Wat maak Orania daar?

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Die Solidariteit Beweging het onlangs 30 ankerdorpe aangekondig waarheen Afrikaners trek. Orania en omstreke is aangedui as een streek waar Afrikaners ʼn demografiese meerderheid kan wees. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het meer gaan uitvind oor Orania:

“Pappa, kan ons gaan stap?” vra my tweede jongste.

“Gaan stap gerus.” Sy kyk my skepties aan. “Ons moet seker die huisie sien pappa?”

“Julle moet net nie verdwaal nie,” antwoord ek.

“Is dit veilig op Orania?” vra sy, duidelik nie oortuig nie.

“Dis baie veilig,” probeer ek haar gerus stel.

“Die veiligste in die wêreld?”

“Van die veiligste plekke in die wêreld,” antwoord ek weer.

“Dit kan nie wees nie. Hier is nie mure en drade om nie,” speel sy haar troefkaart.

Kinders op Orania beleef ‘n soort vryheid wat nie aan aan ons bekend is nie.

Hierdie stukkie dialoog oor my kind se siening van “normaal” het my geskok. Vryheid kan nie normaal wees nie. Natuurlik het die sondeval Orania nie misgeval nie, maar op die dorp is ʼn soort veiligheid wat ons nie ken nie.

Ek het Orania al verskeie kere besoek en het besluit om verder te gaan ondersoek instel na, soos baie dit sien, hierdie vreemde, abnormale gemeenskap.

Orania is geleë in die Noord-Kaap, so ’n rapsie meer as 150 km van Kimberley, ongeveer 40 km van Hopetown en 30 km van die Vanderkloofdam. Die dorpie lê reg langs die Oranjerivier. Die Karoo-omgewing het die tipe bekoring wat mense soos Coenie de Villiers al besing het en die Oranjerivier gee die dorpie toegang tot water. Dis baie groener in Orania as die prentjie van die Karoo in jou kop.

Ek het met verskeie Oraniërs oor hul dorp en idees gepraat. My toergids was Frans de Klerk, dorpsbestuurder van Orania en skrywer van die boek, Orania, van dorp tot stad. Hier is hoe ek die Orania-idees verstaan:

“Waarom vestig julle ʼn Afrikanerdorp so ver van alles?” het ek vir Frans gevra.

Hy lag. “Prof. Carel Boshoff sou jou antwoord dat dit Pretoria is wat so ver is.”

lugfoto-van-orania

‘n Lugfoto van Orania. (Foto: verskaf)

Demografie bepaal die keuse van die plek. Afrikaners is die slagoffers van demografiese strome. Hulle het hulle histories binne demografiese stroomversnellings geplaas. Die oorweldigende getalle plaas druk op skole, universiteite, veiligheid, werk en vele meer. Jy kan net vir só lank keer. Die regering regeer vir die meerderheid. Die Lesufis van die wêreld veroorsaak dat Afrikaners die hele tyd moet retireer.

Orania word gevestig buite die demografiese strome. In Orania is Afrikaners ʼn meerderheid. Dit help dat Afrikaners konsentreer en konsentrasie maak dit moontlik om ʼn gemeenskap in te rig waar mense normaal kan leef.

Vir die Oraniërs gaan dit oor die reg om self te besluit. Hulle wil nie hê die staat moet oor hulle beskik nie; hulle wil oor hulleself beskik. Die staat kan nie meer met Afrikaners se toekoms vertrou word nie.

Hulle maak gebruik van die grondwetlike ruimtes vir selfbeskikking. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bevat artikel 235 wat selfs territoriale selfbeskikking binne die Republiek moontlik maak. Volgens hulle is dit juis normaal om minder van die staat afhanklik te wees. Meer gemeenskap en minder staat is ʼn kerndeel van hul idees. Hulle glo in die toekoms, want hulle wil dit self bepaal.

Afgesien daarvan dat hulle binne die Suid-Afrikaanse grondwetlike raamwerk werk, vind hulle aansluiting by honderde internasionale voorbeelde van selfbeskikking binne ʼn meerderheidsomgewing waarvan die Duitsers in die noordelike provinsie van Italië, Suid-Tirool, ʼn uitstekende voorbeeld is. Ten spyte daarvan dat die groepie Duitsers minder as 1% van die Italiaanse bevolking uitmaak, het hulle grootskaalse selfbesluitneming omdat hulle gekonsentreerd is.

In die wêreldkonteks is wat Orania doen, normaal. En in die Suid-Afrikaanse konteks, wettig. ʼn Goeie demokrasie word geken aan sy vermoë om minderhede te beskerm.

Oraniërs doen hulle eie werk. Om eie werk te doen is normaal.

My dogter neem ʼn foto van jong Afrikanerseuns wat bakstene op ʼn bouperseel vir mekaar gooi. Hulle bou aan Gannabos. Dit is sowat 120 nuwe woonstelle wat behuising op intreevlak in die behuisingsmark moet verskaf. Die Afrikaners wat bou en sement aanmaak, lyk eintlik vreemd. Net so vreemd soos die Afrikanervrou wat ons huis skoongemaak het en die jong seun wat in die tuin voor ons huisie gewerk het.

In Orania is dit egter normaal dat Afrikaners hul eie werk doen. Hulle glo in arbeid adel en die protestantse idee dat alle werk edel is. Hulle dink dis vreemd dat ons dink dis vreemd. Tydens die vorige regering is baie Afrikaners wat eenvoudige handewerk verrig het, deur die staat in diens geneem.

