Wat is vir Afrikaners oor? Die 8 kragtigste Afrikaner-aanhalings

Afrikaner

Argieffoto.

Deur Charl Oberholzer

Afrikaners, nie die beesras of net ʼn taalgroep nie – maar dié met ’n gedeelde geskiedenis van oorwinning en seer, ’n gedeelde taal wat sagkens aanmekaar geweef is en dié wat deel in ’n onbeskaamde lappieskomberskultuur; die Afrikaners wat hulle gesigte weggedraai het van Europa en vorentoe staar na Afrika – wat is vir daardie mense in vandag se Suid-Afrika oor?

Teen die agtergrond van grondgrype, kultuurlose tersiêre instellings en diskriminerende rasseklassifikasie, is dit ’n vraag wat soveel Afrikaners hulself moes afvra in die emigrasie-wagkamer van ’n ambassade. Maar uit die kragtigste aanhalings van die afgelope eeu is daar talle wyshede weggesteek:

  1. “Volk van Suid-Afrika, u wat met trots op u bors slaan, en uself ʼn Afrikaner noem, waar gaan jy heen? Sal Suid-Afrika nou en altyd, sal u vir uself en vir u kinders die uitdaging aanneem en moedig en vasberade u taak aanvaar; Waarheen Suid Afrika?” – Dr. DF Malan by die Voortrekkermonument se opening op 16 Desember 1949

Te midde van die uitdagings het Afrikaners wat geroepe daartoe voel, ’n taak om te aanvaar, selfs al is die eindbestemming onbekend.

  1. “Gebore onder de Engelsche vlag, wens ik niet daaronder sterven.” – Paul Kruger in sy laaste boodskap aan sy volk, Clarens, Switserland, 19 Junie 1904

Paul Kruger kon nie in sy leeftyd ’n nuwe werklikheid beleef nie, maar so kan ons ook herinner word dat dit nie net ons leeftyd is wat saak maak nie, maar dat elkeen bloot verantwoordelikheid moet neem vir sy eie tyd.

  1. “Hier, toe ons in benoudheid verkeer het, het elkeen ʼn klip opgeneem en dit op hierdie plek gegooi as ʼn gedenkteken tussen ons en die Here. Daarmee is die Gelofte van Bloedrivier hier hernuwe … Ons het nie hier gekom om ander sake te bespreek nie, maar om die dade van God te verkondig, om ons geloftes te betaal, om van God se groot goedertierenheid oor ons, te praat.” – Pres. Paul Kruger, Paardekraal, 16 Desember 1891

Dit is ons taak om monumente op te rig, nie tot ons eer nie maar tot die eer van God. Dit is soms nodig om nie oor ander sake te redeneer nie maar om uit dankbaarheid vir jou genade te betaal – deur te doen wat jou hande vind om te doen.

  1. “Die redelike demokrasie is ʼn hoë en edel maar ʼn gevaarlike leefwyse; dit is geen rusbed waarop ʼn volk hom kan uitstrek nie.” – N.P. van Wyk Louw, 1958

 Demokrasie en so ook enige ander politieke stelsel is nie volmaak nie. Menslike instelling is in hulle ontwerp gebroke – en daarom is dit nutteloos om daaraan vas te klou vir bevryding.

  1. “Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.” – C.J. Langenhoven

’n Eenvoudige opdrag om uit te leef, hou jouself besig met die dinge wat werklik ’n verskil teweegbring.

  1. “Ek is ʼn Afrikaner! So staan Hollanders, Duitsers en Franse saam met die hiergeborenes onder daardie naam.” – D.J. Opperman 1956

 Onbeskaamde opneem van identiteit, dit is elke generasie se voorreg om dit wat hy is op te neem en homself ook so uit te druk.

  1. “Ons volk is in die wêreld voëlvry verklaar …” – D.J. Opperman 1968

 Mag Afrikaners te midde van diskriminasie hulself vry verklaar sodat ons ’n mentaliteit sal hê van oorvloed eerder as van skaarsheid.

  1. “Neem uit die verlede dit wat goed is en bou daarop die toekoms.” – Paul Kruger

Jopie Fourie het ook gesê bly getrou aan jou kultuur, jou taal en jou geloof. Reëls van die samelewing verander, idees ontwikkel voortdurend maar op ’n sterk fondasie kan alles herbou word. Afrikaners was nog altyd onder druk en die lesse uit die verlede is eenvoudig. Sonder om te weet wat die uitkoms is, moet ons met liefde, waagmoed, onbeskaamde trots en met ’n oorvloed-gesindheid ons take verrig, nie met ’n hoop op ’n regeringsverandering nie maar met ’n vasberade afhanklikheid van God.

