Wat nou gemaak met die bevindinge oor Ahmed Timol se moord?

Ahmed Timol. Foto: Zetaboards.com

Wat moet ’n mens maak van regter Billy Mothle se bevinding verlede week dat die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol in Oktober 1971 deur die destydse veiligheidspolisie vermoor is? Is dit ’n kwessie van geregtigheid wat uiteindelik geskied, of word hiermee opnuut ’n byenes oopgekrap wat kon gebly het?

Uit die oogpunt van die Timol-familie is dit duidelik. Uiteindelik weet hulle wat gebeur het. Dit kan hulle help om die saak ten slotte af te sluit, om Ahmed by wyse van spreke eindelik te begrawe.

Die ander kant van die saak is Sondag deur genl. Johan van der Merwe, in die apartheidsjare onder meer hoof van die veiligheidspolisie, in Rapport gestel.

Hy maak basies drie punte: Ten eerste, dat “gesiene patoloë” destyds bevind het dat Timol nié doodgemartel is nie.Tweedens, dat die proses rondom die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) bedoel was om “’n hoofstuk van die verlede af te sluit”. En laastens, dat vervolgings wat uit Mothle se bevinding spruit, op selektiewe verontwaardiging neerkom, aangesien niemand van die “bevrydingsbewegings” oor húl misdade vervolg word nie.

Kom ons kyk hierna.

Wat die eerste betref, weet enigiemand wat kennis dra van hoe die veiligheidspolisie en justisie-apparaat destyds te werk gegaan het, dat sagsinnigheid nie deel van die proses was nie.

Ek was nie by Timol se ondervraging teenwoordig nie. Gesien die talle ander aangehoudenes van wie bo alle redelike twyfel bewýs is dat hulle vermoor is (Steve Biko en Neil Aggett, om maar twee te noem), lyk dit my uiters waarskynlik dat ook Timol onder “enhanced questioning”, soos die Amerikaners dit noem, beswyk het.

Maar sal verdere vervolging enige nut hê? Dis ’n vraag waaraan ek my liefs nie wil waag nie, behalwe om te sê dat dit baie koelkop en rasioneel benader moet word. Emosie en wraaksug, hoe begryplik ook al, is presies die verkeerde pad om te loop.

Van der Merwe staan inderdaad op vaster grond as hy wys op die feit dat oortreders van die “bevrydingsbewegings” skotvry daarvan afkom.

Kyk, daar is geen enkele georganiseerde instansie wat met volle eer uit die struggle tree nie. Nie die Nasionale Party-regering nie, maar ook nie die ANC/SAKP nie.

Die laaste jare het byvoorbeeld steeds meer bekend geword oor die ANC/SAKP se eie menseregte-vergrype. Om maar ’n voorbeeld te noem: Toe Gordon Masheu in 1983 in die konsentrasiekamp Quatro opgesluit is, het hy voor die WVK getuig, het Andrew Masondo (later luitenant-generaal in die SANW) ’n “kangaroo court” daar gehou:

I was fortunate to be sentenced [to] four years’ imprisonment and hard labour by this court. In the court an inmate could not speak. We were called one after the other to simply come and receive sentences.” En daarna had ’n gevangene slegs twee “regte” ­– “to work hard and to be beaten”, soos ’n getuie dit gestel het.

’n Vroulike kader het getuig: “When I remember my first three years in exile, I feel like crying because I had sexual intercourse with more than 20 MK commanders. I also saw this happening to other young female comrades who joined MK in the ’70s and ’80s.”

In 1985 het die ANC op sy konferensie te Kabwe, Zambië, luidens die amptelike notule, besluit: “We can no longer allow our armed activities to be determined solely by the risk of civilian casualties.”

Op ʼn perskonferensie het Oliver Tambo, leier van die ANC, die besluit só toegelig: “The question of ‘hard’ and ‘soft’ targets is going to disappear in an intensified confrontation, in an escalating conflict. The question of soft targets was quite out of place during World War II, to mention a big war… I think the distinction between hard and soft targets is being erased by the development of the conflict.

Op voetsoolvlak, in die townships, is dit verstaan as synde dat byna alles nou geoorloof was.

Aboobaker Ismail, een van die MK-bevelvoerders, het aan die bomplanter Robert McBride verduidelik: “Look, there is a war… All white men are soldiers. If they can hit us in Botswana and say they have killed ANC collaborators then we can kill all the collaborators – who are real collaborators. In any event, why should you be concerned if adult whites should get hurt? What are you saying now?

