Wat is Plan B vir basiese onderwys?

bouwe-van-der-eems

Bouwe van der Eems. Foto: Verskaf.

Deur Bouwe van der Eems

Op die 2019 Nasionale Kongres van Solidariteit doen Flip Buys ‘n oproep tot Afrikaners om kliphard te werk aan ‘n Plan B om ‘n beter toekoms te verseker. Daar is geen waarborg dat Plan A, naamlik dat die nuwe president die disfunksionele staatsdiens gaan regruk, gaan slaag nie.

Deel van Plan B is “goeie skole”. Voordat egter kliphard aan die werk gespring word om “goeie skole” te vestig, is dit nuttig om te vra of dit die korrekte doelwit is. Soek ons goeie skole of eerder goeie onderwys? Is goeie onderwys dalk moontlik sonder goeie skole?

Volgens die wet is ʼn skool ‘n instituut wat leerders inskryf vir grade. Dit vereis dat leerders opgedeel word in groepe volgens ouderdom, en kennis opgebreek word in vakke. Vir 12 jaar moet leerders in hierdie groepe staatsvoorgeskrewe vakkennis in hul korttermyngeheue prop, dit uitspoeg in toetse en eksamens en weer vergeet. Daarna word aangeneem dat die leerder genoegsaam onderwys ontvang het om ‘n selfstandige en produktiewe burger te wees.

In die 21ste eeu word hierdie aanname toenemend bevraagteken.

Skool is egter nie die enigste soort onderwys nie. Daar is ‘n diversiteit van vorme en benaderings in onderwys. ‘n Diversiteit van vorme sluit in onderwys wat in gesinne, families, gemeenskappe en formele institute soos skole gegee word. ‘n Diversiteit van benaderings sluit in: tradisionele kurrikulums, klassieke onderwys, eenheidstudies, Charlotte Mason-, Montessori- en Waldorf-onderwys, eklektiese onderwys, skoollosse onderwys en veel meer.

Die SA Skolewet neem egter aan dat onderwys slegs deur skoolbywoning kan geskied en probeer die grondwetlike reg tot basiese onderwys verwesenlik deur skoolbywoning verpligtend te maak. Dit het gelei tot ons huidige situasie van ‘n meerderheid disfunksionele publieke skole, bekostigbare gehalteonderwys vir die middelklas by model C-skole, en rykes kan gebruik maak van duur privaat skole. So het die SA Skolewet slegs rasseongelykheid vervang met klasseongelykheid. Kinders wie se ouers dit kan bekostig om in die voedingsone van ‘n goeie model C-skool te woon, het ‘n voorsprong bo ander kinders.

Hierdie situasie is dan ook die motivering vir die wetswysigings in Gauteng en beplande nasionale wetswysigings. Hierdie wetswysigings gaan uiteindelik model C-skole ook transformeer in disfunksionele skole, en gehalteonderwys sal dan slegs toeganklik wees vir ‘n politieke elite in privaat skole. Hierdie wetswysigings sal voortgaan, selfs al slaag Plan A.

Die aanname dat goeie onderwys en goeie skole dieselfde beteken, lei dus daartoe dat goeie onderwys ontoeganklik word vir die meerderheid. Diegene wat hard werk aan ‘n plan B vir onderwys, moet hierdie fout vermy. ‘n Stelsel van goeie onderwys benodig nie slegs goeie skole nie, maar ‘n omgewing waar ouers die vryheid het om te kies uit ‘n diversiteit van vorme en benaderings om die beste belange van elke individuele kind optimaal te bevorder.

Die vestiging van ‘n stelsel van goeie onderwys benodig nie topbreinkragte om iets nuuts uit te dink nie. Daar is reeds ‘n organisasies wat dekades lank besig is om ‘n veilige omgewing te skep vir die diversiteit van alternatiewe onderwys. Diegene wat hard werk aan Plan B hoef slegs hande te vat met hierdie organisasies.

Alternatiewe onderwys maak dit moontlik vir gesinne om makliker te verhuis, aangesien hulle nie naby goeie skole hoef te woon nie. Hierdie vryheid maak gekonsentreerde gemeenskappe moontlik sonder die kapitaaluitgawes om skole te vestig. As die voortrekkers afhanklik was van goeie skole, sou hulle ooit kon trek en êrens anders gaan vestig?

Om hierdie rede kan alternatiewe onderwys dalk bepalend wees vir die sukses van Solidariteit se Plan B. Al wat nodig is om Plan B vir basiese onderwys te verwesenlik, is om te aanvaar dat goeie onderwys moontlik is sonder goeie skole. So ‘n denkskuif kan ‘n verskeidenheid nuwe moontlikhede oopmaak vir ‘n beter toekoms.

