Wat maak mens gelukkig?

liggies-glas-strand

Foto:
Andrew Bui/Unsplash.com

In Die Volkskrant van 14 April 2001 gee die sosioloog, prof. Ruut Veenhoven, hoogleraar Humanisme aan die Universiteit van Utrecht, ’n baie eenvoudige antwoord op die moeilike vraag. Hy definieer geluk as plesier in die lewe. In ’n internasionaal vergelykende ondersoek bevind hy dat plesier hoofsaaklik bepaal word deur jou sosio-ekonomiese omstandighede.

“Nederlanders,” skryf hy “zijn bijvoorbeeld over het algemeen een gelukkig volkje. De Nederlandse samenleving is behoorlijk veilig en iedereen heeft een dak boven zijn hoofd, genoeg geld, intieme relaties en een goede opvoeding die het mogelijk maakt gebruik te maken van de vele vrijheden die worden geboden.”

As plesier die maatstaf vir geluk is, dan is daar seker min waaroor Afrikaners plesierig kan wees. Prof. Veenhoven sou kwalik met rekordhoë brandstofpryse en belastingkoerse, verswakte infrastruktuur, ’n krimpende ekonomie en nog dunner beursies, Zupta-skandale, politieke geweld, grond-onsekerheid, vandalisering van erfenisse en monumente, taalverdringing, renosterstropery en swartmarkhandel, ons as “een gelukkig volkje” kan beskryf.

Tog is die teendeel waar. Daar is ’n nuwe generasie Afrikaner-entrepreneurs, planmakers, bouers wat eietydse uitdagings met harde werk en doenplanne uitpresteer. Die paradoks van ons geskiedenis lê juis daarin dat hoe moeiliker die politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede is, hoe beter presteer Afrikaners en hoe groter is die geluk van selfverwesenliking. Dink maar aan die goeie vrugte van die Taalbewegings en die opstaan ná die Tweede Vryheidsoorlog.

Aristoteles bevestig in sy klassieke werk Ethica Nicomachea geluk is nie afhanklik van ’n eksterne locus, soos die staat of regte, nie. Nog minder van geld of plesier nie. Aristoteles kom tot die gevolgtrekking die geheim van ’n gelukkige lewe lê in optimale selfverwesenliking deur die beoefening van vier kardinale deugde wat in en deur gemeenskappe deur diensbaarheid sigbaar word.

Optimaal is vir Aristoteles sinoniem met woorde soos voortreflik, uitnemend, uitstekend. Die Latynse term hiervoor is virtus wat in Afrikaans en Nederlands vertaal kan word met deug. Dit hou ook verband met die Latynse woord arete wat vertaal kan word met lewenskuns. Die vier kardinale deugde waarmee ’n gelukkige lewe verwerklik word, is prudentia (versigtigheid, goeie oordeel, wysheid, onderskeiding); fortitudo (moed, standvastigheid, dapperheid, volharding) en temperantia (matigheid, soberheid, selfbeheersing). Die samehang tussen die deugde word bevestig deur iustia (geregtigheid, regverdigheid). Dit kom nie sommer vanself nie. Deugde-etiek is ʼn kuns wat geoefen moet word in elke situasie en konteks.

Die vroeë Christelike Kerkvaders, veral Augustinus, het ten nouste by Aristoteles se deugde-etiek aangesluit. Dit was veral Thomas van Aquinas wat die kardinale deugde aangevul het met drie Christelike deugdes van ’n hoër orde, naamlik geloof, hoop en liefde. So ontwikkel die tradisie van die sewe deugdes wat deur eeue ’n karaktervormende invloed uitgeoefen het op mense en gemeenskappe se verstaan van ’n betekenisvolle en gelukkige lewe.

Aan die wortel van ʼn gelukkige lewe lê ʼn dankbare lewenshouding. Diensbaarheid is niks anders nie as ’n dankbare antwoord op die goeie wat ons in maklike en moeilike tye uit die hand van die Here ontvang. Diensbaarheid is ook ’n dankbare antwoord op die goeie wat ons van ons ouers, grootouers, voorgeslagte en gemeenskap as erfgename ontvang het. Deur diensbaarheid bly die erfenis vir ons kinders en kleinkinders behoue.

