Wat maak Afrikaanse skole so merkwaardig?

afrikaanse skole

Argieffoto.

Deur Johnell van Vollenhoven

Afrikaanse skole is sinoniem met tradisie, dissipline, uitstekende akademiese en sportprestasie. Daar is ’n leerkultuur teenwoordig en ’n strewe na uitnemendheid.

Onderwysers aan hierdie instansies is roepinggedrewe en hardwerkend met die doel om nie net kennis en kultuur oor te dra nie, maar om kinders tot hul volle potensiaal te ontwikkel. Hul geloof en vertroue in die opbou en vooruitgang van die kinders wat deur hul hande gaan, lê in werklikheid die fondasie wat lei tot die vooruitgang van enige volk en nasie. Die produk wat hulle uiteindelik aan die samelewing lewer is jong landsburgers wat hul plek in die ekonomie kan volstaan en positief kan bydra tot die groei en verdere vooruitgang van die land.

Dit is natuurlik ’n bedreiging vir die huidige regering wat poog om die onderwysstelsel, soos elke ander entiteit, te sentraliseer en lokaal te wil beheer. Deur propaganda en die implementering van beheermaatreëls soos die aanlynregistrasieportaal poog die regering om ouers te laat glo dat hulle nie by magte is om enige insae in die bestuur van skole te kan hê nie. Daar word deurentyd gepoog om beheerliggame te ondermyn en om beleid sonder enige gronde te verander.

Die teendeel hiervan is egter nader aan die waarheid. Ouers het veel meer mag en beheer as wat die regering hulle laat glo. Elke ouer het die reg om sy/haar kind in die skool van sy/haar keuse te plaas. Ouers, deur middel van die beheerliggaam, het die reg om die taalbeleid, godsdiensbeleid, skoolfonds en selfs die aanstelling van personeel te bepaal. Hoewel hulle nie by magte is om die kurrikulum te bepaal nie, het hulle wel die reg om beswaar aan te teken teen inhoud wat volgens hulle onvanpas is. Dit is belangrik vir elke ouer om bewus te wees daarvan dat dit deel uitmaak van hul grondwetlike reg. Ouers moet beheer hê, hulle moet dit behou en moet deurentyd poog om meer beheer te bekom.

Dit klink dalk soos ’n onmoontlike taak wanneer nuusprogramme en mediaplatforms getuig van staatsamptenare wat openlik rassisties is en konstant negatiewe en afbrekende aanmerkings teenoor Afrikaanse skole en Afrikaans as onderrigmedium en taal maak.

Hierdie arrogante propaganda is misleidend en weerspieël nie die werklike situasie in Afrikaanse skole nie. Die meerderheid Afrikaanse skole is reeds tot ’n mate geprivatiseer. Dit gebeur omdat ouers bereid is om skoolfonds te betaal waarmee addisionele onderwysers en personeel aangestel kan word en fasiliteite verbeter, onderhou en opgerig kan word: Alles met die doel om ontwikkeling en vooruitgang te kan verseker om sodoende aan elke kind ʼn geleentheid te bied waarin hy of sy hul eie talente kan ontdek in ’n omgewing waar dit vrylik ontgin en vaardighede ontwikkel kan word.

Dit is natuurlik waarom Afrikaanse skole so merkwaardig is en deurentyd op alle gebiede presteer: Die kinders, wat daar hul opvoeding ontvang, is die middelpunt. Die fokus is daarop om hulle toe te rus met waardes, dissipline en belangrike vaardighede wat nodig sal wees wanneer hulle die skool verlaat.

Dit is om ʼn eie roepinggedrewenheid by hulle aan te wakker en by hulle die wil te laat ontstaan om self verantwoordelikheid te aanvaar en aan te sluit by hierdie kultuur van aanhou bou.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elsie Riekert ·

Ek stem saam dat ons Afrikaanse skole uitstekend is. Dis net jammer dat party ouers voor hulle kinders sekere onderwysers en hulle skool self kritiseer. Ook dat hulle van skole verwag om hulle kinders as goedgemanierde mense op te voed.

Ji-anli ·

Dit is ouers se plig om waardes by hulle kinders te leer, morele waardes, maniere ,respek en liefde moet vanaf ouershuis kom. Onderwysers is daar om leerlinge reg te leer en op te voed.

Martie ·

Onderwysers moet kinders onderrig. Nie opvoed nie.
Opvoeding moet by die huis gebeur.

Gert ·

Afrikaanse skole is merkwaardig want die kinders is oorwegend Afrikaners.

Jerome Joorst ·

Die skrywer van hierdie artikel het n goeie geleentheid gemis om n gebalanseerde weergawe van onderwys in SA te bied. Dit is ook nie verbasend dat mense wat eendimensioneel dink so positief hierop reageer nie.

Danie ·

Jerome, dit laat jou die geleentheid om n gebalanseerde weergawe aan te bied. Maak gebruik daarvan. Ons luister. Ons is die ene ore…..

Salomé Malherbe ·

Dit doen afbreuk aan die gesprek deur nie insig te hê oor groter prentjie nie. Elje Afrikaner kind kom uit n Afrikaner huis met Afrikaner ouers en grootouers.
Ons is n volk met n kultuuretiek wat die produk van ons geskiedenis is.
Gee aan dit ALLES erkenning want slegs dán wen vorder en bou jy op sterk fondasies. Ons geloof in die Woord v God ons strewe na eerbaarheid, ons liefde vir gesonde spoet en kultuur ook ons Protestantse werketiek is alles karaktereienskappe wat deur ons geskiedenis gevorm. Maak skoolkinders veral trots daàrop en bemagtig hulle teen dié wat ons is voortdurend wil verkleineer, vernerder en vernietig.
Geloof Hoop en Liefde en saamstaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.