Nou spoeg die gemeenskap in Suid-Afrika hulle uit. Die sosiale infrastruktuur maak dit bykans onmoontlik vir jong wit mense om op die onderste posvlakke te werk. Die sosiale infrastruktuur in Orania maak dit juis moontlik. Arbeid word in Orania genormaliseer.

Frans vertel dat mense dikwels vra of dit dan nie rassisties is as Afrikaners hul eie werk doen nie. Dit het byna normaal geword dat sekere werk deur ander gedoen moet word. Dit is eintlik diep rassisties om te dink dat ander my werk moet doen. Ironies genoeg ont-ras en normaliseer Orania arbeid.

Die Solidariteit Helpende Hand het ʼn maatskaplike behoeftebepaling op Orania gedoen. Net soos in ander gemeenskappe is daar ook hier verskeie maatskaplike uitdagings. Een “abnormale” ding wat die studie oor die Oraniërs bevind het, is dat 90% van hulle gelukkig is. Die res van Suid-Afrika is dit beslis nie.

Daar is oral op Orania bouwerk. Een Oraniër het gesê jy kan Orania hoor groei. Gannabos is ‘n nuwe woonstelblok vir intreebehuising.

Op pad na Orania is ons deur verskeie plattelandse dorpies in Noordwes en die Noord-Kaap. Die agteruitgang is hartseer. Die lyn is afwaarts. By Orania word gewoel, gewerskaf en gebou. Oral is boupersele en nuwe erwe word uitgelê. Lida Strydom van Orania sê mens hoor Orania groei. In Orania is die lyn opwaarts. Dis in kontras met Suid-Afrika.

Orania is egter nog ʼn klein dorpie. Die jongste sensus wys op sowat 1 600 inwoners en dit groei teen ongeveer 10% per jaar. Dit lyk ook maar nog soos ʼn gewone Karoo-dorpie. Die Oraniërs is uitgesproke dat hulle van dorp na stad wil ontwikkel. Hulle mik nou na 10 000 mense en daarna meer.

Die groot uitdaging is om infrastruktuur, sonder ʼn staat, vir die 10 000 wat nog kom, gereed te hê.

Die elektrisiteitsinfrastruktuur is reeds verbeter en is gereed vir die volgende groeifase. Oral is slote vir die nuwe rioolinfrastruktuur. Beplanning is aan die gang vir optiese vesel wat Orania hoogs mededingend gaan maak wat vinnige, bekostigbare internet betref. Ondergrondse infrastruktuur kos baie en maak nog nie die dorp mooi nie, maar dit stel die dorp in staat om te ontwikkel.

Frans vertel dat iemand hom gevra het wat hul volgende stap na selfbeskikking is: “Ons gaan ʼn slootgrawer koop,” was sy onverwagse antwoord.

By Willie Nel se uiters suksesvolle vervoerbesigheid staan ʼn betonaanleg. Die aanleg het van die beste tegnologie en, soos Willie sê, die gehalte wat hy lewer, kan brûe bou. Dit lyk ook so ʼn bietjie abnormaal. In hierdie klein dorpie staan hierdie groot aanleg wat genoeg beton kan vervaardig om honderde huise te kan bou. Byna soos ʼn Noag se ark wagtend op reën.

“Ons gaan ʼn stad bou,” sê Willie met selfvertroue.

Hoe meer ek kyk, hoe meer sien ek die stad wat kom. Pieter Bischoff gaan wys my hoe Bo-Karoo Opleiding lyk. Dis nog ʼn klein kollege, maar hulle bou dat dit klap aan ʼn nuwe koshuis, want hulle maak gereed vir 300 studente, die meeste van hulle in die bou-ambagte. Hulle gaan opgelei word en vir hul prakties gaan hulle sommer ʼn stad bou. Orania het ʼn totale tersiêre strategie in gedagte wat insluit beroeps- en universiteitsopleiding.

“Waarom ʼn stad?” wou ek by Frans weet.

Die tegniese sentrum op Orania waar Bo-Karoo studente opgelei word.

“Stede bied sekuriteit. Hierdie sekuriteit is op vele vlakke. So klein soos Orania nou is, beleef hulle die vryheid van veiligheid. ʼn Reuse- nuwe veiligheidskompleks word gebou. ʼn Helikopterlandingsplek, ʼn ambulans- en brandweerdiens en mediese fasiliteite en ʼn hoëtegnologiebeheerkamer, wat ʼn groot radius rondom Orania veilig gaan hou, is deel van die kompleks.

“Stede maak spesialisasie moontlik. Hoe meer gekonsentreerd mense bly, hoe veiliger is hulle en hoe meer dienste wat gespesialiseer is, kan aangebied word. Orania moet ook antwoorde bied vir ons ingenieurs, mediese praktisyns en ander professionele beroepe.

“ ʼn Stad skep ʼn kragtige politieke sentrum. Die gemeenskap het tot ʼn groot mate selfstandigheid en kan talle besluite self neem. Volgens Frans het stede in die verlede die val van ryke oorleef. Werklikhede wat binne ʼn stad geskep word, kan nie geïgnoreer word nie. Werklikhede op die grond het sterk politieke krag wat net nie geïgnoreer kan word nie.

