Wat is Suid-Afrika se voorland?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Onlangs het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, in die Afrikaanse koerante ’n interessante artikel gebou rondom die vraag: Waarom werk sommige lande en ander nie? Dis ’n vraag wat hy voorheen in ander media ook al aangeraak het, en waaroor hy en sy span tans navorsing doen.

In die kort bestek van sy artikel kon Roodt natuurlik nie diep op die saak ingaan nie, maar hy het een oorkoepelende faktor uitgelig: Handel.

Histories is dit ’n waarheid soos ’n koei. Reg deur die geskiedenis, van die begin af, was handel die een groot voorwaarde vir welvaart en alles wat daarmee saamhang. Oorloë het handel dikwels belemmer en gepaard met die vernietiging en verlies aan menselewens het dit ekonomiese groei dan benadeel.

Dalk die beste bewys hiervoor was die wyse waarop die Eerste Wêreldoorlog die destydse groeiende wêreldhandel en ekonomiese globalisering vernietig het. Dit is vererger deur die verhoogde tariewe wat regerings aan die begin van die 1930’s ingevoer het in ’n misplaaste poging om hul eie ekonomieë te beskerm, iets wat die Depressie van die jare dertig aansienlik vererger het.

In ’n artikel wat dikwels deur ekonome aangehaal word kom Jeffrey Frankel (Harvard-universiteit) en David Romer (Universiteit van Kalifornië, Berkeley) tot die gevolgtrekking dat “a rise of one percentage point in the ratio of trade to GDP increases income per person by at least one-half percent” (“Does trade cause growth”, in The American Economic Review, 1 Junie 1999).

Die stelling dat handel ’n voorwaarde vir ekonomiese groei en dus welvaart is, moet egter verder verken word. Handel val nie uit die hemel nie; dit gedy of kwyn deur aanwysbare faktore.

Ten eerste bewys die geskiedenis dat handelsoorloë en gepaardgaande hoë handelstariewe nooit wenners oplewer nie; álmal verloor uiteindelik. Dit is nie die oplossing vir selfs legitieme dispute tussen byvoorbeeld Amerika, Europa en China nie. En dus is die handelsoorloë waarmee pres. Donald Trump gereeld links en regs dreig, uiteindelik sleg vir sy eie land.

In die tweede plek hang handel af van ’n stel algemeen aanvaarde reëls wat alle partye bevoordeel en wat nie willekeurig omseil of afgeskaf kan word nie. Dit verg dus ’n goed ontwikkelde regstelsel, verstandige wette en onafhanklike arbiters, byvoorbeeld in die vorm van howe – en dus ’n regstaat.

Gewaarborgde eiendomsreg is teen dié agtergrond ’n absolute voorvereiste. Jy kan nie handel en ekonomiese produksie beveilig as mense nie seker is van hul eiendom nie.

Dis dan dat entrepreneurs – of hulle nou sakelui is, fabriekseienaars of boere – besluit om nie meer in die ontwikkeling van hul ondernemings te belê nie. Of selfs om hul goed landuit te vat en elders neer te stryk.

’n Siniese spreekwoord is hier van toepassing: Kapitaal is lafhartig. Niemand by sy volle verstand gaan groot geld steek in ’n land waar jy alles met ’n handomkeer kan verloor nie.

En as niemand daar belê nie, vind daar ook nie handel plaas nie. En krepeer die bevolking van ellende.

’n Faktor wat hiermee verband hou, is korrupsie. Daar is ’n horde akademiese studies wat wys dat daar ’n negatiewe korrelasie tussen korrupsie en ekonomiese groei is, en dis onmoontlik om hier alle bevindings aan te haal. Dis voldoende om te sê dat ek geen enkele studie kon vind wat nié dié verband bevestig nie.

Ook in dié opsig is ’n goed ontwikkelde regstelsel en regstaat dus lewensbelangrik. Korrupsie is so oud soos die mensdom en sal waarskynlik nooit volledig uitgeroei kan word nie, maar jy hoef dit nie vir die korruptes maklik te maak nie. Inteendeel, die wete dat hulle uitgevang en gestraf kan word, kan altans sómmige voornemendes afskrik.

Maar die regstelsel en regstaat hang saam met ’n verdere faktor. Dit is ’n demokratiese politieke kultuur.