Ismail het ook nog bygevoeg: “Any car bomb in itself will always injure civilians. It’s the nature of the weapon. If the civilians get injured, it’s acceptable. By their very nature car bombs injure people other than the intended target.

McBride se eie kommentaar op dié gesprek was: “He got quite agitated. Basically, he said, from the Kabwe conference, anything goes – with the exception of killing children.”

In sy doktorale proefskrif oor MK se gewapende stryd het die historikus Howard Barrell die tipe teikens wat MK deur die jare aangeval het, volgens tydperk geklassifiseer. Dit val op dat die kategorie “civilians” in die tydperk 1976-’79 slegs 5 en in 1980-’82 7 voorvalle opgelewer het. In 1983-’84 het dit aangegroei tot 14. Maar in 1985-’86, ná die Konferensie van Kabwe, het dit dramaties toegeneem tot 107.

Laat ʼn mens oor een saak helder en duidelik wees: Morele skuld is nie soos ʼn bepaalde hoeveelheid botter wat minder dik word as hy oor twee snytjies brood pleks van een gesmeer word nie. Dat die ANC hom in die struggletyd aan ernstige vergrype skuldig gemaak het, word nie aangevoer om die skuld van diegene wat byvoorbeeld vir Timol se dood verantwoordelik was, te verminder of te relativeer nie.

Dit gaan om die eensydigheid van die benadering, so asof net die een kant oortredings begaan het.

Op die keper beskou, het oorlog nou eenmaal die nare gewoonte om te eskaleer en die deelnemers moreel af te stomp. Waarvoor mense vandag terugskrik, kan môre met ʼn skouerophaal begroet word as dit dikwels genoeg plaasvind.

Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie; dis ʼn algemene verskynsel in álle konflikte.

Maar hou dan op om die struggle voor te stel as ʼn stryd tussen diegene met ʼn pikswart siel (die Timol-moordenaars) en die dapper stryders vir vryheid en demokrasie in ʼn regverdige oorlog. Daardie soort ding bestaan nie. Geweld tas álmal – die goeies én die slegtes – aan.

Dus: As jy die tyd bekyk, probéér eerlik wees, hoeseer jou eie emosies ook al in die pad daarvan staan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Eish ·

Hierdie kwessie gaan ontaard in n heksejag en dis n gegewe. Ons het die omgekeerde diskriminasie sien ontwikkel van n reënboognasie met 7 kleure tot een met net n dik, swart streep.

Dis is allerweë beskou dat Apartheid so n muishondstelsel was dat beide die Weste en die Kommunistiese blok ons geboikot het. Dus, volgens die standaarde wat toe gegeld het, het die ANC die “heiliger” oorlog gevoer.

Ons moet ingedagte hou dat die stryd binnelands, soos gevoer deur die veiligheidspolisie, nasionale intelligensie en andere, gevoer is teen die agtergrond van die binnelandse wetgewing en nie krygswet nie. Die situasie was dus dat die vyand homself die vryheid geoorloof het van geen reëls geld, terwyl ons aan wetgewing onderworpe was.

Natuurlik het daar dus onwettighede plaasgevind! Die binnelandse veiligheid was eerste prioriteit! Die onwettighede is gesanksie deur hoër gesag aangesien lede wat op eie stoom hul daaraan skuldig gemaak het, voor die voet vervolg is. Die persone in gesagsposisies het presies geweet wat aangaan. Eensame opsluiting en ander metodes soos elektriese skokke wat nie merke laat nie, was aan die orde van die dag.

Die vergrype aan ANC kant was erger. Ons is egter in n situasie nou waar die magshebbers instaat is om vervolging in te stel, begerig is om dit te doen en die middele daartoe het.

Geen akademiese beredenering gaan dit keer nie.
“All is fair in love and war” Ons sit met omgekeerde diskriminasie in die praktyk en die jagseisoen is oop.

Eish ·

Indien daar onduidelikheid is, daar was goedgesinde beroepslui, dokters, regslui, bankbestuurders ensovoorts aan alle fronte wat feite aangepas het om die saak te baat.

apie ·

Goeie kommentaar. Wonder egter teen wie daar nou opgetree gaan word? Die jagseisoen is oop, dit lyk of die trofee gaan oor geld…waaroor anders?

Dereck Le Roux ·

Die Timol affere skep die persepsies dat die ANC ‘n “gentlemans war” gevoer het en dat baie emosionele en pynlike gevolge voor die deur van die wit regering van die dag gele moet word en voeg die nodige leuen en propaganda doeleindes daarby dat die ANC vir “reg en geregtigheid” geveg het dan kry jy die resultaat van “all is fair in love and war” veral in die borde van die hededaagse regering wat openlik anti wit is en sodoende alles sal regverdig om die leuen na die waarheid te maak en die waarheid die leuen te maak.