“Stede maak ook ʼn ekonomie moontlik. In ʼn stad kan basiese ekonomiese praktyke floreer, maar ʼn stad kan per definisie nie in isolasie bestaan nie. Hoe sterker die stad, hoe meer interaksie is daar met die groter wêreld. Orania wil nie en kan nie ʼn klein, geïsoleerde eilandjie wees nie. Orania het die markekonomie gekies wat isolasie onmoontlik maak.”

Die nuwe koshuise van Bo-Karoo opleiding wat bykans voltooi is.

Prof. Carel Boshoff het tereg Suid-Afrika se groot vraagstuk opgesom met die opmerking dat die grondvraag die grondvraag is. In grond is daar egter ook antwoorde vir Afrikaners.

Ek vra vir Frans om in een sin op te som wat hulle doen: “Ons bou ʼn unieke stad waarin Afrikaners vry, veilig en voorspoedig kan wees.”

Hy antwoord verder dat “uniek” ook ’n stad waarbinne Afrikaners tuis is, beteken. Afrikaners hou eintlik nie van die stede waarin hulle nou woon nie. Hulle hunker na die platteland of plaas. Orania gaan ʼn stad wees waarbinne Afrikaners tuis gaan voel, ʼn plek met oop ruimtes, byna ʼn landelike atmosfeer. Orania gaan ook ʼn gemeenskapstad wees en nie net ʼn versameling van koue individue wat toevallig saam bly nie. Orania kry dit alreeds reg.

Orania het sy eie “geldeenheid”, die Ora. Dit is eintlik ʼn ruilmiddel waarmee die plaaslike ekonomie gestimuleer word. Die ekonoom, Dawie Roodt, is besig met ʼn projek om die Ora te digitaliseer. Die grootste korporatiewe bank in die land is ook op die dorp.

‘n Groep studente van Bo-Karoo opleiding.

Volgens Frans is die bou van die stad Orania die volgende groot waagstuk van Afrikaners.

“Ons het al getrek, ʼn taal gemaak, groot oorloë gevoer, daarna opgestaan en gemoderniseer. Ons het die historiese energie om ʼn stad te bou en ons het nie ʼn keuse nie. Afrikaners moet ʼn ingrypende antwoord aanpak vir die ingrypende krisis waarin hy verkeer. Vasgevang in die Suid-Afrikaanse demografiese see gaan meer van dieselfde nie genoeg wees nie.

“Die geborgenheid en veiligheid van ʼn stad is deel van die antwoord van die Afrikaner in Afrika. Die stad is dus juis nie om te vlug nie, maar om te kan bly. Die stad is juis die plek waaruit met selfvertroue geskakel en uitgereik kan word. Orania skakel reeds met verskeie ander swart gemeenskappe en deel graag sy model as model van bemagtiging deur gemeenskapselfstandigheid.”

Frans neem ons teen ʼn koppie uit wat ʼn uitsig oor Orania bied.

“Verbeel jou jy sit ʼn 3D-bril op en kyk na die stad wat kom,” sê hy.

Toe sien ek dit.

ʼn Stadsplein met ʼn Europese gevoel, maar tog Afrikaans in Afrika. Klein winkeltjies en mense wat kuier, in Afrikaans. ʼn Mens kan sien hulle is gelukkig. Skuins links agter die skool is die universiteit en die beroepskollege. Die stad het ʼn studentekarakter ontwikkel. Die skool maak gebruik van die nuutste tegnologie en word as een van die bestes in die land geag. Kinders stap skool toe of ry fiets. Hulle lyk vry en veilig. Groen stroke en fietspaadjies maak dit makliker dat mense kan fietsry. Agter my is die wildpark, ʼn gewilde ontspanningsgebied en by die rivier is ʼn bos aangeplant wat romantiese staproetes bied. Op die rivieroewer is ʼn gewilde vakansieoord. Die stadsraad se moderne vullisverwyderingsvragmotor ry verby en Afrikaners spring af om die vullisdromme op te tel. Afval word georganiseer om herwin te word.

Naby die stadsplein word ʼn teater gebou. Regs onder is die sportvelde waar groot sportbyeenkomste aangebied word. Dit is ook die plek waar die grootste kunstefees in die land aangebied word. Die bekostigbare en betroubare digitale infrastruktuur help dat mense vanuit Orania gemaklik kan sake doen in die res van die land en globaal.

Afrikaners hou daarvan om hier vakansie te hou. Dit is veilig en Afrikaans.

Ook links van my lê die groot nywerheidsgebied. Die meeste van die ondernemings is klein vervaardigers. In die verte kan die duisende pekanneutbome van een van Suid-Afrika se grootste pekanneutboorde gesien word.

Die meeste Afrikaners bly nie in Orania nie, maar vir baie is dit hul plek in Afrika. Byna soos Israel vir die Jode wêreldwyd is. Hulle help om Orania te bou en belê in projekte en winsgewende maatskappye in die stad. Baie borg ʼn kind om op Orania te studeer. Dit het ʼn kulturele ding vir Afrikaners geword om ook in Orania te belê. Hulle belê, want eendag, al is dit ook die volgende geslag, trek hulle na Orania.

Ek haal my “3D-bril” af en sien toe weer die klein dorpie, maar verstaan nou baie beter wat vir my gesê is. Ek kan sien waarheen alles op pad is. Elke bakstaan wat ek nou sien, is deel van ʼn stad wat kom.

