Wat maak ons van die Staatsrede?

Cyril Ramaphosa. Foto: PresidencyZA/Twitter

ʼn Staatsrede moet gesien word waarvoor dit is: Die opening van die parlement in die nuwe jaar en die poging van die regering om ʼn gees van optimisme en patriotisme in tye van wanhoop en sinisme te versprei. Dit is vol beloftes, voornemens, mooiklinkende gemeenplase, herinnering aan die “glorieryke vryheidstryd en die swaarkry van die mense” en veral vol vaaghede.

Die ANC regeer nou al te lank om enigsins mense nog ʼn rat voor die oë te draai oor hul beleid (of gebrek daaraan) en die swak uitvoering daarvan.

Ook pres. Ramaphosa bly in sy hart ʼn sosialis en glo aan die rigtende krag van die staat, ook hý wil nog meer mag in die hande van ʼn oneffektiewe en soms irrasionele staatsapparaat konsentreer.

Nogtans, in vergelyking met sy voorganger, Jacob Zuma, is daar wel ʼn wesenlike skuif en daar is die gegronde hoop dat Ramaphosa ʼn groter begrip van die land se talle probleme het en dit nie alles op apartheid blameer nie. Dit was dus ook bemoedigend dat daar redelike groot klem op die ekonomie in sy staatsrede was. Ook die verband tussen korrupsie en ekonomie, oftewel die wyse hoe korrupsie die ekonomie aan bande lê, verstaan Ramaphosa (anders as Zuma) goed.

Daar was vyf hoofpunte wat Ramaphosa uitgelig het, wat spesifiek aandag verdien:

  1. Ekonomiese groei en werkskepping;
  2. Onderwys en vaardigheidsontwikkeling;
  3. Verbetering van die lewensomstandighede, veral van die armes;
  4. Stryd teen korrupsie en staatskaping; en
  5. Verbetering van die vermoë van die staat om die behoeftes van die mense aan te spreek.

Punt 1 is beslis veral belangrik. In die toespraak word ook andersins ʼn groot klem op die ekonomie gelê en Ramaphosa se pogings om beleggings te werf, is ʼn stap in die regte rigting. Natuurlik is daar hopeloos te veel regulasies wat beleggers afskrik, maar ten minste lyk dit of Ramaphosa hier en daar ʼn paar verbeterings aan die gang gekry het en nog verbeterings wil aanbring.

Om eie produksie en uitvoer te verhoog en klein besighede te ondersteun, is alles lofwaardig, maar dit was die ANC wat Suid-Afrika se eens sterk nywerheidsekonomie grootliks vernietig het deur sy eensydige afhanklikheid van China. Daar is natuurlik die reuse-agterstand van die Zuma-jare en ʼn mens kan van ʼn ANC-president ook nie verwag dat hy ʼn Margaret Thatcher-beleid volg nie.

Landbou word as belangrike bron van inkomste en werkskepping uitgelig wat op sigself positief is, maar ongelukkig herhaal Ramaphosa die voorneme om grond sonder vergoeding te onteien. Om enige iets anders te verwag met die EFF wat in sy nek blaas, en nadat die ANC al so veel verwagtings geskep het, sou naïef wees. Die beginsel van onteiening sonder vergoeding bly fundamenteel verkeerd en skadelik.

Die effense silwer randjie van die donker wolk is egter dat die regering blykbaar nie ʼn Zimbabwe-styl grootskaalse afset van boere van hul grond beoog nie en daarin duidelik verskil van die EFF. Grond in staatsbesit sal blykbaar eerste verdeel word, en dan grond naby die stede, en kleinskaalse swart boere sal bygestaan word. Die onteiening van die mees produktiewe landbougrond en goed ontwikkelde plase blyk nie nou ter sprake te wees nie. Nou het die ANC egter ook al te dikwels gewys dat hulle die een ding sê (veral daar waar die media-aandag op hulle is) en die ander ding doen. Ons weet ook dat hulle gewoonlik met die salami-taktiek werk, om eers by die maklike deel te begin en stuk vir stuk die hele ding te vat wat hulle soek.

Op die gebied van onderwys en opleiding, punt 2, is daar geweldig skade gedoen deur die regering, en dit lyk nie asof hulle enigiets wil verbeter nie. Natuurlik hang punt 1, 2 en 3 ten nouste met mekaar saam. Hier is Ramaphosa tipies sosialis en praat veral van die staat wat beter sanitasiegeriewe moet bou, eerder as wat gekyk word hoekom sekere skole (meesal Afrikaanse skole) ten spyte van staatsinmenging suksesvol is en hoe ander skole daarvan kan leer. Dit het meer te doen met die etos van die skool en die kwaliteit van die onderwysers as met die geriewe. As daar meer dissipline was, was gereelde herstel ook nie so noodsaaklik nie.

Dit is betreurenswaardig dat misdaad, seker die nommer 1-probleem vir meeste Suid-Afrikaners, nie genoem is as een van die fokuspunte nie. In die toespraak word misdaad wel kortliks aangeraak, spesifiek geweld teen vroue en kinders, maar nie geweld teen die boere nie.

As misdaad effektiewelik beveg word, die ekonomie vry is, daar goeie onderwys (sowel deur die staat as deur privaat instansies) en korrupsie nie geduld word nie, dan sal die lewensomstandighede van alle inwoners, veral die armes, (punt 3) vanself verbeter. Dan is daar ook nie meer ʼn allesbeherende staat nodig om aandag aan die behoeftes van die mense te gee nie (punt 5).