  • Meer oor die skrywer: Charl Oberholzer is mede-eienaar en stigter van De Afrikander Handelshuis, ’n Afrikaanse leefstyl-handelsmerk en aanlyn winkel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Joh. 3:16 ·

Soos jy glo, so sal jy dink, praat, doen en droom. Geloof is die diepste punt van enige volk of groep se eendragtigheid. Geloof is wat jy ken en vertrou. As enige volk of groep in hierdie vertroue van mekaar verskil, kan hulle nie meer saam dink, werk of droom nie. Ons as Afrikaners het laas in die Vryheidsoorlog van 1899-1902 die beste kans op eendragtige optrede gehad. Ons was byna almal Christelik Gereformeerd Calvinisties. Vandag met die sogenaamde era van “verligting” ontdek elkeen kwansuis sy “waarheid” in nuwe godsdiens sienings.

Hier is ‘n kragtige slagspreek: “Die volk wat geestelik verdeeld is, is geestelik verslaan.”
Elke Afrikaner moet maar mooi dink of jy regtig die ware God, in en deur, ons enigste Verlosser Jesus Christus ken en vertrou. Dit is die enigste geloof tot ware eenheid vir die stryd wat kom.

Gerhard1 ·

Joh 3, ek verskil. Ek is n ateis maar was nog altyd getrou aan die Afrikaner. Daarom stem ek weer Vryheidsfront plus in 2019. Die probleem is die Afrikaner weier om vir n party te stem wat openlik veg vir Afrikaner regte en vryheid van Afrikaners asook minderheidsregte. Die probleem is nie godsdienstige geestelikheid nie, maar eerder die politieke mentaliteit Al is ek n ateis vereenselwig ek my met die meeste christelike waardes van Vryheidsfront Plus.

Rita Parys ·

Nog een van dr. DF Malan: “Glo in God, glo in jou volk, glo in jouself.”

JC ·

Wonderlik!
Baie dankie Charl, dit is beslis een om te boekmerk.

Breytie ·

Ek kan nie insien dat kragtige aanhalings en diepsinnige woorde ons na ‘n bestemming gaan neem nie. Daar is ‘n konstante gebrek aan dinamika. Ek lees graag wat Afrikaners kwytraak in facebookbydraes oor dinge soos selfbeskikking en onafhanklikheid; ek beleef die gebrekkige belangstelling in onderwerpe soos gesinsverhoudings, toewyding aan kinders, kameraadskap, saamstaan en deurdruk, opoffering ter wille van ‘n gemeenskaplike ideaal, ensovoorts. Wat ek sien is ligsinnigheid, ‘n passie vir meer en meer geld, afskuif van eie verantwoordelikheid op ander en nog soortgelyke dinge. As volk is die Afrikaners ver verdwaal van Waarheid af. Dit gaan nog baie smart en trane verg om die regte rigting in te slaan.

Eish ·

Ja, die kommentaar sny lekker diep nè.
Die dinamika waarna verwys word was sekerlik leierskap en n gemeenskaplikheid van doelwitte wat dwarsdeur die samelewing getrek is, of jy wou of nie.
Dit was tye toe getuigskrifte meer waarde gedra het as n Curriculum Vitae.
Mense van inbors en karakter het nog grootliks leierskapsposisies bekleë.
Jy kon van diegene dink wat jy wou, maar verseker nie sê wat jy wou nie.
Toe kom 94.
Toe spat alles uitmekaar met die gom wat sy klouvermoë verloor het. Die seisoen waar die “Ek” bevry is en meeste nie geweet het hoe om die nuutgevonde losmaking te hanteer nie.
Lidmaatgetalle van Afrikaanse kerke het eerste in die hek geduik en die res van die samelewing se toue raak toe so een na die ander los.
Net soos die Woord dit beskryf in 2 Timotheus 3:1-5
” Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hul ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Timotheus moes sekerlik die helhool in gedagte gehad het toe hy die woorde neergepen het.

Patriot ·

Ons vir jou Suid Afrika… Sal ons Racheltjie de Beer vergeet, sal ons Danie Theron die rug opdraai? Nooit weer Jan Pierepiet sing, en Saai die waatlemoen ? Moerkoffie drink uit `n blikbeker, biltong met geelvet eet. So graag wil ek my kinders leer : Hoor jy die magtige dreuning? ONS VIR JOU SUID AFRIKA ! Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra, wat beteken die vlag van Suid Afrika

JC ·

Baie dankie Patriot.
Jopie Fourie: “Hier is ’n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls te ontvang….so seker as ek u hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met Sy dierbare bloed vir my sonde versoening gedoen het; en dat Hy nou kom om my by die hand te neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons, ons kan Hom voel…”

Gerhard ·

Wat is vir die Afrikaner oor? Lyk my kragtige aanhalings, want dit is omtrent al wat jy sien.