Die Oraniërs het baie van wat ek as normaal aanvaar, uitgedaag. Baie van wat mense as abnormaal aan hulle sien, daag hulle ook uit. Hulle het my geïnspireer met hul droom en hul vasberadenheid om die droom te verwesenlik. Hulle is séker dat dit gaan gebeur.

Orania kan nie die volle antwoord vir Afrikaners wees nie. Maar die prentjie wat die Oraniërs vir my geskets het, het my oortuig dat dit deel van die groter oplossing is vir dié van ons wat net hier gaan bly.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Sarel Roets ·

Baie dankie vir n baie mooi beskrywing van Orania se plan. Ek sê plan, want dit is reeds meer as net ‘n droom. Elke enkele dag wat verbygaan bou ons nog n stukkie vryheid, veiligheid en voorspoed by.

Kort voor lank gaan Orania die hartsplek van elke trotse Afrikaner wees, al bly hulle in die verste uithoek van die aarde!

Ons bou ons eie toekoms!

Plekkie-in-die-son ·

Fantastiese plek! Pragtig, skoon en veilig. My aftreeplekkie

Stephan de S ·

@ RP
Die sinvolle vraag wat jy eerste moet vra is: wil bruin/swart Afrikaners daar bly. Soek hulle dit as toevlugsoord? As hulle dit begeer ,open dit n hele nuwe dimensie in ons land se politiek.

RP ·

Dankie vir jou billike terugvoering Stephan. Jy maak n goeie punt, ek sal dit verder neem en vra, indien hulle nie daar wil bly nie, hoekom nie? Is dit eenvoudig oor kultuur verskille, wat ‘n billike rede is in my opinie, of is dit omdat daar ‘n vyandigheid is? Al is dit slegs n persepsie en onwaar. Soos ek vantevore gese het, ek wil net nie he ons moet weer n kultuur wees wat soos n uitsluitlike klub is nie. Ons moet eerder n voorbeeld stel vir die wereld en maak dat almal deel van ons wil wees. Dit is my 2 sent.

Vra net ·

Dis ‘n pragtige droom. Bekommer my net hoe lank voor daar ‘n “grondeis” op Orania ingedien word? Wanneer hulle nie kan wen nie speel hulle vuil. Orania is soos ‘n dolk in die hart van die groot bevryders. Dan, het Orania genoeg grond tot hulle beskikking om hul stad te bou? Sal hulle nog kan bykoop as die stad groot raak?

Dirk Breytenbach ·

Daar was al 2 grondeise wat suksesvol afgehandel was teen Orania.

Peet Harmse ·

Ons is innig dankbaar vir die voorsate wat hierdie droom n werklikheid gemaak het. Ons gesin kom hiernatoe so veel kere as ons kan om ons steun daadwerklik te toon.

Erik ·

Ek was al verskeie kere op Orania aangesien ek in Bloemfontein bly (nie te ver) en familie het wat afkomstig is uit die omgewing.

Ek kan nie stry nie, die dorpie is skoon en veilig. Die mense is doeners en gasvry. Ek sit wel na elke besoek met persoonlike vrae/opmerknings wat ek probeer uitpluis, en ek noem dit persoonlik aangesien mense se gedagtes verskil. Dalk kan ek hier antwoorde kry:

1. Ek verkies ‘n verskeidenheid van mense en kulture om my, maar leef my Afrikanerskap uit in my huis en kerk. Ek het geen behoefte om myself af te sonder nie. (Opmerking)

2. Is dit nie ‘n basiese Christelike opdrag, om soos Jesus, in die wêreld, ‘n verskil te maak nie? Hoe kan jy dit doen as jy jouself eenkant hou? Jesus het omgegaan met sondaars, tollenaars en prostitute. (Vraag)

3. Ek ondersteun die bevordering van Afrikaners en Afrikaans, maar as Christen kan ek nie anders, en wil ek nie anders, as om lief te wees vir my naaste nie. Dit sluit ander kulture in – net soos Jesus vir ons kom wys het om te maak. (Opmerking)

Miskien kan iemand meer inligting op hierdie vrae en opmerkings werp. My bedoeling is opreg, nie om kwaad of sensasie uit te lok nie.

Janco ·

Erik, die vrae wat jy stel is op alle gemeenskappe van toepassing, want elke dorp en selfs stede het maar hulle eiesoortige kultuur en karakter eienskappe. So waarom nou vir Orania uitsonder?

Op Orania groei die kinders in die Afrikaner-kultuur op, en leef hulle dit nie net in die huis en kerk uit nie. In jou laaste sin by punt 1, noem jy dat jy geen behoefte het om jouself af te sonder nie, maar jy doen presies dit, want in die eerste sin verklaar jy dat jy jou Afrikanerskap net in jou huis en kerk uitleef. Dis afsondering.

Doktor Hermann noem dat Orania tans ongeveer 1600 inwoners het, en dat die sondeval nie vir Orania misgeval het nie. Waarom sal jy dan nie ook jou Christelike pligte daar kan uitvoer nie? En geen inwoner van Orania word verhoed om ook buite Orania hulle Christelike opdrag uit te voer nie, inteendeel, hulle is net so vry soos jy om die wereld in te gaan en om Jesus Christus se werk te kan doen.

