Wat maak ’n staat belangrik?

Argieffoto

Wat maak ’n staat belangrik? Dit is waarskynliker makliker om te sê wat nié daartoe bydra om ’n staat belangrik te maak nie.

Die vraag is weer relevant nadat Noord-Korea onlangs ’n missiel minagtend bo-oor Japan afgevuur het. Ontleders het verduidelik dat die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-Un, meen ’n vertoon van mag maak sy land belangrik en sal daartoe bydra dat die land as ’n volwaardige lid van die internasionale gemeenskap se gerekende state sal wees. Die ontleders het bygevoeg dat niemand hierdie logika verstaan nie.

Maar so ver verwyder van logika is dit ook nie, soos om te wys hoe China nie respek vir menseregte, en veral minderheidsregte toon nie, maar by byna die hele wêreld voorkeur kry. Trouens, China dikteer aan ’n groot deel van die wêreld dat hulle nié die Nobelpryswenner, die Dalai Lama, mag ontvang nie. En hoe meer Taiwan menseregte en die demokrasie laat nesskop het, hoe meer het dié land op aandrang van China ’n skop in die tande gekry.

Noord-Korea het egter agterstande, soos dat sy menseregterekord so sleg is dat selfs China internasionale sanksies teen sy buurland steun, al word dit skynbaar ruim oortree. Suid-Korea weeg in feitlik elke opsig op teen Noord-Korea, en veral wat demokrasie en die ekonomie betref, verdwerg dit sy noordelike buurman geheel en al. Dit is dus maklik vir lande om ’n keuse te maak wanneer ’n keuse gemaak moet word. Noord-Korea was tot dusver ’n prominente deel van die sogenaamde muishondlande en militêre bande met Iran hinder erg.

Maar hoekom die missiel bo-oor Japan afvuur?

Die eerste oorweging het niks met politiek of die militêre te make nie. Alle lande lanseer hul vuurpyle en interkontinentale missiele van wes na oos af as dit moontlik is. Hierdeur word die draaispoed van die aarde as bonus gewen, wat koste bespaar en reikafstande verhoog. So word Amerikaanse vuurpyle meestal van Kaap Canaveral ooswaarts en oor die Atlantiese Oseaan gelanseer. Japan se ligging versper egter hierdie opsie vir Noord-Korea, en Japan het al lankal gedreig om enigiets wat Noord-Korea oor sy grondgebied lanseer, af te skiet. Vir Korea is dit ’n ingewikkelde proses om byvoorbeeld satelliete te lanseer aangesien met die ontbranding van elke fase koers aangepas moet word om die tuig deur ’n kronkelpad in ’n suidelike rigting die ruimte in te lanseer.

Toe Noord-Korea wel ’n missiel oor Japan afvuur, is Japan skynbaar met die broek afgevang. Burgers het wel noodboodskappe op hul selfone ontvang, maar oefeninge om die missiel af te skiet is eers dae later gehou. Duidelik beskik Japan oor die vermoë, maar Kim het gedreig dat dit net die eerste van vele sal wees.

Japan is ook nie meer ’n militêre vulletjie nie. Ná die Tweede Wêreldoorlog is daar allerlei beperkings op Japan geplaas wat veral sy buitelandse operasionele vermoë aan bande sou lê. Veral die afgelope paar jaar het Japannese nasietrots swaarder geweeg en Japan het ’n beduidende mag geword. Twiste oor die besit van eilande met China, asook Noord-Korea se uitdagings, het ook daartoe bygedra dat die wêreld Japan se versterkte vermoë eerder verwelkom het as ongelukkig was daaroor.

Noord-Korea moet weet, daar is ’n verskil in respek en ontsag, en hy kan enige oomblik sy hand erg oorspeel.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kaufman ·

Japan en ander oorsterse lande is baie taal en nasietrots. Hulle laat ook nie immegrante in nie. Tog mag westerse lande gladnie taal en nasietrots wees nie of die media beswadder hulle as verregs soos wilde en trump.

Andries Erwee ·

Ek wonder soms waarom iemand iets totaal onwaar sê. Is dit bloot omdat hulle glo wat hulle dink. Japan het tans 3 mil immigrante.

Oost ·

Nie heeltemal waar nie. Die immigrante is yl gesaai en streng uitgesoek, en meestal van soortgelyke kulture in area, nie vannaf afrika of moslemwereld nie.

Erwee verkeerd ·

Andries, gaan tel enige goeie handboek oor demografie op dan sal jy beter verstaan.

Theresa ·

Rillingswekkend dat kernwapens in hande val wat beslis nie te veel oor ander omgee nie.

Atoombom Itermagog ·

En waarom het die VSA nie destyds Pakistan by die nek gegryp toe Pakistan sy eie atoombom ontwikkel het nie? Gestel die Taliban of Isis bekom die Pakistanse atoombomme?

Gerhard ·

Want die VSA en Pakistan is nie vyande nie, net soos die VSA en Israel nie vyande is nie.

John ·

Waar is 007 noudat ons hom nodig het of werk hy aan ‘n fliek waarin Trump ge’trump’ moet word om Hillary terug te plaas in die Withuis? Die werklikheid is ‘n heel ander speletjie. Die ontwerpers van die waterstofbom in die 1940’s gewaarsku dat probleme wag wanneer dit in verkeerde hande beland. En dit het.

Kom Ons Boks ·

Geheime MI6 Britse agent James Bond is fiksie, die 45ste President van die Verenigde State van Amerika: President Donald J. Trump, is feit. ‘n Goeie fiksie verhaal sal wees waar 007 die manne in Benghazi red omdat hulle deur hul eie regering onder Obama en Clinton versaak is…

Petrus Potgieter ·

@Theresa: Die enigste land wat só absoluut NIKS vir ander omgee, is die Verenigde State van Amerika – die enigste land op die planeet wat twee atoombomme op stede vol burgerlikes in Japan gegooi het.
Dít was die ergste terroristiese dade in die geskiedenis van hierdie planeet en solank ons dit nie in berekening bring nie, kan ons nie hóóp om die internasionale “politiekonomie” te begryp nie

John ·

Die grootste ironie is dat die VSA nou teen sy eie dwaarsheid te staan kom; die land waarop hy waterstofbomme gegooi het moet hy teen eie diesulkes beskerm so ook ‘sy’ eilandjie vol ketties. Slim het nou sy baas gevang, soos die spreekwoord nie verniet se nie. Hoe uitoorle mens jou eie slinkse plan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.