Wat ons is, is nie verkeerd nie

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Deur Connie Mulder

Ek is glo ʼn “fout” en ʼn “Dutch gangster”.

Julius Malema noem my vandag (28 Februarie 2017) ʼn “Dutch gangster” in die parlement.

Volgens Thabo Mbeki is ek ʼn fabrieksfout wat teruggestuur moet word.

Jacob Zuma noem my die oorsaak van al die probleme in Suid-Afrika.

Ek is wit en in Afrika, en daarom hoort ek nie hier nie. Daar word van my verwag om “terug te gaan Europa toe”.

Europa is nie my huis nie. Ek gaan na Europa vir vakansie, maar ek woon in Centurion.

Ek is te jonk om die apartheidsregering se misbruike te onthou. Die oplewing onder Afrikaners in 1994 kan ek wel goed onthou. Ek onthou die verligting en morele verlossing – die hope hoopvolle mense, vol energie en toekomsdrome vir ons reënboognasie. Ons was passievol reg om die verlede agter te laat, en ʼn nuwe blinker toekoms te bou.

Daarna het ons die spoor byster geraak. Ek beleef daagliks hoe ʼn nuwe ANC-regering se tande bytmerke in my mense los: die verval van plaaslike regering, regstellende aksie, Afrikaanse onderwys se ondergang en bowenal die geweldsmisdaad wat so ongelooflik algemeen is. Met wrede ontnugtering het ons teruggetrokke geword. ʼn Hele volk bedreig, bedruk en bang.

Die hoopvolle energie het in hartseer emigrasie verander, die drome in klagtes om ʼn braaivleisvuur.

Ons word beskou as tweedeklasburgers wat gelukkig moet wees dat ons nie voor die voet uitgeroei is nie. Diewe het alles gesteel wat ons het. Ons moet ons plek ken, en mooi stil lê.

My kop het argumente en redes en verduidelikings en vrae. My hart sê eenvoudig: “Wat ons is, is nie verkeerd nie. Wat ons vra, is nie te veel nie.”

Ons vra regtig nie baie nie: ʼn vreedsame en voorspoedige bestaan vir ons gesinne; die ruimte om my kinders groot te maak as Afrikaners, wat bydra tot Suid-Afrika. Om vir hulle ʼn gebalanseerde geskiedenis te leer, een wat hulle wys op die suksesse van hulle voorouers, asook die foute wat Afrikaners begaan het. Ek wil hulle anker in Afrika, hulle tone in haar rooi grond, hulle hande aan die werk, hulle oë blink.

Ons vra niks van ander groepe nie. Ons sal ons toekoms self bou.

Internasionaal is wat ons vra die norm, eerder as die uitsondering. Mag ons nie ook onsself wees in Suid-Afrika nie?

Afrikaners is al langer in Suid-Afrika as wat Australië bestaan. Ons het die reg om Suid-Afrika ons huis te noem. Ons het die reg om ons toekoms hier te bou. Al wat ons kan kelder is as ons moed ons begewe. Daar is niks fout met ons nie, ons is uit dieselfde lap as die bittereinders en Voortrekkers gesny.

Ek is ʼn trotse Afrikaner. Ek is lief vir my land en ek wil nêrens anders gaan nie. Ek geniet die verskeidenheid mense in Suid-Afrika. Ek geniet my eie kultuur, en is trots daarop. Ek is bang vir die toekoms, maar ook optimisties. Ons is al deur erger as dié, ons het al groter goed vermag. Ek verwerp die idee dat ek nie hier hoort nie, want my hart weet: “Wat ons is, is nie verkeerd nie. Wat ons vra, is nie te veel nie.”

  • Connie Mulder is die afdelingshoof van die Solidariteit Navorsingsinsituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jan ·

Goed geskryf. Ek so graag wou verstaan waarom my volk so n probleem is vir ander dat ons voordurend aangeval, verkleineer en verstoot moet word, soos die skrywe hier bo al wat ons vra vir eeue al los ons om ons self te wees en gun lewensruimte. Dan sal ons bydrae tot die wereld ons almal verstom.