  • Bouwe van der Eems is voorsitter van die Pestalozzi Trust, ʼn regsfonds vir tuisonderwys en klein skole. Die Trust ondersteun gesinne wat tuisonderrig gee en klein skole deur konfliksituasies met die owerheid te hanteer, sodat hulle met gemoedsrus kan fokus om die beste belange van die kinders. Hierdeur het die Pestalozzi Trust al vir meer as twee dekades ʼn veilige ruimte geskep waarin alternatiewe onderwys eksponensieel kon groei.
sos-onderwysersgemoed-2018-10-17-05

Dr. Danie Brink van die Skoleondersteuningsentrum. Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum, reageer:

Ons by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is reeds besig met talle van die kwessies wat Van der Eems in hierdie artikel aanraak.

Die SOS besef watter soort uitdagings die ou tradisionele manier van skoolgaan bied en dit is juis waarom ons hard bou aan iets soos die Wolkskool. Die Wolkskool is juis ontwikkel om haalbaar en bekostigbaar te wees en sal gehalteonderrig in Afrikaans na die uithoeke van die land kan neem.

Verder kyk ons ook wat die toekoms van leer en die vierde industriële rewolusie vir onderwys, binne die kongresse wat die SOS gereeld en landwyd aanbied, inhou. Daar was juis vanjaar ‘n reeks sessies met die titel Die Klaskamer van die Toekoms waar kenners voorleggings aan onderwysers gedoen het oor hoe leer en die klaskamer van die toekoms gaan lyk.

Enige iemand wat in die onderwyssektor betrokke is, is welkom om die SOS se seminare en kongresse by te woon sodat hulle kan sien waarmee presies ons by dié sentrum besig is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Disselboom ·

Die onderwysdebat moet uitbrei: nie as ‘n toutrekkery oor tuisonderwys vs skool nie, maar Bouwe vd Eems lig ‘n klomp sake uit oor die hele wese van onderwys – en dr Brink se reaksie om enkelvoudig die klem op die elektroniese afstandondderig (Wolkskool) te plaas, is teleurstellend. Daar moet baie dieper oor skoolgaan, onderwys, opleiding en so meer herbesin word.

John ·

… en nadat al die wit skole oorgeneem en oorvolgepak sit, wat is plan Y vir eina, wat Lesuffi dan in sy towerwolk gaan sien. Aaa…. Ons weet elke skelm het altyd ‘n rede… Wat gaan syne wees? Die vierde rewolusie weet ons is ‘n dwarrel voor die storm. Buiten dat kinders snags nie sal kan slaap weens die led-bloulig wat hulle daagliks gaan inadem nie, gaan hul nekke en oè vervorm raak van die heeltyd buig voor die wonder-teacher. Dis byna soos die swartwoudkoek wat ek wou bak (om die Koekedore te troef) en later by 28 eiers plus opgeèindig het. Wat is plan C?

Leonard van der Dussen ·

Dis belangrik dat skole en die skoolwese en onderwys nie as politieke stormram gebruik word nie – van alle kante af. Bouwe vd Eems lig belangrike sake uit dat daar weer oor ONDERWYS besin moet word. Daar is breedsprakigheid oor Afrikaans en Afrikaanse skole orals, en dalk in die rigting van privaatskole werk – maar daar is nêrens op groter skaal ‘n gesprek sigbaar oor terugkeer na onderwys, weg van die produksielyn wat tans net op meting, assessering en sertifikate volgens ‘n staatsgedrewe stelsel gerig is nie.

Heinrich van Zyl ·

Nog iemand wat dink privaat skole is duur en slegs vir ryk mense.
Beteken dit Orania se inwoners is almal ryk?
Hulle kinders is immers almal in privaat skole.

LHS ·

Enige regeringsplan is en sal n flop wees omrede verskeie redes maar hoofsaaklik a.g.v. onbevoegde, onbekwame sleutelspelers. Klein eie privaat pogings is ook nie heeltemal die oplossing omrede daardie kinders een of ander tyd weer self diue lewe moet trotseer. Daaris moontlikhede maar groot finansies word benodig.

Gerhard ·

Iets wat vir my deurskemer in meer en meer skrywes en kommentaar is dat “plan A” soos baie dit noem al lankal misluk het en eintlik nie meer in ag geneem moet word in enige strategie nie.

lewies ·

Goeie C model skole is saam met die ouers totstand gebring. Hulle kapitaal en breinkrag. Een probleem is die skool as n fisiese entiteit behoort aan die staat. skaakmat!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.