MANIE ·

Die anc het net vir een ding baklei–om hulle vingers in die “till” te kry

Denise ·

En so wil ek ook weet wat gaan gebeur met al die onodige moorde van mense elke liewe dag en wat gaan ons van LEWE as hulle die boere wat kos op ons tafels sit so koelbloedig vermoor ???????

wollie ·

Die wreedaards van die apartheidstelsel moet definitief vervolg word. Hulle het met moord weggekom vir te lank. Vervolg hulle genadeloos soos die nazis vervolg is. Dis jammer ons het nie meer die doodstraf nie, hulle moet eintlik swaai.

wollie ·

Bring them to book, soos die Engelse sê. Kry dit agter die rug sodat ons kan vorentoe beweeg.

Jacobus ·

Wollie, ek weet nie of u net ‘n reaksie soek op u skrywe nie, maar hier is iets ter gedagte.

Die woord apardheid is afgelei van die woorde segregasie en afsonderlike ontwikkeling soos verwoord deur Eerste Minister Verwoerd.

Die Swart bevolking was nie gereed om op die selfde vlak as die Blanke bevolking mee te ding nie en die agterstand met onderwys en opleiding moes uitgewis word sodat hulle op die selfde gelyke speelveld as die Blanke bevolking kan kom.

In die 80’ was daar ‘n boek wat reeds voorspel het dat teen die 90′ meer Swart opgeleide ambagsmanne daar sal wees wat die ekonomie kon laat groei, maar die ANC het gesorg dat sanksies dit nie tot uitvoering sou bring nie.

Daar moet onthou word dat die Blanke Afrikaanse bevolking van die 50′ – 70’ ook nog ‘n agterstand gehad het teen die Blanke Engelse bevolking.

Soos enige persoon van die tyd kon gesien het wat het geword van Afrika lande na onafhanklikheid, die mislukkings, burgeroorloë, verwoesting, kommunisme, ens. sou geen regdenkende persoon Suid Afrika aan ‘n Swart Regering oorgegee het nie omdat die ANC kommunisme aangehang het en nog steeds die WREDE stelsel aanhang.

Die ANC tereur beleid sou geen regsdenkende persoon sag maak nie en ANC geweld sou met Staats geweld beveg word.

Onthou die Staat het die alleen reg op geweld en om die geweld te gebruik om die land te beveilig.

Jacobus ·

250 woorde is te min om werklik te sê wat ek wil sê.

Wollie, verder sal ek wil weet van u of die wreedaards van die ANC, PAC ens. kommunistiese en terroristiese stelsels nie ook moet vervolg word.

Vervolg hulle soos u sê genadeloos, laat die wat die bomme, “neckless” taktiek gebruik het en beveel het dat dit gedoen word ook vervolg word.

Laat hulle swaai soos u noem en dat ons alles agter die rug kry.

Verder moet ek net aan u noem dat geen Westerse land sou toelaat dat Suid Afrika met die ANC aan die stuur in ‘n kommunistiese land verander nie, Suid Afrika was net te belangrik vir die wat werklik geweet het wie en wat die ANC werklik was.

Kyk na wie het die ANC werklik ondersteun; alle kommunistiese lande en diktators en hulle was die voorstanders vir sanksies teen Suid Afrika om sodoende die ANC te help om die land in ‘n kommunistiese land te omskep.

Onthou, die Apartheid/Segregasie/Afsonderling Ontwikkeling stelsel was geskep met die ervaring van die dag asook het die verlede ‘n graat rol gespeel in die skepping daarvan.

As u iemand wil blameer, blameer asb. die Engelse, hulle stelsels en waardes het gelei tot wat ons vandag het en wat nog lank in die wêreld gevolge gaan inhou.

Jacobus ·

Wollie, verder wil ek van u weet waar is die groot internasionale ondersteuners van die ANC wat hulle op so ‘n troon geplaas het en hulle ondersteun het.

Hulle is nou stil oor die ANC vergrype, maar het luidkeels geskree toe die witman verkeerd gedoen het.

As u iemand ondersteun, moet u nie ook hom kan teregwys op sy foute as hy/sy die selfde foute maak as sy voorganger nie.

Soos ons sê as jy ‘n kind grootmaak moet jy hom lewenslank ondersteun want sy foute is jou foute en jy word geken aan hoe jy optree na die kind groot is.

