Wat moet Ramaphosa doen?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Dit is al amper vier weke gelede dat president Cyril Ramaphosa aangekondig het dat Suid-Afrika vir drie weke lank (nou verleng na die einde van die maand) in ’n staat van afsondering moet gaan in ’n poging om die verspreiding van die Covid-19-virus hier te beperk. Toe was dit reeds amper verby in Wuhan, die stad in China waar dit die eerste keer opgemerk is en reeds honderde lewens geëis het.

Kort ná Ramaphosa se aankondiging het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op ’n perskonferensie verduidelik wat die beperkings gaan behels en wat die rol van die polisie gaan wees. Hy het aangekondig dat die weermag ook ontplooi gaan word om die polisie by te staan, iets wat ongekend in vredestyd is. Mense sou wel sigarette kan koop, met hul honde kan gaan stap, en gaan draf. Sy woorde was egter skaars koud of generaal Bheki Cele, minister van polisie, het op televisie verskyn. Hy het gesê die sekuriteitsgroepering in die kabinet het intussen vergader en besluit dat daar geen gestappery geduld sal word nie en dat drank en sigarette nie meer verkoop mag word nie. Met sy wysvinger om die breërandhoed het hy beduie dat mense maar met hul honde om hul huise moet stap. Die polisie gaan dit afdwing.

President Ramaphosa het gesê die polisie en soldate is nie daar om “te skop, skiet en donder nie”. Interessant dat hy net hier Afrikaans gebruik het; ’n mens wonder hoeveel van sy ondersteuners dit verstaan het en of hy in ’n onbewaakte oomblik sy assosiasie met Afrikaans laat uitglip het. Toe, volgens my beskeie mening, het Suid-Afrika oorgegaan in ’n militêre regering. Siviele reëls sou nie meer geld nie.

In die proses is Ramaphosa tot ’n kultusfiguur verhef. “Staatsman” en “leier” is titels wat aan hom toegedig word … en dis nog nie seker of die virus of hongersnood die meeste lewens gaan eis nie. Gaan hy dit steeds wees as die beoogde grondhervormings deurgevoer word? Of die kopieregwet wat nou op sy tafel lê en sodra hy dit geteken het, skrywers van hul outeursreg gaan ontsê?

Die hele tyd kan ek nie ophou om Roelf Meyer en sy mede-onderhandelaars jammer te kry oor die rol wat Ramaphosa gespeel het tydens die onderhandelings wat tot Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesings gelei het nie. Dieselfde uitdrukking van “staatsmanskap” wat hy drie weke gelede op televisie ten toon gestel het, het ek ook gesien toe hy ’n ruk gelede voor die Verenigde Nasies plegtig verklaar het dat daar geen plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. Hy het ook gesê plunderaars uit die vorige regering gaan vervolg word. Ons wag nou nog.

ʼn Soldaat in ʼn straat in Johannesburg se middestad kort ná die instelling van die algehele landswye afsondering van 21 dae. (Foto: Jerome Delay, AP)

Nietemin, sy woorde was skaars koud of die eerste voorvalle van “skop, skiet en donner” was daar. Op Sky News was daar tonele van ’n soldaat wat ’n man buite sy huis skop en deur die gesig klap. Elders is daar met rubberkoeëls op mense geskiet wat nie gou genoeg in hul eenvertrekhuisie (waarskynlik sonder water en ’n toilet) in “isolasie” gegaan het nie. ’n Man wat hom teen die polisie verset het, is na bewering tot by sy huis gevolg en doodgeskiet. ’n Eensame drawwer wat langs die see gehardloop het, is met swaaiende arms deur ’n polisievrou verjaag. Trouens, in een stadium is meer mense al dood weens polisiebrutaliteit as aan die siekte. So kan ’n mens voortgaan.

Dit was ook nie lank voor die “kenners” in die gemeenskap probeer het om Cele te oortref nie. In die oord waar ek in die Wes-Kaap woon wat, terloops, vir die publiek gesluit is, mag ek nie die sowat 400 m na die kafee op die perseel loop nie. Ek moet met my motor sowat 800 m aflê, uitteken by die hek en voor die kafee parkeer. Eerbiedig ek nie die reël nie, word ek met R5 000 geboet. My buurman oorkant die straat, mag nie met sy twee kleuters (die enigste in die oord) wat by hom woon, in die parkie reg oorkant sy huis gaan speel nie. Die bestuur van die oord sê hulle bel die polisie as hy dit doen. Die twee se ma, wat ook in die oord woon, werk nagskof by ’n hospitaal, parkeer ’n ent weg en sluip te voet na haar kinders as sy hulle wil sien.

Dit het myns insiens ook die slegste van die mens se psige na vore gebring. Mense is aangemoedig om hul bure te verkla as hulle hul huise verlaat. Hitler het mense opgesweep om op hul bure te spioeneer voor die Tweede Wêreldoorlog. Mao Zedong in China het dit tydens die Groot Hongersnood gedoen … en miljoene mense is dood weens gebrek aan kos; die Oos Duitse Stasi-polisie het tydens die Koue Oorlog bure gebruik om “strafregtelike” dade te verkla soos mense wat hul huise verlaat het. ’n Mens noem dit breinspoeling.

In die kompleks waar my dogter woon, mag sy egter met haar hond gaan stap. In die luukse-kompleks sowat 10 kilometer van my af geld geen beperkings in die verband nie. Drank en sigarette is nog verbode, maar in die nedersetting naby my het die manne die probleem oorkom: hulle koop brood, hol dit uit en vul dit met brandspiritus, laat dit oornag staan sodat die suur in die brood met die alkohol kan meng en siedaar: ’n dop met groter skop! Soek gis in die winkel om brood te bak … dis moeilik te kry. In winkels mag jy koerante koop, maar nie tydskrifte nie. Groentesade is verbode. Dis nie noodsaaklik nie. Ons hoor van iemand wat kla sy het baie blikkieskos, maar haar blikoopmaker is gebreek en sy kan dit nie vervang nie, want dis nie op die toegelate lys nie.