’n Regstelsel kan gesien word as ’n paar miljoen woorde op papier. Papier is dooie bome.

Daardie paar miljoen woorde moet dus leef in die harte van mense. Genoeg mense moet daarvan oortuig wees dat die stelsel en kultuur wat op die papier beskryf word, in hul belang is en dien om hul regte te beskerm.

Sonder dat ek die ou apartheidstelsel met al sy gebreke hier wil verdedig, bly dit ’n onbetwisbare feit dat die apartheidstaat ’n relatief goed funksionerende regstelsel aan die ANC-staat nagelaat het. In die jare 1990-’94 en onmiddellik daarna is die leemtes grotendeels gevul en die gebreke herstel, sodat ons land so teen 1996 in ’n ideale posisie was.

Die probleem is dat te veel ANC-politici dié proses gesien het as ’n lastige, maar verbygaande oorgangsperiode. Hul doel was nie ’n goed werkende demokrasie en ekonomie nie; hulle het die staat gesien as ’n skatkamer wat na hartelus geplunder kon word.

Die getuienis wat die laaste weke en maande voor die Zondo-kommissie oor staatskaping gelewer is, het ’n skrikwekkende beeld van meedoënlose grypsug en gierigheid opgelewer. Die staatsdiens het grotendeels in duie gestort; die staat kan nie meer die veiligheid van sy burgers waarborg nie; semi-staatsinstellings soos Eskom, SAL en Transnet kan net met miljarde uit die burgers se krimpende sakke orent gehou word.

En intussen gaan planne om grond sonder onteiening te konfiskeer eenvoudig voort. Pres. Cyril Ramaphosa besef wel wat die gevolge gaan wees, maar hy het moeite om sy ewewig op die randjie van die politieke afgrond te behou en is (voorlopig altans) eintlik magteloos om dié verwoestende planne te keer.

Terug by die oorspronklike vraag: Waarom werk sommige lande en ander nie? Wat onderskei Ghana van Suid-Korea, wat in 1957 albei min of meer dieselfde bruto binnelandse produk (BBP) had, maar waar Ghana sedertdien hopeloos uitgesak het? In 2018 was die Ghanese BBP sowat 5% van Suid-Korea s’n.

Die groot vraag is dus: Waarheen is Suid-Afrika op pad? Is Ghana of Suid-Korea ons voorland?

Soos sake táns staan, selfs met Ramaphosa as president, stuur ons af op ’n Ghanese situasie.

Dinge kán natuurlik nog omgekeer word. Maar dan sal Ramaphosa sy burgeroorlog in die ANC dringend moet wen. Indien dit gebeur, kan ons rede hê om te hoop.

As hy verloor … dan word Solidariteit se Plan B al opsie wat oorbly.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

12 Kommentare

Welkom in Afrika ·

As ons dalk soos in China die doodstraf kon oplê vir korrupte amptenare(soos wat met burgemeester Zhang Zhongsheng in 2018 gebeur het) staan ons dalk ‘n kans, andersins, is SA se voorland, ‘n ellendig verarmde hool van misdaad en korrupsie. Klink in elk geval of ons reeds daar is.

John ·

Uiteindelik staan ek en Leopold op gelyke grond: Globalisasie en verlief op die nimlike nuwe Duitse EU-model… vinnig uit die blokke en hard op die petrol. En hopelik sal almal in Europa nou oorskakel na Sjinese produkte… selfs bietjie rehosterhoring by die apteek op die hoek langs die rooiliggrag aanskaf. Depressie raak erg as dinge nie meer so eners verloop elke dag nie. O ja, handel in Afrika, is dit die uitvoer van werkers of die invoer van geld? Dawie moet self in depressie verkeer want hoèr rentekoerse is sy forte… en nou neuk die ekonomie al na die rand se kant. Ons kan doen met meer kennis oor die euro… en waar om nog Sjinese tekkies te koop… Ons sukkel regtig met ‘n erge tekort…