Daar is baie om te sê, die toekoms sal ons leer wie was reg of verkeerd.

Johan ·

Wollie, en wat van die wreedaards aan ANC se kant? Moet hulle ook vervolg word? Ek dink aan die mees bekendste geval van Muziwakhe Ngwenya (bekend as Thami Zulu) wat oorlede is na aanhouding in Lusaka – vermoedelik wees vergiftiging. Of die geval van Ralph Mgcina wat ook in Lusaka oorlede is – oorsaak onbekend. Wonder wat wil hulle familie hê moet gebeur?

Ek dink daar is TWEE kante aan die saak en BEIDE kante se “wreedaards” moet dan vervolg word.

MissDemeanor ·

Leopold. Aan die begin van jou brief vra jy 2 vrae. Jy wonder of “ou wonde” nie toe moet bly nie. Maar as n ou wond begin sweer en vrot word en mens hou aan om dit te ignoreer dan eindig jy met gangreen. Ek vermoed jy wil die wond toe hou want die verlede laat jou ongemaklik voel (dis n normale reaksie, maar na dit moet nie onder die mat ingevee word nie). Verder noem jy Johan vd Merwe se drie punte. Maar daar is teenpunte ook.1. Die “gesiene patoloe” was nie regtig onafhanklik nie. Hul was ondersteuners vd apartheid regering. 2. Timol se saak was nooit voor die WVK nie. 3. Net soos wat Timol se familie geregtigheid gesoek het, so kan slagoffers van die anti- apartheids aktiviste ook op vervolging aandring (mits die saak nie reeds voor WVK was nie). Verder noem jy dan baie punte oor hoe wreed die ANC was….asof dit die optrede vd veiligheidspolisie regverdig. Die “oorlog” het nie net spontaan begin nie. Die oorlog is geinisieer deur die apartheidsregering wat mense so hard onderdruk het dat hul later geen ander uitweg gehad het as geweld nie.

Leopold Scholtz ·

Beste mejuffrou Demeanor, jy het my artikel nie goed gelees nie. Gaan kyk weer en sien dat ek die punte wat jy noem, eksplisiet behandel. Dan probeer jy weer.

MissDemeanor ·

Leipold jy vergeet iets. Selfs tydens appartheid was marteling nie wettig nie. Dus al die moeite om sy dood soos n ongeluk te laat lyk. Jy kan dit nie reg praat nie.

Johan ·

Eish, baie goeie en beredenerende kommentaar.

Wollie, die vraag ontstaan by my of daar ook maar weer ondersoek ingestel moet word na al die gevalle waar ANC kaders oorlede is na aanhouding in ANC kampe? Ek dink aan die mees bekendste geval van Muziwakhe Ngwenya (bekend as Thami Zulu) wat oorlede is na aanhouding in Lusaka – vermoedelik wees vergiftiging. Of die geval van Ralph Mgcina wat ook in Lusaka oorlede is – oorsaak onbekend.

Sekerlik is die afsterwe van enige persoon in aanhouding tragies vir die familie en hulle soek antwoorde. Maar daar moet net onthou word dat daar verskeie families van oud-ANC kaders is, wat ook antwoorde soek. Moet die gevalle ook weer ondersoek word?

Eish probeer met puik kommentaar alles in perspektief stel, maar sluit af met die ongelukkige maar waar opmerking, dat die jagseisoen oop is.

As al die ware feite oor die vergrype in ANC kampe aan die lig moet kom, sal mense se oê dalk (hopelik) oopgaan. Maar party mense se oê WIL nie oopgaan nie. Daar was vergrype aan BEIDE kante. Kom ons beweeg vorentoe.

Frans C ·

Mense lyk my sommige wil die geskiedenis oorskryf om soos by MissDemeanor se verwronge
siening van dat die Apartheidsregering die oorlog begin het.
Dit is natuurlik strooi.Die waarheid is dat die Boereoorloë die land in ‘n gemors gelaat het, grotenliks veroorsaak deur die die ‘scorched earth policy’ van Roberts and Kitchener,droogte daarna ,die ineenstorting van die aandele beurs ens.

In stede het verarmde Blankes tussen ander bevolkingsgroepe gewoon.Voeg daarby dat
baie myne aan die Oos Rand uitgewerk geraak het en werkers agter gelaat het om hul eie heil uit te werk en dat die 2de wêreldoorlog talle terugkerende soldate werkloos gelaat het,en jy het ‘n kookpot van onrus en armoede.