Rupert Ashford ·

Gaan praat met die Boshoffs, proklameer ‘n klein, droe, oenskynlik onaantreklike stuk grond as Volkstaat, kry die regering by hook or by crook om dit af te staan en laat ons ons eie plekkie in Afrika oopkrap. Daar is geen ander uitweg nie. O ja, en vergeet van die Boererepublike…te groot en te gesog.

Theresa ·

Dankie Connie – perfek gestel. Wie en wat ons is, is nie verkeerd nie. Ongelukkig wek juis dit, ongelooflike jaloesie en afguns by dié wat ons dit nie gun nie.

Breytie ·

Ons maak ‘n onnodige fundamentele fout as ons na politieke leiers se uitsprake luister en dit proklameer as die ware uitgangspunt van die swart volke in ons land. Die politici het slegs een ding ten doel met hulle uitsprake: hulle wil stemme werf onder hulle mense. Maar die afgelope verkiesing het gewys dat “hulle mense” nie meer alles vir soetkoek opeet soos in die verlede nie, behalwe die ongesofistikeerde deel wat laag geskool is en beperkte visie het. Waarheid is te sien in die strate waar swartes vriendelik teruggroet, in geloofbare opnames wat toon dat swartes nie rassespanning tussen hulle en blankes beleef nie, in my eie swart werker wat die hoogste respek vir my het. Inderdaad is die misdaad ‘n rede tot ernstige kommer, maar dit is al bewys dat waar blanke gemeenskappe saamstaan, kan misdaad onderdruk word, al kan dit nie weggevat word nie. Die misdaad is juis een van die uitvloeisels van die minagting wat die politici vir die armes het.

Ons moet vasbyt en by ons edel beginsels hou, ten spyte van wat ookal. Vorentoe sal daar lig kom, dan moet ons nie skaam kry wanneer ons terugkyk na vandag nie.

Danie ·

Ek dink die groot vrae behoort te wees waar het ONS verkeerd gegaan? Wat het ons voorvaders reg gedoen? Hoe gaan ONS dit herstel? Dit wat ons gedoen het is ‘n naïewe onnatuurlike besluit. Dit het niks te doen met apartheid nie want almal was apart van die begin af. Die probleme wat daar was kon ons saam opgelos het maar ons het gekies om die probleme nie op te los nie. Ons het gedink die probleme sal verdwyn as ons apartheid verwyder.

jaco ·

daars omtrent 3 miljoen wit Afrikaners in SA. Dis maar min. Ons word gedurig beskuldig vir alles wat verkeerd loop. Ons boere word vermoor en plaasonteiening sonder vergoeding is naby. Met regstellende aksie wat ons toenemend werkloos maak, is dit argument dat die ANC steeds agter ons belastinggeld aan is, ook nie meer so waar nie. So kom ons agiteer by die ANC vir die volgende:
herskryf die grondwet. skryf dit pertinent in die grondwet dat wit mense nie meer stemreg het nie en tweedeklas burgers is. Maak rassisme alleenlik n misdaad as wit mense dit doen en maak die straf deur die bank lewenslange tronkstraf. Neem ook vryheid van spraak weg van wit mense af. verskuif ons dan ALMAL na die wes-kaap en gee ons daar n tipe van n tuisland. kortom: straf ons vir apartheid deur behoorlike apartheid op ons toe te pas.
Dit sal swaar gaan, maar ons kan n sukses daarvan maak.
Die Israeli’s doen doen dit met die Palestyne, en SELFS DIE ANC is ten gunste van n tweestaat oplossing daar. China doen dit met Hong Kong en wil dit met Taiwan doen. Die ANC steun dit ook. So waarom kan dit nie in SA met die Afrikaners gedoen word nie?

Frik Lotz ·

Baie goeie artikel, Connie. Ek is ook trots daarop om n Afrikaner te wees en glo ons sal weer n vry en sterk volk wees.