Boerseun ·

Dankie Janco goed geskyf, dink nie jy gaan terugvoer ontvang nie.

Afrikaanerskap by huis en kerk uitoefen. Ek neem aan dis nou “kw0ta” rugby spanne ondersteun met n brandy en coke, en dan na jou kerk gaan waar hulle nie kan besluit of “gay” sonde is of nie? Klink maar deurmekaar soos die mengelmoes lewens omstandighede wat verskies word.

Wat ek nie kan verstaan nie is hoekom mense wat nooit daar wil bly nie dit nodig ag om daaroor iets negatief te sê. n Klomp sitksmer bank kenners.

Erik ·

@Janco
Dankie vir jou opregte antwoord. My kinders groei ook in ‘n Afrikanergemeenskap op. Hulle is in ‘n Afrikaanse kerk, Afrikaanse skool en daar bly meestal Afrikaners rondom ons. Hulle word egter blootgestel aan ander kulture en geleer om hulle met respek te behandel en nie kleur raak te sien nie.

Wat jou tweede opmerking betref kan ek nogal saam stem. Dit sal moontlik wees om jou Christenskap in Orania uit te voer. Maar die sendingveld is soveel kleiner? En waar kom die behoefte van “eenkant wees” vandaan? Is dit Christelik regverdigbaar? Jesus het dan aan tafel gesit saam met heidene. Sal jy ander kulture by jou aan tafel laat eet soos Hy?

@Boerseun.
Jy het nie een van my vrae beantwoord nie so ek kan ongelukkig nie op jou kommentaar reageer nie. Ek is nie negatief teenoor Orania nie, en glo dat dit dalk vir sekere mense ‘n uitweg bied. Maar net soos emigrasie, wonder ek oor die dieper redes vir die “afondering” en hoe dit met Christenskap vereenselwig kan word.

Dirk Breytenbach ·

Geagte Erik, duidelik is jou denke gerig op die goue middeweg en probeer jy redelik wees in jou omgang met jou naaste. Jou neutraliteit en optimistiese siening of opmerkings verskaf heel moontlik vir jou persoonlike sekuriteit en gemoedsrus. Miskien moet jy bietjie verder kyk en sien wat die houding van ander Suid Afrikaners oor Afrikaners werklik is. Kyk in diepte na uitsprake van hul leiers en sien hul verstarde ideologiese siening en diktoriale denkwyse aan vir wat dit is.
Onhaalbare kommunistiese ideologiee en anti-kapitalisme vier hoogty. Dit voorspel niks goeds vir Afrikaners nie. en ons kan nie wag om te sien of dit goed of sleg gaan wees nie. Die land is reeds erg afgetakel daardeur.

Orania is ‘n bloudruk vir ons toekoms en word voortdurend reg bewys soos wat dit ontvou. My opmerkings is die van van ‘n gewone Afrikaner wat ontledend na uitsprake van leiers oor ‘n wye spektrum kyk en die behoud van ‘n Afrikaner volk sterk voorstaan. As Afrikaners assimilasie as die oplossing sien dan is dit sekerlik hul reg maar as Afrikaners hul geskiedenis, leefwyse toekoms taal en kultuur ernstig opneem, dan is selfbeskikking (binne die SA reg) ‘n oplossing en ook binne hul regte. Net soos jy gemaklik is in jou plaaslike omgewing en strukture krag put, sal ek rustigheid ervaar as daar werkbare keuses vir die Afrikanervolk in plek sal kom.

Judge Dredd ·

Orania kort ‘n hawe vir handel – en hulle is bitter ver van die see…..

@Judge Dredd ·

Duitsland het ook nie ‘n hawe nie? Maar ek stem saam, dink nie Orania sal ooit ‘n groot stad word nie. As mens gaan kyk na die totale Afrikaanse bevolking in verhouding tot Orania se bevolking verkies die verre meerderheid nie Orania nie.

@Petrus ·

Askuus, jy is heeltemal reg. Daar is egter wel suksesvolle lande sonder ‘n kuslyn(Switzerland?), maar hul is deel van die EU wat kuslyn het.

Jan ·

Jy kan nie so ridineer nie. Ek sou lankal Orania toe trek as dit moontlik was. Maar ek het nie die finansies om n plek te koop nie en daar te oorleef sonder werk nie. Baie ander Afrikaars sou ook.

Ropie ·

Switserland het inderdaad nie ‘n hawe nie maar Switserland is ook nie deel van die EU nie.

RP ·

100% korrek. Indien ‘n stad wil floreer kort dit ‘n hawe. 90% van die grootste stede is aan die kus (Londen, New York, Hong Kong, Tokyo, LA, Rio de Jeneiro, Kaapstad) of het een of ander natuurlike hulpbron wat hulle suksesvol maak (Johannesburg).

Ek voorspel hulle kan ‘n mate van sukses behaal en indien hulle die 4IR omhels en ‘n dienste ekonomie kan stig wat nie fisiese produkte uitvoer nie, dan kan hulle oorleef.