‘n Gereguleerde ingangspunt na ‘n woonarea in Wuhan. Foo: (Chinatopix via AP)

President Ramaphosa het meer as een keer China as voorbeeld voorgehou oor hoe om die virus te keer. Maar hoe het dit daar gewerk? Aanvanklik is daar gehuiwer om alarm te maak toe die virus die eerste keer in Wuhan gewaar is. Almal het gewag vir sentrale beheer uit Beijing. President Xi het dadelik die gevaar besef en alle skole en universiteite is gesluit, groot groepe mense is verbied en vervoerdienste het tot stilstand gekom. Winkels het egter oopgebly … ja, ook vir tabak en alkohol (en klaar voorbereide kos en bevrore voedsel) in ’n land waar miljoene der miljoene mans rook en die oorgrote meerderheid van sy virussterftes juis ouer mans is. Die verantwoordelikheid om die virus te beheer, is ook meer na die provinsies afgewentel. Hubei word met ’n valkoog dopgehou, maar in afgeleë provinsies gaan die lewe nou feitlik normaal voort. Tog het China ná drie maande die gevaar grootliks hok geslaan. Nou is die grens egter toe omdat die gevaar van buite af kom, uit Europa en Amerika waarheen die episentrum verskuif het.

Maar kom ons kyk na ’n Europese land wat nader aan Suid-Afrika is. In Nederland, waar my dogter en haar gesin woon, word kinders toegelaat om in parke en strate te speel, solank dit nie in groot groepe is nie. Skole en universiteite is gesluit en ouers werk van die huis af. Iemand wat sy ken, het amper al die simptome van die virus, maar sy word dopgehou; almal wat die virus opdoen, word nie dodelik siek nie. En, o ja, jy kan jou sigaartjie by die tabakwinkel gaan koop en voor ete jou Bols-brandewyntjie skink. Of jou wyntjie uit Suid-Afrika.

Terug na Suid-Afrika: die staat van afsondering is nou veronderstel om op 30 April te eindig. Daar word reeds gefluister dat dit langer kan duur. Nou ja, so lank net in jou eie huis, geen gestap met die honde nie, geen draf langs die strand nie, ensovoorts. Wat van ons oues wat moet stap om die ou bene in stand te hou? Wat van die ses mense in ’n plakkershut in Khayelitsha sonder ’n toilet of lopende water?

Dit is ook ’n ope vraag of sulke drakoniese inperking wat ons nou het, wel die doel gaan dien. Sommige kenners beweer dat dit in Afrika, met sy bestaansekonomie, op moord van kinders sal neerkom. Massahongersnood en verwoeste ekonomieë sal daarvoor sorg.

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Wat moet Ramaphosa doen? Tog lyk dit of hy die weermag en polisie met ’n onhaalbare taak opgesaal het. Hoe lank gaan dit duur voor daar massabetogings en -opstande ontstaan? Hy kan ook nie teen Cele optree nie. Ramaphosa het hom eintlik benoem as Suid-Afrika se volgende ambassadeur in Japan. Cele kan egter nie sekerheidsklaring by die Nasionale Intelligensiediens kry nie omdat daar tydens Jacob Zuma se bewind bewerings van korrupsie teen hom was en Zuma hom as nasionale polisiekommissaris in die pad gesteek het. Daarna het Cele ’n deurslaggewende rol gespeel dat Ramaphosa as ANC-leier verkies word.

Die antwoord is dan om dalk minder mense te skop en te klap en te vra dat burgers liewer aan redelike versoeke moet voldoen. Die helfte van die storie is nog nie vertel nie en die ekonomiese ineenstorting lê nog voor! Daarvan gepraat: die anti-China-brigade sal hulle dalk daarop moet voorberei dat Suid-Afrika meer geld by die Ontwikkelingsbank van Brics gaan leen en nie by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) nie. Ramaphosa het nie verniet vir die Chinese president gebel om hom geluk te wens dat hy sy koronaprobleme opgelos het nie.

Maar ek is benoud om te hoor wat die man-met-die-silwer-tong gaan sê van my pensioen of grondhervorming of regstellende aksie as die virus die wyk geneem het. Of gaan die virus vir alles die skuld kry?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eben ·

Die man slaan die spyker op sy kop en bevestig baie van ons se vrese veral die stelling dat ons nou n militere regering is. Daar kom groot probleme

AndréS ·

Kan nie verstaan waarom die polisie nie gebruik maak van die gevestigde buurtwagte nie. Hulle het voorheen nog altyd saamgewerk

PIETER ·

CR se spesialiteit is om paddas te kook en die paddas is maar te gewillg om gekook te word.

Die Wolf ·

Die vraag is wat kan CR doen? Jaag die onbevoegte lot onmiddelik weg . Wonder of hy bang is vir Cele. Kry die idee dat daar meer agter C se aanstelling sit, bv die ou kader.

Fufu ·

CR is net n marionet. Sy behoud hang daarvan af om die ANC kaders tevrede te hou. Vryheid van spraak bestaan nie meer nie. Corona sal in die toekoms die skuld kry vir al die probleme in SA natuurlik saam met Apartheid soos gewoonlik. Los vir Julius dat hy dinge nog moeiliker maak vir die regerende party. Hou hom net in toom wanneer hy die Afrikaner teiken. Cele is buite beheer en CR kan hom nie vasvat nie want Cele het CR gehelp om nommer 1 te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.