SARIE VAN HEERDEN ·

Gaan my verstand te bowe dat die Afrikaner so ‘n steen des aanstoots vir ander is. Nog nooit het die Afrikaner bakhand gestaan om voorkeur vir ‘n werk te kry nie. Nog nooit het die Afrikaner mense links en regs uitgemoor nie. Nog altyd het die Afrikaner sy kant gebring om hierdie land vooruit te laat gaan. En ook is die Afrikaner die eerste om na vore te tree om kos en klere te verskaf aan “agtergeblewenis” wie se getalle ons omtrent ruineer. Die Afrikaner met sy dryfkrag vir oorlewing is ‘n bedreiging vir diegene wat net soggens wakker word om betyds by die verkeerslig te wees.

Elisabeth Kruger ·

Connie ons kinders id in Desember in Hoedslruit geroof van al hul besittings, maar Ons Vader het hul lewens gespaar. My seun sê ” in SA gaan ek bly niemand gaan my hier weg jaag nie”. Suid Afrika is die mooiste land vir ons Almal.

Barend ·

Ek het van die begin geweet dit is n groot fout. Die regse party het dit luid uit basyn dat de Klerk besig was om die land na ondergang te lei.

Klein Frans ·

Ons Afrikaners se probleem is ons eie mense: Ons is te sleg om standpunt in te neem, op te staan vir geregtigheid, ons laat toe dat ons eie mense ons verraai, ons is emosioneel…ons het papbroeke geword. Ons dink nie meer nie, ons doen nie meer nie, ons het ons respek verloor, ons praat te gou/te veel.
Dis tyd om wakker te word, om te lei en nie gelei te word nie.

E.K. ·

“WAT” mens is maak nie saak, dis HOE mens is en hoe jy lewe wat saakmaak. As mens wil hare kloof oor “verblyfreg” in SA; die eintlike, oorspronklike “eienaars” van SA is die San, so as ek ‘n “indringer” is, so is al die ander ook en as ek moet teruggaan na Europa, so moet alle ander bevolkingsgroepe teurggaan na hul lande van herkoms. Almal behalwe die San.

SP ·

Ons het petrol gevat en al ons brue afgebrand, voordat ons aan die ander kant was. Ons sal mos veilig wees? 94 was ‘n gelukskoot, volksmoord vir my! jammer meneer ons het ons les geleer!
Ek’s net ‘n toeris in my geboorteland! Ek leef in ongeloof! ‘n gekweste dier in ‘n hok, ‘n bleeksiel tussen die spoke sonder heenkome!

gerbrandt ·

Ons gaan eers opstaan wanneer die regte tyd daar is. Nie nou al nie. Daar gaan ‘n leier na vore kom – ook nie nou al nie. Dit gaan eers baie erger word voordat dit gan beter word. Daar gaan oorlog kom wat ons nie gaan vryspring nie. Daarna gaan dinge heel anders wees. Europa gaan ook in ‘n oorlog gedompel word en so-ook Rusland en Amerika. Dit is op pad – onvermydelik. Ons gaan egter – omdat ons gelowig is- dit deurstaan. Die wereld is kwaad vir ons omdat ons juis innerlik sterk is en ‘n ware geloof het. Baie min mense in die wereld het dit.Dit kom eintlik deur op jaloesie teenoor ons. Ek is ‘n trotse Afrikaner en sal altyd een bly. Ons en Israel is die enigste twee lande in die wereld wat ‘n verbond met God gehad het. Nog ‘n rede van die wereld se afguns teenoor ons. Ons moet ons Gelofte weer nader aan die hart bring.

Bruce ·

Australië as ‘n kontinent bestaan reeds 180 miljoen jaar. Die eerste mense wat in Australie gaan woon het, was 50 000 tot 80 000 jaar gelede.
Die geskiedenis van nedersettings deur mense uit Europa in Australië het wel eers in 1788 begin met die aankoms van 1366 passasiers, amptenare, soldate en gevangenes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.