Dit is nie nodig om in 2019 op die kantlyn te staan en passief toe te kyk hoe dit wat vir ons mooi en kosbaar is, gekaap, gesteel of vernietig word nie. Ons situasie in Suid-Afrika bied aan elkeen die geleentheid om met dankbaarheid en diensbaarheid goeie deugde in en deur ons gemeenskap te beoefen. Die beoefening van die goeie deugde help nie net elke persoon om te groei tot optimale selfverwesenliking nie. Goeie deugde stel ook gemeenskappe in staat om tussen dwase ekstremiste en hul selfvernietigende ideologieë ’n regverdige en verstandige middeweg te baan, sodat geregtigheid teenoor almal kan geskied. Deur diensbare betrokkenheid by die uitdagings van ons tyd, taal en kultuur skryf ons steen vir steen, daad vir daad nuwe geskiedenis.

“’n Gemeenskap wat antwoord op ’n oproep om geskiedenis te maak,” is in die woorde van prof. Koos Malan, “’n gelukkige gemeenskap, en die lede van so ’n gemeenskap wat deur hul ywer aan die maak van geskiedenis kan meedoen, is gelukkige mense.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jerry ·

Ek stem 100% saam met die skrywe en met Koos Malan. (When the going gets tough, the tough gets going) Dit gaan moeilik met die Afrikaner wat die huidige uitdagings die hoof moet bied en hoe dit ookal sy, hier in SA of in die buiteland sal die Afrikaner steeds diep spore trap! Gelukkig is die Afrikaner, wie so verdeeld is, want dit is hoe n volk aanhou om te oorleef! Deur die hele geskiedenis van die Volk was dit so. Die wat geluister het, het oorleef. Die wat nie geluister het nie, was vernietig. Dit is hoe dit was en dit is hoe dit sal wees!

Müller Pretorius ·

Elke mens is deel van baie gemeenskappe, waarbinne hulle geluk probeer vind, maar net EEN ware hartsgemeenskap maak almal goed en die moeite werd!
Die Afrikaner is my hartsgemeenskap!

marco polo ·

Temperamentia, daai derde Latynse deug, dis waar die probleem le. Mense se gierigheid is besig om alles te vernietig en om hulle ongelukkig te hou.

Chris ·

Om geluk in jouself te vind, dat jy die wêreld saam met jou op ‘n reis kan neem, ‘n reis van genot en vervulling om die aarde te dien, die heelal, die plante op aarde, die wuiwende grasvlaktes, die diere, voëls en om elke lewende wese se voortbestaan te verseker.

Kom ek vat jou Op Vlerke saam, op vlerke van een van die arende, verkieslik die berghaan, die visarend of die roofarend. Dis so maklik as jy die internet het.

Paul ·

Om geluk in jouself te vind, dat jy die wêreld saam met jou op ‘n reis kan neem, ‘n reis van genot en vervulling om die aarde te dien, die heelal, die plante op aarde, die wuiwende grasvlaktes, die diere, voëls en om elke lewende wese se voortbestaan te verseker.

Kom ek vat jou Op Vlerke saam, op vlerke van een van die arende, verkieslik die berghaan, die visarend of die roofarend. Dis so maklik as jy die internet het.

Jerry ·

Vervolg: Die deugde en dade van die Afrikaner wat die Afrikaner gelukkig maak in die buiteland, maak ook die buitelanders gelukkig. Die deugde en dade van die Afrikaner wat die Afrikaner gelukkig maak in SA, maak Suid Afrikaners ongelooflik ongelukkig terwyl die deugde en dade van Suid Afrikaners wat Suid Afrikaners gelukkig maak, die Afrikaner ongelooflik ongelukkig maak in SA.

marco polo ·

Ek dink nie die Suid Afrikaners wat Afrikaners ongelukkig maak het enige deugde nie, net dade.

Koos ·

Anders as met magnete van metaal gemaak, waar teenoorgestelde pole mekaar aantrek, is dit met mense van vlees en bloed gemaak, net mooi andersom.

En so sal dit vir altyd wees, niks sal dit ooit verander nie.

Soos die Engelsman sal sê: “Go figure that for yourself.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.