Dirk Breytenbach ·

‘n Hawe is nie noodwendig ‘n voorvereiste nie, veral nie in ‘n plek soos Orania wat deel van SA is met alle infrastuktuur reeds tot sy beskikking. Innovasie is die antwoord. Tegnologie benodig nie vraghouers, lughwaens of hawens nie maar wel oop sosiale media en internet kanale. Orania is presies in die middel van die land gelee en binne bereik van onder andere geskikte markte vir landbouprodukte. Nuwe tegnologiee word ook geskep deur die samevoeging van bestaande tegnologiee wat dan wereldwyd winsgewend aangewend kan word. Afrikaners het hulself reeds as kundig bewys in IT,
Onderwys en Opleiding, die Finansiele bedryf, Vervaardiging en vele ander terreine wat soomloos op Orania bedryf kan word. Orania het reeds die uitdaging van die 4IR omarm.

Danie ·

Uitstekende artikel, dankie daarvoor. Elke Afrikaner behoort hierdie gebalanseerde maar visioenêre standpunt te lees. Dit is geweldig hoopgewend.

Stephan de S ·

@ Erik,
Jy verwar twee koninkryke met mekaar…..moet asb nie langer naief wees nie. Die koninkryk vd hemele is binne-in ons en manifesteer veral in n nuwe gesindheid teenoor mense , die skepping en die Skepper. n Koninkryk v “onder” gaan oor die tydelike ordening v mense/gemeenskappe op aarde—n tydelike woonplek. Die vraag is nie of jy in vrede met mense wil saamleef nie, die politieke vraag is :wil andere in vrede met jou saamleef? Dis die vraag waarmee aardse koninkryke elke dag worstel :hoe orden ons n menslike gemeenskap die beste op hd tydelike ondermaanse. Die Skrif gee nie vir ons leiding daaroor nie.Interessant vir jou redenasie : die ou/ eerste christene het hulleself in die ou stede op n geografiese basis gevestig in n vyandelike omgewing maw hulle het huise gekoop/gebou in een spesifieke area v n stad.
Dankie MM vir die plasing v hd artikel : dit bevestig net weer dat daar nie net EEN politieke oplossing vir n land is nie…… dat daar nie net EEN stel reëls vir die lewe is nie , nie net EEN diskoers oor politiek is nie……daag alle papegaaiery en politiek-korrekte idees uit as sòu dit die enigste moontlike bril wees vir die samelewing.
Mag Afrikaners ,wat so negatief en mismoedig is, nuwe hoop skep dat daar werbare alternatiewe is. Terloops ek was al in Orania.

@Stephan de S ·

Maar indien daar 8 kerke in die klein dorpie is leef die mense mos nie in vrede saam nie? Ek vermoed om in vrede saam te leef sal eendag eers in die hiernamaals werklik kan geskied. Gesinne leef nie eers altyd in vrede saam nie. Ek dink nie om jouself af te sonder is ‘n sonde nie, maar om ander uit te sluit is verseker ‘n sonde , so hoe nou?

Goeieplan ·

Dis wat ons mense help en dit is as ons begin saam Staan. Laer trek en baksteen vir baksteen ons eie toekoms bou en oor Elke hindernis verby Kom. Of ons nou oor klim of Ander pad maak maar oor die hindernis Sal ons kom. Ons moet net Leer Almal saam werk. Na n gemeenskaplike doel werk en ons moet laertrek. In geskiedenis het dit nie goed uit gewerk toe mens Elkeen wou eie planne maak want dit het hul verswak en dit het veroorsaak dat hul ontkant betrap is. Nou is die tyd dat Elkeen van ons Leer hoe om n gerespekteerde doelgerigte Nasie te bou en Elke bietjie help hoe Klein ook al. En hierdie toekoms stad n Baie goeie plan. En n hawe was net nodig toe vliegtuie nog nie ge bestaan het. N lughawe is goed genoeg.

RP ·

Lughawens is slegs goed om mense rond te beweeg. Om handel te dryf kort jy n hawe. Hoe gaan jy 2000 containers op n vliegtuig sit? 90% van handel word dmv skepe gedoen.

Eddie ·

Dirk ; Elke provinsie in SA behoort so ‘n model en plek van Afrikaanse konsentrasie na te volg , dit kan met groot sukses gedoen word , die wiel moet net aan die rol gesit word !

Riena ·

Hulle moet net nie vergeet om kinders te kry nie, want sonder kinders kan `n volk nie groei nie. En hier in die res van Suid Afrika is die kindergetal maar baaaie laag

Annatjie Bezuidenhout ·

Eerstens is hier volop kindertjies…Want dit is veilig hier….Hier mag hulle speel en vry wees….In Gannabos se woonstelgebou is hier seker 20 kindertjies wat buite speel en baljaar… Die leser wat dink hier is nie kindertjies nie, moet soggens by die skole gaan kyk hoe lyk dit as klein kindertjies afgelaai word by die skool….

@Annatjie ·

Maar Annatjie, my kinders speel buite op die oomblik, en elke dag. Ek bly in ‘n stad, en hulle is veilig en gelukkig en vry. Hulle is in ‘n Afrikaanse skool met meer as 1000 Afrikaanse leerlinge en kry ‘n uitstekende opvoeding. Hoekom dan Orania toe trek?

RP ·

Stem saam @Annatjie en Henry. Orania klink goed op papier, maar ek sien nie n toekoms vir mense wat laertrek nie. Die wereld is divers en jy gaan nerens kom om uitsluitlike klubs te vorm nie. Afrikaners was meer suksesvol na apartheid, hoekom is dit? Omdat ons nie meer geisoleerd was nie en met almal kan handel dryf.

