasie. Dit is ’n nuwe vorm van staatsimperialisme, of nieu-imperialisme. Die direkte gevolg van rasse-transformasie is nie net krimpende taal- en kultuurruimtes nie, maar ook die vernietiging van dienslewering en infrastruktuur weens onbevoegdheid en ’n voortdurende dreigement van ’n rommelstatus-ekonomie weens selfgeregverdigde plundering van staatsbates.

  • Militante populisme

Die swart woede oor die mislukking van die regering se beloftes is ’n mengsel van populisme en ’n nuwe swart bewussyn. Albei loop uit op ’n grondliggende anti-wit sentiment (met Afrikaans, Afrikaners as kollaterale skade). Skuld word gekanaliseer en verantwoordelikheid gerieflikheidshalwe op apartheid en die vorige maghebbers afgeskuif. Populêre spreuke soos “dis nou ons swartes se beurt” en “wittes moet gesien maar nie gehoor word nie” vloei ook hieruit voort. Die “vyandskap” wat hieruit voortvloei, is dat wit mense in die algemeen en Afrikaners spesifiek óf nie ’n volwaardige plek het nie óf ’n minderwaardige plek het – as gevolg van hul apartheidsverlede. Militante populiste teer op ’n breekkultuur en geweld om hul doelwitte van dekolonialisering en Afrikanisering  te verwerklik.

  • Liberale individualisme

Rasse-transformasie en die sentralistiese staat word gerugsteun deur liberale individualisme wat die mens van sy gemeenskap ontwortel. Kulturele identiteit soos Afrikanerskap word verkleinerend as ’n “konstruk” aangebied en gediskrediteer as regs en konserwatief. Intellektueel verhewe meningsvormers, selfs binne minderheidsgroepe, voel hulle tot die liberale individualisme aangetrokke, maar is blind vir die narcisme wat uitloop op vervlakking van ’n land se waardestelsel. Wêreldwyd word die krisis van liberale-individualisme gesien in die verval van waardes en gebrek aan identiteit.

Suid-Afrikaners word vandag gekonfronteer met ʼn fundamentele toekomskeuse. Die keuse tussen antidemokratiese rasse-transformasie of ’n demokraties-gedifferensieerde samelewingsbegrip wat kulturele identiteit, diverse gemeenskappe en meertaligheid met gemak en volwassenheid kan akkommodeer.

Die geveg van ons geslag is ’n geveg vir ruimte.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Danie, jy dink. Ons Afrikaners voel so bedreig dat ons die Christendom, ras, kultuur, taal en geld nou sal prysgee om dit te behou… As ‘n kar sonder petrol gaan staan help dit nie om water in die tenk te tap nie, ook nie ‘n mengsel van petrol en water nie. Mens gaan nie ver kom nie en daarby die enjin opdons: Angstige grype na vreemde hande lewer vreemde resultate. Die nuwe wereldorde gedy op dwase, angstige oplossings. Die woord ‘oppas!’ word ‘n vloekwoord. Om die vyand lafhartig op die wang te soen en oorgawe te fluister is die finale teken van kapitulasie. Mag ons Afrikaners se oe gerig bly op die waarheid, wat terloops nie grys is nie, maar absoluut, want die Bybel se: G_d is waarheid…

Johan ·

Uitstekend gestel. Ongelukkig het baie van ons hedendaagse Afrikaners al so intellektueel verdom, dat elkeen in sy eie individuele slimheid homself vermaak. Baie van ons mense het nie meer die intellektuele vermoë om vriend of vyand te onderskei nie; lojaliteit teenoor aanslag nie; verantwoordelike denke teenoor onbetrokke ligsinnige opmerkings; beskerming van verhoudings teenoor hoogmoedige eiesinnigheid nie. Daar is geen groter vyand as die self nie. Die Afrikaner se grootste vyand is nie van buite nie, maar van binne homself. Elkeen gaan so filosofies binne sy eie idees op, dat basiese eenheid, geloofseenheid, nie vir die generasie meer moontlik is nie. Al wat nou nog die finale slag moet wees vir selfvernietiging is: elkeen moet uit desperaatheid sy wil op die ander een begin af forseer = fundantalisme…

Johan ·

… Ons is by die punt van desperaatheid, waar die sterkste filosofiese denkrigting nie sal skroom om ‘n Berlyn se muur op te rig tussen Afrikaners nie; die punt waar outokrasie ‘n desperate opsie geword het. Die kerke is besig om leeg te loop, want geloof in God Drie-enig word vervang met geloof in eie pogings… Ons domheid gaan die Afrikaner tot selfvernietiging neem…

Ben Prinsloo ·

Johan beter kon dit nie gestel gewees het nie. Ons het toegelaat om aan ons neuse rondgelei te word. Ons het dit oor onsself gebring. Slegs n handjievol van ons het dit raakgesien.

