Wat nodig is vir Trump om herkies te word

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

Met sowat 50 dae oor tot die Amerikaanse presidentsverkiesing is pres. Donald Trump en Joe Biden, voormalige adjunkpresident en senator van Delaware, in ʼn verbete stryd gewikkel.

Vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing is uiters onvoorspelbaar en hoewel Biden in byna alle peilings voorloop, word allerweë aanvaar dat enigeen van die twee kandidate nog die verkiesing kan wen.

Die belangrikste sake wat die verkiesingsuitslag gaan beïnvloed is die ekonomiese herstelkoers, die opstande in talle Amerikaanse stede, die Covid-19-pandemie, die drie debatte tussen Trump en Biden en die deelnamekoers in die verkiesing op 3 November.

Indien Trump herkies wil word, sal die volgende moet gebeur:

Ekonomiese herstel

Trump se sterkste argument in die verkiesing is sy ekonomiese sukses sedert 2017 tot die begin van 2020 met sterk ekonomiese groei, werkskepping en ʼn wesenlike styging in inkomstevlakke in die VSA. Die Amerikaanse ekonomie het reeds begin herstel ná die laagtepunt in April, en Trump se uitdaging sal wees om Amerikaanse kiesers te oortuig dat hy beter gerat is as Biden om die herstel voort te sit.

Geweld en wet en orde

Die gewelddadige opstande wat die afgelope tyd in talle Amerikaanse state heers, is besig om vir baie Amerikaners ʼn irritasie te raak. Terwyl ʼn meerderheid van Amerikaners vir lank simpatiek teenoor die betogers gestaan het, het die groot skade aan infrastruktuur en veral private sakeondernemings te ver begin gaan. Trump se sterk boodskap hieroor is salf vir die vrese van veral voorstedelike kiesers. Sy uitdaging sal wees om ʼn boodskap van wet en orde te gebruik om die stempersentasie onder tradisionele konserwatiewe kiesers te verhoog sonder dat hy gematigde kiesers en kiesers van minderheidsgroepe wat oorweeg om vir hom te stem, afskrik.

Buitelandse beleid

Buitelandse beleid is nie vanjaar ʼn sterk fokusarea in die verkiesingsveldtog nie. Tog het Trump in 2016 ʼn duidelike boodskap oor die beëindiging van die oorloë in die Midde-Ooste en die VSA se militêre voetspoor in Europa gehad. Sy rekord van die afgelope vier jaar is sterk op hierdie terreine en dra die goedkeuring van die meeste Amerikaanse kiesers weg. Trump se grootste buitelandse prestasie is egter die vordering wat gemaak word in die normalisering van die verhouding tussen Israel en Arabiese lande. Die onlangse ooreenkoms tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate is ʼn groot deurbraak vir die Trump-administrasie en Trump moet kiesers hieraan herinner. Sy benoeming vir ʼn Nobel-vredesprys hiervoor sal help.

Kiesers se persepsie oor Biden

Joe Biden is reeds langer as vier dekades in die Amerikaanse politiek betrokke en sy loopbaan sluit talle hoogtepunte en laagtepunte in. Biden is ook die oudste presidentskandidaat en op 77 toon hy tekens van kognitiewe en konsentrasieprobleme. Die Trump-veldtog sal kiesers moet oortuig dat Biden uit pas is met die huidige uitdagings wat die VSA in die gesig staar en dat hy nie oor die rekord of vermoë beskik om pro-aktiewe oplossings te skep nie.

Debatte

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Vanjaar se drie debatte tussen Biden en Trump hou groot geleenthede vir albei kandidate in. In 2016 is die eerste debat tussen Trump en Hillary Clinton deur 84 miljoen Amerikaners op televisie gekyk. Omdat vanjaar se veldtogte, en veral openbare optredes deur die kandidate, deur die pandemie beperk word, kan verwag word dat selfs meer mense na die debatte sal kyk. Die eerste vind op 29 September in Cleveland, Ohio, plaas. Daarna neem die twee kandidate vir die adjunkpresidentskap, Mike Pence en Kamala Harris, op 7 Oktober deel aan ʼn debat, met nog twee debatte tussen Trump en Biden op 15 en weer op 22 Oktober.

Daar is heelwat Demokrate wat vrees dat Biden groot blapse tydens die debatte gaan maak omdat hy die afgelope tyd gereeld tydens televisie-onderhoude onsamehangend begin praat het. Om met jou opponent vir 90 minute aaneen debat te voer kan heelwat helder denke vereis. Sou Biden struikel en deur Trump uitgelok word, kan dit die verloop van die veldtog wesenlik raak. Trump sal egter goed voorbereid moet wees, meer presidensieel moet optree, met goeie beleidsvoorstelle vorendag moet kom en met energie en gefokus aandag gee Amerikaners se vrese. Die debatte tussen presidentskandidate het al in die verlede veldtogte wesenlik beïnvloed en dit kan vanjaar weer so wees.