Omdat die Britte met die Afrikaners vrede gemaak het en ander verontagsaam het,was dit slegs die NP regering wat in 1948 aanbewind gekom wat enigsinds ‘n poging aangewend het om orde in die gemors te herstel.
Die eerste was armoede verligting onder blankes,werkskepping deur bou van paaie ens.
Verder was daar pogings om veral aan die Oos Rand behuising te verskaf vir duisende
agtergelate huisgesinne na die sluiting van myne.Daveyton is ‘n goeie voorbeeld.

Afsonderlike ontwikkelling is egter van binne en buite gereismier.Ek was daar en weet waarvan ek praat.

Henry ·

Soos bankrot SAL, ge-kaapte Eskom en al die ander voorbeelde wat in die Nuwe Droewe Land aangetref word, sal ‘n subjektiewe, bevooroordeelde en gelaaide nuwe “verhoor” oor oorle’ Timol ‘n nuttelose oefening in warmlug verspreiding wees.

Hoe op dees aarde kan mens iets sinvol verwag in ‘n Afrikastaat met ‘n regime wat binne die verloop van 23 jaar steeds nie die lus of vermoë bewys het om ‘n eenvoudige slaggat* te herstel nie?

*pothole vir Afrikaans-gestremdes.

:-)

wollie ·

Ek gaan nie eers redeneer hieroor nie. Enige persoon wat simpatiseer met die walglike apartheidstelsel wat mense se regte vertrap het en hulle minderwaardige, derdeklas burgers gemaak het en in totaliteit op grond van ras toegepas is, hoort in die tronk. Niks en niemand kan dit kondoneer nie. Finish en klaar. Daar moet ‘n wet wees wat hierdie kondonerende gedrag verbied en diegene wat hulle skuldig maak hieraan moet vervolg word. Apartheid was ‘n misdaad teen die mensdom en was veragtelik.

Johan ·

Toemaar Wollie – ons verstaan hoekom jy nie daaroor wil redeneer nie. So ons sien jy meen dit is aanvaarbaar dat Thami Zulu deur sy eie mense vergiftig is, maar die familie moet dit net aanvaar. Hulle mag nie hul tot ‘n nuwe ondersoek wend nie?

Terrorriste wat landmyne op plase geplant het en boere en hul vroue en kinders afgemaai het, was veragtelike dade en ‘n misdaad teen die mensdom. Niks en niemand kan dit regverdig nie.

Jacobus ·

So, Wollie, dan stem u saam dat die ANC en hulle simpatiseerders vervolg moet word oor die “Apartheid” wat hulle in Suid Afrika huideglik beoefen.

Die ANC beoefen ‘n stelsel soos u dit stel “mense se regte vertrap, en hulle minderwaardige derdeklas burgers gemaak het en in totaliteit op ras toegepas word”

As ons wil wette maak moet dit mos vir almal geld, nie so nie?

Was en is Kommunisme nie ook ‘n misdaad teen die mensdom nie, hoeveel mense het nie wreed gesterf onder kommunisme nie, hoeveel se regte is nie wreed vertrap nie, hoeveel is nie wreed minderwaardig behandel nie. Dink aan die gedwonge vershuiwings, uitwissing van taal, kultuur, geloof, bevolkings ens. onder die ou USSR en ander kommunistese lande in die verlede en selfs nou.

As u ‘n wet wil hê wat almal in die tronk gaan gooi omdat hulle apartheid bespreek ens. is u nie ‘n voorstander van die vernietiging van spraakvryheid.

U liberale siening oor die verlede gaan in u gesig ontplof, wil u nou soos ander Afrika lande ‘n wet maak wat geen kritiek op die President of Regerende party toelaat.

Ons weet u eintlike plan met wetgewing is om die vals, wrede en walglike verlede van die ANC toe te smeer deur enige kritiek te probeer stop.

Sal u sê dat ek korrek is as ek aanneem dat u enige kritiek op die ANC as pro-apartheid sien.

Hoop om van u te hoor.

Henry ·

Wollie
Praaaaat jy van walglikgeite!
Weet jy hoe gaan die beswaardheid jou en jou helde oorval, wanneer die Engelse se bank- en bedrog-inspekteurs aan’t krap raak aan al die geldwassery en wegstekery van die verduisterde biljoene waarmee hulle die afgelope jare mee doenig is???

Dankie Peter Hain!!!

Al die biljoene wat verdwyn het en wat aangewend moes word om hierdie droewe Afrikastaat se bevolking en ekonomie te ondersteun???

Walglik is ‘n sagte beskrywing vir die huidige regime se verskriklikhede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.