Dirk Scheepers ·

Goed gestel dominee, sal jy belangstel om op my potgooi te wees? Sal verder oor hierdie aspek wil uitvind.

TTh ·

Al die onderwerpe wat jy bespreek is groot booshede wat niks positiefs inhou nie, as predikant behoort jy dit te weet. My vraag is ‘ wie is ONS’, rassevermenging is n euwel, vyande is daar baie indien die vyande jou bestaan bedreig, bv buitelandse geldskieters, wereld raad van kerke, islam, ANC, SAKP, EFF, DA, Afrikanerbond, Brittanje, Frankryk, VSA om n paar te noem. Die RSA is vol vyande en ryp vir n harde veelfrontige burgeroorlog wat nie meer gekeer kan word nie – hoe sal ‘ ONS’ so n aanslag oorleef?

Anthonie Van Bosch ·

Ons gemeenskaplike vyand(e) is die volgende:

Geld.
Onkunde.
Geheime organisasies.
Onverdraagsaamheid.
Geen naasteliefde.
rasioneel irasioneel groeperings.
(Gaan lees dit op)
Armoede (Ons grootste vyand)
Leierloosheid
Geen Afrikaner “Ubuntu” konsep.
Iemand moet iets doen (Net nie ek nie).
My siening is altyd reg.
Ek is bang om iets te se (Bang vir Intimidasie & Uitsluiting)
Die dominee sal se wat ons wil hoor. (Bybelstudie is te veel moeite)
Hollywood het nie respek vir God se naam nie. Maar ek bly maat stil.
Die rykes sal kwaad word as ek hulle groot salarisse bevraagteken. Daarom krap ek maar in die asblik.
Korrupsie
Algemene wreedheid in die samelewing en veral in die werk.
Geen tyd om in mense te investeer nie (opleiding).

Al bogenoemde kan deur die mensdom reggestel word. Maar daar is niemand – nie een – wat eers probeer om dit te doen nie. Daar word net gepraat en geskryf. Die feit is dat ons hier is om God se will uit te leef – wat ons wel kan doen daar waar ons is – en die res te los sodat hulle self kan kies om in die lig of donker te leef.

John ·

Anthonie, euro-sosialisme klink na jou oplossing vir die probleem. Afrika het jou in die sak. Armoede is nie ons grootste vyand nie. Dis net ‘n term wat enigiets van 10c tot ‘n paar miljoen kan aandui, afhangende waarmee jy dit vergelyk. Die Bybel se die armes sal ons altyd by ons he. As mense diegene wat werk en geld skep wil uitwerk, is armoede nie vir hulle ‘n kritiese probleem nie. Welsynswerk word vir meer as 300 jaar in Afrika gedoen en regoor die kontinent gedy outokrasie wat alle pogings fnuik om vooruitgang te genereer vir die massas. Die ‘barrel of the gun’ blyk die antwoord te wees vir diegene wat het, bo in Afrika. Om aan te was sodat ons altyd die armes het om voor te hou, is slu en gewaagd. Die gevolge kan nie voor die verantwoordelikes se deur gele word nie.

Anthonie Van Bosch ·

Armoede is maar net een van die baie dinge wat aangespreek moet word. Dan het ek nog nie eens genoem die effek wat regstellende aksie op ons land het nie. Ek sal dan ook graag wil hoor wat die mense dink wat grade het en nie werk kan kry nie. Hoe sien hulle die toekoms.

Johan 2 ·

Dankie vir die skrywe. Hoe vinniger ons ons vyande identifiseer hoe beter. Solank vyhande aan ons onbekend is, gaan ons niks daaraan kan doen nie.

Beste Anthonie, ons het werklik baie goeie leiers, ek dink nie ons moet onsself afkraak net oor die tragedie van n “leierskorps” wat ons 20 jaar terug veraai het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.