Frankie ·

Israel is een uistekunde voorbeeld van n land wat 80 jaar terug nie betaan het nie. Die Joode het hulself gevestig in n land met geen infrastruktuur na die 2de wereld oorlog en is nou n eerste wereld land deur harde werk en om te staan waarvoor hulle glo. Hulle het hul self geafsonder van die lande om hulle en ander rasse en het deur landbou hulself versorg en begin trade met ander lande. Orania is no different.

AndrewL ·

Annatjie, ja, ek het ook lank in die stad gebly, en daar is veilige woonbuurte. Maar wat kos sekuriteit en blanke skool jou maandeliks, hoe veilig is die res van jou stad as jou kinders alleen daar op straat is. Of sonder jy jouself ook af van die res van jou stad? Terloops, ek was nog nooit op Orania nie, maar ook nog nooit veilig genoeg om te dink alles loop reg nie.

Jan ·

Prof . Carel Bosoff was n man wat jare voor uit kon sien. En dink . Daai mense daar is vry en bly nie soos ons in tronke nie.

jaco ·

Hierdie berig maak my hartseer oor al ons verspeelde kanse.
1. Orania is in 1991 gestig, 1 jaar ná die wettiging van die ANC. Tog was daar net 60 mense teenwoordig by die stigting. Waar was die 700 000 ander wat in 1989 vir die Konserwatiewe Party gestem het? Die regse konserwatiewe party en die Herstigte Nasionale Party het eerder volkstaatidees afgeskiet as “dit kan nie werk nie” en “waar gaan die geld vandaan kom”. Die AWB wat so graag n volkstaat wou hê, het ook nie vir Orania gehelp nie.
2. Een miljoen van ons mense het darem in 1992 nee gestem, maar ook nie daarna Orania toe verhuis nie.
3. Daardie 1 miljoen het ook nie aanhou vir die VF-Plus stem nie. Dié party se steun het erg gedaal oor 25 jaar. Tog weier ek om te glo dat die res almal dood of landuit of by die DA is. Dis eerder n siek gebrek aan belangstelling.
4. En in Orania self is 1600 mense verdeel in 8 kerke.

As die Afrikanervolk finaal eendag dood is, sal die grafskrif seker iets wees soos: dood weens ons eie mense se verdeeldheid, gebrek aan belangstelling en ‘n houding van “dit gaan nie werk nie” en “daars nie geld nie”

RP ·

Die uitgangspunt van jou argument is die probleem. Verdeeldheid is nie n probleem nie, dis ok om nie saam te stem. Dit bied verskeidenheid van denke en so bevorder dit innovasie. Groepsdenke is wel n probleem, die groep kan nie vir die individu se hoe om te dink nie, dit noem mens totalitarisme.

Foxi ·

Is daar plek vir gesonde middeljarige afgetredes? Sal graag wil weet.

charmaine ·

Ek dink julle is super bevoorreg en sterkte met al julle planne en bouwerk mag julle van krag tot krag gaan.

se net ·

Almal wat se Orania is so veilig en wonderlik? Daar is geen “violence” daar nie, maar almal vergeet dis waar Poppie van der Merwe se ma haar stiefpa ontmoet het? En die mishandeling het alreeds daar gebeur maar almal het hulle gesigte weg gedraai en niemand het n vinger gelig om daai kleintjie te help nie? Nee wat almal vir homself daar en pretend alles is fantasties. Tipies Suidafrikaners!

Devil ·

Die gruwelhuis was hier in Bloemfontein. Is alle Bloemfonteiners nou ook skuldig aan wat gebeur het of geld hierdie tipe veralgemening net vir die mens van Orania?

RP ·

Ek stel graag (weereens) ‘n vraag aan alle Oraniërs: kan’n Afrikaanssprekende Christen met protestantse werksetiek en ‘n konserwatiewe politieke oortuiging in Orania woon as hy/sy bruin of swart is? Of gaan ek weer gesensor word?

@RP ·

Dis ‘n goeie vraag. En ek wil verder gaan, indien die antwoord ja is, wil ek vra is daar tans bruin of swart mense met hierdie waardes? Ek vermoed die antwoord is nee. Nou hoe vereenselwig jy dit met Christenwees? Ek kan dit nie verstaan nie. Ek is ‘n blanke Afrikaner en my hele wese skop teen dit. Ek kan ook nie verstaan dat indien daar slegs 1600 mense bly daar so ‘n groot ophef van die dorpie gemaak word nie? Dis bitter min mense, en ek vermoed ook baie bitter mense…

Janco ·

RP, jy’s moedswillig met jou vraag. Weet jy van so ‘n persoon, en indien wel, het hy of sy al aansoek gedoen om in Orania te kan woon? Jou ander kommentare hier openbaar dat jy nie Orania goedgesind is nie, want jy beskuldig hulle van “laertrek” en vergelyk dit met ‘n “uitsluitlike klub”, soos jy dit stel.

RP ·

Ek dink glad nie ek is moedswillig nie. Ek stel slegs n vraag, ‘n moeilike een wat krake sal wys indien my vermoede reg is. Maar indien ek verkeerd is stem ek 100% saam emt die Orania beweging. Ek is vir hard werk, alles self doen, enom so min as moontlik op ander staat te maak. Ek wil net nie hê mense moet uitgesluit word op grond van ras nie. Want daarmee kan ek nie saamstem nie en sal dit nooit kan ondersteun nie. Dis sekerlik billik?