Uitreik na minderheidsgroepe

Daar is duidelike tekens dat heelwat kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms aangetrokke is tot Trump se ekonomiese boodskap. Dieselfde geld vir veral swart mans. Tydens die onlangse konferensie van die Republikeinse Party is daar baie sterk na minderheidsgroepe in die VSA uitgereik. Indien Trump ʼn sterk boodskap oor ekonomiese geleenthede, toegang tot goeie onderrig, veilige woonbuurte en beter mediese dienste aan minderheidsgroepe kan rig, kan hy heelwat meer steun onder veral swart mans en mense van Latyns-Amerikaanse afkoms kry. Dit kan in deelstate soos Florida, Georgia, Arizona, Nevada, Michigan en Noord-Carolina net die hupstoot wees wat hy nodig sal hê om te wen.

Steun onder wit werkersklas

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Evan Vucci)

Trump het in 2016 gewen weens die swaai in steun onder die wit werkersklas in state soos Pennsilvanië, Ohio, Michigan en Wisconsin. Hierdie kiesers wat voorheen vir die Demokratiese Party gestem het, het gehou van Trump se boodskap oor die beskerming van Amerikaanse maatskappye en poste teenoor goedkoop invoere van veral China. Hierdie kiesers was ook positief oor sy anti-immigrasieboodskap. Tog was 60% van die mense in Michigan en Wisconsin wat in 2016 nie gaan stem het nie, persone met geen naskoolse opleiding nie.

Dit beteken dat daar nog baie van hierdie kiesers is wat in 2016 na Trump geswaai het, wat wel vanjaar kan gaan stem indien hulle deur ʼn goeie veldtog op grondvlak bereik kan word. Trump se sukses gaan vanjaar baie sterk van steun onder die wit werkersklas en laer middelklas afhang omdat alle peilings wys dat hy baie steun onder wit voorstedelike kiesers in die middelklas en hoër middelklas verloor.

Stempersentasie

In 2016 het net meer as 55% van stemgeregtigde Amerikaners hul kruisies gaan trek. Die afgelope drie dekades wissel die stempersentasie in die VSA tussen 49% (1996) en 57% (2008). Die verwagting is dat die stempersentasie vanjaar laag kan wees weens die pandemie, maar ook omdat baie kiesers nie juis oor enige van die twee kandidate opgewonde is nie. Indien die stempersentasie laag is, is die vraag wie die tipiese kiesers is wat steeds sal gaan stem. Verwagtinge is dat tradisionele ondersteuners van die Republikeinse Party wel vanjaar sal gaan stem en dat ʼn lae stempersentasie Trump sal bevoordeel.

Grondvlakveldtog

Baie Amerikaanse verkiesings word gewen deur die onderskeie veldtogte se vermoë om kiesers by die stembus te kry. Die Trump-veldtog is vanjaar baie beter georganiseerd met kantore regoor die VSA en baie beter data-stelsels en programme vir vrywilligers. Alles gaan afhang van die Trump-veldtog se vermoë om genoeg kiesers in minder as tien state by die stembus te kry. Die Republikeine se data-stelsel is baie beter as die Demokrate s’n, onder meer omdat baie kiesers wat die Demokrate ondersteun, persone sonder ʼn eie fisieke adres is omdat dit studente, jong stedelike werkers wat maklik verhuis en armer mense wat huise deel, insluit. Die Biden-veldtog het egter die afgelope weke heelwat investeer om hul stelsel te verbeter.

Die pandemie

ʼn Meerderheid van Amerikaners is negatief oor Trump se hantering van die Covid-19-pandemie. Indien die voorkoms van die koronavirus skerp afneem oor die volgende paar weke en die pandemie nie so ʼn belangrike saak vir kiesers is nie, kan dit Trump ondersteun. Intussen probeer hy om sy hantering van die pandemie te verdedig, maar dit is baie moeilik en die beste waarvoor Trump kan hoop is dat die pandemie min Amerikaners se keuse op 3 November beïnvloed.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michael ·

Indien Trump nie wen nie, wag daar baie groot probleme op die wereld

groenboer ·

My indruk is dat Trump en Biden omtrent ewe onnosel en rigtingloos is. Maar nou ja, hierdie een moet die Amerikaners nou maar uitsorteer – ons het genoeg probleme hier om ons mee besig te hou…

wim ·

Dankie, baie goeie samevatting. Strate beter as wat in die res van die pers te lese is.

‘n Sekere ander media huis laat lesers betaal, vir ontledings wat heelwat vlakker is, en meer sê van die skrywer se vooroordele as om ‘n prentjie te gee van wat aan die gang is.

Chris ·

Ek dink Trompie gaan weer wen. Daardie ander oom is nie tuis nie. Trompie gaan in die laaste dae die haas uit die hoed trek en die mat onder die ou oom uitruk.

Niklaas ·

Ek verwag en hoop dat Donald weer sal wen. Ten spyte van die oordadige aanvalle op hom deur CNN en ander liberale media huise. Selfs BBC het blykbaar nie groot liefde vir hom nie. Maar belangrik om te onthou dat dit reeds so was tydens die Hillary Clinton veldtog en die Amerikaners het steeds in oorweldigend vir Donald gestem. Mag dit weer so gaan.

Dries ·

Jy is reg Niklaas. Die hele wereld het groot probleme as Trump nie wen nie. Kommunisme kruip vinnig nader

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.