Gerhard1 ·

Ja Gerhard, daar is tans nie so iets soos Afrikaners wat werklik saamstaan nie. Dus amper niks oor van Afrikaners wat n daadwerklike boodskap na die regering stuur.

Veritas ·

Patriot, ek wonder wie ken nog die Vlaglied. ‘Ons weet dis die seël van ons vryheid en land, uitgegee op gesag van die Hoogste se hand’. Die ou geheue is ook nie meer wat dit moet wees nie maar die passie vir Afrikanervryheid brand nog sterk.

Patriot ·

Veritas… Daar is min wat dit ken. Ons jeug ken nie meer dit, maar ook ons eie skuld, ons moet hulle dit leer om nasie trots te kweek. Hartseer ne ? Als wat goed en mooi is word vae herhinnerings !

Veritas ·

Patriot, dit is nou 03h15 en die woorde van die vlaglied het skielik by my opgekom: Nooit hoef jou kinders, wat trou is, te vra: Wat beteken jou vlag dan Suid -Afrika? Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg, vir naaste en vreemde, vir voorman en kneg. Die land van ons erfnis geslag tot geslag, om te hou vir ons kinders se kinders wat wag. Ons nasie se trots, brief van eiendomsland, uitgegee op gesag van die Hoogste se hand. Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra, die vlag van ons eie Suid-Afrika. Ek glo dit is sowat 90% korrek.

Jerry ·

Wat is vir Afrikaners oor in n land waar hulle en hulle God nie langer welkom is nie? Boosheid, n boosheid wat nie net die Afrikaner nie, maar al die mense wat in die land bly sal verswelg!

Ek is Sam ·

Daar sal ‘n klippie losraak, sonder die toedoen van mensehande, wat die voete van yster en klei, WAT NOOIT KAN MENG NIE, sal vernietig.

Ons leef in die laaste koninkryk, die voete en tone van vermenging wat aan die orde van die dag is. Maar dié wat opreg is en bewaar is soos Noag en sy gesin van ouds, sal daardie klippie wees wat, as instrument in YHWH se hand, die laaste koninkryk van die bose sal laat verkrummel.

Dan sal ons Bruidegom weer kom, sal Hy en die nuwe Jerusalem, met sy twaalf poorte, uit die hemel neerdaal …

(Lees Dan 9 en Op 21)

Sterkte, volksgenote. Die swaar kom nog en niemand kan dit ontvlug nie – dit kom oor heel die aarde.

Selfbeskikking ·

Ons kan n blink toekoms voor he wanneer ons malema se haatspraak as geleentheid vir selfbeskikkingonderhandelinge gebruik.

Kosie Kramer ·

Van die os op die jas: In Desember, by die Voortrekkermonument, was ek baie ongemaklik in De Afrikander Handelshuis, omdat die produkte onbekostigbaar duur was. Al wat ek kon bekostig was `n kitsch sout en peper stel vir my sussie.

Carina Falck ·

Gaan kyk gerus by http://www.data.christians.co.za hoe honderde Afrikaners saam met baie, baie ander landgenote deel is van God se ‘stil weermag’. In hoeke en gaatjies van die land is daar ACVV-takke, sendingstasies, bedieninge aan die melaatses, honderde tehuise vir kinders en bejaardes, voedingskemas en baie meer. Gebruik die soekfunksie en kyk hoe baie positeiwe goed in die land gebeur.

Vaalseun ·

Dis vandag nie meer gevaarlik in Suid-Afrika as in die tyd van Piet Retief nie, maar ook nie minder gevaarlik nie. Net soos in die tyd van Piet Retief is daar vandag goeie en slegte gesindhede tussen wit en wit, swart en swart, wit en swart. Daarom dat Buthelezi verskoning gevra het vir Dingaan se optrede amper 150 jaar na Bloedrivier. Daarom dat die swart stem vir Zuma uitgestem het. Rugby bestaan nie net uit 30 spelers op die veld nie. Dit bestaan ook byvoorbeeld uit twee afrigters, ‘n skeidsregter en twee lynregters – die minderheid, maar so belangrik dat sonder hulle daar nie ‘n geldige uitslag en dus ‘n wenner moontlik is nie. Dit is deel van jou en my rol in die nuwe Suid-Afrika om van die nuwe Suid-Afrika ‘n wenner vir ons kinders te maak.

Sam ·

Ai, Vaalseun … so gaan die volk te gronde weens ‘n gebrek aan kennis!! Soos baie is jy met blindheid geslaan.

Ontwaak, ontwaak my volk!
Die dag is al ver gevorder …
Dis al amper nag …

Maar die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie en sal elkeen vergeld wat hulle Sy volk aangedoen het.

Avokado ·

Ek het nog een: “Wens in jou een hand, en dinges in jou ander hand. Kyk wat weeg die swaarste.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.