Wat Johnson anders as May sal moet doen

Boris Johnson, wetmaker van die Britse Konserwatiewe Party (Foto: AP Photo/Frank Augstein)

Die vraag oor wie die volgende leier van die Konserwatiewe Party en gevolglik ook die volgende eerste minister van die Verenigde Koninkryk gaan wees, sal hierdie week nog ʼn tree of twee nader aan finale beantwoording wees. Terwyl die driehonderd en drie parlementslede van die party in een ronde ná die ander die hoeveelheid kandidate verminder, raak dit egter duidelik dat die kans baie skraal is dat enige van die ander kandidate die huidige voorloper Boris Johnson kan klop. Daar is selfs senior partylede wat voorstel dat die hele verkiesingsproses opgeskort word en dat Johnson so gou moontlik homself in nommer Downingstraat 10 gaan tuismaak.

Indien ons Johnson se opmars na die kantoor van die eerste minister as ʼn gegewe begin aanvaar, ontstaan die volgende vraag: Wat kan en gaan hy anders doen as sy voorganger, Theresa May, om Brittanje uit die Europese Unie te neem? Die huidige afsnydatum vir Brexit is 31 Oktober 2019 en Johnson belowe reeds dat hy gereed is om Brittanje voor of op 31 Oktober uit die EU te kry.

Johnson se openbare karakter en politieke styl staan in sterk kontras met dié van Theresa May. May was ʼn ervare politikus wat respek afgedwing het as ʼn hardwerkende en intelligente persoon toe sy in 2016 leier van die Konserwatiewe Party geword het. Al haar teenstanders het in daardie leierskapstryd onttrek nog voordat die 160 000 lede van die party vir ʼn nuwe partyleier kon stem. May was egter ook ʼn uiters oncharismatiese persoon met ʼn onwilligheid om aan openbare debatte deel te neem.

Uiteindelik het May oor die afgelope paar maande die steun van baie van haar party se lede in die Britse laerhuis verloor. Dit is presies waar die vraag inkom oor wat Boris Johnson anders kan en moet doen indien hy as eerste minister wil slaag. Terwyl Johnson verlede week weer eens bevestig het dat ʼn moontlike uittrede uit die EU sonder ʼn ooreenkoms steeds ʼn opsie, hoewel ʼn laaste een, sal alles daarvan afhang of Johnson eerstens die Europese Unie kan oortuig om veranderinge aan die huidige Brexit-ooreenkoms wat tussen May en die EU onderhandel is, te maak, en tweedens of hy daarin kan slaag om ʼn meerderheid van parlementslede te oortuig om vir so ʼn ooreenkoms te stem.

Sonder sukses met beide van hierdie punte is Johnson se kanse om vir lank as eerste minister te oorleef, baie skraal. Die Arbeidersparty dreig reeds om, sou Johnson in Julie vanjaar eerste minister word, redelik vinnig ʼn mosie van wantroue teen hom in te stel. Dit gaan dus ʼn fyn spel van Johnson vereis. Dit is dan ook juis hier waar Johnson se meer populistiese en charismatiese aanslag die deurslag kan gee. Die Europese Unie sal binnekort nuwe leierskap hê en hierdie persone mag dalk net instem om hul eie stempel op ʼn vinnige en suksesvolle Brexit af te dwing. Dit skep ʼn geleentheid vir Johnson. Tweedens kan Johnson se charisma hom baie help om die steun van gewone Britte en lede van die Konserwatiewe Party en veral kleiner partye soos die Noord-Ierse Unioniste, in die parlement te kry.

ʼn Uiters interessante paar maande lê voor in die Britse politiek.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet piet ·

Volg Presedent Trump se voorbeeld dan behoort hy sy land weer gesond te maak.

John ·

Theresa het die hand van die oppossisie versterk deur slaphandig hul insette te inkorporeer. May is doodverlief op die EU en het hulle behoorlik om die nek geval as sou hulle haar reddingsboei wees. Sy het letterlik en figuurlik ruggraatloos vertoon. Die einde van Brittanje is in sig. Nie net wil die Mulatto vrou van Harry die konigin word nie en die Indiese burgemeester van London Indièrs as eerste burgers bevorder nie; die hele land is effektief gekleurd of vol uitlander. Dis net ‘n kwessie van tyd.

JR ·

Kan iemand net die man se hare sny en help kam? Of van ou Grompie Tru(o)mpie se haarspray lee?

Hans Richardt ·

ABO gruwels vs Brexit? Ek dink Brittanje is van geen belang vir ons nie.

Nico K ·

Toe ek in die berig lees dat hy as “charismaties” beskryf word, het ek onmiddellik negatief geword. Charismatiese persone is net daar vir die “show”. Doen is nie hul sterk punt nie.

Godfried ·

Êk stel mij die vraag ..wat het Trump met Boris afgesluit? Wil hulle verdeeltheid saai . Die ou Europe uiteendrijf? Wat sal gebeur met China ,Rusland en India .
Wie Kan mij n antwoord gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.