Ek kan baie bruin christene wat konserwatief is. Hulle het nou wel nie aansoek gedoen om by Orania te bly nie, vir waarskynlik dieselfde redes hoekom 99% van Afrikaners ook nie aansoek doen om daar te bly nie. Koppel dit dan met n donker wolk van (vermeende) rassisme en jy et jou antwoord.

Ek probeer werklik niemand uitbuit of tart nie, ek wil slegs weet wat die antwoord is. Persoonlik voel ek dis n eenvoudige ja of nee, maar die vraag word nooit beantwoord nie. En dit spreek boekdele.

AndrewL ·

As jy ‘n probleem sien in Orania, bly eerder waar jy veilig en gelukkig voel. Geniet jou geld.

Henry ·

@RP
Wanneer jou standpunte wat van ander siele s’n mag verskil, as moedswillig/kwaadwillig beskryf word, is dit gewoonlik te wyte aan ‘n onvermoë om teenstellende standpunte op ‘n wellewende wyse oor te dra.
Is maar hoe dit is.

Henry ·

@RP
Wanneer jou standpunte as moedswillig/kwaadwillig beskryf word omdat dit van ander siele s’n verskil, is dit gewoonlik te wyte aan ‘n onvermoë om teenstellende standpunte op ‘n wellewende wyse oor te dra.
Is maar hoe dit is.

Hans Richardt ·

Orania stel dit self nie as Utopia voor nie.
Glo my, hier woon uiteenlopende mense met eie opinies. Ten minste word hul opinies in Afrikaans gedeel.
3 Afrikaners, 4 kerke? Mense se lewensbeskouings is gevestig en word moeilik verander.
Om na Orania te verhuis verg ook opofferings. Die ekonomie het tans nie ontwikkel na ‘n ekonomie van skaal nie soos in metropole nie en daarvoor is ongeveer 10 000 inwoners nodig, maar intussen bou 1600 inwoners aan die ideale en infra-struktuur.
‘n Tuisland in die ou NP tradisie is staatkundige selfbeskikking, wat nie nou haalbaar is nie. Terselfdetyd is Orania se selfbestuur reeds bereik met skole en nou Tegniese opleiding. Wie weet, dalk met hoë spoed data kabel, kan dit met ‘n sateliet kampus van Akademia darem ‘n alternatief bied in toekoms vir tersiêre onderrig in Orania, vir Sol Plaatjies universiteit in Kimberley en Uovs, beide hoofsaaklik met Engelse onderrig.
Dan kan wit Afrikaners sê hul het hul eie Ankerdorp gebou, met eie kapitaal, eie arbeid vir eie Afrikaanse instellings?

Bril ·

Switserland het binnehawens op die Rheinrivier (oorsprong is binne Switserland) wat deur verskillende europese lande vloei, einigend in die Noordsee in Nederland. Die Rheinrivier is een van die hoofwaterwee in Europa. Platboomvragskepe benut dit. Dit is die goedkoopste vorm van vervoer (nadeel: kan net langs die waterwee ry. Vrag moet op ander vervoermiddels opgelaai word om by ander bestemmings uit te kom). Sien Wikipediaberig oor die Rheinrivier.

Enige volkstaat behoort ook as eerste prioriteit ‘n verdedigbare terugtrekarea te identifiseer. Kritiek teen Orania? Rome is ook nie in een dag gebou nie. Erens moet mens begin. Onder bitterswaar omstandighede wat mens nie moet onderskat nie. Tenminste het nie alle Afrikaner reeds boedel opgegee nie. Dit is bewonderingswaardig en moet opgevolg word. Selfs buitelandse Westerse stemme bewonder die Orania poging. Hulle sit self met politiese situasies wat ‘n Orania-soortige oplossing vra.

susan ·

Afrikaners kon nog nooit saamstaan. Daar is jare gelede ‘n dogtertjie in Orania verkrag en verniel. Waar was haar besorgde bure kerk en gemeenskap?

Feite ·

Die meerderheid vrae en antwoorde in die kommentare het goeie raakvlakke met die realiteite in SA. Op die einde van die dag gaan dit alles maar net oor die beinvloeding van denke en om voorbereid te wees vir die dag van more omrede niemand weet wat die dag van more inhou nie. Diegene wat moet konsentreer in groepe sal konsentreer, diegene wie aangaan met hul lewens in die breer SA samelewing sal aangaan en diegene wie emigreer sal emigreer, omrede die Afrikaner van vandag verskillende behoeftes het en verskillende geleenthede najaag in n globaliserende wereld. Daar is genoegsame opsies beskikbaar en een van die opsies is om soos Dirk Hermann en Orania vas te klou aan SA vir die behoud van n Afrikanervolk, n ander opsie is om deel te wil wees van God se volk en te gaan na daar waar jy gestuur word, daar waar jou roeping is, of dit in Orania, Dirk se Afrikanervolk in Suid Afrika is, of in die breer SA samelewing of in enige ander land is, dit maak nie werklik saak nie, solank as wat jy deel is van God se volk en goed doen, sal goedheid jou volg, sal goedheid jou laat sien en besluit om te bly of gly. Wanneer jy deel is van God se volk dan beinvloed die Almagtige jou denke, nie die magtige nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.