Jerry ·

Dit is alom bekend dat SA se voorland sosialisme is. Die ANC se beleidmakende NDR programme is is geskoei op de-kolonisasie. Dit beteken dat die ANC deur staatskaping die klimaat geskep het om verandering van die grondwet vir onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en om daardeur kolonialisme verder af te breek. Mense moet hulle oog op die bal (de-kolonisasie) hou en nie mislei word deur faksiegevegte, kommissies en toneelspel nie. Behalwe vir die ANC elite en kader strukture, het die ANC dit ten doel om alle gewone burgers gelyk te maak! Terwyl alles in mekaar tuimel, verryk die ANC hul strukture wat deur staatskaping ingestel was ten koste van die res van die Suid Afrikaners. Hoe slegter dit gaan met die SOE’s en die ekonomie, hoe meer geld vir die herstel van SOE’s, vloei na die kaders! Die ANC het n strategie, n de-kolonisasie strategie wat alle ANC faksies insluit! Hou dus op om te luister wat die ANC/eff se, luister na wat hulle nie se nie en luister na revolusionere idees tydens uitsprake soos bv, “the ANC will drop the rand and it will be the ANC who will pick up the rand”!

Manie ·

Die plundering van die staat is ‘n tipiese bewys dat jy slegs iets waardeer indien jy daarvoor gewerk het.

Stephan de S ·

Die vergelyking Ghana en Suid-Korea verwys: in Korea groei die christendom sneller as wat die bevolkingsaanwas is. Ek was daar en plaaslike mense daar glo met rede dat dit een vd faktore is vir transformasie vd land. Neem hd faktor weg en kyk hoe verander die situasie. Ek weet goed dat ekonome en ander ontleders nie maatstawwe het om die invloed v geestelike lig te meet en in berekening te bring nie.

A Mac ·

Baie insiggewende artikel. Net jammer die mense wat hiervan moet kennis neem sal dit doodeenvoudig onder die mat invee. Wonder of die Ghanese regering hul situasie besef en ook waar en wat se foute hulle gemaak het om te kom waar hulle nou is. Ons regering wil hulle eie foute maak terwyl daar talle voorbeelde in Afrika is van wat om nie te doen nie.

Reinhardt ·

Uitstkende skrywe Leopold, soos altyd. Minder regulasies (lees RA, SEB) en die vereenvoudiging van handel dryf is die enigste oplossing. 28% Maatskappye belasting help ook nie.

Net so terloops, is dit nie Paul Romer nie? I.p.v David Romer.

Basson ·

Ek dink die groot probleem is no. 1 Opvoeding. No2. Visie. As jy nie strewe om dinge vorentoe te verbeter en om jou eie foute uit te skakel van jou verlede nie sal jy nie vorentoe gaan nie. Mense moet sonder skuld lewe en finasiele opvoeding ondergaan. Maar die visie is die grootste probleem en dit het die regerings bestuur nie. Hulpbronne word nie reg bestuur nie agv min of geen kennis. Kry die opvoeding op die been en pas wet en orde toe. Raak ontslae van korupsie. Maar hoe? Elke land in die wereld het Diewe in politiekuste.

Mike ·

Suid Afrika stuur meer af op ‘n Nigerie as ‘n Ghana ek weet nie wat die plan B is nie maar as dit nie onvoorwaardelikke selfbeskikking is nie is dit nie die moeite werd nie.

Frans C ·

Wat help nabetragting? Die skrif was aan die muur toe De klerk die handdoek ingegooi het.
Baie min mense besef bv wat op plaaslike bestuurvlak by munisipaliteite gebeur het.
Eers was daar ‘n doelbewuste idoktronasie veldtog, met die kern dat mense met potensiaal
‘n kans gegun moet word.
So ontmoet ek swart kolegas wat ek ontmoet het tydens my diens by ‘n Departement Nie-Blankesake van ‘n Oos Randse dorp.Hy ry ‘n splinternuwe Duitse motor wat hy vertel hy gekoop het met die onttrekking van fondse uit hul pensioenfonds,want hul gaan nou lid van ‘n beter fonds word!

Wat kom maak jy hier vra ek.Hy is die nuwe bestuurder van omgewingssake in die groter dorp.Wel sonder om neerhalend te wees ,die bestuur van die dorp wat ingelyf is,sy tuisdorp, het totaal in duie gestort.

Sal nooit die tekortkominge van die ou apartheidstelsel goed praat.Die mense wat dit begin het kon verder as hul neuse kyk en het gesien dat swart meerderheidsregerings
in Afrika ‘n sukses vir mislukking was omdat die swart Afrikaners volgens ‘n kollektiewe
beginsel regeer,waar agter persoonlike aanspreeklikheid verskuil word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.