Wat nie by die München Veiligheidskonferensie gesê is nie

munchen-veiligheidskonferensie-2019

‘n Konferensieganger lees die jongste München-veiligheidsverslag. Foto: MSC/Oellerman.

Die tema by vanjaar se München Veiligheidskonferensie in München, Duitsland was: “Tel die skerwe op.”

Die konferensie wat verlede week gehou is, en wat deur senior regeringsverteenwoordigers van meer as eenhonderd lande bygewoon is, het ’n gebreekte transatlantiese verhouding as vertrekpunt gebruik.

Die jaarlikse konferensie fokus op globale veiligheidsaangeleenthede. Terwyl die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence, in sy toespraak ’n omvattende beskrywing van die huidige regering se buitelandse beleid probeer gee het, was die meeste kongresgangers nie tevrede nie. Die Demokratiese Party het ook ’n sterk afvaardiging na die konferensie gestuur en die voormalige adjunkpresident van die VSA, Joe Biden, het belowe dat Amerika weer na sy ou beleidsraamwerk sal terugkeer nadat Trump nie meer president is nie.

Roderich Kiesewetter, die buitelandse sakeverteenwoordiger van die Duitse kanselier, Angela Merkel, het sover gegaan om te sê dat almal net geduldig moet wees omdat die verhouding tussen die VSA en Europa weer sal terugkeer na hoe dit was voordat Donald Trump verkies is – sodra hy nie meer president is nie.

Merkel self het in haar toespraak ’n flouerige pleidooi vir multilaterale verhoudinge probeer lewer. Thorsten Benner, hoof van ’n bekende dinkskrumorganisasie in Duitsland, het egter heeltemal tereg daarop gewys dat nie een van die Europese sprekers by die konferensie daarin kon slaag om nuwe idees oor die transatlantiese verhouding voor te stel nie.

Dit was duidelik dat die hele doel van die konferensie ’n verwerping van die Trump-administrasie se buitelandse beleid moes wees en dat daar in talle Europese lande reeds na ’n post-Trump-era gekyk word. Die probleem hiermee is egter dat dit nie belangrike geopolitieke veranderinge in ag neem of probeer verreken nie.

Terwyl die Trump-administrasie ’n beleid van “Amerika Eerste” volg, het Pence in sy toespraak probeer verduidelik dat dit nie “Amerika Alleen” beteken nie. Die huidige Amerikaanse regering se ernstige vrae oor die toekomstige rol van internasionale instellings soos die Verenigde Nasies, Navo en die Europese Unie is nie om Amerika te probeer isoleer nie, maar eerder om die belange van Amerikaanse belastingbetalers wat tot die instandhouding van talle internasionale organisasies bydra, te beskerm.

Dit is sekerlik moontlik dat die VSA se buitelandse beleid – nadat Donald Trump nie meer in die Withuis is nie – ’n soort terugkeer na die Obama-administrasie se beleid kan maak. Maar dit sou nie beteken dat die redes waarom Trump verkies is of waarom Britte gestem het om die Europese Unie te verlaat of waarom talle populistiese partye orals oor Europa sterk groei in steun geniet, net sal verdwyn nie.

Die probleem met talle Europese leiers, soos Angela Merkel, is dat hulle nie die vrese van hul landsburgers verreken binne ’n konteks van geopolitieke veranderinge nie. Terwyl die meeste Amerikaners, Britte, Duitsers en Franse vrede en voorspoed in die hele wêreld wil sien, wil hulle eerstens versekering kry dat hul eie vrede en voorspoed hul regering se hoogste prioriteit is. Politieke partye wat dít besef en promoveer, gaan heelwat steun in Westerse lande wen.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Dankie tog vir meningsvormers van Jaco Kleynhans se formaat.

Hoe harder Pence “probeer verduidelik”, hoe harder kerm, kla en skinder die res.
Regtig uiters pateties. Asof wêreldleiers in die era vóór ‘Trump-die-Verskriklike’ ‘n rasende sukses van die storie gemaak het.
Inteendeel …

John ·

Duitsland se ekonomie is flou en die plan om die werkersmag aan te vul met migrante was onsuksesvol. Juncker se millitaristiese plan is om die VSA ook te beheer, nie net Europa en Brittanje nie met lg reeds weer op sy knieè. Trump staan in die pad. Joe Biden het bloedbande met die Ukraìne. Hy wil president word en Rusland aanvat, wat Merkel begeer. Die vlieg in die salf is Trump wat ook vir Israel omdersteun. Om die Jode en die Russe, wat Hitler geknak het, uit te wis, is en bly die Duitsers se groot droom.

Wiehan ·

Hulle moet Kyk: Trump gaan in 2020 wen. In 2024 gaan at hand groot gemaakte dogter president word. Wêreld, word wakker, die Trumps gaan nog lank met one wees. Baron Trump is ook op pad. AFD en Front Nasionaal gaan in Duitsland en Frankryk nog regeer.
Lank lewe NASIONALE trots

Ronnie ·

Wat nie gesê is nie, is dat Trump besig is om ‘n nuwe bondgenootskap te vestig met Poetin en dat hy hom skaar by elke ander diktator wat vir hom van belang is en wie hy bewonder.
Geen van die tradisionele bondgenote kan staat maak op die Trump regime nie. Pence se boodskap was onoortuigend en ongeloofbaar. Applous was o.a. daarom dawerend afwesig .

Merkur ·

Tradisionele bondgenote??
Is dit moontlik Ronnie dat jy van die Amerikaanse ooskus-establishment-marionette Merkel, Marcron en co praat? Slaap verder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.