As sosialiste sal die ANC en ook Ramaphosa egter nooit die geloof in die sterk en diep staat laat vaar nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Lees Fin24 oor die liefdesverhouding tussen die ANC en Hitachi…. groooot verloofring het reeds in 2008 geskitter. Ons betaal steeds daaraan af…

waarheid1 ·

Al die ou korrupte kaders sit nog steeds saam met die uitverkoper in die parlement.

Gert Louw ·

Onderwys en werkskepping is belangrik. Maar dat korrupsie en staatskaping afgemaak word as nie belangrik nie, terwyl die publiek die gelag moet betaal. Roei korrupsie uit, kry die staatskaping agter ons, sodat daar weer vertroue is. Dan kan werkskepping en onderwys aangespreek word. Die publiek raak meer en meer apaties teenoor alles, gee nie meer om nie, want wat baat dit ons. SA keer terug na Jesus toe, nog net Hy kan help.

Gert ·

Die grondgryp gaan wees soos die plaasmoorde: stadig maar seker, net stadig genoeg dat die buiteland nie te veel notisie neem nie. Ek dink Cyril het dit herhaaldelik baie duidelik gemaak dat hy inkoop in die gronddiefstal-leuen en dat hy glo dit moet “reggestel” word. Dus sien ek maar swarigheid vorentoe.

willem Botha ·

Diskriminasie teen minderhede, diefstal van belasting geld,totale verval van staats departemente en waarmee sit jy ….n piesang republiek of s….hole soos Presedent Trump na die landjie verwys wat net aantreklik is vir kriminele en uitgehongerde vlugtelinge.

Se maar net ·

Die anc en dan ramapadda kooker buit ons wittes se naiwiteit uit. Hoe kan enige iemand nog enige silver randjie sien in wat hulle se. Ai ons het nou mos al gesien hulle is nie ernstig met enige regruk van enige iets nie behalwe die vol maak van hulle beursies. Asb julle wat positiewe uitlatings deur die regering opeet soos soetkoek. Dit is nie hulle doel nie. Hulle het n totaal ander doelwit as ons en volg n baie slim en goed beplande roete om daarby uit te kom. En ons wil dit nie glo nie.

Jerry ·

Zuma het verstaan wat die ANC verstaan het om die ekonomie lam te le deur grootskaalse kaderontplooiingkorrupsie vir selfverryking van die ANC elite en revolusionere strukture met gepaardgaande verarming van wit monopolie kapitaal en verarming van die res, met die gevolge, die skep van die klimaat vir verandering, “a new dawn”. Die ANC van Zuma is dieselfde ANC van CR wat verstaan dat die lamle van die ekonomie ten koste van wit monopolie kapitaal was en dat die “new dawn” regruk van die ekonomie dit ten doel het om verandering teweeg te bring, wat ook moet strek ten verdere koste van wit monopolie kapitaal en tot verdere voordeel, beheer, versterking en verryking van “our people” die ANC elite en revolusionere strukture! Die ANC het aan die massas gedemonstreer hoe magtig die ANC is om die ekonomie lam te le “rand te laat val” sonder dat die ANC gekeer kan word. Die ANC is nou besig om aan die massas te demonstreer hoe magtig die ANC is om die ekonomie te herstel “rand weer op te tel” en te beheer tot voordeel van “our people”. Die implementering van die sosialistiese idee van n allesbeherende ANC elite en staat is op hande en is die ANC en CR se sogenaamde “New dawn”! Dit kan alles in n mate gestuit word en die ANC kan verhoed word om ryker en magtiger te raak en die res armer deur te verhoed dat wit monopoliekapitaal en belastingbetalerspensioene gebruik word as “bail outs” vir staatsbeheerde entiteite.

Johanna Botha ·

Net een ding ….lee beloftes …dag na SONA toe sit ons SONA krag dis wat ek lees !

Dries du Toit ·

Wanneer kry ons Rhoda Kadali se eerste handse inligting uit die VSA

Annie Webb ·

Puik uiteensetting van hoe sosialiste hulle ding doen. “Until they eventually run out of other people’s money,” soos Margaret Thatcher en ander die uiteinde van alle sosialistiese regerings beskryf.

Zirk ·

Die onvermoë van die regering om Eskom te herstel, asook die beplande grondgryp gaan beslis nog vanjaar dié land in ‘n groot krises dompel. Daar gaan een voordeel wees. Dit gaan die begin van die einde van die ANC wees.

Jerry ·

Ja Gert, die ANC het die ekonomie laat val met doelbewuste plundering van staatsbeheerde entiteite. Die ANC gaan doelbewus die ekonomie met bevoegde Suid Afrikaners en buitelanders se hulp en met belastingbetalersgeld, wat jou geld insluit, herstel, deur staatsbeheerde entiteite te herstel. Sodra die ekonomie weer mooi op dreef is, dan sal die kaders weer staatsbeheerde entiteite plunder. Mense verstaan nie die denke en werking van sosialiste nie en die prosesse wat ditself herhaal nie en gaan naiewelik moue oprol en inspring om die ekonomie te herstel vir n beter toekoms, net om sodoende die ANC verder te sterk in sy kwaad! Soos Annie ook vir Thatcher tereg aanhaal is dit n proses wat homself herhaal totdat daar geen geld meer oor is om te plunder nie. Dit is gewoonlik dan wanneer die bloed begin vloei en gewone mense en beleggers sou dit graag wil verhoed. SA kan in n mate gered word deur staatsentiteite te privatiseer en staatbeheer te beperk. Privatisering pas egter nie in by die ANC en vakbonde se sosialistiese denke nie en sal dus nie toegelaat word nie, tensy daar n moontlikheid bestaan om dit wel later weer onder staatsbeheer in te trek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.